Woorde met woede, beledigings en ʼn klomp haat

‘n Skermskoot van Nair se gewraakte video.

Deur Paul Maritz

Dit is amper nie eens meer vreemd om ʼn nuusopskrif te sien wat lui dat een of ander Suid-Afrikaner een of ander medelandsburger die berugte K-woord toegesnou het nie.  Kessie Nair, ʼn besigheidsman van Durban, is hierdie week in die nuus, nadat hy die president van sy eie land, mnr. Cyril Ramaphosa, dié belediging via ʼn video toegesnou het.

Dit is sekerlik nie nodig om te stel hoe Suid-Afrikaners dadelik gereageer het nie – woede, beledigings, en ʼn klomp haat wat ons land nie nou nodig het nie. En dit is sekerlik te verstane – hierdie woord dra ʼn magdom negatiewe potensiële energie, en die gebruik daarvan, onder enige omstandighede, is volgens hierdie lekekommentator dom, simpel, en uiters kortsigtig.

Ten eerste: Rassisme. As Christen besef ʼn mens dat jy geen mens se saligheid kan oordeel nie. Dit beteken dat ʼn mens met álle mense moet omgaan asof jy ʼn ewigheid saam met hulle sal spandeer – ʼn wysheid wat C.S. Lewis in sy tydlose boek Mere Christianity met ons deel.  Dit sou, keer op keer, en sonder uitsondering, beteken dat afbrekende terme op grond van ras, verkeerd is, en altyd sou wees.

Om iemand op hul karakter te takseer, of vir hul foute oor die kole te haal, is goed, nodig, en reg in ʼn gesonde demokrasie. Om iemand af te breek op grond van genetika is lank reeds nie meer ʼn aanvaarde manier van dink nie, maar selfs meer eenvoudig is dit, dit is kortsigtig, en verdeel hierdie land herhaaldelik.

Meneer Nair se opmerkings volg kort op die hakke van ʼn soortgelyke skandaal wat Adam Katzavelos etlike weke terug oor homself gebring het. In sy geval het dit tot die sluiting van sy familie se besigheid gelei, asook verskeie ander nadelige effekte gehad.

As Suid-Afrikaners is ons, of ons daarvan hou of nie, bestem om met mense saam te leef wat anders lyk, klink, en leef as ons. Ons vryheid van spraak om foute en oortredings uit te wys, behoort soewerein te wees en, alhoewel vryheid van spraak sekerlik elkeen se reg is, behoort ons so gou moontlik op te hou om onsself in die voet te skiet deur mense op grond van ras af te breek of te veroordeel.

Sekerlik die mees ironiese van al hierdie punte, is dat daar uiters baie geldige punte is waarom mnr. Nair vir president Ramaphosa kon kritiseer: die feit dat mnr. Jacob Zuma steeds net maak soos hy lus is, op ons onkoste, die feit dat brandstofpryse duidelik die boodskap oor wettige dagga gekry het, en net hoër en hoër styg, die feit dat mnr. Ramaphosa geen logika aan Panyaza Lesufi se haat vir Afrikaans in Gautengse skole verleen nie… Hierdie is geldige punte om iemand oor aan te vat. Die kleur van hul vel, is ongelukkig nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

What a joke! ·

Maar daar mag neerhalend na n boer as n dief en n verkragter n wit hond verwys word… Dan is daar natuurlik geen sprake van rassisme nie…Maar dit is mos maar hoe eensydig anti blank die reels mos nou maar is in Suid Afrika…

Paul Maritz ·

Natuurlik is alle rassisme veragtelik, reëls behoort nie net vir sommiges te geld nie, ek dink ook nie ek voer dit aan in die artikel nie?

Andrea ·

Gelukkig is dit vir my geen belediging nie. Eks n Boer, trots daarop. Hou daarvan dat ek wit is, en is mál oor honde. So om n wit hond en Boer genoem te word, laat my glimlag.

Wnat a joke! ·

Nee Paul chill man niks gemik op wat jy gese het nie inteendeel ek stem saam maar daar moet regverdigheid geskied!…Net feite van die saak dat daar twee stelle reels een vir nie blank waar hul kan se wat hul wil en een vir blank wat baie versigtig moet trap oor wat hul se want die messe is uit as n blanke net skeef kyk na n nie blanke! Die is die feite van Suid Afrika!

Barend ·

En natuurlik help die grondkwessie en gedurige beskuldigings teen wit mense nie omdat daar gemobiliseer word vir volgende jaar se verkiesing. Dis ‘n toutrekkery tussen die ANC en EFF wie die meeste voordeel daaruit kan kry. En dan kan mens nie met hulle redineer nie, want hulle duld nie die waarheid nie. Maar dan is hulle die een wat benadeel en gegrief is as hulle vir hulself ‘n etiket om die nek gesit het.

van de Merwe ·

Paul Maritz – baie goed gestel. Verskil dus oor die saak, maar moenie persoonlike beledigings uitdeel nie.

Paul ·

Op 24 Augustus 1972 (Hot August night) tree Neil Diamond in die Griekse teater in Los Angeles op. Buite die arena het daar selfs mense in die bome opgeklim om hom te sien. Op ‘n stadium groet hy vir hulle “hello jou tree people out there” en mens kon hoor hoe hulle dit waardeer.

As hy vandag in Suid Afrika in ‘n arena met soortgelyke omstandighede sou optree en hy sou die ‘tree people’ ook so gegroet het, sou die ANC en EFF hom van rasisme aangekla het en die kans sou goed wees dat hy skuldig bevind sou word.

Jack Klok ·

Vryheid van spraak word in die Grondwet verskans. Vryheid beteken egter nie bandeloosheid nie. Jy mag nie iemand iets toesnou wat sy goeie naam te na kom nie. Maar jy mag wel sê dat ‘n persoon verkeerd is, ‘n verkeerde ideologie aanhang, sy werk nie behoorlik doen nie ens, alles iets wat aanstoot kan gee. Aanstoot gee is inherent deel van vryheid van spraak.

Ongelukkig vereis politieke korrektheid dat ons nie aanstoot mag gee aan mense wat teen ons bevooroordeeld is nie, wat gebrekkige kennis van die verlede het nie, wat ons nie goedgesind is nie en baie leuns oor ons versprei. Dink maar aan al die bog wat Ernst Roets verlede week in die Parlement toegesnou is, selfs deur ander blankes daar teenwoordig. Hulle het “aanstoot geneem” en dis ‘n doodsonde in die land van politieke korrektheid.

Ongelukkig veroorsaak hierdie gesindheid dat daar nooit eerlike en opbouende gesprekke gevoer kan word nie.

Phillie ·

Jack
Al wat ek kan sê ;PUIK gestel
Jammer Maritz het nie hierop reageer nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.