Wittes: Gryp die uitdaging

skaakbord-leierskap

Foto: Obsidianphotography/Pixabay.com

Ope brief deur Gerhard Papenfus

“Wittes” – ʼn verskynsel met ʼn unieke betekenis in Suid-Afrika – is nie ʼn homogene entiteit nie; dit is inderdaad ʼn baie diverse groep. Onder hulle is rykes en armes; van baie ryk tot baie arm. Hulle kan in alle sosiale statusvlakke gevind word – van hoë aansien tot waar hulle nie meer van waarde geag word nie. Sommige het voordeel getrek uit apartheid, ander nie. Van hulle slaag daarin om in die Nuwe Suid-Afrika te oorleef en selfs daarin te floreer; ander nie. Van hulle praat Engels en ander Afrikaans, en om die een of ander rede bly dit ʼn kwessie. Sommige het twee paspoorte en ander nie. Van hulle wil Suid-Afrika verlaat, maar kan nie; ander kan, maar verkies om te bly. Sommige is rassiste; ander tot ʼn mindere mate. Ek bevind my iewers in hierdie mengelmoes.

Om die een of ander rede is die skryf hiervan ongemaklik van aard. Die rede is tweeledig. Eerstens het ek myself nog nooit in ʼn geveg bevind vir die belange van ʼn groep gebaseer op velkleur nie. Die ander rede is die feit dat daar ʼn onderliggende verwagting is dat ek moet swyg, om nie die ongewilde ding te doen nie, om nie my mening te lug nie, om maar net my lot te aanvaar en die straf te verduur vir die sondes van my voorvaders. Daar is dus die versoeking om, binne die konteks van my relatiewe veiligheid, te swyg, hoopvol dat dinge vanself sal verbeter, wetende dat dit nie die geval gaan wees nie, tensy ek, en ander soos ek, ʼn verskil gaan maak.

Binne die omstandighede waarin Suid-Afrika hom bevind, is anti-wit-retoriek aanvaarbaar (selfs gewild), die bevordering van volskaalse swart bemagtiging is prysenswaardig terwyl die beskerming van wit belange as rassisties uitgekryt word. Die situasie het dermate versleg dat die slagting van wit boere (onder die dekmantel van die gebrek aan veroordeling en politieke wil) byna nie meer nuuswaardig is nie, selfs onder wittes. Ons hoor daarvan, raak gewoond daaraan, daar is niks wat ons daaromtrent kan doen nie en ons beweeg aan. Wittes het hulself onderwerp aan die onderliggende sosiale verwagting om te swyg; asof ons nie uit die hart mag praat nie, net ingeval ons as rassiste gebrandmerk word. Dit is mos onaangenaam om ʼn rassis genoem te word, selfs komende van ʼn ander rassis.

Tydens die Staatsrede op 9 Februarie het die president dit duidelik gemaak dat alle maatreëls tot die beskikking van die staat aangewend sal word om hulpbronne, in alle fasette, van wittes weg te neem – in terme van die ANC se agenda van “radikale ekonomiese transformasie”. Die uiteindelike doelwit van hierdie beleid is uitgespel in die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie, wat aan wittes (asook bruin mense en Indiërs), ten opsigte van elke aspek van die samelewing, ʼn porsie toedeel ooreenkomstig hul onderskeie demografiese verteenwoordigingsvlakke – ʼn “lewenskwota” van 9% vir wittes, 9% vir bruin mense en 2% vir Indiërs; ʼn nimmereindigende rasgebaseerde skema, die sogenaamde “naatlose oorgang”.

Om enige groep tot so ʼn ekonomiese, sosiale en opvoedkundige hok in te perk, nieteenstaande sy bydrae en vermoëns, is nie transformasie nie. So ʼn beleid kom neer op gewettigde volksmoord, op elke vlak, met die uitsondering van fisieke uitwissing. Vir mense wat aan hierdie sosiale reëling onderwerp word, is selfs die voorreg om te stem waardeloos.

Wittes bevind hulself in ʼn baie verwarrende situasie. Aan die een kant is die ervaring soortgelyk aan dié van die Jode in die voor-volksmoordfase in Duitsland, waartydens alle Joodse ekonomiese aktiwiteite radikaal uitgewis is. Dié proses was uiteraard gevolg deur die volksmoord – dit is omdat naywer, haat en wraaksug nooit bevredig kan word nie. Ironies genoeg, word daar ook van wittes verwag om ʼn skuldgevoel te dra, soortgelyk aan diegene wat vir die volksmoord verantwoordelik was. Dis verstommend.

Hoewel dit baie verdoemend klink, is dit nie die geval nie. Om jou in so ʼn situasie te bevind, is ʼn karaktervormende avontuur, hoewel steeds ʼn baie uitdagende vooruitsig, ʼn dilemma wat iemand wat ʼn vol lewe nastreef, kan beny. Nou, meer as ooit tevore, het wittes die geleentheid om betekenis en vervulling te vind. Aangesien wittes hulself voortdurend in onverkende waters gaan bevind, sal hulle gedwing word om weg te stuur van selfverryking en sekuriteit, na ʼn meer edele doel – die vervulling van hul aanvanklike roeping; nie net in eie belang nie, maar in ooreenstemming met dit wat reg is – om van Suid-Afrika ʼn beter plek te maak, meer as ooit tevore. Dus, as jy wit is, en as jy smag na ʼn ware avontuur, ʼn stryd om lewe en dood, dan is Suid-Afrika die plek om te wees.

Wittes sal moet aanpas by ʼn nuwe werklikheid, waar vervulling en betekenis slegs gevind kan word in ʼn vyandige omgewing, waar die ooglopende hulpbronne, wat in die verlede makliker bekombaar was, nou die teiken van herverdelingspolitiek geword het en gevolglik nie meer vir wittes (en moontlik ook nie vir bruin mense, Indiërs en ander minderheidsgroepe) toeganklik sal wees nie. Dit is reeds so dat selfs swartes, wat nie bereid is om deel te wees van onetiese transaksies nie, dit moeilik vind om toegang tot sekere elemente van die “radikale getransformeerde ekonomie” te verkry.

Wittes, of ten minste diegene wat bereid is om aan te pas by die nuwe omgewing, sal ontdek dat vir elke deur wat toegaan, ʼn ander een sal oopgaan – selfs groter oop; maar om hiérdeur te gaan sal ʼn nuwe stel waardes verg – wat insluit geloof, hoop, opoffering en onwrikbare deursettingsvermoë.

Wittes sal selfs ʼn groter bydrae moet maak, maar nou in omstandighede waar hul vermoë om dit te doen onder voortdurende druk sal wees. Hulle sal aanpas by die konstante onsekerheid, maar steeds hul roeping volbring. Hulle sal hulle begeef op terreine wat onontgin is, dinge anders benader, meer risiko’s waag en, bowenal, hierdie groot geleentheid wat hom as uiters ongunstig voordoen, met albei hande aangryp.

Wittes – ten minste dié wat bereid is om by hierdie nuwe werklikheid aan te pas – sal nie swig nie. Ons kan inderwaarheid nie, want as ons swig, sal ons eenvoudig uitsterf. Daarom sal ons veg asof ons lewe daarvan afhang, maar hierdie keer die regte stryd – ons sal veg waar die stryd werklik is:

  • Ons sal met onsself begin: ons sal ons eie harte ondersoek vir tekens van selfsug, rassisme en bevooroordeeldheid; ons sal alle Suid-Afrikaners na waarde ag en hulle behandel soos wat ons wil hê hulle moet ons behandel.
  • Hierdie gesindheid, uitgeleef in die mees vyandige omstandighede, sal meer doeltreffend wees as wetlike “hervorming” en daartoe lei dat hierdie nasie ʼn baken van hoop word.
  • Aangesien ons weet dat hierdie beoogde vorm van “radikale ekonomiese transformasie” toenemende ellende tot gevolg sal hê, sal ons, binne konstitusionele grense, volhard om daarteen te protesteer, nie net omdat ons daardeur geraak word nie, maar ook ten behoewe van hulle wat nie ʼn stem het nie, asook hulle wat mislei word om te glo dat die huidige vorm van transformasie tot hul voordeel is.
  • Met die besef van die onsekerheid, die verbygaande aard en leegheid van materialisme, sal ons ons doelwit aanpas, om nie net te beskerm wat vir ons van waarde is nie, maar ook in die beste belang van alle Suid-Afrikaners. Ons sal onsself bevry van die las van hierdie “dinge”, ʼn eenvoudiger lewenswyse aanneem en meer fokus op hoe ons ʼn bydrae kan lewer, eerder as wat ons daaruit kan verkry.
  • Ons sal ons besorgdheid oor ons materialistiese vermoëns sien vir wat dit is en, in plaas daarvan om die verlies wat ons mag ondervind te vrees, die veranderinge en teëspoed aangryp as ʼn geleentheid om te baat waar dit regtig tel.
  • Ons sal tot die besef kom dat, in ieder geval, wat ons het slegs tydelik van aard is; ons sal gemak en enige vorm van arrogansie agterweë laat en rentmeesters wees vir die groter doel.
  • Ons sal aanvaar dat die wêreld, nie net die een waarin ons onsself bevind nie, voortdurend verander en dat die wiel voortdurend draai, dat ons nie kan terugkeer nie (ons wil inderwaarheid nie); die lewe beweeg aan en ons moet ook. Daarom verbind ons onsself daartoe om nuut te sien, te verstaan en te doen.
  • Daarom sal ons die uitdaging van ʼn baie onsekere toekoms aanvaar en die geleenthede wat die beste in ons uitbring, ons toerus vir wat die toekoms mag vereis, aangryp.

Dus, in plaas daarvan om in ons dop te kruip sal ons alle oorblyfsels van selftoe-eiening versaak, werklike rykdom skep (in plaas van welvaartverdeling), daarmee voortgaan om werk te verskaf en werk te skep, die nasie van voedsel voorsien, ons families onderhou en, bowenal, staatmaak op God se wysheid en sy seën om sodoende ons roeping te vervul.

  • Hierdie ope brief is geskryf deur Gerhard Papenfus, Uitvoerende Hoof van die National Employers’ Association of South Africa (NEASA). Hy het dit geskryf in sy persoonlike hoedanigheid.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

JC ·

Afrikaners sal die uitdaging gryp ja, soos altyd, en nog baie dankie se daarvoor OOK, maar ONS SAL NIE uitdeel wat regmatiglik aan ons behoort en waarvoor ons gewerk het met bloedsweet nie, terwyl ons die politieke soustrein se rit elke dag borg nie. NOOIT NIE. ONS SAL NIE ONS VADERLANDSPLIG EN REG VERSUIM NIE!!
Ons sal veg vir ons taal Afrikaans en ons kultuur EN ONS GROND en bates wat ons oor beskik, en nie vir ander blankes of minderheidsgroepe veg nie MAAR VIR ONSSELF , aangesien ander minderheidsgroepe skynbaar vere voel vir ons eie stryd. Hierdie is nie die stryd om die blanke nie mar die stryd om die Afrikaner en kom wat wil ons sal oorwin!!!

Pieter Rousseau ·

Dit is baie goed gesê Gerhard. As ñ Christen nasie moet ons nooit vergeet om die vrugte van Heilige Gees na te jaag nie. Baie van wat jy geskryf het wys op hierdie karakter trekke. Dit is belangerik dat ons skatte in die Hemel bymekaar maak en nie op aarde nie.

Theresa ·

Dankie dat jy nie bang is om te skryf wat jou hart sê nie.
Ons bestaan. Ons is. Niemand kan ons wegwens nie.

Bert ·

Ek het ongelukkig nog nie vanuit Afrikaanse geledere ‘n oortuigende teen-argument teen die kwota of demografies-verteenwoordigende model gehoor nie. Op ‘n baie basiese en ‘regverdige’ vlak maak dit eintlik sin en dit is waarom die pro-demografiese kwota groep meestal na my mening die argument wen. As enige groep bokant sy demografiese-verteenwoordigende gewig boks beteken dit onvermydelik dat daardie groep ‘beter’ is as die ander groepe. Dit sal in ‘n land met ons agtergrond nooit werk nie. Selfs Dr Verwoerd het in terme van kwotas gedink. Ek weet nie hoe mens die argument gaan wen nie maar ons sal met iets beter vorendag moet kom.

KANTLYN ·

Bert, wette wat gemaak word geld vir almal. Daar kan nie `n wet wees wat slegs vir een deel van die bevolking geld nie. As daar dan `n ding in die wetboek geskryf word rakende grond vergrype, dan mag blankes ook grond beset wat nie aan hulle behoort nie. Dit sluit in grond wat aan swart mense behoort. Ons is nie Zimbabwe nie. Ons sal nie toelaat dat dit gebeur nie. Die blanke volk sal opstaan daarteen. Hier sal oorlog kom as dit die dag gebeur dat swartes blankes se grond neem (lees vat) sonder vergoeding. As Blankes kan betaal vir grond dan kan swartes ook. Daar is genoeg grond wat reeds aan die staat behoort. Al wat die staat moet doen is, die grond wat reeds in staats besit is, verkoop (of weggee) aan swartes. Swartes het nie nodig om blankes se grond oor te neem nie. Ons is darem nog so 9 miljoen blankes. Dalk sal die staat vir Blankes ook grond gee…?

Dereck Le Roux ·

Wittes sal dit moet doen en wittes sal dat moet doen, wittes sal dit moet prysgee en wittes sal dat moetprysgee, ja die beroep op wittes om alles op te offer wat hul land mag vra vir die voorwaarde van ‘n vreedsame naasbestaan is legio, dit word legio en daagliks word die doelpale verskuif en die speelveld so ongelyk as moontlik vir wittes gemaak ten spyte van al die opofferings wat wittes teen wil en dank moes maak en swartes het nog absoluut geen maar geen positiewe bydrae gemaak nie , daar is wittes soos ek wat sien en al gesien het dat die politieke kooksel wat aan ons opgedis word is niks anders as die dood in die pot wat andersdenkende wittes en swartes van ons verwag om te eet nie met die eise jy moet dit doen terwille van wit oorlewing wat wittes soos ons nie meer bereid is om verdere toegewings te maak nie want swartes het agtergekom dat hoe meer eise hulle stel en hoe verder hulle die doelpale verskuif en hoe ongelyk hulle die speelveld maak het wittes soos ek besluit ons is niks aan niemand verder verskuldig nie behalwe teenoor God Almagtig en geen swarte, witte, bruinmens of asiaat nie.

apie ·

Mnr Papenfus, ons leef almal reeds baie eenvoudiger. Ons het ook nie ‘n probleem met ons landgenote nie. Net met die patetiese regering, wat misdaad direk veroorsaak en wat jou hard aan jou besigheid se beursie knyp met verskillende soorte sanksie , nie net BEE nie. Die ANC regering gee bloot nie om nie. Dit gaan vir hulle nie oor more nie, maar net vandag. Hulle is so vasbeslote om alles te vernietig dat nie eens die reg of opposisie partye hulle kan keer nie. Hul 2derde meerderheid is weg en dit keer hul ook nie. Jong mense van 22 jaar is gebore na 1994, en ken net ‘n knaende onveilige gevoel, ‘n haatdraendheid teen hulle en regstellende aksie.

John ·

Die Kommuniste behoort die outeur innig te bedank vir hierdie flinke advertensie vir hul ideologie en sy bloedbroers, die Nuwe Wereldorde en globalisering. Hy het net nagelaat om te se daar is nog 3 klein opofferings wat vir die Afrikaners in nuwe utopia wag nl die afsien van ons taal, ons geloof en ons ras en dan is ons aangepas en alles dood dollies…

Oom Harry ·

Papenfus se “crazy mixed-up brief” wemel van teenstrydighede en `n duidelike gebrek aan kennis van die historiese verlede veral van Duitsland voor en tydens die 2e wereldoorlog en wie hoeveel doodgemaak het en die oorlog veroorsaak het. As grond in SA gesteel is, het die khoi en san dit van die springbokke gesteel, die swart intrekkende stamme het van die khoi en san gesteel en van mekaar, ens. As 75-jarige met heelwat kwalifikasies op eie koste verwerf en nie bevoordeel nie deur die sogenaamde apartheidsregering wat reeds voor 1900 deur die Engelse geskep is, kan ek met baie meer gesag as Papenfus praat. Hy moet maar weer gaan dink, `n korter brief skryf en probeer logies wees. Die stille meerderheid Afrikaners raak moeg vir die pienk liberale sienswyses. Lees die boek: “Tell the truth and shame the devil” van Gerard Menuhin, en word wys.

marius ·

Jesus het Sy rug op die leiers van Sy eie volk asook die meeste dinge wat baie na aan hulle was gedraai. Hy het die primêre opdrag gegee om dissipels van alle nasies te maak. Nooit gesê gaan preserveer jou volk nie. Baie mense hier en sogenaamde Christene met wie ek elke dag te doene kry kan hierdie Jesus nie verdra nie. Hulle sê dit net nie. Hy het gesê verskriklike dinge sal met Sy volgelinge gebeur, maar dat dit moet gebeur. Hy het gesê hul getuienis sal juis in hulle lyding wees. So Gerhard, laat hierdie mense jou beskuldig van wêreldordes en watse twak nog. Jy word eintlik verbaal vervolg vir ‘n boodskap wat baie meer as die evangelieboodskap klink as van die kommentare hierbo. Lees die Bybel en word wys oom Harry. Dis ‘n beter “truth”. Dit werk uiteindelik net uit vir God se kinders wanneer Hy self ‘n einde bring en alles nuut maak. Jy sal óf vergaan in jou eie gemak soos die westerse wêreld en teen God draai, of jy sal gelouter word. Selfpreservering is een ding. Om gelowige te wees is ‘n ander saak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.