WVK: 20 jaar later

Suid-Afrikaanse vlag

Suid-Afrikaanse vlag

Die herdenking van die begin van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) se werksaamhede 20 jaar gelede het nie veel aandag in ons land getrek nie. In Die Burger het my goeie vriend Max du Preez taamlik te kere gegaan oor hoe lelik die meeste Afrikaners met die WVK was, maar verder was mense nogal verrassend stil.

Ek het ’n vermoede dat, wanneer historici later na die WVK terugkyk, hulle sal bevind dat slegs beperkte waarhede uit die proses na vore gekom het, en dat versoening byna heeltemal uit die boot geval het. Die twee hou nogal verband met mekaar.

Maar voor ek verder gaan, laat my eers dít sê: In twee opsigte het die WVK-proses ’n positiewe rol gespeel.

Die eerste was dat slagoffers van menseregtevergrype, veral dié wat onder die Nasionale Party-regering deurgeloop het, kon praat. Jy kon duidelik sien vir sommige was dit ’n soort katarsis, die oopruk van die etterende sweer. Vir spesifiek dié individue was die WVK-proses emosioneel en sielkundig van enorme waarde, en ’n mens moet dit regtig nie geringskat nie.

Ten tweede kan niemand ten opsigte van die vergrype van destydse staatsorgane sê ons het nie geweet nie. Ons het dalk nie geweet toe dit plaasgevind het nie, maar nadat dit alles deur die WVK oopgevlek is, kon ons nie meer onkunde pleit nie.

Daardie vergrype het in óns naam plaasgevind. Dit maak ons dalk nie regstreeks medepligtig nie, maar ons het in dié jare afstand gedoen van ons plig om die regering verantwoordbaar te hou.

Nietemin, op die keper beskou, was die waarheidsvinding taamlik selektief en eensydig.

Die ANC se siening oor sy eie struggle, soos onder meer verwoord in sy voorleggings aan die ANC, was basies dat hy ’n regverdige oorlog (just war) teen ’n misdaad teen die mensdom, apartheid, geveg het. In die proses het hy dalk effens ligte mistykies gemaak, maar hý was die good guy en die destydse regering die vark in die verhaal.

Tot die WVK se krediet moet gesê word dat hy ook aandag gegee het aan die ANC se terreurveldtog waarin onskuldige burgers, wit en swart, geteiken is, en aan die ANC se Stalinistiese vervolging van sy eie lede in die strafkampe in Angola, Zambië en Tanzanië. Maar dit was ’n baie ondergeskikte element van sy eindverslag; die klem was oorweldigend op die aanklagte teen die regering.

Die ANC se eie historiese vertolking, soos hier bo weergegee, is met enkele effense nuanses byna in sy geheel deur die WVK oorgeneem. Géén poging is aangewend om die ANC-paradigma, dat hy ’n regverdige oorlog teen ’n misdaad teen die mensdom geveg het, wesenlik te ondersoek nie.

Kom ons kyk kortliks daarna.

Die begrip regverdige oorlog vind sy oorsprong by die kerkvader Augustinus en is veral in die 20ste eeu teologies enorm verfyn. Daar is veral twee oorkoepelende vereistes waaraan ’n konflik moet voldoen om as ’n regverdige oorlog te kan geld.

Ten eerste moet daar vir ’n regverdige doel geveg word (jus ad bellum in Latyn), en tweedens moet die stryd met regverdige middele gevoer word (jus in bello).

Wel, dis nou al bekend dat die ANC in die strugglejare volkome oorheers is deur die SA Kommunistiese Party, een van die mees Kremlin-getroue kommunistiese partye ter wêreld. Die ANC/SAKP-leiding het nié geveg vir die liberaal-demokratiese stelsel waaronder ons nou geregeer word nie, maar vir ’n Leninistiese eenpartydiktatuur. Dit voldoen nie aan die jus ad bellum-vereiste nie.

Daarbenewens het die ANC ’n terreurveldtog gevoer wat wesenlik nie veel verskil van dié wat die Islamitiese Staat tans in die Midde-Ooste en op plekke in Europa voer nie.

Bomme is links en regs in spitstyd in besige strate, in restaurante, in winkelsentrums, by sportstadions laat ontplof. Mense wat as vyande beskou is, is vermoor. ANC-lede in ballingskap wat intern groter deursigtigheid en verantwoordbaarheid van die leiding gevra het, is genadeloos vervolg, vermoor, gemartel.

Die ANC/SAKP voldoen dus ook nie aan die jus in bello-vereiste nie. (Terloops, die destydse regering ook nie.)

Of apartheid ’n misdaad teen die mensdom was, is weer ’n ander storie. Dié begrip het ontstaan tydens die voorbereiding van die Neurenberg-verhore, toe Nazi-misdadigers daarvan aangekla is. Dit was na aanleiding van die massamoord op ’n geskatte ses miljoen Jode.

Die begrip is in die vroeë jare sewentig vir die eerste keer op apartheid toegepas toe die Algemene Vergadering van die VN ’n resolusie met dié strekking aanvaar het. Dis opvallend dat die demokratiese Westerse lande (van wie baie net 30 jaar tevore onder die Nazi’s deurgeloop het) daarteen gestem het omdat hulle gemeen het dis te dik vir ’n daalder. Die meerderheid is verskaf deur lande uit Afrika en elders in die Derde Wêreld, asook die kommunistiese blok, oorwegend diktature.

Eintlik is dié feite voldoende antwoord op die vraag of apartheid ’n misdaad teen die mensdom was. Let wel, dis geen poging om apartheid as sodanig te verdedig nie; maar daar is geen manier onder die son waarop dié beleid met die Nazisme gelykgestel kan word sonder om ’n bespotting van die waarheid te maak nie.

Die waarheid is dat die besluit ’n oefening in propaganda was, iets waarvan die ANC/SAKP met oorgawe gebruik gemaak het.

Daar was ’n goeie rede waarom die WVK se uiteindelike verslag so eensydig en selektief was.

Feit bly dat daar slegs ’n enkele Afrikaner was wat daarin gedien het, Wynand Malan. Malan, ’n parlementslid wat self weens sy kritiek op apartheid in 1987 van die NP weggebreek het, het in ’n stadium bekommerd aan ons by Die Burger vertel dat die WVK “kopskote na die Boere” wil skiet – wat uiteindelik ook gebeur het.

By die koerant het ons gewys op die voorbeeld van Chili, waar ’n soortgelyke orgaan uit agt lede van die ou regering en agt van die opposisie bestaan het. ’n Ewewigtige liggaam wat uiteindelik ’n baie genuanseerde verslag uitgebring het.

Ek het baie waardering vir aartsbiskop Desmond Tutu, maar hy het destyds geen ewewigtige rol gespeel nie. In sy boek No Future Without Forgiveness het hy die idee dat die WVK ewe veel verteenwoordigers van die ou regering en die opposisiegroepe moet hê, reguit “arrogant” genoem.

Ons het baie om mekáár oor in Suid-Afrika te vergewe. Dalk moet ons maar almal terughoudend wees as ons mekaar aankla.

Maar, helaas, die WVK het in dié opsig nie veel gehelp nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

5 Kommentare

Theuns ·

Maroela wat word van die kommentaar as jy stuur druk en die volgende oomblik staan daar

“THIS PAGE CANNOT BE DISPLAYED”
Is dit dalk die rede vir geen kommentaar gelewer op die uitstekende stuk van Leopold nie?

Landi Malan ·

Dagsê Theuns,

Dankie vir jou navraag. Ons het nou hier aan ons kant geloer en geen probleem opgespoor nie. Sal jy assbelief die blad herlaai deur die ‘f5’ knoppie te druk en dan weer probeer? Laat weet ons gerus of dit steeds nie werk nie.

Groetnis
Landi namens Maroela Media

Rupert Ashford ·

Baie goed Leopold. Ook soberend die UN se manewales beskryf, en dit is waarom niks wat van daardie organisasie kom met enigiets minder as ‘n koppie sout geneem kan word nie, en dit sluit ongelukkig ook die IPCC, UNHCR, ens in. Hulle is almal vrot van korrupsie.

Hennie Theart ·

Wat se die WVK vandag oor die Xenophobia?? Swart op swart en wit op swart en swart op wit? Is dit meer aanvaarbaar as die apartheids probleem?? Wat se die WVK oor die korrupsie in die land?? Alles dinge na die WVK gesit het en nou is alles aanvaarbaar……behalwe wanneer rassime (veral wit teen swart, swart teen wit is aanvaarbaar) daar is.
As ons dinge wil doen moet ons dinge reg doen…..almal oder dieselfde kam skeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.