Withuis-droom: Trump kort ’n deksels groot hupstoot

Foto: facebook.com

Foto: facebook.com

In sy jongste bydrae op Maroela Media skryf Nico Stegmann, wie se artikels ek hoog aanslaan, kategories: “Donald Trump gaan die volgende Amerikaanse president word. Hy gaan oorweldigend deur Amerikaanse kiesers op 8 November as president verkies word en in die proses Hillary Clinton ore aansit.”

Hy sluit sy artikel af deur te sê dat Trump “onstuitbaar op pad na die Withuis” is.

In al die jare dat ek Amerikaanse presidentsverkiesings dophou, het ek geleer ’n mens moet nooit te “kategories” wees nie, veral nie ’n volle drie en ’n half maande voordat die kiesers by die stembus moet opdaag nie. Daar is te veel onsekere faktore wat ’n verkiesing kan swaai, en ’n stellige voorspelling is onwys.

Natuurlik is dit nie onmoontlik dat Trump kan wen nie. ’n Mens moet jou persoonlike gevoelens oor die kandidate egter maar op die agtergrond skuif en werk met die feite en onsekerhede tot jou beskikking.

Die peilings gee ons ’n bietjie hulp, maar nie alte veel nie. Die gemiddelde van alle peilings gee Trump tans ’n voorsprong van 0,2%. Daarby het Trump die taamlike agterstand van ’n week of twee, drie gelede (toe hy tot 11% agter was) ingehaal. Op die oog af lyk dit nie goed vir Clinton nie.

Maar neem in ag dat elke kandidaat altyd ’n “bounce” kry wanneer sy/haar party se konvensie plaasvind. Dan is al die kolligte en die media-aandag op hom/haar gerig, en die publisiteit gee só ’n kandidaat sonder uitsondering altyd ’n hupstoot in die peilings.

Wel, dis duidelik dat Trump, met sy “bounce” en al, Clinton nie beduidend kon verbysteek nie. En tans is die Demokrate se konvensie aan die gang. As dinge normaal verloop, moet sy haar hupstoot in die peilings nog kry.

Dis waar sake nou staan. Al wat jy in konkrete terme hiervan kan aflei, is dat sake táns – weer daardie woord – baie gelykop loop. Van ’n uitklophou is (nog?) verreweg geen sprake nie.

As die landwye peilings onder alle kiesers ons nie eintlik help nie, is daar ander syfers wat dit wel kan doen?

Wel, allereers moet ’n mens stel dat die Amerikaanse demografie met elke presidentsverkiesing aan die verander is. En dit is wel deeglik van belang.

In 1960 was 85% van die land se inwoners wit, 11% was swart, 3,5% van Latyns-Amerikaanse afkoms en 0,6% Asiërs. Teen vanjaar het die wittes tot 63% afgeneem, die swartes het op 12% bly vassteek, maar die Latyns-Amerikaners het tot 17% gegroei en die Asiërs het tot 5% toegeneem.

In 2050, so bereken demograwe, sal die wittes net 47% van die bevolking wees, die Latyns-Amerikaners 29%, die swartes 13% en die Asiërs 9%.

Peilings wys dat slegs 1% van die swartes táns (let wel!) vir Trump wil stem. Vir die Latyns-Amerikaners wissel dit na gelang van die peiling tussen 17 en 23%, en ook onder die Asiërs is sy ondersteuners skaars.

Trump vaar eweneens betreklik sleg onder vroue – hy loop volgens een peiling 13% agter in dié groep.

Dis alles geen wonder nie, want Trump blink uit in ploerterige gedrag en beledigings vir sowat elke groep behalwe wit mans.

Al groep waar hy Clinton dus sleg die loef afsteek, is by wit mans, veral dié sonder tersiêre kwalifikasies. Onder wittes in die algemeen loop hy voor met 12-17%.

Verskeie Amerikaanse statistiese ontleders het gekyk na hoe etniese groepe gestem het in 2012, toe pres. Barack Obama sen. Mitt Romney geklop het. Op grond daarvan word bereken dat Trump Clinton by die wittes met ’n meerderheid van 25-30% sal moet pak gee as hy op 8 November wil wen. Hy sal minstens 62% van die wit stem moet kry (in 2012 het Romney 59% gekry).

Dit klink na ’n baie moeilike opgawe, maar dis seker nie heeltemal onmoontlik nie; enigiets kan gebeur, veral as hy mense by die stembus kan uitbring wat normaalweg nie stem nie. Terreuraanslae in Amerika self, of dalk nog ’n Clinton-skandaal – dit is alles dinge wat Trump kan bevoordeel.

Maar in dié stadium weet ’n mens dit nie. Trump is self kwesbaar vir skandale (wat skuil byvoorbeeld agter sy weiering om sy belastingsake te openbaar?)

Dis in elk geval duidelik dat die Trump-kamp die etniese minderhede min of meer afgeskryf het. Trump-hulle gaan vir die wit stem, veral die armer, laer opgeleides vir wie die Amerikaanse droom eerder in ’n nagmerrie ontaard het.

Vir vanjaar is daar ’n kans dat dit dálk kan werk, maar dis geen strategie met ’n lang raklewe nie. As die Republikeinse Party as sodanig – los van Trump – nie ’n deurbraak na die minderhede kan maak nie, sal hy kwalik ná dese nog kan wen.

’n Verdere probleem vir Trump is dít: Sommige statistiese ontleders het gekyk na die 31 deelstate wat sedert 1992 nog elke keer dieselfde gestem het – 11 wat ’n Republikeinse meerderheid en 18 wat ’n Demokratiese meerderheid opgelewer het. Indien (let wel!) dié state vanjaar ook weer so stem, kan Trump op 102 afgevaardigdes na die kieskollege reken en Clinton op 242. Dit beteken dat Trump 168 afgevaardigdes moet bykry om ’n meerderheid in die kieskollege te behaal (270 stemme), terwyl Clinton slegs 28 kort.

Dis waar dat Clinton ’n uiters gebrekkige kandidaat is. Haar verbete ambisie drup van haar af en stoot baie mense teen die bors. Sy het verskeie skandale ternouernood oorleef.

Volgens die gemiddelde van alle peilings het 38% van die kiesers ’n gunstige oordeel oor haar en 55% ongunstig. Nog nooit het enige kandidaat met sulke rampspoedige syfers ’n verkiesing gewen nie.

Maar Trump se syfers is amper nog erger – 36% gunstig en 57% ongunstig. Wat beteken dit alles?

Wel, ten eerste kan niemand met enige ervaring op dié oomblik onvoorwaardelik sê wie gaan wen nie. Dis eenvoudig onmoontlik.

In die tweede plek is dit duidelik dat Trump deur sy eie gedrag en verkiesingstrategie vir homself ’n aantal ekstra struikelblokke geskep het. Hy sal dié struikelblokke dalk kan oorkom, maar hy sal klippe kou om dit reg te kry.

My eindoordeel? My beste skatting is dat daar ’n kans van 60% is dat Clinton uiteindelik die pyp kan rook. Maar let wel, dis geen kategoriese voorspelling nie. Die tyd sal leer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Paul ·

Die interessante gaan wees hoe onafhanklike kandidate, of kandidate van ander partye soos die Green Party en die Libertarian Party gaan vaar. Ek vermoed hulle gaan baie meer stemme kry as in vorige jare, iets wat in sommige state interessante gevolge kan hê. Die kieskollege-stelsel in die VSA verhoed egter dat hul impak baie groot sal wees.

Christo ·

Daar is klaar besluit Hillary Clinton (vrou)gaan wen,daarom iemand soos Trump teen haar sit sodat dit nie so vanselfsprekend lyk nie……
Dis eintlik belaglik opvallend.

Anti DA ·

Christo ek respekteer jou opinie maar ek dink Trump gaan ver wen die wêreld benodig ‘n leier wat sterk is en die probleme aanspreek soos dit is sonder om altyd polities korrek te wil wees of nie die wil of moed het om dinge reg te ruk nie

DewaldS ·

Ag nee man, Leopold. Jy het vergeet om die Russiese agressie te noem en ook Donald Trump se moontlike geheime bande met president Poetin en hoe dit in Hillary se guns tel – jy moet nou nie dat ons jou vang laks raak nie…

Leopold Scholtz ·

Beste Dewald, van wanneer af ken jy my as iemand wat my inlaat met allerlei komplot-teorieë?

DewaldS ·

Beste Leopold,

Jou ‘Russiese aggressie’-mantra is al genoeg om ons te laat glimlag. Ja – ek weet – Rusland het sy grense tot reg langs die Navo-basisse geskuif – stoute oom Poetin…

DewaldS ·

Maar terug by jou artikel. Ek sien swarigheid vir Clinton in die ope debat teen Trump. Hy gaan maalvleis van haar maak.

gatiep ·

He he hulle het regtig vergeet van Putin die nare man wat die hele wereld wil oorvat en die arme goeie USA wat maar net wil keer dat dit gebeur. Goed gese DewaldS lekker gelag vir jou.

Nico Stegmann ·

Leopold, baie dankie vir die perspektief. As ‘n ervare waarnemer weet jy natuurlik mens moet nie voorspellings waag in verkiesings nie, veral nie die VSA-verkiesings nie! Self doen ek dit nie graag nie, dis teen politieke wetenskaplikes se grein! Ek wou egter graag aantoon dat ten spyte van al die negatiewe berigte oor Trump en die media se “stryd” om hom weg te wens, Trump se chutzpah hierdie een gaan wen. Dis beslis nie wensdenkery nie, maar eerder daarop gegrond dat Trump alle “normale” verkiesingsontledings omver werp. Hy gaan net sterker word vorentoe. Ek hou graag jou 60% kans op ‘n Clinton-oorwinning dop!

DewaldS ·

As Navo nie Rusland ‘encroach’ het nie en as die gewone verdagtes nie rewolusies op sy voorstoep ge-organiseer en finansier het nie, dan sal Rusland nie nodig gehad het om te reageer nie. Rusland het die volste reg om sy belange te beskerm. Almal in die Weste glo nie meer die media se weergawe nie – dit is een van die hoof-oorsake vir die regse partye se groei – ons praat van honderde miljoene mense wat nie die ‘dreigende Poetin’ nonsens glo nie.

My naam is Dewald Scholtz. DewaldS is maar net ‘n kort vorm. En Ouma Merkel leef op geleende politieke tyd.

Henry ·

Lekker en interessant om jou kommentare te lees Dewald!
Maak gerus vrede met die feit dat die insigte wat jy plaas, soms daartoe kan lei dat ‘n paar onderrokke flenters getrap word, maar dat daar talle van ons is wat wel jou gedagterigting deel en/of respekteer.
Gelukkig het meeste siele met die tyd geleer dat daar altyd verskillende vlakke en hoeke sal wees wat die rykdom en verskeidenheid van standpunte kenmerk. So het die tyd ook al hoevele kere geleer dat verwikkelinge/gebeure op die internasionale politieke terrein selde indien ooit so eenvoudig/enkelvoudig is, soos sommige piete dikwels wil glo.

Poenjap ·

Sal dit nie benede die “establishment” (demokraties EN republikeins) sit om die verkiesing te steel vir Killary nie. Die “eatablishment” is vir hulle baie belangriker as enige party. Trump is ‘n bedreiging vir die “establishment”. Trump is nie “establishment” nie maar Killary is.

anneli ·

ek dink persoonlik dat Donald Trump deksel vir sy hare kry, liewe genade hy het soooooo baie geld, kan hy nie iets aan sy hare doen nie!!!!!!!!!!!!!

Theuns ·

Dr. Leopold ek stem saam met jou! Moet jou nie steur aan DewaldS nie. Hy is maar net besig met verdagmakery! En boonop is hy ‘ n selferkende Russiese spioen! Boonop staan ou DS hand op die blaas met Zuma alhoewel hy dit ten sterkste ontken. Groete.

Lekkergelees ·

Ha-ha-ha-lekker laat julle my nou lag! Dankie vir bietjie humor in hierdie vaal tye…

Stan ·

As Trump suksesvol is dan baan dit die weg vir qnder lande om weg te doen met “carreer politicians” wat eintlik net daar is omdat hulle nie ‘n regte werk kan kry nie. Trump en Putin gee my baie hoop vir ons ou wereld.

Veritas ·

Stan jy is die enigste kommentator hier wat ‘n politikus sien vir wat hy is. Die probleem lê egter by die kieserkorps wat glo dat politici werklik die kiesers se belange op die hart dra. Die laaste Amerikaanse president wat na die kiesers geluister het was seer sekerlik Mickey Mouse. Regdeur die wêreld word kiesers ‘n rat voor die oë gedraai deur ‘n handjievol magsbehepte sotte met politieke aspirasies. Suid-Afrika is ‘n sprekende voorbeeld daarvan.

Knikkebollen ·

Lyk my daar is nog baie onder die kommentators hier wat steeds glo dat verkiesings deur kiesers gewen word. Ernst Junger het hierdie fantasie al reeds in die 1950’s hokgeslaan…

elmarie ·

Ons weet almal dat die US President gekies word deur die geldmag. Ons sal maar liewer stilbly oor hierdie 200 mense.

Leopold Scholtz ·

Beste Neef Dewald, dalk moet ons ‘n keer ons familie uitpluis. Hoe ook al, ek verstaan steeds nie wat Poetin nou eintlik met my artikel oor die Amerikaanse presidentsverkiesing te make het nie. Nietemin: Ek verstaan die Russiese vrees vir Navo se uitbreiding, en het dit reeds verskeie kere in artikels geskryf. Maar jy kan dit ook van die ander kant beskou: Is Pole en die Baltiese state nie soewerein onafhanklik nie? Het hulle nie die reg om self te besluit of hulle by Navo wil aansluit nie? Jy fouteer ook oor die “revolusies” wat deur die “gewone verdagtes” gefinansier is. Wil jy hiermee sê jy keur die reeks revolusies wat die Ystergordyn in 1989 laat verkrummel het af? Die revolusie van 2014 in die Oekraïne was presies dieselfde ding – dit was ‘n spontane opstand wat pres. Janoekowitsj die hasepad laat kies het. Daarna het die land se parlement ‘n nuwe oorgangspresident gekies, waarna verkiesings gehou is wat die huidige president aan die mag gebring het. Daarmee sê ek nie die huidige regering is so fantasties nie. Maar dit is die onbetwisbare historiese feite, al wil sommige dit in hul aanbidding van Poetin nie erken nie.
En Boerseun, ek gaan nie op jou sarkasme antwoord nie.
Vir julle almal, lekker week vorentoe. Dewald, ons kan gerus weer gesels – ek hou van ‘n beskaafde gesprek.

Nico K ·

Ek gaan my nou nie ophou met baie van die belaglike kommentare hierbo nie. (Dit is klaar besluit dat Hillary moet wen! Regtig? Deur wie?) Maar as ons nou op rasionele wyse dink. Die groot faktor in enige Amerikaanse verkiesing is nie die presentasie stemme wat jy kry nie, maar of jy die meerderheid stemme in die grootste state kan kry. Aangesien die VSA nog steeds nie die proporsionele stelsel gebruik nie, kan ‘n kandidaat met ‘n minderheidsstem wen. (Soos die Nasionale Party in SA in 1948 gewen het.) Ek sal graag meer daarvan wil hoor.

Koos ·

As daar vandag ‘n leier opstaan in Suid-Afrika en die versekering gee dat hy misdaad en korrupsie sal uitroei.,en hy gee die versekering dat die grense toegemaak sal word en die miljoene onwettige immigrante terug gedeporteer sal word na hulle lande en die doodstraf sal terugbring vir ernstige misdaad wed ek jou die land stem vir daai man of vrou

John ·

Ek verstaan nie hoekom professor Scholtz nou omspring en kritiek teen oumie Clinton lewer nie. Dis dan sy wat die wereld gaan bevry van die boosaardige Rusland wat destyds atoombomme op Japan gegooi het toe vrede reeds op die kaarte was en die Engelse in die VSA Hitler in sy ondergrondse kaia gaan vaskeer het. Ja, van Rusland wat Afganistan en Irak en Libie en Suid-Afrika se rassiste ‘n lessie geleer het en nou in Sirie weer die president sal uithaal vir nog nagmerries vir die Jode. En Rusland, die enigste land in die wereld waarvan al die atlete net dmv kragtige opkikkers kan presteer op sportgebied. Ons hoop net die VSA het genoeg wapens teen die listige vyand wat die Clinton-clan nou gaan pak. Oupa Clinton bewe wel van ouderdom, maar grootpraat kan hy steeds grootpraat en help gaan hy help… oeieee!….

Knikkebollen ·

Ek is die afgelope week hier in die VSA. Dit is duidelik dat die ‘establishment’ halsband-media, daarop uit is om Trump totaal onbevoeg te laat lyk en hy self blyk nie baie te doen om daardie stroom teen te staan nie. So- op die oog af blyk dit dat die kiesers na die Clinton kamp toe gedryf word. Daar is egter ‘n paar faktore wat hierdie aanname in die wiele kan ry: ten eerste, Clinton is vir 30 jaar deel van die ‘Establishment’ politici en baie mense is keelvol vir dekades se beloftes. Hulle soek iemand wat nie beskou word as deel van die staande orde (hetsy Demokraties of Republikeins) nie. Ten tweede: Clinton staan vir sterk sentralisering van regering, wat groot sentrale skuld sal aangaan om vir gratis onderwys, mediese sorg ensovoorts te betaal. Trump aan die ander kant, is ooglopend gekant teen sterk sentrale regering, ‘n beginsel wat baie naby is aan die oorspronklike Amerikaanse grondwetlike beginsels. Hy daag die ‘establishment’ in Washington uit en sy benadering is die enigste een wat in ten minste 60 jaar, regtig anders as hoofstroom sosialisme aan die een kant, en militer-industrialisties aan die ander kant blyk te wees.

REAList ·

En die man in die straat sal bepaal wie sal regeer.
Wie die een sal wees sal die beloning wie vir die kiesers wees.
Ek is seker daar sal nie ons belaglike 58.58% opkoms van kiesers wees nie.
Power to the sheeple!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.