Wie was Robert Mugabe regtig?

ʼn Vrou loop verby graffiti in Harare. Robert Mugabe, die voormalige president van Zimbabwe, is Vrydagoggend in die ouderdom van 95 jaar dood. (Foto: Tsvangirayi Mukwazhi, AP)

Die stof om die dood van Robert Mugabe, eertydse Zimbabwiese president en diktator in sy eie land, sal seker lank vat om te gaan lê. Uit wat ek tot dusver in die media gelees en gehoor het, is een ding seker: hy was by groot dele van sy bevolking die mees gehate man in sy land se geskiedenis… selfs meer as Ian Smith vir wie hy in 1980 opgevolg het.

Maar wie was Robert Mugabe regtig, die man wat ek in 1980 oor ’n koppie koffie ontmoet en twee onderhoude mee gevoer het? Net ek en Ton Vosloo, tóé my redakteur en later grootbaas by Media24, het die “voorreg” gehad om met hom te praat.

Die Mugabe wat ek leer ken het, was ’n baie gematigde politikus wat my verseker het dat hy nooit dieselfde fout as Samora Machel van Mosambiek sal maak nie: om wit mense uit sy land te jaag. Maar wat het dan verkeerd geloop, en hoekom het hy wit mense se grond afgevat en vir sy ondersteuners gegee?

Die antwoord is te vinde in ’n referendum wat hy in 2000 uitgeroep het om lewenslank president te probeer bly. Hy het verloor, maar hom nie aan die uitslag gesteur nie. Die rede? Hy was bang dat hy voor die Wêreldhof in Den Haag gedaag sou word oor die wandade van sy Vyfde Brigade wat hulle in die tagtigerjare aan growwe menseregteskendings in Matabeleland skuldig gemaak en groot getalle Matabeles vermoor het.

Die rede vir Mugabe se goedkeuring van die volksmoord (indien nie sy uitdruklike bevel nie) was die vrees dat Joshua Nkomo en sy Russies-gesteunde Zapu-groep die revolusie in Zimbabwe sou kaap. Zapu het toe ook die ANC ondersteun terwyl China aan Mugabe se kant was.

Ná sy referendum het Mugabe besluit hy moet sy steun op die platteland behou. Die enigste manier om dit te doen, was om boere se grond te onteien, veral aangesien Brittanje nie sy woord gestand gedoen het deur geld te bewillig om dié boere uit te koop nie. In stede daarvan het die Britte besluit om die Zimbabwiese opposisie van Morgan Tsvangirai geldelik en in ander opsigte te steun. Mugabe het Brittanje dít nooit vergewe nie.

Vroeër het Mugabe al getoon dat hy wreed kan wees. Toe ek nog in Harare was, is beweer dat Mugabe nie kinders kon verwek nie en dat sy vrou Sally (’n Ghanees) met sy broer ’n verhouding aangeknoop het. Die polisie het sy broer een oggend leweloos in die presidensiële swembad aangetref.

Dieselfde veiligheidsbron wat die bewering teenoor my gemaak het, het ook gesê dat Mugabe tydens die Rhodesiese bosoorlog deur die Suid-Afrikaanse polisie in hegtenis geneem is, dat hy aan die Rhodesiese owerhede oorhandig is en so gemartel is dat hy steriel geword het. Nou ja, Mugabe het daarna met sy tweede vrou Grace getrou en drie kinders by haar gehad. Maar daar is nog baie onbeantwoorde vrae…

En nou is Robert Mugabe dood aan prostaatkanker in Singapoer, ’n siekte waarvoor hy die afgelope jare telkens daarheen is. En sy party Zanu-PF is steeds in beheer in Zimbabwe met skaars enige verandering nadat hy gedwing is om die leisels aan sy opvolger en medestryder Emerson Mnangagwa oor te gee. En die Westerse wêreld juig oor hy eindelik van die toneel is.

In Afrika, daarenteen, ook deur die ANC, word hy as ’n ware Afrikaan en bevryder beskou.

In Zimbabwe self is daar geen gejuig nie. En ek lees elders dat Zimbabwe ’n rekordtabakoes het, maar ek het ook maar my vrae oor hierdie gerugte.

Wat kan Suid-Afrika hieruit leer? Die ANC sal ook baie moeilik van sy mag hier sal afstand doen. Die ANC het met die onlangse algemene verkiesing groot geskrik en ek is van mening dié party sal ook eerder grond vat voor hulle die mag verloor.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik ferreira

Mugabe was n slegte mens wat n mooi land vernietig het en baie mense direk en indirek dood gemaak oor sy rassistiese haat vir wit mense en sy onvermoë om n land te regeer,net soos dit nou in SA gaan.

marous

Parasiet en moordenaar . Gaan vra vir die Matabele hoeveel van hulle uitgemoor is en waar die massa grafte le.

Heksie

die anc volg diep in die voetspore van dié diktator … dan kan ons maar weet dat ons land ook oor die afgrond gaan tuimel soos wat Zim het … God wees ons genadig!

Lou

Ja, Mugabe was ‘n wrede diktator wat enige iets sou doen om aan bewind te bly en uit die tronk te bly (Zuma?) maar ek dink die les wat ons uit sy 37 of 38 jaar lange skrikbewind moet leer is dat demokrasie soos dit in Afrika toegepas word ‘n mislukking is. Daar moet ‘n manier gevind word om swak leiers en politieke partye te dwing om afstand te doen van hulle mag as die manier waarop hulle die land “ly” tot nadeel van die land en sy mense is. Hierdie leiers en regerings doen skade aan lande en hulle… Lees meer »

JK

As Robert so goed was, hoekom het so baie gevlug uit Zim uit? Hoekom is Zim waar hy nou is?