Wonderwerkers

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Die sterkste krag op aarde is nie ’n atoombom, vliegdekskip of ’n tsunami nie. Dis ’n idee wat se tyd gekom het. Dis idees wat die wêreld verander, wat die geskiedenis in beweging bring, wat geweldige kragte ten goede of kwade losmaak. Daarom is niks so hewig soos die stryd om idees nie. Die twee botsende idees in ons land word gesimboliseer deur die vuurhoutjie wat brandstig, teenoor die troffel wat opbou.

Suid-Afrika word geteister deur idees soos radikale transformasie wat al groot dele van die land laat verval het, of witmonopoliekapitaal. Maar die vraag is hoe ’n vernietigende idee gestuit kan word? Die geskiedenis het hard en duidelik die antwoord hierop gegee. ’n Idee kan nie gekeer word deur tenks en vliegtuie, politieke mag of militêre krag nie. ’n Idee kan net deur ’n ander en beter idee gestuit word, mits dit daadkragtig deur sterk organisasies verwerklik word. Anders bly dit dagdrome.

In wese gaan die kern van die idee wat besig is om ons land te verniel oor “val” of afbreek. Ons het oor die afgelope jare gesien hoe dat vele top-instellings verval het as gevolg van onwerkbare politieke idees. Dink net hoeveel eens werkende dorpe vandag nie meer behoorlik werk nie, hoeveel skole nie meer kinders kan leer nie, hoeveel hospitale pasiënte nog sieker maak, hoeveel kolleges nie meer goed oplei nie, hoeveel polisiekantore nie meer burgers kan veilig hou nie, en hoeveel regeringsleiers nie kan regeer nie.

Hierdie verval in die land maak baie mense so negatief dat hulle nie meer ’n toekoms sien nie, en die land wil verlaat. Hulle glo dat die idees wat hierdie verval dryf so sterk is dat dit nie omgekeer kan word nie.

Maar dit ís moontlik om hierdie toestand te verander. Afrikaners se eie geskiedenis leer dat gemeenskapskrag sterker is as staatsmag. Dat mense wat saamstaan en saamwerk meer regkry as diegene wat saam afbreek. Afrikaners was nog nooit net toeskouers nie, ons het deelgeneem aan die maak van die geskiedenis. Ons wenresep was nog altyd skeppende vernuwing op grond van beproefde waardes.

Ons voorouers het ’n onontwikkelde land op die onderste punt van ’n onderontwikkelde vasteland skouspelagtig ontwikkel. Hulle was nie supermense nie, maar gewone mense, wat in ongewone omstandighede buitengewone prestasies behaal het. Natuurlik het hulle ook foute gemaak, maar dit word verdwerg deur hul prestasie om aan die spits te staan van die vorige eeu se projek om die grootste ekonomie in Afrika op te bou.

Mense het al gesê dit sal ’n wonderwerk verg om ’n oplossing vir ons probleme te bewerkstellig. Dit is waar. Maar wonderwerke val nie uit die lug nie, ’n mens spel dit wonderWERK! Wonderwerke word gebou, dit gebeur nie vanself nie. En mense wat saamwerk om die skynbaar onmoontlike te vermag, kan met reg “wonderwerkers” genoem word. Pretoria FM is ’n goeie voorbeeld. Word vandag nog ’n mede-wonderwerker wat saam met ons aan ’n landswye wonderwerk bou!

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Veritas ·

Netso Flip. Party Suid -Afrikaners doen wonderlike werk en ander wonder of hulle moet werk.

Oupa Idee Strategie Aksie Troffel Werkvark ·

Flip, baie dankie vir hierdie treffende gedagtes: ” ’n Idee kan net deur ’n ander en beter idee gestuit word, mits dit daadkragtig deur sterk organisasies verwerklik word. Anders bly dit dagdrome.”

Nou die groot vraag: “Wat sê “ons” mense, wat is daardie ‘beter idee’? En hoe en aan wie gaan ons hom inkoop”? Ek kan nie wag vir al die inkomende kommentare.

Veritas ·

Oupa Swyn, die groot probleem lê in die bemarking van die kommoditeit. Diegene wat nie lid is van Solidariteit of Afriforum , en wat nie Maroelamedia se nuusberigte lees nie, is totaal onbewus van die werklikheid. Vir Piet Pompies in die straat is dit maar die verloop van die lewe. Na my mening sal ons agressiewe bemarking van die idee op soolvlak moet doen. Hoe vêr daar al hiermee gevorder is, weet ek nie. Wat ek wel weet is dat bitter min Afrikaners in my omgewing skynbaar omgee oor die toedrag van sake. Diegene wat wel bekommerd is, is dié wat gevaar staan om deur ‘n nie-Afrikaner, in sy werkplek vervang te word. Ongelukkig is dié deel van die Afrikanernasie nie bekend vir hul organisasievermoë of leierseienskappe nie. Daar sal daadwerklik begin moet word om selle te stig sodat alle woonareas betrek kan word. Sodra die sel- of takstelsel behoorlik gevestig is, kan die verspreiding van die Afrikaner-idee behoorlik beplan en uitgevoer word.

Disselboom ·

Natuurlik moet daar onophoudelik gewerk word. Dit bly egter problematies en ‘n toestand van slawerny as gemeenskappe optree en bou sonder om die politieke mag te hê,

Daar moet ook realisme wees oor die prestasies van ons voorouers (wat wel uitstekende prestasies is) of dit so ver en groot sou gekom het sonder politieke mag en toegang tot die belastingbeursie oftewel, wat veronderstel is om die volkshuishouding se beursie te wees, maar in regeermagformaat. Is die Afrikaner werklik in staat en bereid om van ‘n staatsdiensverslaafde volk regtig ‘n nyweraarsvolk met groot besighede op eie bene te word, naas die boerderyvermoë?

Eish ·

Ek het n idee jy is heeltemal reg met die uitwys in van die rol van politieke mag in die situasie. Die afwesigheid daarvan werk beperkend in op wat ookal nagestreef word en reduseer die uitkoms tot die politieke wind wat waai. Dit is egter nie n totale hopelose situasie nie, aangesien dit wat wel totstand kom, n verskil maak. Die groot geheim gaan wees om genoegsame kritiese massa te bou ten einde beter uitkomste tot stand te kan bring. Bitter groot verskille bestaan tussen ons, van godsdiens tot politiek, dus kan die bindingspoging slegs die grootste gemene delers teiken, sonder om afbreek te doen aan inividualiteit. Ek dink nie ons soek weer strukture waarvan lidmaatskap n onverbiddelike voorwaarde is van n beter toekoms nie. (Broederbond) Die trefwydte van dit wat totstand gebring word, behoort op die grootste moontlike deel van die teikengroep te impakteer ten einde verkieslik, vrywillige medewerking te verseker. Die massas van die teikengroep is die oorweging, nie weer die uitverkore kroonprinse nie asb. Myns insiens slaag die Burgerregte organisasies tans uitstekend daarin, alhoewel die spoed van ontwikkeling in die rigting, tans bietjie tydsaam is. Miskien is die afwesigheid van politieke mag, dan juis instrumenteel om langs die weg die idee te realiseer.

John ·

Daar is ongelukkig nog mense wat ook so ‘n plan nastreef waaronder die Jesuiete. Alles hang natuurlik ook af wat die uiteinde is waarheen gemik word. Die Nuwe Wereldorde wil ook met liefdevolle handevat die wereld omkeer en een groot wonderwereld skep waarin almal sooo gelukkig en tevrede sal voel. Sonder Christelike waardes heers ander waardes. Daar is nie soiets soos net ‘lekker’ nie… Werk moet ‘n oogmerk… ‘n doelwit… ‘n missie he. Want as mens nie een het nie gaan ander dit vir jou opstel en in SA weet ons wat dit sal wees en dan is ons weer by die begin. Wie se ideal gaan ons voor werk en verwesenlik…. ?

humor ·

In hierdie uitiglose toestand waarin land verval het is mense geneig om na n kitsoplossing te gryp. Om n molshoop uit die weg te ruim is relatief eenvoudig maar n berg is n gans ander saak. Ons taak is n bergtaak. Mense is uitsigloos omdat ons nie sekere magte, hefbome het nie, In hierdie uisigloosheid moet ons egter in ag neem dat ons met gloof moet werk so asof ons die toekoms sien. Daar is n groter MAG wat die ideemag dryf en dit is ons SKEPPER wat besig is om deur ons Sy raadsplan te verwesenlik.

Santie Bourquin ·

‘n Wonderwerk wat vinnig moet gebeur is die stryd teen vullis. Ons land word toegegooi onder vullis en niemand tel dit op nie. Dit is nie net ‘n kwessie van “moenie”, maar opvoeding om die gevare van onbeheerde vullis aan die verstand te bring. Hierdie taak lê aan die voete van ons onderwysers. Asseblief, wys die vullisstrooiers op ‘n beter lewenswyse. Hoe tel ons dit op en verwerk dit in ‘n gesonde omgewing? Ek weet nie, maar sekerlik is daar kenners wat beter weet en kan help?

CasNC ·

Wonderwerkers kom uit ‘n sekere tradisie. Is daar nog plek vir daardie tradisie ? Die wat die kwaad probeer terughou moet eers uit die weg geruim word, voordat die groot afval sal kom. Sal ons ooit weet waar staan die Skepper se horlosie ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.