Wyle Scruton had ’n punt beet oor konserwatisme

Roger Scruton is op 12 Januarie in die ouderdom van 75 oorlede. Foto: (John Stillwell/PA via AP, File)

Die ou mense het gesê enigiets waar ’n “te” voor staan, is nie goed nie (behalwe tevrede).

Dus: Te beginselvas laat jou nie vryelik nadink nie en laat jou eenvoudig stagneer. Te soepel maak dat jy niks het om aan vas te hou nie en met alle winde saamwaai. Te liberaal maak dat jy geen waardes meer erken nie; te konserwatief maak dat jy jou eie sienings verabsoluteer en nie wil toegee dat ander mense dalk ook ’n punt het nie.

Dis hieroor dat ek Maandagoggend moes mymer toe ek verneem van die oorlye van die invloedryke Britse konserwatiewe filosoof sir Roger Scruton op 75-jarige leeftyd. Scruton het die grootste deel van sy lewe te make gehad met die haat en minagting van die linkse establishment.

Nie dat hy daaronder gely het nie. “Dis ’n groot avontuur om gehaat te word deur diegene vir wie ek ’n groot veragting het,” het hy in ’n stadium gesê.

Hy is in 1944 in ’n linksgesinde omgewing gebore. Dat hy hom teen die ortodokse linkse establishment gekeer het, het sy wortels in sy besoek aan Parys in 1968, toe die studente-opstand daar op sy hoogtepunt was. In ’n onderhoud met The Guardian het hy vertel: “Ek het opeens besef dat ek aan die ander kant was. Wat ek gesien het, was ’n bandelose gepeupel van selfsugtige middelklas-straatgespuis. Toe ek my vriende vra wat hulle wil hê, wat hulle wou bereik, was die enigste wat ek teruggekry het belaglike Marxistiese koeterwaals.

“Ek was gewalg daardeur, en gedink daar moet ’n pad wees terug na die verdediging van die Westerse beskawing teen dié dinge. Dis toe ek konserwatief geword het. Ek wis ek wou eerder dinge bewaar as om hulle omver te gooi.”

Teen dié agtergrond het hy die voetsoolvlak-verset teen die kommunistiese diktature in Sentraal- en Oos-Europa van harte gesteun. Ná die val van die Ystergordyn het die Tsjeggiese staatshoof, wyle Vaclav Havel (’n indrukwekkende denker in eie reg), en die huidige Hongaarse president, Viktor Orbán, hom staats-eerbewyse toegeken.

Scruton was ’n aanhanger van die Engels-Ierse filosoof Edmund Burke (1729-1797), die vader van die moderne Europese konserwatisme. Burke het veral naam gemaak met sy veroordeling van die Franse Revolusie, wat volgens hom veel te ver gegaan en talle goeie Franse waardes saam met die slegtes afgebreek het.

Volgens Burke was vryheid en gelykheid, filosofies gesproke, teenoorgesteldes. Gelykheid was iets wat slegs God kon beoordeel, maar vryheid was ’n saak van reg en orde en geen ekskuus om te doen wat jy wou nie. Burke sou ongetwyfeld net so vol weersin van die gewelddadige gepeupel van 1968 in Parys, Frankfurt, Berlyn en Amsterdam as Scruton gewees het.

Dit beteken nie dat die twee filosowe hulle laat leen vir ’n ongebreidelde regse benadering tot die lewe nie. Regs en konserwatief beteken nie noodwendig dieselfde nie.

Terwyl die gepeupel in Westerse stede amok gemaak het, is ’n ordelike opstand in Praag bloedig onderdruk deur kommunistiese regimes wat nie anders as uiters konserwatief beskou kan word nie.

Die woord “konserwatief” kom van die Latynse conservare, wat eenvoudig “bewaar” beteken. Die vraag is natuurlik presies wát jy wil bewaar.

Die kommunistiese regimes van 1968 wou die ortodokse Marxisme-Leninisme bewaar. Hul demokratiese teenstanders wou die stelsel radikaal verander, al was hulle nie gewillig (of in staat) om dit met geweld te doen nie.

Nog ’n voorbeeld sien ons in ons eie tyd in Iran. Daar is ’n verstokte konserwatiewe Islamitiese outoritêre regime wat sý weergawe van die Islam tot elke prys ongewysig wil bewaar. In die strate van Teheran en ander stede kom die frustrasie oor die verstikkende konserwatisme van die ajatollas en moellas tans in grootskaalse betogings tot uitbarsting. Dit word met growwe geweld en aansienlike bloedvergieting beantwoord.

In ’n sekere sin sou jy die Islamitiese Revolusie van 1979 met die Russiese Revolusie van 1917 en die eerste leier, ajatolla Roeholla Chomeini met Wladimir Lenin kon vergelyk. Dan sou jy ook die Leonid Brezjnjef van 1968 en die doodse stagnasie waarmee sy bewind gepaard gegaan het, kon vergelyk met die stagnasie van die huidige Iranse leier, ajatolla Ali Khamenei.

Scruton se konserwatisme was, soos dié van sy leermeester Edmund Burke, ’n gematigde houding wat ware vryheid (jy sou dit ook ware liberalisme kon noem) teenoor totalitêre denke, links én regs, wil bewaar. “Linkse konserwatiewes” het hom soms op openbare vergaderings doodgeskreeu en sy toesprake ontwrig.

Wat wel regs is in Scruton, was die feit dat hy gewys het op die gevaar van onbeheerde immigrasie van mense wat moeilik, indien hoegenaamd, in die Westerse samelewing geïntegreer kan word. Hiervoor is hy in linkse kringe verguis.

Maar dit maak nie van hom ’n regse ekstremis nie. Hy het byvoorbeeld ernstige probleme gehad met die – soos hy dit gesien het – oordrewe kapitalistiese benadering van wyle premier Margaret Thatcher, wat te veel op die individuele verantwoordelikheid en te min op die samelewing gesteun het. Sy konserwatisme het gepaard gegaan met sosiale verantwoordelikheid.

Hy het ’n haat-liefde-verhouding met die regerende Konserwatiewe Party gehad. In 1978 het hy ’n parlementêre kandidaat vir die Tories probeer word, maar is as “te geleerd” verwerp.

“Ek gee nie om dat mense my kritiseer nie,” het hy aan The Guardian gesê. “Dis logies dat ek gekritiseer word omdat ek sterk uitsprake maak wat kontroversieel is, ofskoon ek hulle probeer staaf. Maar dis nie dieselfde as om belaglik gemaak te word deur mense wat nie verstaan wat jy sê nie.”

Dié verwyt geld eintlik álmal, links én regs, wat nie vanuit hul rede en logika redeneer nie, maar vanuit wat die Nederlanders noem jou “onderbuik” (in Engels staan dit bekend as jou “gut”). Dit geld beslis ook vir die huidige Suid-Afrika, waar die politieke diskoers helaas in ’n dodelike stagnasie verval het. Regses gaan te kere teen die ANC en verhef steun vir pres. Donald Trump tot die lakmoes-proef vir aanvaarbaarheid; linkses skreeu teen enigiemand wat die ANC kritiseer en kritiese vrae oor sy kortsigtige benadering van etniese minderhede stel.

Met ’n rasionele en gematigde konserwatisme is niks verkeerd nie. Dis baie verkieslik bo die onnadenkende krete wat ’n mens te maklik uit alle oorde hoor. Maar wees dan rasioneel en gematig!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

chrisp ·

Konserwatisme beteken na my mening net die behoud van westerse kapitalistiese stelsels soos dit was in wes Europa voor (sosialisme en liberale ,lees almal is dieselfde) sy tande daarin geslaan het. Liberaal daarteen is weer om bg stelsel te vernietig.

Dat die woord sou beteken om net die status quo te handhaaf of te bewaar is dalk die rede dat niemand meer weet wat konserwatief of liberaal is nie.
As voorbeeld.
Met die Tsar aan bewind wou hy sy stelsel bewaar dws hy is konserwatief(regs) terwyl Lenin met sy Bolshewiste of kommuniste liberal(links) was.Nou raak ou Lenin of dan die kommuniste weer konsewatief(regs) want hulle wil hulle stelsel bewaar ,maar Gorbachev wat ‘n demokrasie daar wil stel(eintlik debatteerbaar) is nou liberal(links) want hy verander die stelsel weer. Nou wil die kommuniste liberal(links) weer die demokrasie konserwatief (regs) omver gooi….. En so kan ons aangaan.

Zachrys ·

Ironies hoe Scruton oorlede is juis nou dat behoudendheid begin met ‘n oplewing in die wêreld. Die liberale piek van die pendulum na die 2de WO is bereik, nou het almal genoeg van hul deure oopgooi vir ieder en elk ten groot frustrasie van die liberales. Hoop maar die konserwatiewes word ook ‘n plek in die son gegun anders mag dit net meer momentum aan die pendulum gee, en wie weet waar dit kan stop?

Feite ·

Mooi Leopold, baie interresant dat jy die Trump ondersteuners plaas presies waar ek hulle sou plaas. Ek kan dus nie anders as om met alles in hierdie skrywe saam te stem!

Johan Venter ·

Ten minste streef Trump Christelike waardes na en hy verdraai nie die bybel om hom te pas nie.

Boer-in-die-Wind ·

Ek het die volgende raak gelees in die Investor’s Business Daily in ‘n artikel met die opskrif Media’s Trump Obsession has Crossed Over to the Clinical: “But the press can’t cover any story these days without making it about Trump” en “…. reporters and editors suffering from Trump Obsessive-Compulsive Disorder”.

Punt is – die is ‘n goeie artikel met goeie punte tot jy weer, soos altyd, vir Trump en sy ondersteuners by die hare insleep in die voorlaaste paragraaf.

Nee man – die obsessie doen jou kredietwaardigheid skade.

Johan Venter ·

Uitstekende artikel Dr Leopold, net jammer jy vind dit aan die einde nodig om soos ander kere, waar dit nie oor Trump gaan nie, tog ruimte om hom oor die oseaan by te sleep, en wat van Borus Johnson, sou dit nie meer sin gemaak het as jy ‘n paar gedagtes oor sý karakter en werkswyse geuiter het nie.

Regs (regses)? ‘n Groot veralgemening wat aan mens toegedig word al sou mens toegee dat Trump in wese hoegenaamd geen sleg mens is nie, maar by verre meeste goeie dinge nastreef en doen, al is sy styl en woordkeuses vir baie onaanvaarbaar, tog blyk dit dat hy na die uitwissing van Gen. Qassem Soleimani van Iran, sterker staan. Ook ongeag sy unieke karakter, het die Amerikaners hom as president verkies. Dis hoe hulle vir jare met hom op TV en in sy eie realiteitsreeks bekend geraak het.

Ek beskou myself as gematig en ‘n baie groot realis, het waardering vir ander se goeie kwaliteite, maar omdat ek ‘n aanhanger van Solidariteit en Afriforum is, VF Plus stem, geen ooghaar vir die ANC het nie, maak dit van my ‘n blymoedige en gewillige regse.

Met daardie een onnodige verwysing na Trump, het jy die aandag op hom gevestig en het die res van jou boodskap vervaag.

(Dan het ek ‘n idee die ‘regses’ gaan so oor Trump tekere om die linkses by te kom, nie soseer omdat hulle altyd eens met als is wat Trump doen nie.)

MD ·

Ek stem nogal met jou saam oor die idee dat die ‘regses’ so oor Trump tekere gaan om die linkses by te kom. Dit is veral so duidelik sigbaar in Amerika waar dit lyk of die liberale linkses heeltemal nie meer regdenkend is nie, neem nou maar die 2020 kandidate vir die volgende verkiesing, hulle staan vir sosialisme, laat aborsies ens. Ek sien nie dieselfde groot gaping tussen links en regs in ons eie land nie.

John ·

My Oupa het vertel van ‘n uitnodiging na ‘n ete waar die gasvrou so besig was in die kombuis en skottels en borde so lawaai het dat die gaste na die lang uithou ‘n grootse maal verwag het. Maar nee, die etenstafel en ete was skamel en die kossies koud voorgesit.

MTSteyn ·

Skerp – en baie toepaslike – opmerking. Had presies dieselfde gedagte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.