Wind waai in rigting van Afrika-nasionalisme

Pres. Jacob Zuma lewer sy toespraak die Orlando-stadion in Soweto, Johannesburg by die ANC se 105de verjaarsdagvieringe (8 Januarie 2017). Foto: Twitter via @MYANC

Pres. Jacob Zuma lewer sy toespraak die Orlando-stadion in Soweto, Johannesburg by die ANC se 105de verjaarsdagvieringe (8 Januarie 2017). Foto: Twitter via @MYANC

Nou goed, nou wéét ons: Grond (in wit besit) gaan onteien word (om aan swartes uitgedeel te word). Vergoeding sal betaal word, maar uiteindelik sal die staat besluit hoeveel.

Dít was die basiese strekking van pres. Jacob Zuma se jaarlikse 8 Januarie-boodskap van vandeesweek.

’n Mens sou die toespraak vanuit verskillende gesigspunte kon ontleed. Jy sou kon wys op die rampspoed wat dergelike grondonteienings elders in die wêreld – die kommunistiese wêreld, Zimbabwe, om maar ’n paar te noem – gehad het.

Vandag wil ek ’n ander pad inslaan. Ek wil die toespraak plaas in ’n bepaalde historiese ontwikkeling van die ANC se denke.

Sedert sy ontstaan in 1912 is die ANC se politieke, maatskaplike en ekonomiese denke gevorm deur hoofsaaklik drie bronne. Hulle is ’n vae soort Engelse liberalisme, die Afrika-nasionalisme, en die Marxisme-Leninisme.

Die vroeë ANC is beïnvloed deur Engelse sendelinge en sendingskole soos die Metodistekerk se Healdtown in die Transkei, waar onder andere die jong Nelson Mandela geleer lees en skryf het. Dit was ’n tipiese Engelse liberalisme, wat ’n ambivalente houding aan die kinders oorgedra het – rassediskriminasie is verkeerd, maar terselfdertyd is die Afrika-kultuur min of meer agterlik en ’n struikelblok vir jou ontwikkeling.

Teen die jare dertig en veral veertig is dié liberalisme in reaksie hierop toenemend op die agtergrond geskuif. In die ANC-Jeugliga het militante soos Mandela, Walter Sisulu, Robert Resha en Robert Sobukwe meer gevoel vir ’n taamlik aggressiewe Afrika-nasionalisme, een wat die swart kultuur juis verheerlik en die wittes gehaat het.

Dié ontwikkeling het egter in botsing gekom met die Marxisties-Leninistiese denke van ’n beduidende aantal lede.

Reeds in 1928 het die Kommunistiese Party van Suid-Afrika opdrag van die Kremlin ontvang om die ANC te infiltreer, en alle sleutelposisies oor te neem terwyl sy eie aparte identiteit streng gehandhaaf word. Die ANC sou dan in ’n eerste fase as stormram gebruik word om die wit regering te verdryf, waarna die tweede fase, die sosialistiese revolusie, naatloos daarop sou volg. Dié rigting was streng nierassig.

Dit het tot ’n klipharde magstryd tussen die Afrika-nasionaliste en die kommuniste gelei. Maar die NP-regering se verbod op die Kommunistiese Party van 1950 het – agterna is dit baie ironies – die deurslag vir die kommunistiese oorwinning in die ANC gegee. Dit het die jong bulle soos Mandela laat insien dat sommige wittes, al was hulle kommuniste, 100% agter die swart bevrydingstryd staan.

Namate die jare aangestryk het, het ook die Marxisties-Leninistiese ideologie steeds meer vastrapplek in die ANC gekry. Mandela was self ’n tyd lank lid van die party se Sentrale Komitee. En as jy sy geskrifte uit die jare vyftig lees, asook die geheime memoires wat hy op Robbeneiland geskryf het, blyk hieruit ’n ortodokse kommunistiese oortuiging.

Mettertyd het die kommuniste ook magspolities beheer oor die ANC oorgeneem. In die jare tagtig was 80% van die lede van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee ook lid van die Kommunistiese Party.

Tog het die Afrika-nasionalistiese element oorleef. Daar was telkens opstande, groepe wat weggebreek het, mense wat gemeen het die ANC respekteer hul Afrika-tradisies nie genoeg nie.

Toe kom die wettiging van die ANC/SAKP in 1990, en Mandela se vrylating. In dié tyd, tot sy aftrede as president in 1999, is dit duidelik dat Mandela sy kommunistiese oortuigings op die agtergrond geskuif het. Dis asof die Engelse liberalisme waarmee hy in sy jeug kennis gemaak het, herleef het. Altans, dit is die afleiding wat ’n mens uit sy dade moet maak, wat veral op versoening en respek vir die demokratiese regstaat gemik was.

In dié tyd het die SAKP sy greep op die ANC grotendeels verloor. Dit het gebeur teen die agtergrond van die verkrummeling van die Ystergordyn, die uiteenval van die Sowjetunie en die verdwyning van die kommunisme as globale magspolitieke faktor.

Maar dit het, ironies genoeg, ’n vakuum gelaat waarin die Afrika-nasionalistiese benadering weer in invloed kon toeneem.

Pres. Thabo Mbeki se twee bewindstermyne was ’n eerste fase. Mbeki was ’n intellektueel wat vergesigte van ’n Afrika-renaissance gesien het, vergesigte wat helaas beskamend uitmekaar geval het. Vandaar dat hy sy oë vasbeslote vir die oorsaak van die vigs-epidemie gesluit het (Afrikane is nie seksueel losbandig nie), vir wat in Zimbabwe aan die gang was, vir die ontploffing van misdaad in Suid-Afrika, noem maar op. Regstellende aksie het toegeneem.

Toe kom Zuma.

Om Zuma ideologies te plaas, is eintlik onmoontlik. Hy het in werklikheid geen ideologie nie. Sy visie, dit kan ’n mens miskien sê, bestaan uit drie oorkoepelende beginsels – Jacob Zuma, Jacob Zuma en Jacob Zuma.

In welke mate hy iets van die ANC se Marxisties-Leninistiese idees oorgehou het, is moeilik te sê. Hy openbaar homself in sy lewenswandel wel as ’n ouderwetse swart Afrikaan, maar dit kan net so goed verklaar word deur sy uitstekende politieke aanvoeling vir wat sy gehore wil hoor. Bowenal, so lyk dit, is hy ’n opportunis.

Teen dié agtergrond kan ’n mens Zuma se toespraak dalk beter plaas. Sonder om hom van enige beginselvastheid te beskuldig, wek hy die indruk dat hy sien hoe die wind onder die swart kiesers waai.

Daardie wind draai stadig maar seker wég van die ANC. Steeds meer ANC-ondersteuners is siek en sat vir die korrupsie, magsmisbruik, onbekwaamheid en gebrek aan basiese dienslewering, en dryf stuk-stuk af na die EFF of die DA.

Die munisipale verkiesing van verlede jaar was ’n yslike skok vir die ANC. Selfs Zuma was duidelik geskud.

Nou het die party twee moontlikhede: Hy kan beter en doeltreffender regeer, of hy kan populistiese beloftes (soos die onteiening van wittes se grond) maak.

Zuma se keuse het duidelik op laasgenoemde geval. Waarmee hy op pad terug na die Afrika-nasionalistiese tradisie in die ANC is.

Dis natuurlik nie die einde van die storie nie. Verwag maar dat die bloed gaan vloei in ’n klipharde magstryd om Zuma op te volg.

Tans is daar twee kandidate: Nkosazana Dlamini-Zuma (Zuma se gewese vrou, van wie verwag word dat sy sy rigting sal voortsit) en Cyril Ramaphosa, wat die indruk wek dat hy die erns van die saak begryp en ’n ietwat ander rigting sal wil inslaan.

Maar moenie te veel verwag nie. Die wind waai (voorlopig altans) in die rigting van die Afrika-nasionalisme, en selfs Ramaphosa sal dit nie kan ignoreer nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Jakalas ·

Wel, daar gaan ‘n dag kom wat wit mense hulle self gaan moet beskerm teen die regering en nie net teen diewe nie. Hierdie is geskidenis wat ons beleef in vandag se dae. Ons kan of net terug sit en wag dat ons voetspore verdwyn uit Afrika of ons kan ons grond staan teen die grootste dreigement wat ons nou beleef. Siener was nogals op die bol om te sê hierdie gaan die swaarste tyd vir Afrikaners wees.

Ada ·

Jakalas, ja dit is waar van Siener. Dit gaan ‘n moeilike tydperk wees en ek is bly ek is deur sy skrywes gewaarsku sodat dit nie as ‘n skok vir my gaan kom nie. Gelukkig het dit ‘n goeie einde – maar dit is nog lank voordat dit gaan gebeur. Ek klou egter aan daardie hoop vas.

Verwonderd ·

Ek het ‘n promoninente afgetrede NP LP nou die dag oor die radio hoor sê: dat hy gedurende die samesprekings in die 90’s, aan Zuma gesê het dat die Afrikaner besef het dat hy nie sonder die ANC kan voortbestaan nie. Zuma se reaksie hierop was dat die ANC sonder die Afrikaner sal voortbestaan. Die motiewe van ons mede landsburgers teenoor oor die Afrikaner is duidelik. Hulle soek ons nie hier nie. Wat ‘n wonderlike tyd van gewaarwording vir die Afrikaner?

Nico K ·

Ek stem saam dat Ramaphosa lyk of hy die probleem van swak regering verstaan, maar hy gaan nie teen die swart massas kan wen nie. As hy te veel na die DA gaan neig, gaan dit groot steun aan die EFF gee, En hulle is vir ons ‘n groter probleem. Daar is ‘n paar ryk swartes wat al hoe meer na die DA neig, maar die groot massa armes word net al hoe meer rassisties. (Want daar word vir hulle vertel dit is alles ons skuld.) Die getalle in SA vermeerder onsettend.

O ja, ek het al in ‘n vergadering gesit wat Dlamini- Zuma gelei. Sy imponeer my glad nie. Ek dink nie sy is baie intelektueel nie.

Anoniem ·

Dankie, Leopold. Jou skrywe help my om soveel beter te verstaan.

JC ·

Blankes se grond (probeer) VAT = Suid-Afrikaanse burgeroorlog.

dr. Sakkie van der Merwe ·

JC jy praat van burgeroorlog. Wie gaan opstaan en veg? Kyk maar na die geskiedenis in Afrika. Ja, ons is in die laaste vesting, maar sonder ‘n weermag en polisie beland jy in die tronk soos die Boeremag-lede. Swart nasionalisme = Afrika, dit is hul kultuur, hul geloof en hul manier van doen. Hul sal alles afbreek (buiten dalk Nkandla) en weer in klei-hutte gaan sit en bier drink en die vrouens sal die lande bewerk voordat hul erken dat die Blanke ‘n plek het in SA. Voordat ons nie bereid is om erens ‘n plek vir ons te gaan “uitkap” waar ons oor ons self regeer , sal ons slawe en slagoffers word van die stelsel. Die Noord-Kaap en Wes-Kaap is gebiede waar “ons” mense voor kan begin – maar is ons bereid vir daardie opoffering. Die geskiedenis sal sy oordeel oor ons uitspreek.

JC ·

Dr van der Merwe, dit is korrek wat u se. U moet ook onthou dat dinge net so ver gedryf kan word voordat dit oorloop. Om persone se grond, wat deel van hul Godgegewe reg tot hul Vaderland is, en hul lewe, bestaan en werk uitmaak, te vat, sonder enige geldige redes, en met skade tot die land en al sy mense en die ekonomie, is natuurlik een van die dinge wat die pot kan laat oorloop en burgeroorlog kan veroorsaak, asook ondeurdagte uitsprake van ‘n Staatspresident wat veronderstel is om Suid-Afrika en AL sy mense te bedien.
Soos u voorstel, is ek van mening en ondersteun ek ten sterkste outonome selfbeskikkende gebiede soos Kleinfontein en Orania, waar die regering nie kan DREIG om sy “siek” ideologie af te dwing nie, en ek is werklik van oordeel dat dit ons heil sal wees en dat die voorkoms van sulke selfbeskikkende gebiede in die komende jaar en daarna met rasseskrede gaan toeneem. Groete:-)

Max ·

Wat is die rol van die Geldmag in hierdie proses? Mandela het al die jare 5 ster behandeling in die tronk ontvang en word vrygelaat as n multi-miljoener. Sal graag verneem wat is u kommentaar.

John ·

Alweer Rusland… Wat in Rusland oorgevat het was barbarisme oftewel Kommunisme. Vir Afrika is ‘n mooi woordjie uitgedink, Afrika-Nasionalisme.. en steeds is die barbarisme. Joune is myne en ons aanbid die mag wat almal onder sy duim hou.. of… En so gaan almal onder en is almal gelyk… Hoera! Dit word ook in die VSA bevorder en Europa is volgende. Alweer Rusland…

lw ·

Zums se oog is duidelik op sy eksvrou as die nuwe president. Hy wil haar heel moontlik beheer en manipuleer om na sy pype te dans. Ramaphoza moet nie te veel geprys word nie – netnou dink die ANC ons wittes verkies hom en dan raak hul weer moedswillig en neuk weer opdraande.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.