Xenofobie – hoekom?

Nathi Nhleko by 'n vorige geleentheid. Foto: Werner Beukes/SAPA

Nathi Nhleko, minister van polisie, by ‘n vorige geleentheid. Foto: Werner Beukes/SAPA.

Deur Peet Bothma

Dis weer xenofobie-seisoen in Suid-Afrika.

Met ander woorde, dis weer tyd vir plundertogte op buitelanders se winkels en tyd vir die ANC-regering om sy hande in onskuld te was en die bevolking te paai.

Dit is ook tyd dat die regering die aandag aflei van ander krisisse soos die betaling van maatskaplike toelaes teen 1 April.

Die jongste oproep teen xenofobie uit regeringsgeledere kom van die minister van polisie, Nathi Nhleko. Hy gebruik die ANC se nuwe modewoord, naamlik Afrofobie, om na die geweld te verwys. Volgens hom is dit ondenkbaar dat Afrikane mekaar kan aanval.

En dan gee hy apartheid en die minderwaardigheidsgevoel onder swart mense die skuld vir die geweld. Soos talle kere tevore beloof hy kragtige optrede deur die polisie teen dié aanvalle.

Nhleko het skynbaar nie koerant gelees nie.

Uit KwaZulu-Natal berig The Witness dat ʼn ANC-raadslid van die Msunduzi-munisipaliteit in Pietermaritzburg, Caiphus Ndawonde, sy steun toegesê het aan die Imbali-sakegemeenskap se pogings om die deure van Abaynhe Alemehu, ʼn buitelandse sakeman, gesluit te kry. Talle dreigbriewe wat onder meer Ndawonde se stempel dra, het nie gewerk nie. Toe word die perseel aangeval en gestroop. Daar was geen polisieteenwoordigheid nie.

En in Olievenhoutbosch in Centurion het die gemeenskap se protes oor die toekenning van HOP-huise die afgelope week sommer vinnig oorgeskakel in aanvalle op buitelanders se sakepersele. Pretoria News skryf dat een van die winkeleienaars te midde van ʼn sterk polisieteenwoordigheid tienduisende rande skade gely het. ʼn Werknemer kon betyds by die agterdeur van die winkel uitvlug.

Alles dui daarop dat die geweld nie spontaan uitbreek nie, maar dat dit goed georganiseer word.

Hoekom sal ʼn inwoner een dag melk koop by ʼn winkel en die plek die volgende dag afbrand? Hoekom is ʼn plaaslike raadslid aktief betrokke by ʼn aksie teen ʼn buitelandse handelaar? En hoekom sal die polisie stilswyend toekyk hoe buitelanders se winkels geplunder word as hulle nie ʼn spesifieke opdrag in die verband gekry het nie?

Die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, se uitspraak dat Suid-Afrikaners nie xenofobies is nie, is dalk nader aan die waarheid as wat ʼn mens besef.

Gigaba lê natuurlik die oorsaak vir die geweld voor die deur van die sakesektor in die land. Hy sê besighede stel laag besoldigde buitelanders (wat goedkoper is) in die plek van landgenote aan en dít veroorsaak wrywing.

Die argument is net so onsinnig soos om xenofobie aan veranderende weerpatrone toe te skryf.

Die voorkoms van dié geweld speel waarskynlik ʼn belangrike rol in die ANC se verkiesingsvoorbereidings. In DA-beheerde metro’s is dit ʼn handige instrument om die gebiede onregeerbaar te maak. In ander gebiede wat gekenmerk word deur ʼn felle tweestryd in die ANC, soos in KwaZulu-Natal, is xenofobie ʼn geslaagde weerligafleier.

Die regering het reeds sedert 2008, toe die geweld vir die eerste keer uitgebreek het, tyd gehad om xenofobie uit te roei, maar dis nie gedoen nie. Die vraag wat die slagoffers met reg kan vra, is: Hoekom nie?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

m ·

Ja want die mense raak moeg vir hierdie foreigners wat instroom in ons land en werksgeleenthede vat en crime inbring. Hulle ding mee om behuising en alles. Hier is nie eers genoeg werk vir SA se mense nie wat nog van al hierdie miljoense foreigners.

Genieve ·

Ja hulle bring die Tik en Drugs hier in.Gebruik ons jong kinders om dit te verkoop.

SARIE VAN HEERDEN ·

Xenofobie word beskryf as vreemdelingshaat maar dis nie so eenvoudig nie. Is dit net vreemdelingshaat wat my noop om NIE langs ‘n ander van ‘n ander kultuur, maniere en opvoeding wil woon nie? Of is dit sommer net omdat ek bang is vir wat met my kan gebeur siende ek elke dag nuus luister en koerante lees van wat met my ander landgenote gebeur?

Liesbet ·

Xenofobie trek die aandag van baie ander ernstiger probleme in Suid-Afrika af. Snaaks dat xenofobie verdwyn en dan weer opvlam wanneer benodig so asof die makkers opgesteek word.

Hans ·

Wonder hoekom die sogenaamde ubuntu-beginsel nie toegepas word nie,is dit omdat dit nie werklik bestaan nie.

Alwyn Beetge ·

Hans jy kan gerus Saterdagaande ubuntu in aksie gaan waarneem by al die staatshospitale se ongevalle afdelings. Jy sal geskok wees as jy al die aanrandings , skiet en steekwonde sien.
Ubuntu is n konsep soos Vaderkrismis

John ·

Hierdie idilliese dromers word nou wakker in die VSA en Europa en die gordyne word gou voor die antieke beddens toegeruk sodra iemand vra waaroor die geskokte gille dan gaan. Brawe vasbyters loop met mooi uitgedinkte plakkate rond voor Trump se hotelle en skree hulle hees aan allerhande volsinne wat selfs die duiwe hoofpyn gee, maar niks aan die waarheid verander nie. Grense en heinings en mure was van altyd af op die aarde sedert Adam en Evatjie die lekkerlewe verruil het vir die waarheid en werklikheid.

Johan ·

Ek werk eerder met n Zimbabwier as met die sleg en lui Suid Afrikaners wat bak hand staan vir alles en toi toi na hulle aan gestel is in n pos. Die buitelanders is geskool en opgevoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.