Wysigingswets­ont­werp op Mededinging kom neer op staatsbestuur van handel

pion-skaakstukke-skaakspel

Foto: Randy Fath/Unsplash.com

Die Wysigingswetsontwerp op Mededinging van 2018 beweeg gladweg, dalk te glad, deur die parlement. Dit lyk of die hekwagters van mededinging kry wat hulle wil hê, wat blykbaar meer beheer oor Suid-Afrika se handelsomgewing is.

In teenkanting hierteen het Sakeliga reeds drie skriftelike voorleggings en een mondelinge voorlegging oor hierdie wetsontwerp gemaak. Teen 14 November 2018 het ons ook ’n verdere mondelinge vertoë in die parlement tot die Nasionale Raad van Provinsies gerig.

ʼn Mens besef dat mededingingsaangeleenthede nie ’n eenvoudige onderwerp is nie – dit is iets waaroor ekonome en selfs vryemarkekonome onderling verskil. Dit is egter nie onbelangrik nie. Die Mededingingskommissie en die Mededingingstribunaal is skeppings van die Suid-Afrikaanse regulerende staat.

Deur hul dwangmatige seggenskap oor, onder meer, samesmeltings is hierdie reguleerders alreeds hekwagters vir ’n groot deel van Suid-Afrika se handelsaktiwiteit. Hierdie vorm van wetstoepassing volg beslis nie ’n vryemarkbenadering tot die ekonomie nie, iets waarvan ons reken ons baie meer moet hê.

As daar in vrye markte mededingingsingrypings sou wees, sou dit bloot wees om ’n gelyke speelveld te verseker wat regulering en wetsaspekte betref, veral in die geval van staatsgesteunde bedrywe. Maar duidelik is dit plaaslik nie die doel van mededingingswetstoepassing nie.

Die weiering van die Airlink-FlySafair-samesmelting toon dat reguleerders eintlik poog om die “optimum toestande” vir markte te bepaal – iets wat ons meen baie moeilik of selfs onmoontlik is, gegewe die ordes van kompleksiteite van dinamiese markte buite akademiese modelle.

Minder markingryping word egter nie oorweeg nie, veral as mens let op die wetsontwerp se groter prominensie aan oorwegings van “openbare belang” by aansoeke vir die goedkeuring van samesmeltings of vrystellings van sekere bepalings. Openbare belang op sigself is ʼn vae begrip wat verskeie vorms kan aanneem.

As die 2018-wetsontwerp in sy huidige vorm aangeneem word, sal dit aan die kommissie meer mag oor die ekonomie besorg, veral om die regering se beleid van SEB te bevorder. Dit is ’n beleid wat instansies soos Sakeliga as wanfunksioneel en skadelik vir ekonomiese vooruitgang beskou. Die mededingingsowerhede wil hierdie vorm van bemagtiging dryf deur nuut bewoorde en bedenklike klousules wat daarop gemik is om klein en medium ondernemings (KMO’s) of ondernemings wat deur histories benadeelde individue (HBI) beheer word, te bevoordeel.

Afgesien van talle problematiese aspekte, bevat die wetsontwerp nou nog meer bepalings om toe te slaan op ondernemings wat by wyse van regspraak as “dominant” verklaar word. Vorige weergawes van die 2018-wetsontwerp het klousules bevat ingevolge waarvan dominante maatskappye, indien hulle beskuldig word, sou moes bewys dat hulle nie “onbillike pryse” of “onbillike handelsvoorwaardes” afdwing op KMO’s of HBI-ondernemings wat aan hulle verskaf nie.

Mens sou dink, gesien die beginsels van die oppergesag van die reg, dat dit vir sulke maatskappye eenvoudig sou wees om te bepaal wanneer hulle onbillike pryse en onbillike handelstoestand strydig met die reg afdwing. Maar, eenvoudig gestel, daar bestaan nie ’n duidelike antwoord of metode om te bepaal wanneer jou onderneming een van hierdie bepalings oortree nie.

As daar ’n prima facie-geval van sulke oortredings is, sal ’n dominante maatskappy moet bewys dat hy nie toepaslike bepalings oortree nie, wat op sigself waarskynlik duur regsadvies en deskundige getuienis sal vereis. Dit laat ook ernstige vrae ontstaan oor die wetsontwerp se hantering van die kwessie van bewyslas. Op die ou end sal sulke gevalle waarskynlik by die Mededingingskommissie of die Mededingingstribunaal beland, wat eweneens reuseregskoste kan meebring.

Nog erger, dominante maatskappye sou ook moes bewys dat hulle nie “vermy of weier” om by KMO’s of HBI-ondernemings in aangewese sektore te koop nie om sodoende die werking van die wetsontwerp se verbod op die afdwing van onbillike pryse of handelstoestande te omseil.

Die omgekeerde sou ook geld in situasies waar dominante maatskappye produkte aan KMO’s of HBI-ondernemings verskaf. In sulke gevalle sou dominante maatskappye moes bewys, byvoorbeeld, dat hulle nie produkte of dienste verskaf teen pryse wat “mededinging verminder” of KMO’s of HBI-ondernemings “verhinder” om “effektief” aan markte deel te neem nie.

Dominante maatskappye sou ook moes bewys dat hulle nie “vermy of weier” om produkte of dienste aan KMO’s of HBI-ondernemings te verkoop ten einde die gewysigde wet te omseil nie.

Sommige ondernemings sal hierdeur verbied word om te weier om van sekere tipes ondernemings te koop of te verkoop, maar daar is tog ‘n ander manier om die wetsontwerp te “omseil”, ‘n manier wat, terloops, Suid-Afrika se ekonomiese potensiaal verder sal skaad.

Dit is die verlies van ekonomiese potensiaal wanneer maatskappye markte verlaat, nie tot markte toetree nie, klein bly, of besluit om nie verder uit te brei nie as gevolg van die steeds toenemende en onredelike las van regulasie waaronder die ekonomie gebuk gaan. Dit sal meebring dat magtige staatsafdwingers van mededinging die enigste bedenklike wenners sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.