Wreedheid is aansteeklik

Argieffoto

Ek lees nou net weer die berig van ‘n week of wat gelede oor Solidariteit se besluit om klagtes in te dien by die SAPD, die Gelykheidshof en die Onafhanklike Verkiesingskommissie teen Siyanda Gumede en Lindsay Maasdorp van BLF oor hul haatspraakboodskappe na aanleiding van die tragedie by Hoërskool Driehoek.

Ek onthou hoe daardie boodskappe my persoonlik ontstel het. Hierdie land is sieker as wat ons besef, het ek gedink.

My gedagtes het my teruggeneem na ander soortgelyke uitsprake. Ek onthou ‘n swart ou op Twitter se opmerking dat daar nou gelukkig een wit mens minder is, nadat iemand die nuus gebreek het oor ‘n vriend wat pas in ‘n motorfietsongeluk oorlede is.

Dis egter nie ‘n nuwe verskynsel nie.

Dis meer algemeen as wat ons wil erken. Hoeveel keer moes ek as kind hoor hoe die ooms en tannies ná ‘n nuusberig oor ‘n taxi- of mynongeluk opmerk dat daar nou ten minste “minder van hulle is”.

Elke mens wat tragies sterf, is iemand se kind, ouer, broer of suster, iemand se vriend . . .

In ‘n stadium skryf ek ‘n artikel vir ‘n koerant oor die konflik tussen die Jode en die Palestyne na aanleiding van ‘n klomp kinders wat dood is en sit die skakel op Facebook. ‘n Man wat in daardie stadium ‘n ouderling was in ‘n gemeente waar ek vroeër die jaar gepraat het, skryf in reaksie op die berig dat alle Moslems eintlik doodgemaak moet word.

“Ook die vrouens en kinders?” vra ek.

“Ja,” sê hy, “die goed teel aan soos vlieë.”

Ek en ‘n paar vriende het vroeg in Januarie op Inhaca-eiland in Mosambiek gaan kamp. Terug by die huis laat weet iemand my dat vier jongmense daar verdrink het. Ek soek dadelik op die internet na meer inligting oor die voorval.

Dit was ontstellend. Vier jongmense van Suid-Afrika het verdrink baie na aan die plek waar ons etlike dae gelede gekamp het. Daar was in daardie stadium ‘n soektog aan die gang, al was daar eintlik min hoop dat iemand lewend gevind sou word. Ek het my die angs van die familie en vriende probeer indink.

Amper meer ontstellend was van die opmerkings op sosiale media en onderaan die nuusberigte. Mense het duidelik begin agterkom dat die jongmense wat verdrink het, swart was. Meer as een persoon het dinge geskryf soos: “Hulle kan mos nie swem nie, wat soek hulle in die see?” Ander het gespekuleer dat “hulle sekerlik weer dronk was”. Van die grootste kritiek was oor die moeite wat gedoen is van Suid-Afrika se kant om met die soektog te help.

Hoe dikwels lees mens hierdie tipe uitsprake op sosiale media of onderaan digitale nuusberigte.

Die kommentaar onderaan Maroela Media en Netwerk 24 (om net twee te noem) se berigte is na my mening sekerlik van die swakste vorms van kommunikasie in hierdie land. Oor die algemeen. En dis ná die kommentaar gesif is! Kan jy dink hoeveel Siyanda Gumede- en Lindsay Maasdorp-tipe opmerkings daar sou wees as dit nie daarvoor was nie!

Ek skryf rubrieke vir verskeie publikasies en dit wil voorkom asof dit dikwels oor en oor dieselfde mense is wat op die internet rondsnuffel om te kom galbraak. Van hulle geniet die spelletjie so, hulle het meer as een profiel.

Niks goeds kan uit haatspraak kom nie.

Die probleem is dat rassisme vir die rassis slegs ‘n probleem is as hy of sy aan die ontvangkant daarvan is.

Daar sal heelwat minder geraas wees in hierdie land as rassiste ophou om kritiek uit te spreek teenoor ander rassiste. Dit word ‘n bose kringloop met geen goeie einde nie.

In Noam Chomsky se woorde: “If it is wrong when they do it, it is wrong when we do it.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

apie ·

Dit is nou die spyker op die kop slaan. Daar is heelwat galbrakers wat so ‘troll’ soos die engelse sê, Dankie vir hierdie oulike stuk

pb ·

Dankie jaco…gelukkig verwoord jy die groot meerderheid van mense in SA. Die paar werklike rassiste wat oor is in ons land sal wel later reageer…reg gese…dieselfde ou groepie name sal weer hier ook verskyn. Gelukkig kon die meeste mense in ons land aanbeweeg

Agie ·

Dankie Jaco.
Ek moet vanoggend bieg. In my gedagte wêreld staan ek skuldig. Ongeag alle redes is ek verkeerd.
Dankie vir daardie aanhaling. Indien HULLE dit doen wat verkeerd is, is EK net so skuldig (al het ek nie tot die daad oorgegaan nie. GOD ken ons denke?)

John ·

Vertel ons asseblief ook hoekom daar nie ‘n saak gemaak word teen die dooie wat teen betaling opgewek word in ‘n kis nie en die geagte dominee wat met so groot aanhang ‘n kis, die simbool wat die egste vorm van wreedheid teen swartes verteenwoordig, so misbruik sonder politieke ingryping deur die hoogste orde nie. Regverdigheid in alle omstandighede… maar party mense is skynbaar meer geregtig op gelykheid as ander.

Judge Dredd ·

Stem saam – soos die engelse gesegde – “Preaching to the choir”

My persoonlike ervaring is dat mense wat vrede tussen verskillende groepe/mense preek gewoonlik verskillende verwagtinge/doelstellings/gevolge het vir die groepe.

Wally ·

Hierdie artikel spreek ‘n groot probleem in ons samelewing aan. Die venyn wat uit sommige uitsprake blyk en die blatante haat vir enigeen wat anders is laat mens soms ril van afgryse.

Sarie ·

Hierdie rassiste is afstootlik van beide kante. Maar daar is ‘n ander groep wat my net so vies maak dis daardie selfregverdigende wit Afrikaners wat neersien op meer konserwatiewe mede Afrikaners. So dikwels hoor ons gaan woon in Orania, die brandy en coke brigade, two tone hemde en Voortrekkermentaliteit het ek nou die dag raak .

Judge Dredd ·

Ek hoop net Jaco Strydom het ‘n soortgelyke artikel geplaas in ‘n engelse koerant, sodat “die ander” mense dit ook kan lees – anders help dit mos niks.

Rasper ·

Jaco, jy is reg. Ek kan niks verkeerd kry met jou skrywe nie. Ek wens ook elke liewe Afrikaner besef dit. Jy wys tereg iets verkeerd uit in ons samelewing, MAAR, dit is net ‘n stukkie van ‘n legkaart in ‘n groter prentjie van wat verkeerd is hier in Suid-Afrika. Daar is rede dat ons partykeer so voel. Reg en geregtigheid het verdwyn in SA. Die Here verwag dat reg en geregtigheid moet geskied. Maar ons voel magteloos. Ons ekonomiese mag het verdwyn en sit regtig in ‘n paar White Monopoly Capital- mense se hande. Poste waar ‘n mens ‘n verskil kan maak is gereserveer vir ander. Ons is moeg, want van die preekstoel hoor ons, ons moet ons wange draai. Wange wat al seer geslaan is. Ons skreeu op hierdie media platforms, want ons voel dit is al waar ons dit kan doen. Ons voel gebede tref die plafon, en sê mens wat jy regtig voel op die straat, eindig jy in die tronk. Ek weet ons is verkeerd. Ek weet ons moet dinge anders hanteer. Maar Afrikaners is ook net mense. Ons het ook ‘n breekpunt. Al wat my nog hoop gee is dat God ten spyte van ons swakhede ook na ons kyk.

RHG ·

Ek klap vir jou hande, Jaco!
Die veroordeling in die kommentare kry my onder.
Ek lewer self gereeld kommentaar op dinge waaroor ek sterk voel en gebruik drie name. Hoekom? Ek weet self nie. Ek probeer om nooit lelik te wees nie. Ek voel dat daar altyd ‘n ander kant van ‘n saak is. Moenie oordeel nie.

Marinda Van Tonder ·

Baie dankie vir die artikel – dit pla my ook al lankal. Ons moet wag hou oor ons denke en nie mense redigeer tot waardeloos nie – want dis wanneer die aakligste sy van menswees te voorskyn kom, as jy iemand as niks werd ag. Ek lees Sondag in die kerk – mense is Godsgeskenke – en ek dink ons moet begin hulle dan so respekteer en met empatie in ons daaglikse wandel,handel en denke oor almal wees

Blaarman ·

Dankie Jaco

Ek skaam my wanneer ander Afrikaners so optree. Dit is, snaaks genoeg, diesulkes wat so vol haatspraak is wat stilletjies verdwyn wanneer dit tyd is om getel te word.

Afrikaner ·

Kom ons wees eerlik. Lees maar hier op Maroela die kommentare onderaan berigte. Ek sien dit elke dag. Baie het ‘n steek in, al is dit net effe, of kritiek en dit kan mens met ‘n stok voel het ‘n rasondertoon. Bv, die ANC wat nie kan regeer nie. Die ANC dit of die ANC dat, bedoel dit iets anders? Dan het ek al gewonder of ander mense die rassisme tussen die lyne raaklees.

Afrikaner ·

Kom ons begin by onsself en by Cyril, daar in die parlement en op die openbare verhoog, om dit aan te spreek.

Katerina ·

Afrikaner die ANC word veroordeel omdat hulle nie reg kan regeer nie, omdat hulle die land in die afgrond instuur. Nie omdat hulle grootliks uit swart mense bestaan nie. If a white political party was in power and they messed up at the spectacular level that the ANC is doing, do you think they would not also be criticised?

Afrikaner ·

Katerina, dit is reg wat jy sê, 100%, maar daar is mense wat swart sien as hulle ANC sê. Dit soos om ‘boer’ te sê en wit klim in jou kop.

Blaarman ·

“Kom ons wees eerlik” is nie ‘n argument nie. Ironies genoeg, word hierdie woorde dikwels deur ‘n stelling gevolg wat inherent oneerlik is.

Dit is belaglik om te argumenteer dat kritiek op die ANC rassisme is. Hoe weet ons of iets rassisties is of nie?

BEWYSE. Indien jy beweer dat daar rassisme by ‘n stelling ter sprake is, moet jy dit kan bewys.

Indien jy ‘n ander betekenis wil koppel aan ‘n stelling as die betekenis van die stelling self, is die probleem jou interpretasie… nie die stelling self nie.

Jerry ·

Ongelooflik baie faktore beinvloed verskillende vlakke van rassisme soos, vrees, kultuur en ideologiese verskille, soort soek soort, bedreigings, diskriminasie en diskriminerende wetgewing, misdaad, wantroue ens. die lys is eenvoudig nimmereindigend en hier is nie genoeg spasie om alles op te noem nie. Al die faktore dra by tot hoekom mense bevooroordeeld, onverdraagsaam en rassisties teenoor mekaar optree. Wat dit vererger en veroorsaak dat dit met erge wreedheid gepaard gaan gebeur wanneer mense verhoed word om verbaal uiting te kan gee aan misverstande, frustrasies en ongelukkigheid. Om al hierdie gevoelens te moet onderdruk veroorsaak groter spanning wat dan wanneer die damwal uiteindelik breek eindig in rassisme en erger wreedheid as wat die geval sou wees wanneer mense daaroor kan praat. Daar behoort slegs wetgewing te wees teen rassistiese aanhitsing en haatspraak deur politici, nie teen gewone mense nie. Gewone mense veroorsaak nie konflik nie, politici veroorsaak konflik wat gewone mense dan moet uitbaklei. Gewone mense werk saam en leef saam en vind mekaar met verdraagsaamheid teenoor mekaar se verskille en rassisme. Dit is hoe dit is, maar die oomblik wat politici toegelaat word om in te meng, dan raak die prentjie aaklig en raak mense onverdraagsaam teenoor mekaar oor presies daardieselfde verskille en rassisme! Politici het n issue van iets gemaak wat nooit n issue moes geword het nie. Die bewustheid wat nou gekweek word ontlont nie rassisme nie, dit laat dit opkrop wat dit net nog wreder kan maak wanneer die damwal bars!

Santie ·

Mens kan dink wat jy wil, maar nie sê wat jy wil. Mense het hulle filters verloor

Jerry ·

Noam Chomsky se aanhaling pas nie vir my lekker in by die Suid Afrikaanse rassisme situasie nie, omrede wat die ANC volgens ons rassisties en verkeerd doen is volgens die ANC reg en wat ons volgens die ANC rassisties en verkeerd doen is volgens ons reg. Swartmense kan nie rassiste wees nie is volgens die ANC denke die regte stelling. Ons bewys in die howe dat swartmense kan rassiste wees en volgens ons en die howe is dit so en is ons reg. Volgens die ANC is ons en die howe verkeerd. “If it is wrong when we do it, it is right when they do it”!

Logika ·

Rasgebaseerde dubbele standaarde. Ook dikwels beskryf as “The racism of low expectations” wanneer ‘n laer stel etiese, regs of kwalifiserende standaarde vir of teen ‘n ras toegepas word as vir ‘n ander.

Logika ·

@Afrikaner

Politiese korrektheid walg my. Dit onderdruk die waarheid, is ‘n vertrapping van mense se reg op vryheid van spraak, en is dikwels in werklikheid ‘n groter daad van rassisme as die sogenaamde rassistiese spraak wat dit wil beperk. In kort – dit is ‘n ekstreme vorm van oneerlikheid.

Kom ons vat ‘n stelling soos “Die ANC kan nie regeer nie”, wat jy beweer rassistiese ondertone het. Die stelling “Die ANC kan nie regeer nie” is geldig aangesien dit nie ‘n gruwe veralgemening is nie,en daar ‘n oorweldigende hoeveelheid bewyse ten gunste van hierdie stelling is.

Waarom interpreteer jy hierdie stelling as rassisties? Is daar enige verwysing na ras in hierdie stelling deur die persoon wat dit gemaak het?

Nee, ten minste nie direk nie. Die persoon het dus nie gesê “swart mense” in die breë kan nie regeer nie. Jy interpreteer dit wel so, as rassisties, omrede ‘n wit persoon se stelling krities is van ‘n oorweldigende swart party, wat onbetwisbaar korrup is, talle etno-nasionalistiese uitsprake gemaak het, en swart etno-nasionalistiese beleid in werking stel.

Jy klassifiseer dus ‘n stelling op grond van die ras van die persoon wat dit maak, en nie op die meriete van die stelling nie. Dit, is per definisie, rassisties.

Henry ·

Dankie tog Logika!
Logiese, logikaanse waarheid.
Sonder die opgesmuktheid van die PK’s. Die politiek korrektes wat altoos een of ander ‘rassistiese’ verweer soek wanneer logika die waarheid in eenvoudige taal/beelde blootlê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.