Wit monopolie-kapitaal: Weerligafleier van SA se werklike probleme

finansies-bestuur-geld-tyd-stevepb-pixabay

Foto: Stevebp/Pixabay.com

Deur Misheck Mutize en Sean Gossel

Die oproep vir radikale ekonomiese transformasie het toegeneem sedert pres. Jacob Zuma se staatsrede vroeër vanjaar. Hiermee saam word aangevoer dat “ʼn wit monopolie op kapitaal” in Suid-Afrika te blameer is vir die feit dat die meerderheid swart burgers steeds gemarginaliseerd is en meer as 22 jaar ná die beëindiging van apartheid steeds nie deel van die hoofstroom ekonomie is nie.

Die term “wit monopolie-kapitaal” is egter niks nuuts nie, maar word deesdae meer en meer gebruik om die aandag af te trek van die werklike kwessies wat die land se ekonomie in die gesig staar. Dit sluit die regering se onbevoegdheid, korrupsie, verswakkende infrastruktuur, gebrek aan vaardighede en swak beleid in.

Terwyl daar geraas gemaak word oor wit monopolie-kapitaal is dit duidelik dat die regerende party nie die politieke wil het om aandag te gee kritieke terreine wat die ekonomie benadeel nie – soos rigiede arbeidswetgewing en oneffenhede in die mark veroorsaak deur staatsbeheerde ondernemings. Daar is ook aanduidings dat die oproep vir die radikale transformasie ʼn politieke set is om die swart elite te verryk.

‘Wit monopolie-kapitaal’ is ʼn illusie

Die waarheid is dat kapitaal geen kleur of politieke affiliasie het nie. Dit kan nie deur ras of iemand gemonopoliseer word nie en sprake van ʼn wit monopolie-kapitaal is ʼn versinsel.

Die Johannesburgse Effektebeurs se indeks van aandeelhouers staaf dié argument. Ongeveer 50% van die totale markbeheer van die effektebeurs (R14 biljoen) word deur internasionale beleggers besit. Daarnaas besit swart ekonomiese bemagtigingsgroepe 23% (10% regstreeks en 13% indirek deur middel van ʼn mandaat van beleggings).

Dan is daar 14% wat hoofsaaklik deur Suid-Afrikaanse pensioenfondse, beleggingsfondse – wat ook ʼn swart verteenwoordiging het – en ander fondsbestuurders besit word. Laastens is daar die Openbare Beleggingskorporasie (PIC), ʼn staatsbeheerde batebestuurmaatskappy wat ongeveer 13% van die totale waarde van die JSE beheer. Die regering se werknemerspensioenfonds beheer die grootste deel hiervan.

Hierdie syfers dui daarop dat wit monopolie-kapitaal as oorheersende faktor oordrewe sowel as buite die kwessie is. In plaas daarvan om te bly hamer op hierdie misleidende mite moet die ANC eerder daarop fokus om die land se ekonomie te red van die drastiese afswaai in groei.

Stand van die ekonomie

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het in 2016 byna tot stilstand gekom met 0,3% minder groei as wat in 2015 ervaar is toe die groei reeds net ʼn skamele 1,3% was. Projeksies toon dat groei die volgende twee jaar sukkelend sal bly – net minder as 2%.

Daar is konsensus dat die Suid-Afrikaanse ekonomie minstens teen 6% per jaar moet groei om hardnekkige hoë vlakke van werkloosheid, tans op 27%, te bekamp. Voeg hierby die onstuimige politieke klimaat, sosiale onrus en ʼn verswakkende fiskale posisie en ʼn mens kan verstaan waarom die land voortdurend met ʼn kredietafgradering gedreig word.

Dit is gebiedend noodsaaklik dat die regering aandag gee aan die huidige stand van sake en die werklike oorsake van die penarie waarin die land is, takel. Mynbou en vervaardigingsektore het die afgelope paar jaar voortdurend bly krimp namate wêreldwye handels- en produksiepatrone verander het. Nietemin bly die regering hunker na ʼn vervloë era met ʼn laaggeskoolde werksmag in stede daarvan om beleid vir die onderwys en arbeidsmark te skep wat ʼn meer relevante vaardigheidsbasis kan oplewer.

Daarbenewens is die ekonomiese afswaai besig om die insameling van staatsinkomste sowel as die besteding daarvan weg te vreet. Hierdie druk het duidelik geblyk in die onlangse begrotingsrede toe die R30-miljard tekort aan inkomste grootliks aangevul moes word deur verhoogde belasting op hoë-inkomsteverdieners.

ʼn Voorsetting van hierdie patroon lei daartoe dat Suid-Afrika se herverdelende belastingstelsel nie volhoubaar is nie. Die jongste belastingdata dui daarop dat die top-10% verdieners verantwoordelik is vir sowat 72% van die belasting wat verkry word. Hierdie belastingbetalers benut egter net 6% van maatskaplike dienste. In teenstelling hiermee het die onderste 50% van belastingbetalers net 4% van belasting betaal maar ontvang 59% van maatskaplike dienste.

Dit is delikate situasie wat met sorg onder oë geneem moet word. Beleid wat die welvaartskeppingsvermoë van die rykes inperk deur hoër belasting en inmenging in markte kan veroorsaak dat die mense die land met hulle kapitaal sal verlaat of belasting sal ontduik. Dit sal ʼn verdere negatiewe effek op belastinginvordering en dienslewering aan armes hê.

Die oplossings

Talle maatreëls sal ingestel moet word om ekonomiese groei te stimuleer. Dit is belangrik dat die regering eerstens teenstrydige regulatoriese raamwerke uit die weg moet ruim terwyl duidelikheid en sekerheid gebied word omtrent die manier waarop ʼn beleid van ekonomiese transformasie voortgesit sal word. Boonop sal die regering goeie bestuurspraktyke voorop moet stel en terselfdertyd korrupsie moet bestry.

Die belangrikste is egter dat Suid-Afrika sy onderwysraamwerk moet omskep sodat dit geskoolde en semi-geskoolde werkers kan lewer wat geskik is in ʼn globaliserende wêreld.

Politici moet ophou om Suid-Afrikaners te mislei deur hul mislukking op wit-monopolie kapitaal te projekteer en só valse hoop te skep. Die regering moet eerder konsentreer op noodsaaklike gebiede waar hulle sake- en beleggersvertroue kan versterk om die land te help om uit sy lae groeisiklus te beweeg.

Laastens moet die regering die strukturele hervorming in uiters belangrike ekonomiese sektore implementeer – daar word lank al daarvoor gepleit. Dit sluit in die volhoubare voorsiening van energie, doeltreffendheid in staatsbeheerde ondernemings (insluitend gedeeltelike sowel as volledig geprivatiseerde ondernemings) en die hervorming van die arbeidsmark.

As ons nie kan uitstyg bokant die goedkoop politieke retoriek van die dag nie, sal Suid-Afrika vasgeval bly in armoede, ongelykheid en werkloosheid.

  • Misheck Mutize is ʼn lektor wat spesialiseer in finansies aan die Universiteit van Kaapstad en Sean Gossel is ʼn senior lektor verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se nagraadse bestuurskool.
  • Hierdie artikel is oorspronklike gepubliseer op die webwerf van The Conversation. Lees die oorspronklike artikel hier in Engels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ann ·

As julle nou so mooi hier verduidelik het, verduidelik dit ook aan d buiteland. Sien op Frans24 gister hamer hulle ook op d noot van wit monopolie in Suid-Afrika.

Dumber ·

Daar is BAIE meer SWART (MONOPOLIE) kapitaal in omloop in SA. Glo my as jy na die kernkrag en die wapentransaksie kyk, lyk die ‘wit kapitaal’ soos sakgeld. Daar is BILJOENE al in swart elite se sakke ingestop. Tenders, kommissies, oorgroot salarisse en bonusse (neem maar net Hlaudi as voorbeeld). Die WITTES het lankal nie meer die monopolie nie, maar bly fokus op die ‘ryk wittes’ sodat die massas vir hulle moet stem en MISKYK hoeveel biljoene het die SWART elite al in hulle sakke gesteek. Daar is ‘n baie klein groepie witmense wat nog mymagnate is en werklik GELD het wat as ‘wit monopolie’ beskou kan word, die ander maak net ‘n lewe en werk of vir homself of vir ‘n werkgewer.

Renier ·

Die “wit” geldmag is ‘n werklikheid. Die rasse-oorlog word deur dieselfde “wit” geldmagte aangevuur. Hervormings van regering gaan geen probleem oplos nie. Regering was nog altyd ‘n meganisme tot verslawing van die mensdom. Die idee dat hervormings van die onderwysstelsel ‘n oplossing bied is vals. Die Pruisiese onderwysinstellings het hom nog altyd ten doel gestel om gehoorsame “burgers” (slawe) te kweek. Nêrens in die wêreld kwalifiseer 12 jaar se “onderrig” jou vir meer as ‘n minimum loon joppie nie. Afrikaners se vooroordeel word uitgebuit en aangemoedig sodat hulle gebruik kan word as kanonvoer wanneer die laer klas slawe oproerig raak. Almal praat twak oor FW en kie wat hulle kwansuis sou verraai het. Die werklikheid is en was dat hierdie “wit” geldmag egter soos elders in die wêreld, stewig aan die stuur van sake staan. FW en maatjies was niks anders as marionette nie en dié wat die toutjies trek agter die huidige poppekassie, dieselfde groep psigopate is. Vra jouself maar gerus af wat die motief van die “wit” mede-skrywer van hierdie artikel is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.