Wil ons die oerwoud veroordeel of verstaan?

Dat Hennie met sy snor en sy AWB-verlede, en James met sy perdestert en sy ANC-familie, nog hoegenaamd bereid is om sáám onder die twee grys dennebome in my agterplaas te braai, is ‘n wonderwerk.  Dalk is dit omdat ons in Paul Roos in dieselfde rugbyspan gespeel het.  Of miskien eerder omdat al drie soveel hou van sauvignon blanc uit Bolandse wingerde.  Maar deesdae lol die gesprekke maar.

Louis du Plessis

Nog voor ek Saterdagmiddag die wors uit Calvinia die derde keer omdraai, vaar Hennie uit teen die vuil mure van Sabie se eens spoggerige hospitaal.  Hy boer naby die dorp “wat eers Nelspruit was”.  Hy vertel hoe die slaggate in die pad die bande van sy Hilux geskeur het.  “Is daar niks wat die nuwe heersers nie sal stukkend breek nie?” sê-vra hy.  En so gaan dit aan.  James staar ‘n rukkie in die kole, voor hy droog opmerk:  “Julle behoudendes wil als behou.  Dis hoekom julle besig is om als te verloor.  Jy sien hoe ongelyk het apartheid ons almal gemaak.  Erken ‘n slag julle foute.”

“Het jy in Augustus Beeld gelees?” vra James skielik.  Onthou jy wat Stoffel van der Merwe, die voormalige minister, geskryf het:  ‘Net soos in die geval van mislukte kommunisme en mislukte dekolonisering, het mislukte afsonderlike ontwikkeling ook groot menslike lyding meegebring’.”  Hennie is so verontwaardig, hy stort teen sy sin van Rietvallei se sauvignon blanc in die braaibak.  Die humeure vlam op.  Hy brom:  “Jy glo ook seker saam met die ANC se vervolgingsdirekteur, Menzi Simelane, dis meestal wit mans wat moorde op swartes pleeg.”

Toe ek, na die soveelste braai saam met dié boesemvriende, later die aand, so op my eie, die louwarm as uitgooi, skud ek my kop.  Vrae maal deur my gedagtes:  Móét dié wat presteer het, altyd behoudend wees?  Instinkmatig variasies van konserwatisme voorstaan?  En móét hulle populistiese teenstanders altyd variasies van gelykheid propageer?  Dalk selfs sosialisme?  Is dit hoegenaamd moontlik om sonder sulke ideologiese brille na die Afrikaner te kyk?  Moet diegene met verskillende oortuigings mekaar altyd veroordeel?  Of kan hulle mekaar probeer verstaan? 

Ek wonder onwillekeurig:  Wat sal ‘n wyse historikus oor ‘n paar eeue oor ons land skryf?  Ek weet, mens het ‘n leeftyd nodig om ons geskiedenis op te som, maar ek móét vanaand, vir my eie gemoedrus, vlugtig vertel waar ons vandaan kom.

Wanneer verskyn Suid-Afrika?

Die Nederlanders en Franse en die talle ander Europeërs wat vanaf 1652 aan die suidpunt van Afrika beland het, sou nooit kon raai wat op hulle kinders wag nie.  Terwyl dié nageslag, wat hulleself later Afrikaners sou noem, vanaf Kaapland oor die hele Suid-Afrika versprei, onder meer deur wat genoem word ‘n Groot Trek noordwaarts in die 1830s, skuur hulle deurlopend skouers met ander volke.  Hieronder val veral Engelssprekende mede-Europeërs wat die Britse vlag oral in Afrika kom hys, maar ook veglustige en dapper binnelandse swart stamme soos die Zoeloes.  Bloed vloei.

In ‘n stryd van Afrikanernasionalisme teen Britse imperialisme, weier twee noordelike Afrikanerrepublieke om die Britse vlag te hys, maar na ‘n suksesvolle eerste oorlog, onderwerp Britse magte die twee republieke in die Anglo-Boere-oorlog (1899-1902).  Intussen laat die Kaaplandse Afrikaners in die negentiende eeu hulle wil geld met vaardig georganiseerde politieke partye soos die Afrikanerbond.  In 1910 word die grense van ‘n nuwe staat getrek:  Suid-Afrika.  Die demokratiese verkiesings is hoofsaaklik vir westerlinge.

In interessante partypolitieke verwikkelinge, kom die Nasionale Party, wat Afrikanerideale verteenwoordig, reeds in 1924 aan bewind tot in 1933, en weer vanaf 1948.  In demokrasie bepaal kiesersgetalle die uitslae, en omdat die Afrikaners sedert 1910 die meeste kiesers vorm, is al die eerste ministers Afrikaners:  eers drie Boeregeneraals Louis Botha, JBM Hertzog en Jan Smuts; hierna vier Afrikanernasionaliste wat akademies in Stellenbosch gevorm is:  dr DF Malan, adv Hans Strijdom, dr Hendrik Verwoerd en adv John Vorster.  PW Botha is nie ‘n Stellenbosser maar wel ‘n Kaaplandse nasionalis.  FW de Klerk is nie een van die twee nie.  Die kleiner seksie blanke kiesers, wat Engelssprekend is, neig sedert 1910 om meestal vir hulle eie partye te stem en vorm dus deurlopend die amptelike opposisie.

In die twintigste eeu organiseer Afrikaners hulle ekonomiese, godsdienstige en kulturele lewe in ‘n netwerk strukture en blink uit op haas elke gebied – vanaf sakemanne soos Anton Rupert tot hartspesialiste soos Chris Barnard.  Een kernaktiwiteit van die Afrikanerbewind, naamlik om die Afrikaanse taal te bevorder, was in ‘n sekere sin geensins moeilik nie, want briljante skrywers en denkers het presies dit reggekry:  vanaf CJ Langenhoven en Dirk Opperman, verby Elizabeth Eybers, NP van Wyk Louw en Elsa Joubert.

Deels om te verseker dat die Afrikanervolk sy kultuur kan bly handhaaf en homself kan bly regeer en nie deur die groeiende nieblanke getalle op ‘n gevaarlike vasteland oorheers sal word nie, volg die regerende Nasionale Party vanaf 1948 ‘n beleid om vir swart volke vryheid in hul eie tuislande, soos in die Transkei, te probeer gee.  So kan hulle weggekeer word uit die Suid-Afrikaanse blanke demokratiese sisteem.  Hierdie beleid, vir ‘n tydperk bekend as “afsonderlike ontwikkeling”, gaan gepaard met die instel van sosiale skeidingsmaatreëls tussen blankes en nieblankes.  Dit word onder meer regverdig as ‘n skeiding “tussen meer ontwikkelde en minder ontwikkelde volke”.  Gesteun deur ‘n stelsel van militêre diensplig vir blanke mans, word die Suid-Afrikaanse Weermag opgelei, bewapen en ontplooi om die grense te beveilig teen insypelaars op pad na Suid-Afrika en na Suidwes-Afrika toe.

Hoe word die stemreg verbreed?

Terwyl die druk vir politieke deelname in die 1980s toeneem, kry bruin mense en Indiërs hulle eie parlementêre huise.  Die meerderheid van die bevolking van Suid-Afrika is egter swart mense.  Hierdie meerderheid, wat oor die algemeen ‘n laer lewenspeil het as die blanke, bruin en Indiërgemeenskappe, vorm egter teen 1990 reeds min of meer driekwart van die bevolking.

Veral vanaf die 1980s oefen verskeie faktore druk uit vir die verbreding van stemreg tot alle Suid-Afrikaners.  Naas die kernfaktor, naamlik dat die swartes die meerderheid vorm, is van die ander kritieke oorsake van verandering:  die feit dat die ekonomie, wat die blanke boere, firmas en staat bestuur, toenemend afhanklik word van swart arbeid; dat swart werkers doeltreffend in vakbonde georganiseer word; dat die swart inkomste per kop deurlopend styg; dat swart geletterdheidvlakke snel toeneem, deels weens die Bantoeonderwysstelsel wat Verwoerd gevestig het; dat alle kolonies noord van Suid-Afrika onafhanklik word; dat plaaslike swart nasionaliste, wat politieke inspraak eis, hulleself militariseer en selfs buitelandse basisse en militêre opleiding bekom; en dat die swart versetbeweging enersyds materiële en ideologiese bystand van die kommunistiese blok ontvang, maar andersyds ook aansienlike steun kry van internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies.

Teen 1990 ontban die regerende Nasionale Party swart nasionalistiese bewegings en onderhandel oor ‘n nuwe grondwet.  Vanaf die eerste verkiesing wat, in 1994, op die grondslag van een mens, een stem plaasvind, word Suid-Afrika regeer deur ‘n ander party, die African National Congress.  Hiermee word die regering waarin Afrikaners ‘n leidende rol speel, vervang deur ‘n regering waarvan swartes die leiers vorm.

Vanaf 1994 weerspieël die nuwe regering toenemend die behoeftes van ‘n ontwikkelénde massa, wat grootliks verskil van die behoeftes van die meer ontwikkeldé kieserskorps, wat vroeër vir die blanke Volksraad, vir die bruin Huis van Verteenwoordigers en vir die Indiër Huis van Afgevaardigdes gestem het.  In verkiesings vir die verskillende sfere van regering, kry die regerende ANC, wat die behoeftes van die ontwikkelendes verteenwoordig, deurgaans meer as 60 persent van die stemme, en die Demokratiese Alliansie, as sterkste opposisieparty, hoogstens ‘n kwart van die stemme.

Watter historiese prosesse beleef ons?

In ‘n skerpsinnige blik in 2007 kyk een die voorste historici Hermann Giliomee na die verloop van die geskiedenis van Suid-Afrika.  Terwyl hy spekuleer oor die vraag of dit hoegenaamd moontlik was om reeds vroeër ‘n meerderheidsregering in te stel, meen hy die geskiedenis volg inderdaad ‘n bepaalde proses wat nie ryp gedruk kan word nie.  Hy skryf: “Ek sou sê Suid-Afrika kón net eers ‘n demokrasie word nadat ons ‘n sekere vlak van ontwikkeling bereik het.  Jy móés eers ‘n swart middelklas hê, jy moes eers vakbonde hê, en die blankes moes eers voel dat hulle kan kompeteer in ‘n oop demokrasie.”

Met die voorafgaande opmerking, suggereer Giliomee daar is moontlik omvattende maniere om te kyk na geskiedenisprosesse.  Trouens, sedert die heel eerste treë van die geskiedenis van die menslike ras het bepaalde stamme en volke vinniger as ander ontwikkel.  Elke tree bring ‘n voorsprong.  Kreatiewes bemeester landbou gouer; produseer meer kos; organiseer dienste, dorpe en leërs; dryf handel; ontwerp geldstelsels; verhoog die lewensverwagting weens effektiewe mediese dienste; bring letterkunde en musiek voort; en ontwikkel kommunikasiemedia – vanaf Egiptiese hiërogliewe tot hedendaagse iPad-tablette.

Die afgelope eeue het veral westerse volke só ‘n groot voorsprong opgebou dat hulle minder ontwikkelde inheemse volksgroepe, soos in Latyns-Amerika en in Afrika, met gemak kon koloniseer.  Vanaf die sewentiende tot twintigste eeu kon ook Suid-Afrikaners van westerse oorsprong ‘n toonaangewende lewenspeil in suidelike Afrika vestig.

Die Wêreld Ekonomiese Forum se mededingendheidsindeks, wat samelewings vergelyk, wys dat in daardie ekonomiese aktiwiteite wat van westerlinge afhanklik is – soos stabiliteit van die bankstelsel, finansiële dienste, regulering van die aandelemark en ouditeringstandaarde – presteer Suid-Afrika uit 139 ekonomieë, onder die boonste tien.  In daardie kategorieë wat regstreeks van die ontwikkelende massas afhanklik is – gehalte van diegene wat in wetenskap opgelei is, sakeverliese weens misdaad, beheer van siektetoestande soos malaria en MIV, en lewensverwagting – val Suid-Afrika tans egter laer as 110 uit 139 ekonomieë.

Die worsteling tussen meer en minder ontwikkeldes vind nie net vandag in Abudja of Polokwane plaas nie, dis ‘n nimmereindigende wêreldwye stryd wat die geskiedkundige Arnold Toynbee tipeer as “ontmoetings tussen beskawings” (encounters between civilizations).  Sedert die eerste oermense op hulle agterpote begin loop het, worstel kreatiewe minderhede in hulle lewensruimtes teen instromende meer primitiewe meerderhede.

Deur die millennia en eeue van historiese ontwikkeling, gebeur dié worsteling dikwels op ‘n ontsagwekkende skaal, soos die oorstroming van die beskaafde Sjinese Han-dinastie deur die primitiewe Xiongnu uit die noordelike steppe, en die Qiang uit die weste, in die eeue rondom die begin van die christelike jaartelling.  Enkele van talle westerse voorbeelde is die wyses waarop van ons Germaanse voorouers, soos die Hunne, die Gote en die Vandale, die westelike Romeinse Ryk in die vierde en vyfde eeu binnegedring en geplunder het, of die manier waarop, in die elfde eeu, die Vikinge Wes-Europa oorstroom het of Seljuk-Turke die oostelike Mediterreense streek oorval het.

Wanneer massas blyplek en kos, klere en selfone begeer, na wie kyk hulle eerste?  Na die kreatiewe minderhede wat die piramiede van beskawing klim!  Oor ‘n tydperk word ontwikkelende volke egter meestal skouspelagtig vinnig touwys en steek die eertydse beskaafdes verby.  Historici is soms verstom oor dié proses van:  wie laaste is, sal eerste wees.  Die invloedryke volkekundige Ian Morris tipeer dié verskynsel as die “voordele van agterlikheid” (advantages of backwardness).

Naas ontwikkelingsvlakke, is bevolkingsgetalle uiteraard ‘n deurslaggewende historiese faktor.  Hoekom?  Omdat regeringstelsels op die lang termyn áltyd demografiese verskuiwings weerspieël.

"Hoe maak 'n mens 'n pad deur 'n oerwoud?" - die Thate-woud in die voormalige Venda.

Daardie volke of rasse wat in bepaalde gebiede meerderhede vorm, kom in daardie gebiede noodwendig aan bewind – sodra hulle leer skryf en hulleself organiseer.  Dit geld ook Suid-Afrika.  ‘n Hoofrede vir die verplasing van ‘n staat wat, voor 1990, beheer is deur Afrikaners, deur ‘n staat wat beheer word deur swart Afrikane, is bevolkingsgetalle.  Dit het te doen met aanwaskoers en migrasie.  Die feit is:  Op die grondgebied van Suid-Afrika, vorm Afrikaners tans beswaarlik 6 persent van die bevolking terwyl swart Afrikane tans bykans 80 persent van die bevolking uitmaak.

Slotsom

As ons in die oerwoud van suidelike Afrika vir die Afrikaner ‘n langtermynpad wil verken, help dit nie om, soos Hennie en James, emosioneel en ideologies op als te reageer nie.  Wat wel help, is om te probeer om historiese faktore stelselmatig te identifiseer.  So ‘n benadering is vergelykbaar met die wyse waarop ‘n operasionele bevelvoerder die terrein, eie magte en die vyand ontleed:  met die doel nie om te veroordeel nie, maar om te verstaan.  Eers dán, kom die plan.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Louis du Plessis

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

André Alkema ·

Beste Louis,

Ek hoor wat jy sê oor verstaan, maar voor ‘ons’ almal by verstaan uitkom, moet die propaganda eers uitgewis word.

Propaganda is een van die belangrikste wapens in konflik of in ‘n oorlog. Dit word gebruik om
die vyand ‘swart’ te smeer en jou ondersteuners aan te moedig om die stryd voort te sit teen die vyand.

Wanneer ‘n oorlog beëindig word, word die wapens gebêre, landmyne word skoon gevee, en die soldate gaan huistoe, maar die propaganda bly steeds voortleef!

Die ANC het nie nadat hulle die bewind oorgeneem het gesê: Boois, die Boere was darem nie so sleg as wat ons altyd gesê het nie. Kyk, hulle het vir ons huise, skole, universiteite en hospitale gebou. Hulle het vir ons werk gegee en toegelaat om vakbonde op te rig. Hulle het miljarde gespandeer aan tuislande waar ons onsself kon regeer, maar ons het ‘n mislukking daarvan gemaak….

Maar nee, die Afrikaner word in die beskuldigde bank geplaas en in die Waarheid en Versoeningskommissie uitgekryt vir alles wat sleg is onder die son ook met behulp van die beeldradio.

‘n Verraderlike skuldgevoel word op die Afrikaner geplaas sodat hy sy selfrespek verloor en wat bedoel is om te verhoed dat die Afrikaner ooit weer die moed sou hê om op te staan teen diê verontregting.

Hoe dink jy Louis, gaan ons hierdie propaganda uitwis?

Louis du Plessis ·

Beste André Alkema ~

1  Die invloedryke historikus GD Scholtz het dekades gelede in sy werke – soos “‘n Swart Suid-Afrika?” (1964) en “Afrikaner waarheen?” (1978) – tendense ontbloot wat tans, in 2011, steeds onbekend is vir talle van ons volksgenote.  In “Het die Afrikaanse volk ‘n toekoms?” (1954) waarsku hy:  “Dit is ‘n pynlike feit om te erken, maar tewens bly dit onomstootlik waar, dat ‘n baie groot deel van die Afrikaanse volk nie bewus is van die groot veranderings wat sowel in die buiteland as in die binneland ingetree het en wat sulke groot gevare vir die toekoms van die volk inhou nie.”  Só skryf Scholtz heelwat meer as vyf dekades gelede! 

2  En hy was só reg.  Talle van ons volksgenote is tans byna permanent getraumatiseer omdat hulle nie die vaagste idee het wat aangaan nie:  byvoorbeeld hoe prosesse ontplooi soos byvoorbeeld modernisering en verstedeliking, vakbondvorming en etniese mobilisering, demokratisering en institusionalisering.  Gevolglik weet baie nie hoe om daaroor te praat sonder om lelik te praat nie.  

3  Met verwysing na bepaalde ANC-ideologieë vra jy:  “Hoe gaan ons hierdie propaganda uitwis?”  In die lig van bogenoemde oorwegings, is my antwoord:  Ons eerste plig is nie om die propaganda van die ANC reg te stel nie.  Dis reaktief.  Ons eerste plig is om sélf te verstaan watter tendense ons geskiedenis bepaal.  Daarvoor het ons minder emosionele tirades nodig en meer wetenskaplike ontledings en operasionele waarderings. 

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.