Wrede werklikheid verdryf heerlike sprokiesgevoel

(Foto: Eugene Hoshiko/AP)

Watter Suid-Afrikaner het Saterdag nié uitgelate gejuig nie? Reg oor die wêreld, in Suid-Afrika, in Japan en elders, het Suid-Afrikaners gekraai, geskreeu, gejubel.

Hier in Delft in Nederland, waar ek woon, het ek vasgenael voor die televisie gesit. ’n Groep familielede, versprei oor Suid-Afrika, Australië, Ierland en Noorweë, het deurlopend kommentaar op ’n WhatsApp-groep gelewer en digitaal heerlik saam gekuier. Jislaaik, dit was lekker.

Maar Maandagoggend skakel ek my rekenaar aan en sien die nuusberig dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) nog moet besluit of hy die slot Eben Etzebeth se hofaansoek dat die MRK sy “ondersoek” na sy beweerde rassistiese optrede staak. En die wrede werklikheid verdryf opnuut die heerlike sprokiesgevoel van die naweek.

Die twee dinge – enersyds die fantastiese samehorigheid, andersyds die verskeurdheid in ons land – is die twee kante van die werklikheid van Suid-Afrika.

Ek is geen besondere aanhanger van pres. Cyril Ramaphosa nie, al weet ek hy is honderd maal minder erg as sy korrupte voorganger. Maar in Ramaphosa se kommentaar oor die Bokke se oorwinning het hy wel die regte noot gedruk:

“Dit is ’n magtige bewys van wat ons as Suid-Afrikaners kan bereik wanneer ons doelwitte vir onsself stel en saamwerk om sukses te bereik.”

Die feit dat die oorwinning onder die inspirerende leiding van kaptein Siya Kolisi plaasgevind het, en dat waarskynlik 99% van alle Suid-Afrikaners hom as ’n held beskou, wys dat wit en swart nie vyande hóéf te wees nie. Ons kán saamwerk.

Die MRK se hantering van die Etzebeth-kwessie is die ander kant van die huidige werklikheid. Ek was nie die aand by waarvan beweer word dat Etzebeth rassisties teenoor gekleurde Suid-Afrikaners opgetree het nie. Ek ken hom en die klaers van geen kant nie en kan eenvoudig op grond van my eie kennis geen oordeel vel nie.

Maar die Etzebeth-kwessie is tekenend van die outomatiese manier waarop te veel Suid-Afrikaners instinktief hul eie groep se kant kies. Sonder om hulle van die feite te vergewis.

As Koos dit in die kroeg oor ’n whisky of Sipho dit in die sjebien oor ’n glas sorghumbier doen, is dit een ding. Maar as iemand soos die MRK se waarnemende regshoof, adv. Buang Jones, summier van die heup af skiet deur, sonder enige ondersoek hoegenaamd, te sê Etzebeth hoort “in ’n tronksel” tuis, wys dit hoeveel werk nog voorlê.

Helaas is die feite op voetsoolvlak nie bevorderlik vir ’n idealistiese vryheid, gelykheid en broederskap nie.

Ek weet baie van my mede-Afrikaners hou nie daarvan om dit te hoor nie, maar enige realistiese mens sal moet erken dat die onreg van apartheid ’n vergiftigde bedding geskep het wat die blomtuin van versoening bitter moeilik maak. Uit die dekades van bitterheid en polarisering tussen Afrikaners en Engelssprekendes ná 1902 moet enige Afrikaner kan insien dat só iets nie met ’n handomkeer verdwyn nie.

Apartheid se erfenis – ekonomiese ongelykheid en emosionele vyandskap – gaan nog ’n lang tyd met ons wees. Dis geen oordeel teen my voorouers nie; hulle het opgetree in die lig van wat hulle ontvang het. Dis eenvoudig ’n feit.

Die vraag is hoe ons met daardie feit omgaan. ’n Eerste punt is dat politici van alle groepe moet ophou om griewe aan te blaas en uit te buit. Hier gaan dit veral om die linkervleuel van die ANC en die EFF, maar ook aan die regterkant is daar wit politici wat hulle daaraan besondig.

Maar dalk is dit ’n naïewe gedagte. Politici is mos nou maar politici, mense wat dikwels enigiets sal doen om ’n paar ekstra stemme te win.

Is daar dan geen idee waaromheen Suid-Afrikaners kan verenig nie? Rugby is goed, maar nie genoeg nie, want die nare werklikheid het die Maandag ná Saterdag se oorwinning weer op ons almal neergedaal.

Jare gelede was daar ’n openbare gesprek in die Afrikaanse koerante hieroor. Nasiebou, het sommige gesê; ons moet ons verskille vergeet en ons rondom ons gemeenskaplike lojaliteit aan ons land verenig. Dit was ook ’n goeie gedagte, maar die harde praktyk het sedertdien gewys dit is nie naastenby genoeg nie.

Toe kom wyle prof. Johan Degenaar, ’n nugtere, bedaarde filosoof, met ’n voorstel wat my nogal aangespreek het. Kom ons verenig rondom die Grondwet en die demokratiese stelsel wat daarmee saamhang.

Nou ja, sedertdien het geblyk dat ook dít nie heeltemal voldoende is nie. Ons sit immers met ’n konstitusionele hof wat die taalregte ontken wat die Grondwet aan Afrikaanssprekendes verleen. Insake Gelyke Kanse se saak teen die Universiteit Stellenbosch het die geleerde regters immers, as jy dit tot op die been stroop, bevind dat daar nie in die Grondwet staan wat daar staan nie. Nou wil ek nie beweer dat ons Grondwet bo alle kritiek verhewe is nie. Daar ís leemtes.

Foto: (AP Photo/Christophe Ena)

Maar die probleem lê nie primêr by die Grondwet nie. Die probleem lê by die ANC, wat die Grondwet minag wanneer dit hom pas, en dikwels by die regters, wat soms soos skoothondjies agter die ANC aanloop wanneer dit gaan oor sake wat teen die ANC-narratief indruis. Die oplossing is egter nie om die Grondwet saam met die badwater by die agterdeur uit te smyt nie. Oefen druk uit op die politici en diegene wat die hefbome van die mag bedien, om die Grondwet behoorlik te gehoorsaam.

Die herrie oor die MRK se outomatiese skuldigbevinding van Etzebeth is ’n voorbeeld. Dat die vermoedelike gekonkel tussen regter Edwin Cameron en prof. Wim de Villiers van Stellenbosch deur regsgeleerdes aan die groot klok gehang is, is ’n ander een.

En intussen moet die breë samelewing voortgaan met sy druk op die regering om die skade wat sy geldsmytery en nepotisme meebring, te beperk. (Let wel, beperk, want dit is dalk te veel gevra om te verwag dat hy dit heeltemal moet stopsit!)

Suid-Afrikaners van alle groepe sit nou eenmaal in dieselfde bootjie. As die bootjie sink, sink álmal saam. Daarom, opnuut dié woord aan pres. Ramaphosa:

“President, u het in dié land ’n skat aan talent, vaardigheid, ervaring en kwalifikasies by mense wie se velkleur toevallig wit is. ’n Mens verstaan dat u die historiese onreg van apartheid wil uitwis. Maar maak gebruik van die hand van vriendskap wat die wit mense – dalk morrend – na u uitsteek.

“Vat nou asseblief daardie hand. Laat ons samehorigheid nie by die rugby-oorwinning ophou nie!”

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Denise ·

Die feit, dat ek as RUGBY ondersteuner, die rugby GENIET het en SAAMGEJUIG het en steeds BLY is, saam meti BOKKE…beteken GLADNIE, dat ek vir een oomblik gedink het, al SA se probleme is nou verby!!!! Ek MAG MOS my sport geniet, nes jy, jou skaapboud of sjokolade geniet!!! Die feit dat jy, jou kos of oefening of werk geniet, beteken mos NIE, jy hallusineer oor die realiteit nie!! Maar dat malse rugby EUFORIE.. net so SKADELIK, SOOS pessimisme,depressie en negatiwiteit is, is n voldonge FEIT

Gerhardt O ·

Ek verstaan ook nie hoe rugby as n wonderlike sport soveel politieke implokasies moet he nie.

Henk Ackermann ·

Daar sal drastiese veranderinge gemaak moet word aan regeer metodes om hierdie bootjie vaarbaar te hou .

Hendrik ferreira ·

Niks kan verander voor die regering en sy hoogheid Ramaposa nie diskriminerende wetgewing soos seb,die regstellende aksie en die kwota sisteem gebaseer op velkleur skrap nie,na 25 jaar van demokrasie kan dit met reg diskriminasie teen wit minderhede genoem word.

Breytie ·

Daar is net een sinvolle pad vorentoe: die blankes en spesifiek ons Afrikaners moet ‘n manier vind om selfstandige gemeenskappe te vorm sonder om die wet te oortree. As jy die redes daarvoor wil weet, kyk rondom jou en luister elke dag na die nuus.

jan ·

een swaeltjie maak nie n somer, daar is nog baie om te doen voordat daar eenvormigheid sal wees.ons almal opgewonde oor die bokke se oorwinning ,ek is seker as daar by al die mense gevra word oor die lied van steve hoffmeyer die land wys ook na waarna almal streef. solank wat die media en politieke leiers vas gevang is oor die apartheid en ons is al 25 jaar daar verby kan ons vergeet van vooruitgang.

Kerneels ·

Ek het die balgot al 20 jaar gelede uitgeskop. Toe het die realiteite ingeskop.

Johan Grobler ·

Darem nou al baie lank geslaan op die “apartheid verontregting” drom! Het dit nie nou tyd geword dat die die voorheen benadeeldes die huidige benadeeldes om verskoning vra vir die geweldige mate waartoe hulle ons land se infrastruktuur en moraliteit van wonderlike hoogtes tot moerasvlak afgebreek het nie?

RP ·

Dit het lankal tyd geword dat dit moet gebeur. Maar die realiteit is dat dit nie gaan gebeur nie. So ons moet ons deel doen en oplossings vind, want as ons dit nie gaan doen nie, gaan niemand nie.

Skerp Spioen ·

Sipho drink lankal nie meer Sorghumbier nie maar eerder Zamalek of blue label……

Boerseun ·

Die probleem bly die versoening. Lyk en klink dit of die nuwe “youth” wil versoen? Daar is n mentaliteit, gekweek en gestook deur die engelse sosialistiese liberale “youth”, van “you have I the right to it , so will take it”. You don’t know what you don’t know. Nasie bou is n konsep wat uitgedink was om te keer dat “white monopoly money ” land uit vlug, wat toe maar in elk geval gebeur het. He whom jumps ship first will always have space on the life boat.

GB ·

Ek dink wat dit so moeilik maak vir baie wit mense om te praat oor apartheid, is die feit dat apartheid vandag ten onregte enersyds gebruik word as ‘n verskoning vir die regering se onvermoe om die land doeltreffend te bestuur en andersyds as ‘n verskoning om die Afrikaner en sy kultuur af te knou. Ek vermoed ‘n tipe versoening sal net moontlik wees wanneer daar ‘n meer gebalanseerde, genuanseerde en eerliker gesprek oor die verlede gevoer kan word, ‘n gesprek wat ook die ANC en ander bevrydingsgroepe se rol in die kweek van ‘n kultuur van geweld sal erken. Ongelukkig is daar baie mites wat deur invloedryke instansies soos die hoofstroom media, akademici, politici ens. in stand gehou word en ‘n beter gesprek oor die verlede verhoed.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.