Word daar oor oorsake of simptome gedebatteer?

Bennie van Zyl. Foto: Reint Dykema

Die grondbedat woed voort. Die vraag duik noodwendig op oor wat hier aan die gang is? Enige logiesdenkende mens besef tog dat dit wat die ANC predik (met selfs enige weergawe daarvan wat kort-kort verander) nie in beste belang van Suid-Afrika en sy mense is nie. Waar gaan dit ons land heen neem? Om uit te wys dat beleggingsvertroue afgebreek word en onrealistiese en onuitvoerbare verwagtinge geskep word, is al amper holruggeryde woorde.

Dit is belangrik dat besef word waarheen die ANC met die land op pad is. Deur dit te verstaan, sal dit dalk meehelp om met ander invalshoeke aan die debat deel te neem.

Daar is net té veel optredes en standpunte met verloop van tyd deur die ANC (en sy ander vennote) gemaak sodat daar nie meer twyfel kan wees dat hulle beleid ‘n glybaan is om sosialisme en kommunisme in Suid-Afrika te vestig. Daarteenoor is daar rolspelers wat besef dat die al hoe groter wordende armoede en werkloosheid wat onder ANC-beleid en bestuur net toeneem, inderdaad ‘n tydbom is waarop die land sit. Vir die hoeveelste keer deur die hoeveelste persoon word dit opnuut bevestig. Die land se knelpunte kan net oplossend aangespreek word indien die kapasiteit geskep word om dit te kan doen. Daarvoor is daar net een volhoubare oplossing, naamlik dat die ekonomie dramaties sal moet groei.

Die ANC is tans die regerende party, maar ’n mens kan baie dae wonder of hulle wel die koningmakers ook is. Die radikale standpunte van die ekstreme linkerflank se invloed is in baie gevalle net te sterk om te aanvaar dat die ANC wel stewig op hul eie op koers is. ‘n Koers wat sonder die invloede van die ekstreme linkerflank alreeds op sy eie nie ‘n volhoubare toekoms kan skep nie.

Hoeveel energie word opgevreet om te poog om die korttermyndoelwitte wat die ANC wil implementeer, te kan hanteer? Telkens is almal aan die gons oor net nog ’n aspek wat na vore kom. Sodra die stof effens gaan lê, kom die volgende aankondiging en is almal weer daarmee besig. Intussen stu hulle onverpoosd voort om hul oorspronklike hoofdoelwit te bereik.

Wanneer besef en verstaan word dat dit hul einddoel is om weg te breek uit ‘n bestaande orde en dat elke skuif gemaak een is van posisionering om die mag te behou ten einde ‘n sosialistiese en kommunistiese staat te vestig, begin mens anders na eie keuses kyk. Hul tegniek is juis om te sus en oppervlakkig tevrede te stel en daarom is hul agenda daarop gerig om oppervlakkige gerustheid te skep sodat kritici en ander deelnemers daar kan uitstap met ‘n heerlike warm gevoel omdat dit (weer) ‘n baie goeie gesprek was. Intussen word hulle net gesus tot die volgende tree deur die ANC om hul doel te bereik.

Die glybaan van transformasie is waaroor dit gaan vir die ANC. Deur gesprek te voer oor hoe om hul verskillende programme op die glybaan te maak werk, bring mee dat mense aandadig is om ANC-doelwitte te bereik. Dit is net om die simptome van ‘n stelsel wat geleidelik geskep word, aan te vat. Weet ons wat is hul eerlike agenda?

Dit beteken nie dat daar nie gesprek gevoer moet word nie. Dit is belangrik om ’n eie agenda te bepaal en seker te maak dat daar duidelike antwoorde verkry word. Gesprekke moet deursigtig wees en is dit uiters gevaarlik om agter die skerms te heul en te verwag dat mense daarmee verlief moet neem.

Openbaar elke gesprek en kry verbintenisse op skrif en openbaar dit. Ná alles is ons besig met die toekoms van die land en al sy mense (met spesiale verwysing na ons kinders).

Nadat alles klaar gesê is, staan ons steeds by die vurk in die pad en sal daar uitsluitsel verkry moet word oor waarheen ons op pad is. Dit is inderdaad die belangrikste aspek wat uitklaring verg. Is dit die sosialisme en kommunisme slagpale waarheen die ANC ons lei of is dit op die weg van private besitreg en die vrye mark wat die potensiaal het om welvaart te skep vir daardie mense wat bereid is om die verantwoordelikheid van wat die ekonomiese proses van ons vereis, te aanvaar.

Alvorens ons nie hieroor uitsluitsel kry nie, is daar eintlik niks om oor te kan gesels of te onderhandel nie. Enige gesprek met die ANC moet hierdie punt druk tot by ‘n antwoord. Dit is die kern van die saak en daarom moet die gevolge verreken word. Daarna sal almal weet waarvoor om hul voor te berei en of dit enigsins sin maak om voort te gaan om energie in gesprekke te sit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers, Produksie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

humor ·

Hul sosialistiese kommunistiese doelwit hang al vir dekades soos n lang stuk vuil onderrok uit. Waarom die destydse onderhandelaars dit nie kon waarneem bly n staatsgeheim. Hierdie winde kom van ver oor Afrika. Net die fanatiese gedrewenhied waarmee hul besig is verklap al baie en dit is die ware stryd wat ons in die oe staar. Ook is dit baie duidelik dat die regering maar net marionette van groter magte is. Genoemde doel moet ten alle koste bereik word. Die uiteindelike vraag is maar net wie gaan uiteindelik seefier oor die verval en rykdomme wat nagelaat word.

Paul ·

Tekenend van ‘n rasgedrewe ideologiese disfuksionele regering. Ek het nog nooit in my lewe sulke swak punte wat die regering opper met die standaard van debat wat hulle voer beleef nie. Oor enigiets, als. In die proses word almal afgetrek tot ‘n vlak van kommunikasie wat mens nie gemaklik laat voel nie, mens kan nie glo wat jy hoor en waarmee hulle vorendag kom nie.

Arak ·

Dankie vir ‘n insiggewende artikel. Ja, die ANC en sy leiers is meesters om in sirkels te praat en nooit hulle ware motiewe te verklap nie. Ongelukkig is ek van mening dat hulle met niks anders as ‘n totale kommunistiese Suid-Afrika tevrede sal wees nie, waar die staat alles beheer, besit en almal van die staat afhanklik is nie. Die vraag is, hoe stop mens dit?

Eish ·

Tsunami te oorweldigend. Ons gaan debatteer dat ons blou word met dieselfde gevolg vanweë ons getalle. Selfbeskikking wink al duideliker.

Fortis ·

Eish, jy is 100% reg: territoriale selfbeskikking, moontlik binne ‘n konfederale bestel, is die enigste oplossing. Die enigste vraag is of dié oplossing vreedsaam bewerkstellig kan word en of dit deur ‘n gewelddadige omverwerping van die huidige orde (bv ‘n burgeroorlog wat deur sommige kommentators na aanleiding van die huidige grondonteieningskwessie in die vooruitsig gestel word) sal gebeur. Ek hoop uiteraard op eersgenoemde, maar as laasgenoemde moet, dan moet dit…

Kalahari Kind ·

Presies!!! ek stem 100% saam met die skrywer. Dit is nou van uiterste belang om die einddoel te verstaan en op te hou tydmors met speletjies en verskuiwende grense in Nasionale beleid. Die aanslag is tans teen Afrikaans in skole, eiendomsreg en private gesondheidsorg. Al drie dinge wat vir my onontbeerlik is.

Kapenaar ·

Bennie jy kon dit eenvoudig nie beter stel nie. Groot dankie

Illa Conradie ·

Stem saam. Stem ook saam met dr Frans Cronjé van IRV dat die ANC meesters is in die kuns om openbare mening aan hulle kant te kry en daarmee dan elke stryd wen.

Paul ·

Charné Kemp sê vandag op Netwerk24 in haar artikel, mense moet oor grond ophou laer trek en met die regering gesels. Maar die regering spring te vroeg uit die wegspringblokke, hulle kaap die hele grondkwessie, nog voor die voorleggingsproses afgehandel is, dan wil hulle deur gesprekvoering die mense in hul vooraf opgestelde sienswyse en agenda inpraat.

En mens kan praat en praat en praat, soos per die artikel hier bo, maar hulle luister nie na die mense nie, Hulle buig die proses en gee hul eie waarde daartoe. En so het ons ons tot dusver telkemale teen die ANC regering se manier van doen vasgeloop, hulle wil jou soos ‘n seekat se arms inkatrol om jou wol tussen die ore te sit, noem die mesmeraais, noem dit kop smokkel, dan gaan mens in frustrasie daar weg.

So, ek vra weer, wanneer is genoeg, genoeg gesels? Dan stap mens eerder weg en mobiliseer tot aktivisme en uiteindelik regsaksies waartoe die ANC regering jou noop as al ander uitweg om te volg, want praat help nie, geen salf te smeer nie.

Jerry ·

Gesprek moet gevoer word, maar met die wete dat die ANC sal se wat jy graag wil hoor. Jy kan dan die teenoorgestelde en dit wat nie gese word nie ontleed en jou strategie daarvolgens ontwikkel. Implementering van NDR gaan gepaard met geduldige en tydsame misleiding totdat dit n gunstige klimaat teweeg bring om die volgende NDR program wat meestal op verandering gebaseer is, te implementeer. Na elke program wat geimplementeer word betree die NDR n sluimer fase totdat n gunstige klimaat weer ontstaan vir die volgende program van verandering. Dit kan vir jare aangaan totdat die kringloop voltooi word met die ANC wat volle politieke mag en ekonomiese beheer verkry. Die skep van welvaart met buitelandse investering vir hoofsaaklik ANC strukture en alliansie vennote blyk tans die modus operandi te wees aangesien verkiesingbeloftes nagekom kan word wat n gunstige klimaat kan skep om n twee derde meerderheid te verkry en om sodoende weerstand teen verandering makliker te laat verkrummel. Die Britse voorwaardelike investering is soos manna uit die hemel vir die ANC, ten spyte daarvan dat dit die NDR se OSV in n sluimerfase plaas, deurdat dit nou noodgedwonge vervang moet word met grondhervorming en wat volgens die letter van die wet sal moet geskied. Jy sal NDR dus nimmer ten einde stop nie, die beste wat jy kan doen is om te sorg dat die klimaat vir verdere verandering ongunstig bly. Voorwaardelike investering bevoordeel ook meeste boere, wie vir eers hulle grond en titelaktes sal behou.

lewies ·

Om sinvol oor die grondkwessie te gesels moet die speelveld eers gelyk gemaak word.

Die twee bakke van die skaal moet eers gebalanseer word. Die beskuldigings oor die verlede (voor 94) is steeds iets wat die skaal volgens baie, skeef te laat hang. Ons moet daaraan begin dink om alles wat onder die ANC regering skeefgeloop het in die ander bak te sit en drieg om Suid-Afrika te laat sink.

Ons regstelsel het nie verniet ‘n skaal as logo nie. Gevolgtrekking: Moontlik is die skade wat sedert 94 in Suid-Afrika plaasgevind het besig om die balans te herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.