Word aborsie die nuwe vraagstuk van die kultuuroorloë?

Kay Ivey, goewerneur van Alabama, onderteken ‘n wetsontwerp wat aborsie byna heeltemal onwettig maak [15 Mei 2019]. (Foto: Hal Yeager/Alabama Governor’s Office via AP)

Die VSA, wat ʼn fyn balans tussen sy deelstate en sy federale regering handhaaf, is ʼn land met sterk debatte oor morele en etiese vraagstukke, soos aborsie.

Die land is redelik in die helfte gedeel tussen konserwatiewes, wat sterk Christelike en moreel gefundeerde waardes aanhang, en liberales en linkses, vir wie individuele besluite swaarder weeg. Dit strook ook gewoonlik met die twee dominante partye, die konserwatiewe Republikeine en die links-liberale Demokrate, maar die kultuuroorloë vind eerder op grondvlak as in die kongres plaas en word deur drukgroepe soos Christian Coalition en Right to Life (behoudend) of Planned Parenthood en American Civil Liberties Union (ACLU), links-liberaal, gevoer.

Sedert 1973, ná die bekende Roe vs. Wade-saak en hooggeregshofuitspraak, is aborsie in beginsel tot op 24 weke (oorspronklik 28 weke) wettig. Selfs ná die 24 weke is daar redes wanneer aborsie nog steeds kan plaasvind (soos verkragting, gevaar vir die fetus of die vrou se lewe). Daar is ook bepaal dat enkele deelstate nie die reg het om aborsie te belet nie. Hier is dus die geval waar die federale gesag bo die state se gesag staan, maar die state het heelwat beweegruimte om aborsie te probeer ontmoedig deur berading, beperking van aborsieklinieke, ensovoorts. State wat reeds liberaal is, soos Kalifornië en New York, vergemaklik aborsie, die meer konserwatiewe state van die Suide en Midde-Weste probeer dit bemoeilik.

Die New York-staat was vroeër vanjaar in die nuus oor besonder liberale wetgewing wat aborsie selfs tot kort voor geboorte wettig. Die staat word ook ʼn bestemming vir “aborsietoeriste”, vroue wat van ander state soontoe reis om daar te aborteer.

Aborsie was in New York reeds voor die Roe vs. Wade-uitspraak wettig. Alhoewel dit ook in New York vir aborsies ná 24 weke geld dat daar goeie redes moet wees (soos dat die fetus nie lewensvatbaar is nie, of die moeder se gesondheid en lewe bedreig word), is daar heelwat ruimte vir uitlegging. Gesondheid kan bykans enige iets beteken en sluit ook sielkundige, huislike, selfs finansiële omstandighede in. Met ander woorde, as die beradende dokter oortuig is dat die geboorte die vrou in moeilike omstandighede plaas, byvoorbeeld armoede of stres, kan dit voldoende wees as rede vir ʼn aborsie.

Aan die ander kant van die spektrum het die suidelike staat Alabama in Meimaand ʼn besonder streng aborsiewetgewing afgekondig wat enige aborsie, behalwe as die vrou se lewe in gevaar is, onwettig maak en wat die dokters wat dit uitvoer, streng straf (maar nie die vrou wat dit aanvra nie). Die wet is onmiddellik deur pro-aborsiegroepe hof toe gesleep en dit sal ʼn ruk neem voor uitsluitsel bereik word. Die uitspraak kan rigtinggewend wees. Talle ander state het reeds Alabama se voorbeeld gevolg en berei ʼn verbod op aborsie, behalwe in uiterste omstandighede, voor.

Die hoop van die behoudende state is dat Roe vs. Wade weer hersien sal word en tot ’n ander beslissing gekom word. Die hooggeregshof het deesdae, danksy president Trump se aanstellings, ’n konserwatiewe meerderheid. Dit beteken egter nie dat die regters noodwendig Alabama en ander state se aborsieverbod onverdund sal goedkeur nie. In Louisiana is ’n verbod op aborsie tersyde gestel, maar sal weer hersien word. In Indiana is ʼn verbod op aborsie, wat in 2016 deur Mike Pence, destydse goewerneur en huidige visepresident, ingestel is, weer opgehef.

Die howe is versigtig om duidelik standpunt vir of teen aborsie in te neem en behandel dikwels net aspekte van aborsie soos hoe die dooie fetus hanteer moet word, wie aborsieklinieke befonds, wie vroue moet raadgee voordat hulle ʼn besluit neem, ensovoorts. Dit skep wel die klimaat vir ʼn groot aborsiedebat wat waarskynlik met die aanloop tot die presidentsverkiesing op die spits gedryf word. ʼn Oorwinning vir Trump en Pence, al twee uitgesproke teen aborsie, kan ook as rigtinggewend gesien word.

ʼn Verdere kernvraag daarby is altyd waar die state se magte eindig en dié van die federale regering s’n begin. Indien Roe vs. Wade hersien word, kan dit beteken dat state self kan besluit, en sou dus streng en liberale wetgewing langs mekaar kan bestaan.

By die eweneens omstrede kwessie van die homoseksuele huwelike, was dit aanvanklik so dat party state dit toegelaat het en ander nie, totdat ʼn hooggeregshofuitspraak in 2015 (Obergefell vs. Hodges) bepaal het dat dit in die hele VSA moet geld omdat dit as ʼn fundamentele mensereg vertolk is. Die konserwatiewes het hierdie veldslag vir eers verloor, maar ook hier kan die klimaat verander. Hofuitsprake word dikwels in die konteks van die politieke klimaat geneem, en destyds het president Obama geregeer en was die hooggeregshof gedomineer deur liberale regters.

Min mense weet dat Norma McCorvey, wat destyds onder die skuilnaam “Jane Roe” die klaer was wat verantwoordelik was vir die wettiging van aborsie in die VSA, later tot bekering gekom het en intussen ’n aktivis teen aborsie is. Sy beskou haar destydse intree vir aborsie as die grootste fout van haar lewe. Die redes vir haar aborsie was gefabriseer en sy het haar laat misbruik deur aktivistiese advokate. Diegene wat Roe vs. Wade as groot oorwinning vir vroueregte beskou, verswyg dit gerieflik.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Reinhardt ·

Geen staat moet inmeng met etiese of morele gedrag nie. Dis vir individue en dalk klein gemeenskappe om te besluit.

Hendrik ·

Voor die Trump-aanbidders sy lof te gou besing, onthou dat hy voor hy besluit het om as presidentskandidaat te staan, aborsie 100% ondersteun het. Hy het bloot sy opinie verander om die Christene se stemme te kry. Hoe dit ook al sy, om aborsie tot op 24 weke toe te laat is ‘n gruwel. Dis byna die einde van die tweede trimester. Dit laat mens dink aan die heidene wat hulle eie kinders vir afgode geoffer het. In hierdie geval is die afgod net die persoon self.

Rupert Ashford ·

Ek dink nie dit word nou ‘n strydpunt nie. Trump en kie dwing hulle net om hulle ware kleure te wys.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.