Woolworths: Billik of nie?

woolworthsDie volgende twee artikels is oorspronklik op 9 September 2012 in Rapport publiseer. Klik hier om Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, se oorspronklike artikel te lees en klik hier om Sam Ngumene, Woolworths se operasionele hoofbestuurder, se oorspronklike artikel te lees.

Woolworths: dis nié billik

Deur Dirk Hermann

’n Eienaardige praktyk het die laaste paar jaar amper ongesiens in Suid-Afrika posgevat: Die feit dat rasdiskriminasie geregverdig is indien dit regstellende aksie genoem word.

Dis pas weer geïllustreer deur die herrie wat losgebars het nadat Woolworths advertensies geplaas het wat dit duidelik maak dat sekere rasse nie aansoek hoef te doen nie.

Woolworths sê hy mag dit doen – dis regstellende aksie.

Ons glo hulle mag nie en daar is twee redes daarvoor.

Eerstens laat die Wet op Gelyke Indiensneming ’n maatskappy nie toe om kwotas te gebruik nie.

Kwotas is absolute uitsluitings en Woolworths is besig om die demografie van die land as ’n absolute maatstaf te gebruik om te bepaal of mense hoegenaamd om ’n pos mag aansoek doen.

Die Wet op Gelyke Indiensneming sê juis dat “verteenwoordiging” nie die enigste maatstaf kan wees nie.

In die onlangse regstellendeaksie-saak teen die departement van korrektiewe dienste het die regter dit ook duidelik gestel dat kwotas nie toegelaat word nie. ’n Maatskappy mag nie ’n absolute “kwota”-plafon stel nie – nie in die maatskappy nie, maar ook nie vir enige poste nie. Selfs al is daar net één pos.

Daar is reëls ten opsigte van billikheid wanneer regstellende aksie toegepas word en deur absolute uitsluitings in die aansoekprosesse het Woolworths die grense van billikheid oorskry.

In die tweede plek is Woolworths se besluit om mense uit te sluit op grond van hul ras nie moreel regverdigbaar nie.

Deur te sê jy doen iets onder die vaandel van regstellende aksie maak dit nie regverdig nie.

Anders gestel: Daar is sekere dinge wat ’n mens mag of kan doen, maar nie behoort te doen nie.

En die morele regverdigbaarheid van jou handeling word gemeet aan die gemeenskap se vraag of dit gedoen behoort te word.

In die Wes-Kaap, byvoorbeeld, meld die Woolworths-advertensie dat slegs “black africans” om sekere poste aansoek mag doen. Bruin mense, wat deel is van die “aangewese groep” wat deur regstellende aksie geteiken behoort te word, word dus uitgesluit in ’n provinsie waar hulle die meerderheid is. Dit is bisar, om die minste te sê.

Is daar morele regverdiging hiervoor?

Die advertensies beteken ook dat ’n wit persoon nie kan aansoek doen om ’n pos nie, selfs al is daar nie ’n geskikte swart kandidaat beskikbaar nie en al is daardie wit kandidaat by verre die beste kandidaat vir die pos.

Kan dit moreel geregverdig word? Neem dit die waardigheid en die reg op gelykheid van wittes in ag?

Ons het die afgelope week mense oor Suid-Afrika heen gevra om te soek na een wit kassier in ’n Woolworths-winkel.

Ons kon nie een vind nie.

Sal Woolworths dus bereid wees om advertensies vir dié posvlakke vir slegs wittes oop te stel?

Hierdie praktyk om verteenwoordiging as ’n absolute maatstaf of kwota in die aanstellingsproses te gebruik, het die laaste tyd sterk in die staatsdiens neerslag gevind.

Solidariteit is besig met 31 sake teen verskillende staatsdepartemente om dié praktyk te stop. Indien dit nie gestop word nie, word dit later reg.

Dit is presies wat nou met Woolworths gebeur. Omdat die onregmatige praktyk in die staatsdiens al so lank toegepas word, begin die private sektor dit sien as ’n reg.

Dit is hoekom ons sulke ­sake hof toe neem en waarom Woolworths ook gestuit moet word.

Ons glo die Woolworths-advertensie sal nie die toets in ’n geregshof deurstaan nie, maar veral nie in die hof van die openbare mening nie.

Maar dis ook duidelik dat die senior bestuurders in Woolworths glo dat óns verkeerd is.

Solidariteit daag Woolworths uit om saam met ons hof toe te gaan sodat ons finaal kan uitsluitsel kry oor advertensies soos dié. Ons sal die hele land ’n guns doen.

Alle rasse werk hier en só gaan dit bly

Deur Sam Ngumene

Gedurende die afgelope week is baie gesê oor Woolworths se aanstellingspraktyke, en meer spesifiek dat ons nie wit mense aanstel nie.

Die eerste ding om hieroor te sê is dat dit gewoon nie waar is nie.

Woolworths stel mense van alle rasse – wit, swart, bruin en Indiër – aan, asook mense met gestremd­hede. En belangriker: ons sal voortgaan om dit te doen.

Tweedens: As ’n passievol Suid-Afrikaanse maatskappy wat trots is op ons diversiteitsrekord, beskou ons dié bewerings baie ernstig. Ons verstaan dat sulke beskuldigings baie sterk reaksie kan ontlok.

Die gerugte het blykbaar sy oorsprong in sommige van ons werkadvertensies wat aandui dat sekere poste net vir sekere groepe is.

Dit word aangevuur deur ’n organisasie wat ’n beroep doen op hul lede om ons te boikot.

Ons wil sommige van die dinge wat jy kon gelees het hiermee regstel:

Soos ek reeds gesê het, stel Woolworths wél wit mense aan. Ons stel mans en vroue van alle rasse aan en sal voortgaan om dit te doen.

Diversiteit is belangrik vir ons. Dit gaan nie oor getalle nie, maar oor mense.

Daar is egter sommige areas binne ons onderneming waar sekere groepe ernstig onderverteenwoordig is. Dit is hierdie posisies waarvoor ons aktief soek na gekwalifiseerde kandidate van spesifieke groepe.

Ons glo die verantwoordelike ding om te doen is om openlik en deursigtig te wees in ons advertensies oor die soort persoon waarna ons soek. Integriteit is een van die waardes wat vir ons belangrik is.

Ons gelykheids- en transformasiebeleid is in pas met die huidige wetgewing in dié verband en ons is veral trots daarop dat ons ’n volle jaar voor skedule ons vlak 4-swartbemagtigingstatus bereik het.

Ons ondersteun nié kwotas nie en het nie ons advertensies en die verwysing na die ras van moontlike kandidate gebruik as ’n meganisme om kwotas te ondersteun nie.

Dit is belangrik om te verstaan dat in gevalle waar ons nie ’n kandidaat uit die “aangewese” groep kan kry nie, poste oopgestel kan word vir “onaangewese” persone.

As ’n eg Suid-Afrikaanse maatskappy is ons erg gesteld op die langtermyn-volhoubaarheid van ons land. Ons is trots op die vele maniere waarop ons ’n betekenisvolle en volhoubare verskil maak: Vir ons mense deur gelykheidsdeelname, deur die ontwikkeling van vaardighede, vir klein- en middelslagondernemings deur sakeontwikkeling, deur voorkeur-verkrygings­geleenthede, tot onderwys deur ons MySchool-programme en tot die lewe van armes deur ons maatskaplike ontwikkelingsinisiatiewe.

Ons sal aanhou om transformasie en sosio-ekonomiese ontwikkeling te steun omdat dit belangrik is vir die land en ons maatskappy se toekoms.

Ek sien uit na die dag wanneer alle Suid-Afrikaners op gelyke en regverdige basis kan meeding om al ons werkgeleenthede. Dit is ’n ideaal waarna ons sal bly strewe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.