Wildstropers kry hier die wind van voor

Olifante by Hwange Nasionale Park in Zimbabwe Foto: Hwange National Park

Dis dalk maar ʼn druppel aan die emmer, maar twee Afrikalande voer tans ʼn sterk stryd teen die stroop van olifante en renosters. Aan die ander kant van die wêreld stel Indië ook ʼn voorbeeld.

In Namibië is die afgelope drie jaar 245 olifante gestroop en oor die afgelope vyf jaar 241 renosters. In Botswana is renosters feitlik uitgewis.

Terugvegpogings teen die stropers het nou ʼn hoë prioriteit in hierdie twee lande geword en in Botswana word stropers gereeld doodgeskiet. Die regering het pas R53 miljoen bestem vir onder meer helikopters, patrollievoertuie en die salarisse van 104 nuwe personeellede.

Die land roem hom daarop dat hy ʼn veilige hawe probeer skep vir bedreigde spesies soos renosters en is die tuiste van 40% van die wêreld se olifantbevolking. Hy is hoofsaaklik van sy eie finansiering afhanklik.

Botswana was nooit gekolonialiseer nie, deels omdat daar geen rykdomme was wat gestroop kon word nie. Toerisme is ʼn groot deel van sy inkomste en word op bewaring gegrond. Die noorde van die land is ʼn paradys vir toeriste met geld, want daar is bitter min paaie en hulle is van lugvervoer afhanklik, wat eintlik ʼn seën is.

Die land lê geweldig klem op ekotoerisme en sy lodges word so ontwerp dat hulle sover moontlik ʼn uiters klein ekologiese voetspoor laat. Daar word ook streng beheer uitgevoer oor boumateriale en die meeste verblyfplekke is self verantwoordelik vir hul gryswater en afval en daar word klem gelê op sonkrag.

Daar is waarskynlik nie nog ʼn land in Afrika wat soveel klem op hierdie faktore lê nie, skryf die toeristekenner Matthew Stone.

Namibië se boetes vir stropers is van ʼn maksimum van R200 000 tot R25 miljoen verhoog en daar kan 20 tot 25 jaar tronkstraf bygevoeg word.

Ons dink dikwels aan Botswana as ʼn woestynland, maar 30% van sy grondgebied is baie waterryk. Sowat 40% van die land is opsygesit vir nasionale parke, reservate en die bestuur van wild.

renosters-witrenoster

Foto: Casey Allen/Pexels.com

Stropers word bewaarders

Namibië grond sy bewaringswerk op die eienaarskap van gemeenskappe. Die land is van omtrent al sy wild gestroop, hoofsaaklik deur sy eie inwoners. In 1990 is bewaring in die nuwe grondwet ingeskryf en die eienaarskap van wild is oorhandig aan die gemeenskappe wat saam met hulle leef.

Die gevolg was dat die bevolking van wild en mense toegeneem het. Olifante en renosters wat beskou is as ʼn manier om vinnig geld te maak, word nou gekoester as ʼn langtermynwaarde.

Daar is nou 79 bewaringsgebiede. Stropers het wildbewaarders geword en hulle en die dierebevolking pluk die vrugte. Die olifantbevolking het oor die afgelope dekade gestyg van 13 000 tot 20 000.

Die inkomste uit toerisme en trofeejagters bring geld in en die meeste inwoners besef deesdae die waarde en goeie bestuur van wild. Die land is nou die tuiste van die wêreld se grootste jagluiperdbevolking en ʼn plek waar die renosterbevolking aanwas, aldus David Smith van The lonely planet.

Die stryd teen stropers sal nooit gewen word nie, maar dit is tog verblydend dat daar in hierdie twee lande baie meer gedoen word as in Suid-Afrika, waar te veel bewaarders nie opgelei is nie, self misdaadrekords het en kop in een mus met die stropers is.

indiese-eenhoring-renoster-Kaziranga-park

Die Indiese eenhoring-renoster  in die Kaziranga Nasionale park. Foto: Nurjaman Ali/Commons.wikimedia.org

Indië skiet stropers dood

Wiskundige begrippe soos die nulsyfer is sowat 3 000 jaar gelede in Indië geskep voordat soortgelyke vooruitgang in Europa gemaak is. Dieselfde geld vir die land se bydrae tot driehoeksmeting, algebra, rekenkunde en negatiewe syfers. Trouens, daar word aangevoer dat die wêreldwye gebruik van die desimale stelsel sy ontstaan in Indië gehad het.

Hierdie supermoondheid lewer tans ook ʼn groot bydrae tot die wêreld se elektronikabedryf en industriële bedryf met ʼn geprojekteerde groei van tussen 16% en 23% vir die volgende ses jaar.

Hierdie beknopte land met sy 1,3 miljard inwoners het ook baie mense – soms hele dorpies – verskuif om die Kaziranga-park te skep en te vergroot tot sy huidige 430 000 vk km (die Nasionale Krugerwildtuin is digby 20 000 vk km groot). Die park het ʼn geskiedenis wat dateer van die vroeë 1900’s, het amptelike regeringstatus in 1974 gekry, is die tuiste van 2 400 Indiese eenhoring-renosters (tweederdes van die wêreldtotaal) en ʼn Wêrelderfenisgebied.

Die regering het buitengewone regte aan Kaziranga se veldwagters gegee, asook groot beskerming teen die wet as hulle mense skiet en selfs doodskiet in die park. Die afgelope twee jaar is 50 stropers doodgeskiet van die sowat 300 plaaslike inwoners wat by die misdaad betrokke is.

Renosterhorings haal hoë pryse – tot R80 000 per 100 g! – in China en Viëtnam, waar dit gesien word as ʼn wonderkuur vir alles van kanker tot erektiele disfunksie.

Indië plaas die klem op ʼn paar erg bedreigde spesies en die pogings om hulle te bewaar is gelaai met patriotiese sentiment. Renosters en tiers het kragtige nasionale simbole geword.

“Ons skiet nie op sig nie. Ons waarsku en ondervra hulle eers, maar as hulle op ons skiet, skiet ons om dood te skiet,” sê die parkdirekteur, dr. Satyendra Singh. “Omgewingsmisdade, waaronder stropery, is ernstiger as moord. Dit vernietig stilletjies die wortel van alle beskawings.”

Dit klink erg, maar niemand kan kla dat hulle nie van die reëls weet asook wat kan gebeur as hulle oortree word nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae