Word Zuma ge-PW? – Of is dit ‘n duimsuigspeletjie

President Jacob Zuma

President Jacob Zuma

In dié stadium lyk dit of pres. Jacob Zuma onstuitbaar onderweg is om met die Mangaung-kongres in Bloemfontein tot ‘n tweede termyn as leier van die land, en dus by wyse van implikasie die president van die land herkies te word.

Van werklike sigbare teenstand in die vorm van iemand wat sy vaandel laat wapper, is daar ook nog nie duidelike tekens nie. Dit val saam met ‘n algemene gewaarwording buite die ANC dat nog ‘n Zuma-termyn ‘n ramp sal wees. En hoewel skandes vir die land nie noodwendig as skandes in die ANC manifesteer nie, soos nou byvoorbeeld met Nkandlagate gebeur, is daar ‘n beduidende hoeveelheid ANC-gesinde meningsvormers wat ook hul monde uitspoel.

Is daar ‘n plan B as die intelligentsia in die ANC besef Zuma gaan weer verkies word, maar hulle sien nie kans vir die gevolge nie? Iets amper soos die lot wat wyle pres. PW Botha te beurt geval het? Omstandighede verskil te veel om ‘n volledige analoog te tref. Met die minagting van hofbevele om sekere materiaal aan die DA te oorhandig wat betrekking het op die besluit om aanklagte van onder meer korrupsie teen Zuma terug te trek, kan dalk voete gesleep word om Zuma se herverkiesing as ANC-leier aan die einde van die jaar te verseker. Maar daardeur, in beginsel, loop die ANC die risiko dat hul leier wat ook regeringshoof is, weer met sy bas in die beskuldigdebank kan beland terwyl hy in die ampte dien.

Logiesergewys moet daar dus ‘n plan B wees, maar die bestaan daarvan sal uiteraard heftig ontken word. So ‘n veronderstelde plan B kan net met hipoteses en afleidings gebou word. En nie alles dui op die bestaan daarvan nie. Die mees logiese plan B sou wees dat Zuma se teenstanders aanvaar dat die president weer die pyp gaan rook, en hom nie teenstaan nie. Maar dit sou ook niks aan die status quo verander nie, tensy iets in ruil onderhandel word – meer as bloot ‘n onderneming dat adjunk-pres. Kgalema Motlanthe as adjunk-president sal aanbly.

‘n Eerste logiese gevolgtrekking oor teenprestasies van die president se kant sou wees dat hy, as die president tog sy dag in die hof kry, hy as president sou afstaan, maar dat hy as president van die ANC kan aanbly tot hy skuldig bevind word. ‘n Tweede, meer dramatiese moontlikheid is dat Zuma onder druk geplaas word om in effek ‘n seremoniële staatshoof te word, sodat die land agter die skerms tegnokraties regeer word. Iemand, waarskynlik Motlanthe, dien dan formeel in die amp van adjunk-president, maar in die praktyk vervul hy die rol van ‘n uitvoerende premier. Amptelik, en na buite, regeer Zuma dan steeds, maar in die praktyk word hy ‘n rubberstempel wat sy meer tegnokratiese teenstanders se besluite moet uitvoer.

So iets sou ‘n drastiese hersamestelling van die kabinet impliseer, met ‘n hele paar onbevoegde kabinetsministers wat die trekpas sal kry.
‘n Tweede linie tegnokrate is dat die huidige adviseurs vervang word deur mense wat werklik goeie adviseurs is.

Die mate waarin Zuma egter op die oomblik rug styf maak, skep die indruk dat hy nie van plan is om kop te gee nie. Waar die president gereelde uitsprake gemaak het wat vir die land skadelik was, is dit of hy nou verbete die versneller hiermee intrap. Seker die beste voorbeeld is dié van die inkomstegaping. Wêreldwyd is daar nou ‘n groot ongelukkigheid oor die inkomstegaping, wat in Suid-Afrika volgens die Wêreldbank se Ginikoëffisiënt die grootste in die wêreld is. Tog sê Zuma dit is nie so nie, en dat dit “nie gemeet word nie.” Aktualiteitspraktisyns was nog besig om Zuma (en sy adviseurs) reg te help, toe herhaal Zuma dit. Maar Zuma se aanval op intellektuele en die “witmense se regstelsel” versterk bloot die hipotese dat hy deeglik onder druk is om sy werklike gesag aan tegnokrate te abdikeer, en dat hy hom (nog) daarteen verset. Volgens die hipotese dat daar arm gedruk word dat Zuma ‘n seremoniële rol opneem, maak dit egter steeds sin – dat Zuma so dit wat hy in ruil kry hoër probeer bie – maak hy dit duidelik hoeveel skade hy kan aanrig as hy nie uit die ooreenkoms kry wat hy wil hê nie.

Soos luukse akkommodasie by Nkandla dalk?

Dit beteken ook Zuma se teenstanders moet ‘n geloofwaardige rede na buite verskaf oor hoekom hulle Zuma formeel vir nog ‘n termyn steun. Die huidige “redes” is egter so gek dat dit op sigself skadelik is. Die “beste” rede so ver is dat Zuma ter wille van “stabiliteit” herkies moet word. ‘n Tweede “rede” is dat Zuma nou ervaring opgedoen het, en noodwendig in ‘n tweede termyn beter moet vaar (soos om na goeie advies te luister). Die probleem hiermee is dat selfs met ruim verbetering, dit steeds onbekostigbaar swak kan wees. Baie moeite word dus nou gedoen om die publiek wys te maak dat die termyn eintlik meer suksesvol was as dit waarvoor Zuma krediet kry – sonder natuurlik om op die aspekte van duidelike kreeftegang te wys.

Dit is geen waterdigte hipotese dat Zuma se teenstanders van hom ‘n de facto seremoniële president wil maak nie. Zuma sal alleen aan die aas knibbel as hy geen ander keuse het nie. Was dit waarskynlik, of selfs net moontlik dat Zuma die einde van die jaar die leierskapsverkiesing sou verloor, was dit een ding, maar in dié stadium lyk dit of die nie Zuma onrustig daaroor moet voel nie.

Dit beteken dat die teenstanders ‘n ander geweer teen die kop moet hê. Is daar dalk ander kopieë van die bande wat die DA so hard in die hande probeer kry? Gaan nog meer uittreksels van die bande as dit wat op politieke inmenging in die Selebi-verhoor dui in die media se skoot beland? Het eertydse vertrouelinge Zuma die rug toegekeer en is gereed om uit te blaker wat hulle weet? Van Zuma se teenstanders ly nie juis broodgebrek nie, en mense wat die mantel draai kan so in die verbygaan mildelik beloon kan word.

Wil iemand hierdie hipotese met ander insigte debatteer?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae