Wittes betaal reeds welvaartsbelasting

Aartsbiskop Desmond Tutu

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu se voorstel dat wittes welvaartsbelasting moet betaal, is net so sinloos soos om voor te stel dat ʼn sokkerbal rond moet wees.  Dit, terwyl almal weet dat ʼn sokkerbal se vorm reeds rond is en waarskynlik nog lank rond gaan bly. Die punt is dat “wittes” – om die rasse-term in Tutu se voorstel te gebruik – reeds buitensporig swaar dra aan wat gesien kan word as verskeie vorme van “welvaartsbelasting”.

Alhoewel die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se beskikbare statistiek nie inligting oor rasgroepe se bydraes bevat nie, kan die redelike afleiding uit ander data oor inkomstegroepe gemaak word dat wittes verantwoordelik is vir die betaling van meer as die helfte van alle persoonlike inkomstebelasting wat die staat tans invorder.

Suid-Afrika se totale bevolking van 50 miljoen mense word teenswoordig onderhou deur slegs sowat 5,2 miljoen mense wat persoonlike inkomstebelasting betaal.  Sowat 31% van hierdie belastingbetalers, oftewel 1,6 miljoen mense, was in die 2009/2010 belastingjaar verantwoordelik vir die betaling van 81,2% van alle inkomstebelasting.

Die klein belastingbasis het tot gevolg dat Suid-Afrika se relatief klein middelklas, waarvan ʼn wesenlike deel wit is, tans oorbelas word om die land te dra. Om nou met ʼn “welvaartsbelasting vir wittes” nog ʼn laaste goue eier uit hierdie gans te probeer druk, is nie volhoubaar nie.  Die vuisvoos gans gaan nie onder hierdie omstandighede optimaal kan bydra tot verdere ekonomiese groei nie, tot nadeel van almal in die land.

Diegene wat wittes gereeld beskuldig dat hulle nie bydra tot die welstand van hulle landgenote nie, ignoreer doelbewus hoeveel van hierdie mense se belastinggeld deur die staat gebruik word om maatskaplike spandering te finansier.  ʼn Totaal van 15,1 miljoen maatskaplike toelaes word op die oomblik maandeliks deur die staat betaal.  In die 2011/2012 belastingjaar is begroot om sowat R97,6-miljard aan hierdie toelaes te spandeer.  Daar is verder begroot om ʼn bykomende R49,3 miljard aan ander vorme van sosiale ondersteuning te bestee. Verder ook nog R112,6-miljard aan openbare gesondheid, R121,9-miljard aan behuising en gemeenskapsinfrastruktuur en R189,5-miljard aan openbare onderwys te spandeer.  Allestesame is dit sowat 59% van die staat se totale begroting.  Die reuse bedrae geld wat die staat hieraan spandeer, behoort ʼn veel groter impak te hê as wat tans die geval is.  Belastingbetalers en armes moet egter toekyk hoe baie van hierdie geld deur wanbestuur en korrupsie vermors word.

Swak dienslewering deur die staat het tot gevolg dat die druk op die klein groep belastingbetalers in die land nog verder vergroot word.  Die groep betaal nou in baie gevalle “dubbel belasting” deurdat hulle genoop word om hulle tot privaat diensverskaffers te wend om onder meer kwaliteit mediese sorg en veiligheidsdienste te bekom.  Bykomende skoolgeld word betaal om hoë gehalte onderrig vir hulle kinders te verseker.  Dan praat mens nog nie eens van die impak van BTW, munisipale belasting, brandstofheffings, voertuiglisensies, tolgelde, invoerbelasting, belasting op eiendomsoordragte, kapitaalwinsbelasting en ʼn reeks ander belastings soos vir die voorgestelde nasionale gesondheidsversekeringstelsel nie.

ʼn Gevallestudie wat Solidariteit se Navorsingsinstituut gedoen het, het bevind dat ʼn individu wat R30 000 per maand verdien, onder normale omstandighede sowat die helfte van sy/haar inkomste aan onder meer inkomstebelasting, BTW, brandstofheffings, tolgeld, erfbelasting, mediese uitgawes en veiligheidsdienste spandeer.  ʼn Deursnee lid van die groep van wie nou gevra word om “welvaartsbelasting” te betaal, kan dus vir 6 maande van die jaar werk net om belasting en uitgawes wat normaalweg deur belasting gedek moes word, te betaal.  Die tyd wat gewerk word om belasting te betaal, is in effek ook tyd wat mense werk om die staat se uitgawes ten bate van armes te help finansier.

Om te werk en belasting te betaal, sonder om self werklik voordeel uit ʼn groot deel van daardie belasting te trek, is sekerlik een van die grootste versoeningsgebare wat enige mens kan maak.  Om dus oorbelaste wittes se reuse bydrae tot die staatskas te misken, speel in die hande van politieke ideoloë wat die mite in stand wil hou dat wittes onderdrukkers is wat geen bydra tot die welstand van hulle landgenote lewer nie.  Hierdie mite word as regverdiging misbruik om nuwe onregte te pleeg.  Die feit dat Julius Malema kan sê wittes is kriminele, sonder dat president Zuma hom tot orde roep, is ʼn kommerwekkende voorbeeld van die verdraaide denkraamwerk wat op hierdie mite teer.

Die feite wys minderhede soos Afrikaners en wittes doen meer as hulle deel in hierdie land.  Ons kan nie meer stilbly wanneer pogings aangewend word om hierdie groepe se rol te misken, valse skuldgevoelens by hulle te kweek en hulle die slaansak van die samelewing te maak nie.

Ek wil afsluit met ʼn boodskap aan aartsbiskop Tutu: Die posisie wat u as ʼn morele stem in die ore van ʼn groot deel van die land se bevolking beklee, vereis van u om – terwyl u nou in rasseterme praat – ook te begin om die Malema’s van hierdie wêreld se kriminalisering van wittes stop te sit.  ʼn Goeie begin sal wees om erkenning te gee aan die reuse bydrae wat wittes tot die staatskas en die land maak.

  • ‘n Verwerkte weergawe van hierdie artikel het op 21 Augustus in Rapport verskyn.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Louis du Plessis ·

Kallie ~ Met die voorslaginsig dat ‘n klein kreatiewe minderheid in Suid-Afrika die sukkelende massas en hebsugtige leiers, op hulle skouers dra, ontbloot jy ‘n finansiële las wat ons daagliks ervaar.  Soos Solidariteit in die geheel, praat ook jy namens dié kreatiewe minderheid.  Dis hoekom Afriforum so na aan ons harte lê.  Hoekom Afriforum se ledetal van maand tot maand groei.  

Anoniem ·

Geagte mnr Kriel,

U artikel bied ‘n baie goeie argument téén die instel van ‘n bykomende wit welvaartbelasting.

Wat egter moontlik verdere bespreking vra is die volhoubaarheid van die status quo.

Hoe volhoubaar is dit vir ons om belasting aan ‘n regering te betaal wat daardie geld nie doeltreffend kan aanwend om versoening te bemiddel, armoede te verlig, onderrig te verskaf en infrastruktuur te bou nie?

Ons internasionale mededingendheid, menslike ontwikkelingsindeks en gemiddelde lewensverwagting daal daagliks.  Uiteindelik, met of sonder welvaartsbelasting vir wittes of gedwonge onteiening sonder vergoeding, sal ons nie meer die pas kan volhou nie.

Strategies is dit slegs logies dat ons op gestruktureerde wyse die volgende termyndoelwitte najaag ten einde weer op die koers van volhoubaarheid te kom:

1)  Vermy bykomende belasting vir die korttermyn (0 tot 2 jaar)

2)  Herstel dienslewering aan minder bevoorregdes vir die medium termyn (2 tot 10 jaar).  Belasting moet eenvoudig doeltreffend aangewend word om basiese dienste effektief te voorsien sodat armoede verlig kan word om versoening realisties te maak.  Hiersonder sit ons op ‘n kruitvat wat wag om te ontplof.

3) Bied waarde aan belastingbetalers oor die lang termyn (10 tot 20 jaar). Belastingbetalers moet uiteindelik waarde vir hul geld kry deur die meer gevorderde dienste wat die staat moet bied soos kwaliteit mediese sorg, aftreevoordele, navorsing en ontwikkeling, besigheidsontwikkeling, infrastruktuurontwikkeling, ens.  Hierdie doelwit is ‘n vereiste vir ‘n stabiele en groeiende belastingbasis oor die lang termyn.

Indien ons nie die ANC regering kan beweeg om bogenoemde doelwitte te behaal nie, skuld ons dit aan onsself, ons mede Suid-Afrikaners en ons nageslag om ‘n alternatief vir die ANC daar te stel, hetsy op nasionale vlak of op streeksvlak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.