Woede oor Die Stem is misplaas

Innibos-fees in Nelspruit op 5 Julie 2014 Foto: Steve Hofmeyr, Facebook

Innibos-fees in Nelspruit op 5 Julie 2014 Foto: Steve Hofmeyr, Facebook

Sosiale media is aan’t gons sedert Steve Hofmeyr ’n polities inkorrekte daad gepleeg het deur Die Stem by ’n konsert te sing. Die debat oor óf die sing van die vorige nasionale lied die land verdeel, of nie, is egter misplaas omdat dit die aandag aflei van die harde sake wat Suid-Afrikaners werklik verdeel.

Juridies gesproke is daar eerstens niks verkeerd met die sing van Die Stem nie. Die beroemde Franse politieke filosoof, Alexis de Tocqueville het sy kommer uitgespreek oor die gebreke van demokrasie deur te sê dit kan nuwe vorme van tirannie skep as gevolg van ʼn groeiende bourgeoisie en die selfsug van individualisme.

Hy was bekommerd dat onverantwoordelike meerderheidsregering onder ʼn moderne demokrasie tot despotisme kan lei, wat volgens hom ʼn baie gevaarliker weergawe kan wees as die onderdrukking onder die Romeinse keisers of tiranne van die verlede wat slegs ʼn skadelike invloed kon uitoefen op ʼn klein groep mense op ʼn gegewe tyd. Tocqueville was egter van mening dat ’n demokrasie sal werk indien dit gebou is op die hoeksteen van burgerlike gelykheid en die reg op vryheid van assosiasie vir almal.

In Suid-Afrika is hierdie regte vasgelê in die grondwet. Vryheid van uitdrukking is egter beperk en behels nie die reg om oorlog of geweld aan te hits of haatspraak te pleeg nie. Wanneer ’n mens die toepaslike regsposisie oorweeg, is Die Stem geen van bogenoemde nie. Indien Hofmeyr egter geteiken word bloot omdat hy sy reg op vryheid van uitdrukking uitgeoefen het, sal hy die slagoffer en sy kritici die oortreders wees.

Die feit is: Alle Suid-Afrikaners het die reg om vir hulself te besluit wat hulle van Die Stem dink en of hulle dit wil sing of nie (dit geld selfs vir die sing van die huidige nasionale lied).

Tweedens moet daarop gelet word dat ’n groot gros van die kritiek teenoor Die Stem ongegrond is. Na ’n debat oor dié saak met Mbuyiseni Ndlozi, die woordvoerder van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), vandeesweek en my oorweging van die Twitter-debat wat vir dae aangehou het, was ek uiteindelik in staat om te bepaal waarom radikale groepe soos die EFF so kwaad is oor Die Stem.

In Ndlozi se eie woorde (en dit blyk die kern van die EFF se argument te wees) glo hulle dat wit Afrikaners wat Die Stem sing dit doen terwyl hulle droom van ʼn Suid-Afrika sonder swartmense. Die argument is dus gegrond op wat mense, soos Ndlozi, wat nie Afrikaners is nie, subjektief glo Afrikaners dink wanneer hulle die lied sing. Nie net is die argument ʼn erge vorm van politieke onverdraagsaamheid nie, maar ook feitelik verkeerd.

Dit is egter billike kommentaar vir enige Suid-Afrikaner om te sê hulle hou nie van Die Stem nie as gevolg van dit waarmee hulle dit assosieer. Om te weier om die Afrikaanse deel van die nasionale lied te sing is ook die EFF se demokratiese reg. Hoewel, om in ʼn demokratiese bestel nie van iets te hou wat nie haatspraak is nie, is nie genoegsame rede om ander te verbied om hulself op so ʼn manier uit te druk nie.

As ons mense sou verbied om ʼn lied soos Die Stem te sing, moet ons nie na Suid-Afrika verwys as ʼn grondwetlike demokrasie nie. Baie sake word toegelaat of verbied spesifiek oor die feit dat Suid-Afrika ʼn grondwetlike demokrasie is wat gegrond is op menseregte, ondanks die feit dat die meeste Suid-Afrikaners nie daarmee saamstem nie. Die doodstraf is een van ʼn lang lys voorbeelde.

Liberalisme moet gaan oor die behoud van vryheid van keuse vir elke individu. Die ideologie van liberalisme word egter gediskrediteer wanneer liberale kommentators so agressief uitvaar teen mense wat kies om hulself op maniere uit te druk, waarmee hulle persoonlik nie saamstem nie.

Laaste, maar die belangrikste – Die debat oor Die Stem herlei ons aandag van die werklike probleme wat ons verdeel. Sagte kwessies is daardie kwessies wat verband hou met mense se persoonlike opinies en denkwyses. Dit sluit sosiale en politieke standpunte in. Harde kwessies, aan die ander kant, manifesteer in beleide, wette en regeringsbesluite wat ʼn dramatiese invloed op die manier hoe mense hulle lewens lei het.

Dit is kwessies soos regstellende aksie, ekonomiese beleid, die stryd teen misdaad (wat verloor word), haatspraak, die traak-my-nieagtige houding teenoor kwessies wat minderheidsgroepe raak, soos plaasmoorde en die bewaring van minderheidstale op universiteitsvlak.

Dit mag so wees dat die sing van Die Stem deur Afrikaners, wat ontevrede is oor die mislukking van die nuwe Suid-Afrika, nie in die belang van sosiale kohesie is nie. Dit is daarom skadelik om te sing slegs tot die frustrasie van ander mense. Die Stem is ʼn kultuur-historiese lied wat terugdateer tot dekades voor apartheid, dit is nie ʼn politieke instrument nie. Aan die ander kant, om op Die Stem te fokus as dié saak wat sosiale kohesie in die land laat uitrafel is om die aandag van die harde, werklike sake af te lei wat Suid-Afrikaners in realiteit verdeel.

*Ernst Roets is adjunk uitvoerende hoof van AfriForum
Volg Ernst op Twitter: @ernstroets

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.