WP gaan SA-rugby nou domineer

WP wen die Curriebeker Foto: sportsillustrated.co.za

WP wen die Curriebeker Foto: sportsillustrated.co.za

Saterdag 27 Oktober 2012. ʼn Nat Kingspark, maar die gees aansteeklik warm. Die tafel gedek vir die hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse rugbykalender.

Aan die een kant die Sharks wat bo-aan die punteleer geëindig het en aan die ander kant die WP wat die beker 11 jaar gelede gewen het en die vorige Saterdag in “beseringstyd “deurgeskraap het na die eindstryd.

My standpunt is nog steeds dat vandag se spanne in elke opsig nie meer as 5 % van mekaar verskil nie, maar dat die verskil in die sielkundige benadering lê. Die standpunt is die naweek baie duidelik onderstreep toe die WP met groter “honger” vir die beker op die veld gedraf het as die Sharks.

Dit het egter niks verander aan die feit dat dit ʼn tipiese harde eindstryd was nie.

Die Sharks het as volslae gunsteling opgedraf en het ook sommer van die afskop af die druk met hulle swaar pak toegepas.

Die WP het die vroeë voortou geneem maar daarna het Patric Lambie die telbord gereeld aan die rol gehou en het die Sharks in die 34ste minuut gerieflik met 12-6 voorgeloop nadat beide spanne se skoppers al die punte aangeteken het.

Toe kom die keerpunt in die wedstryd.

Vanaf vaste spel druk die WP ʼn beplande drie deur senter Juan de Jong.  Na ʼn skynaanval deur die voorspelers kry hy die bal en met ʼn sprankellopie en ʼn skitterende afstamp wat die kruisverdediging gras laat vreet. En toe met ʼn verbysterende systap laat hy die heelagter van die Sharks wonder, “watter kant is hy by my verby?”, en druk hy onder die pale.

Met rustyd is die WP met 13-12 voor.

Na rustyd het die Sharks met ʼn groot aanslag gekom en selfs vir ʼn wyle met 18-16 voorgeloop.

Die stadige gif van die vaste vyf van Province, met Eben Etsebet aan die voorpunt, het egter sy tol begin eis en die spel is na die kwartgebied van die Sharks verplaas waarna nog een strafskop en twee briljante skepskoppe van Demetri Katrakilis gevolg het om die telling 25-18 vir Province te maak.

Hulle moes egter ʼn desperate Sharks-aanval in die laaste minute van die wedstryd afslaan, maar die verdediging het gehou en met ʼn aanslaan deur die plaasvervanger-haker van die Sharks wen die WP die eerste keer in 11 jaar die gesogte trofee.

Die ander spanne moet kennis neem van die feit dat etlike sterspelers van die WP beseer was en dat ʼn klomp spelers nog onder 21 is.

Hierdie kan die begin van die WP se goue era wees waarin die Curriebeker nog vir etlike jare suid van die Oranjerivier gaan bly.

Welgedaan Province, julle het hierdie een verdien.

Nou volg die toer na die Britse eilande en reeds so vroeg as 8 November speel die Bokke teen Ierland.

Die Vrystaat Cheetahs was weereens te sterk vir die Kings en het die tweede relegasiewedstryd op ʼn sopnat veld in Port Elizabeth redelik gemaklik gewen en hulle bly dus in die Curriebeker.

Die Kings besef nou dat daar baie werk voorlê voordat hulle volgende jaar die Super 15 aanpak.

Rugbygroete uit ʼn koue Bosveld.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers, Sport

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.