Word SA ’n mislukte staat?

Vir diegene van ons wat in Suid-Afrika woon, is dit duidelik dat Suid-Afrika op talle vlakke wisselende mates van verswakking toon. Die merkers hiervan is water wat vir dae of selfs weke nie in sekere gebiede uit die krane vloei nie – Mookghopong, oftewel Naboomspruit, is die mees onlangse voorbeeld – of wat ondrinkbaar is, krag wat vir ure aaneen af is – soos gereeld in byvoorbeeld Witbank gebeur – korrupsie wat ’n alledaagse verskynsel geword het, ANC-mandaryne wat straffeloos optree ondanks hul klaarblyklike onbevoegdheid, stoïese staatsamptenare wat hul werk as ‘n guns eerder as diens aan die publiek beskou en professionele mense wat op strepe en deurgaans sedert die jare 80 emigreer.

Hoe ver het Suid-Afrika, objektief gemeet en gekwantifiseer, agteruitgegaan as ’n staat? Dit is nie ’n mislukte staat in die gietvorm van die immerchaotiese Somalië nie, waar die oorgangsregering met die hulp van die internasionale gemeenskap aan bewind gekom het, min steun onder die burgers geniet en slegs Mogadisjoe beheer. Rebelle is ook nie besig om teen die regering te veg om ’n gebied te laat afskei soos in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) nie. Suid-Afrika voldoen ten minste aan die Weberiaanse definisie van staatskap deurdat hy oor die monopolie op geweld binne sy territorium beskik. Dit het ook sover die Egiptiese voorbeeld vrygespring en sy weermag is steeds onder burgerlike beheer.

’n Gesaghebbende internasionale instrument kan stellig ’n goeie dog onperfekte aanduiding wees van waarheen Suid-Afrika in terme van kapasiteit en bestendigheid op pad is. Die Washington-gebaseerde Fund for Peace (FFP) en die Foreign Policy-tydskrif publiseer elke jaar die gesaghebbende Failed States Index. Dit meet verskillende lande volgens die volgende aanwysers:

1. Demografiese druk
2. Beweging van vlugtelinge en intern ontheemde mense
3. Wraaksugtige groepsgriewe
4. Die chroniese en volgehoue verlies aan mense (onder meer die breinkwyn en emigrasie van middelklas)
5. Ongelyke ekonomiese groepsontwikkeling
6. Ernstige ekonomiese probleme
7. Delegitimisering van die staat (bv. korrupsie en die verlies aan openbare vertroue in staatsinstellings)
8. Geleidelike agteruitgang van openbare dienste
9. Wydverspreide skending van menseregte
10. Staat se veiligheidsinstellings wat as “ ’n staat binne ’n staat” opereer en hardhandig optree
11. Faksie-georiënteerde elites (byvoorbeeld staatsinstellings en heersende elite wat volgens etnisiteit fragmenteer)
12. Inmenging deur ander state of eksterne rolspelers

Die FFP het onlangs ’n langtermyn-gemiddeld uitgebring om aan te toon hoe state tussen 2008 en 2013 oor vyf jaar gevaar het. Ek gaan poog om die hoop gegewens vervat in hierdie indeks te kontekstualiseer en daarmee my vraag te beantwoord: “Is SA besig om ’n mislukte staat te word?”

Luidens hierdie verslag het Suid-Afrika 12 plekke gedaal in hierdie vyf jaar. Dit is 113de uit 178 lande in 2013 geposisioneer terwyl dit 125ste in 2008 was (hoe hoër die land se telling, hoe beter vaar dit met Somalië wat byvoorbeeld eerste is in 2013 en Finland in die 178ste plek). Suid-Afrika is dus steeds in die “beter helfte” van hierdie indeks, maar is nou ’n grensgeval tussen stabiel en onstabiel. Twee vrae moet egter gevra word: ‘Hoe groot is ’n daling van 12 plekke?’ en ‘Hoekom het dit soveel swakker gevaar in hierdie periode?’

Vanuit ’n relatiewe oogpunt gesien, is ’n daling van 12 plekke taamlik groot. As daar gekyk word na die Suider-Afrikaanse streek, waar Suid-Afrika geografies geleë is, blyk dit reeds dat Suid-Afrika nie goed vaar nie. Zimbabwe, waar daar steeds enorme politieke en ekonomiese uitdagings is, het byvoorbeeld sewe plekke geklim op hierdie indeks (hoewel slegs van derde na tiende, maar nogtans ’n verbetering). Malawi het elf plekke verbeter, Lesotho tien en Botswana en Namibië (wat beide nou bo Suid-Afrika in hierdie indeks lê) het elkeen een posisie opgeskuif. Slegs Mosambiek het ’n groot daling van 26 plekke getoon. Dus, terwyl die streek ’n betreklik goeie algehele verbetering getoon het, het Suid-Afrika ’n redelike groot daling gehad.

Ter verdere opheldering, kan dit ook met die klub van groot opkomende lande (wat die Brics-groepering insluit) vergelyk word. Rusland, met al sy endemiese korrupsie, het met sewe posisies gestyg; Brasilië het met nege plekke gestyg; Indonesië het ’n allemintige 16 plekke geklim; Venezuela, waar Hugo Chavez die ekonomie wanbestuur het met sy sosialistiese beleid en inflasie byna 30% is, het met 10 posisies van 79ste na 89ste opgeskuif; Maleisië en China het elkeen met twee plekke verswak.

Die mees onrusbarende vergelyking kan egter met uiters ondemokratiese en konflik-geteisterde lande getref word. Irak het byvoorbeeld met ses posisies verbeter; Kuba met ’n enorme 25 (Kuba is reeds in die 113de plek), wat miskien aan ’n afwyking van sosialistiese beleide en groter politieke en ekonomiese vryhede nadat Fidel Castro die tuig neergelê het, toegeskryf word; en Noord-Korea het met agt plekke van 15de na 23ste geklim.

Selfs sekere lande in Noord-Afrika en die Midde-Ooste wat deur politieke onrus en rewolusies getref is toe die Arabiese Lente deur hulle gespoel het, het nie sulke groot dalings soos Suid-Afrika getoon nie. Egipte het byvoorbeeld slegs ses plekke gedaal en Jemen 15.

Hoekom het Suid-Afrika só ’n daling beleef? Daar word nie in die vyfjaar-indeks melding gemaak van hoekom hierdie daling voorgekom het nie. Daar kan egter uit die jaarlikse indekse sekere gevolgtrekkings gemaak word. Die twee aanwysers waarin die land konsekwent gevaarlik sleg vaar, is “demografiese druk” en “ongelyke ekonomiese ontwikkeling”. Waar dit vir demografiese druk in 2008 ’n punt van 8.4 (uit 10) ontvang het, het dit in 2013 op 7.8 gestaan – dus ’n verbetering, maar steeds baie hoog. As hierdie aanwyser bietjie ontleed word, kan sekere redes vir hierdie swak telling geïdentifiseer word. HIV/Vigs, wanvoeding, ’n uitermate jeugdige bevolking sonder geleenthede, water- en voedselskaarsheid en ’n hoë kindersterfkoers is steeds groot probleme. In 2008 het dit ook ’n hoë 7 uit 10 vir die beweging van vlugtelinge en intern ontheemde mense ontvang; in 2013 was dit steeds ’n stewige 6,5. Die eerste twee aanwysers hou natuurlik verband. Migrante, wat weens ekonomiese of politieke redes vanuit die res van Afrika na Suid-Afrika vlug en sodoende die bevolking skielik laat groei het, dra stellig hiertoe by. Dit veroorsaak demografiese druk en plaas druk op voedsel- en watervoorsiening asook ander hulpbronne en infrastruktuur in sommige areas – Musina is ’n toepaslike voorbeeld. Suid-Afrika het ’n massiewe 8.5 vir ekonomiese groepsongelykheid ontvang in 2008 en het ’n ewe groot 8 in 2013 verwerf.

Hierdie tellings is hoog en was konsekwent hoog en het selfs afgeneem, so hoekom het die verglyding plaasgevind in hierdie periode? Eerstens het dit van 4.2 na 5.9 in terme van ekonomiese agteruitgang en armoede opgeskuif. Die wêreldwye resessie en die gepaardgaande afname in uitvoere en werkskepping, asook afleggings weens stakings, het beslis ’n impak hierop gehad. Dit het ook verswakking getoon op die gebiede van die delegitimisering van die staat (5 na 5,3) en die geleidelike agteruitgang van openbare dienste (5,7 na 6,3).

’n Kommerwekkende aspek is die groot styging (3,9 na 5,1) op die gebied van die staat se veiligheidsinstellings wat straffeloos optree. Hierdie toedrag van sake kan toegeskryf word aan pres. Zuma se “kaping” van veiligheidsinstellings soos die polisie en weermag deur etniese vertrouelinge aan die stuur daarvan te plaas. Die sterftes by Marikana en interne arbeidsonrus hou ook hiermee verband. Die opkoms van faksie-georiënteerde elites is ook onrusbarend met die telling wat van 4,4 na 5,6 tussen 2008 en 2013 opgeskuif het. Albei hierdie aanwysers dui op ’n geleidelike “Zoeloefisering” van die veiligheidstruktuur asook ander regeringsinstellings onder Zuma. Hierdie situasie verklaar ook die toenemende delegitimisering van die staat (toename van 5 na 5,3), met die persepsie van korrupsie onder die publiek wat toeneem (soos bewys deur die jaarlikse Transparancy International-indekse) asook ’n verlies aan vertroue in regeringsinstellings in die algemeen, soos byvoorbeeld die Grondwetlike Hof, nasionale vervolgingsgesag en veiligheidstrukture soos die polisie.

Insgelyks het die land ook van 4,9 na 5,7 opgeskuif in terme van wraaksugtige groepsgriewe. Dit dui heel moontlik op groeiende rassespanning sowel as swart-op-swart xenofobie. Gedeeltelik voortspruitend hieruit is die toename in die telling van “verlies aan mense”, wat van 4 na 4,3 gestyg het. Dit dui op die voortgesette emigrasie van geskoolde werkers en middelklas-mense na ander wêrelddele oor die laaste vyf jaar, ofskoon teen ’n stadiger tempo as voor die wêreldwye resessie.

Dus, is SA besig om ’n mislukte staat te word? Op die huidige trajek is dit ’n kategoriese “ja” hoewel dit lank sal duur vir die land om op Somalië, Afganistan en die DRK se vlak te beland, indien ooit. Dit hoef egter nie sulke drastiese afmetings aan te neem om as “misluk” geklassifiseer te word nie. Die hele wêreld skryf Amerika reeds vir eeue af en voorspel sy kreeftegang. Dit is egter vandag steeds die enigste supermoondheid ter wêreld en dit is te danke aan die vernuf, kreatiwiteit, aanpasbaarheid en ontembaarheid van sy mense. Dit is juis hierdie voorbeeld wat Suid-Afrikaners – swart én wit – en veral Afrikaners as die bouers van die moderne Suid-Afrikaanse staat moet nastreef om ’n nuwe toekoms vir die land in die 21ste eeu te definieer en dit dan te verwesenlik. ’n Fatalistiese gesindheid, slagofferskap oor die verlede, ’n gelatenheid oor onafwendbare agteruitgang en ’n houding van “ontvang” en nie ook “gee” nie, gaan Suid-Afrika onverbiddellik na rampspoed lei. ’n Staat beland ook nie self in ’n malaise nie, maar word veelal en aktief só verander of geskep deur verskeie menslike handelinge, wat op húl beurt deur houdings en sieninge beïnvloed word. Ditto die skep van suksesvolle state. Hierdie handelinge en oplossings is ’n paar ander artikels werd, maar kortom kan daar slegs gesê word indien ons Suid-Afrika wil wegkeer van die mislukte staat-scenario, sal menslike gesindhede en hul tasbare gevolge eers moet verander. Dus lê hef aan nog ver voor.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Shannon ·

“Word SA ’n mislukte staat?”

Baie sou sê SA is reeds oor die drumpel. Die ‘padda in pot’ vergelyking is van toepassing.
Om vas te stel of die RSA wel misluk het, reis oorsee, keer terug en kyk rond.

Is daar `n land op die Afrika kontinent wat slaag ?

Frik Lotz ·

Suid Afrika is lankal n mislukte staat en dit word net by die dag erger.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.