Xi en Trump darem op goeie voet

xi-jinping-en-donald-trump

Die president van China, Xi Jinping, en die president van die VSA, Donald Trump. Foto: Wikimedia.

Uit die aard van die saak weet min mense presies wat alles in die gesprekke agter die skerms in pres. Donald Trump se buiteverblyfplek Mar-a-Lago in Florida tussen hom en die besoekende pres. Xi Jinping van China gesê is. Genoeg het egter na die Amerikaanse en Europese media deurgedring om tot die gevolgtrekking te kom dat die tweedaagse besoek ’n duidelike sukses was.

Xi het Florida blykbaar verlaat met groter begrip vir Amerika se posisie. En Trump begryp nou ook aan welke praktiese beperkings Xi se beleid rakende sake soos die Chinese handelsoorskot en die Noord-Koreaanse gevaar onderhewig is.

Die verwagtings was nie hoog nie. Inteendeel, die vrees was dat Trump iets onverwags, iets onbeskofs sou doen. Soos hy tydens die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, se onlangse besoek gedoen het deur te weier om haar in die openbaar hand te gee (hy het egter glo haar voorstel om dit te doen nie gehoor nie) en geld te eis vir Amerika se beskerming van Duitsland sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Trump het die afgelope maande ’n wavrag vol ammunisie aan die skeptici gegee. Aardverwarming is ’n “Chinese komplot”, China “verkrag ons land” deur sy handelsoorskot, hy is “ons ekonomiese vyand”, hy “begaan die grootste diefstal in die geskiedenis van die wêreld”, die land sal op Trump se eerste dag in die Withuis tot “valutamanipuleerder” verklaar word, noem maar op.

Vooraf het kommentators dus asem opgehou oor die teenstelling tussen die Amerikaanse president, wat dikwels die indruk wek dat hy van die heup skiet, en sy Chinese eweknie, wat eers nadink, stadig beweeg en altyd sy strategiese doel voor oë hou. Die twee voldoen aan alle karikatuurbeelde van die Amerikaners en Chinese.

Die Amerikaners dink en doen blitsvinnig en vat nie nonsens van ’n kabouter nie. Tipies van die Chinese karakter is die verhaal van Zhou Enlai, Chinese premier onder Mao Zedong, wat glo in die vroeë sewentigs gevra is wat syns insiens die historiese uitwerking van die Franse Revolusie was. Sy antwoord: “Dis nog te vroeg om te sê.”

Onder die sake wat bespreek is, was een met die potensiaal om alles te laat misluk. Dit was die Amerikaanse missielaanval op die Siriese lugmagbasis waarvandaan die betrokke bomwerpers vir verlede week se gruwelike gifgas-aanval op burgerlikes opgestyg het.

Tog is waarnemers aangenaam verras deur die goeie manier waarop Trump dit gehanteer het. Tydens hul gesamentlike dinee het Trump Xi ingelig dat die missielaanval pas begin het. Xi het glo geen gesigspier vertrek nie, die Amerikaner beleefd bedank vir sy bedagsaamheid en begrip uitgespreek vir die feit dat die gruwelike moord op vroue en kinders nie ongestraf kon bly nie.

Daar is geen aanduiding dat die missielaanval beplan is om met Xi se besoek saam te val nie, maar dit het as bonus wel ’n interessante boodskap aan die Chinees gestuur: Amerika is in staat en bereid om eensydig militêr op te tree indien hy dit in sy nasionale belang ag. Trump is nie Barack Obama nie.

Dit moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat Trump se minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, net ’n paar dae voor Xi se aankoms gesê het Amerika se geduld met Noord-Korea is op, en dat die land bereid is om eensydig teen Pjongjang op te tree as China niks wil doen nie.

Noord-Korea het die temperatuur trouens nog verder opgejaag deur ’n missieltoets vroeër in die week te doen en aan te kondig dat hy in staat wil wees om Amerika met atoombomme te bestook. En Amerika se antwoord was om ’n vliegdekskip-taakmag na Korea te stuur, gereed om die kommunistiese kluisenaarstaat te bombardeer.

Die bedreiging wat van Noord-Korea uitgaan, was een van die belangrikste items op die samesprekingslys tussen Trump en Xi. Luidens berigte het die twee ooreengekom om eers te kyk of die kwessie vreedsaam opgelos kan word en om nie summier tot geweld oor te gaan nie. Dit lyk of hulle ’n spel van “good cop, bad cop” speel.

Albei lande het goeie redes.

Vir Amerika geld die feit dat Noord-Korea nie dieselfde is as Sirië nie. Die land het een van die grootste weermagte ter wêreld, en in berge langs die grens is duisende kanonne en missiellanseerders ingegrawe wat binne oomblikke dood en verderf op Seoel, Suid-Korea se hoofstad, kan saai as die bevel gegee word.

China is amptelik Noord-Korea se bondgenoot, en Beijing doen sy bes om Pjongjang in toom te hou, egter sonder sukses. China wil Noord-Korea as aparte, onafhanklike staat laat oorleef. As dié land se regering ineenstort, verloor die staat sy bestaansreg, nes met die ou Oos-Duitsland in 1989-’90 gebeur het. Dan kom ’n Amerikaanse bondgenoot tot teenaan die Chinese grens, iets wat die Chinese nie soek nie.

Suid-Korea is self benoud vir die verwoesting wat die Noorde kan saai, maar ook dat ’n ineenstorting van laasgenoemde – en die gepaardgaande las op die Suide se ekonomie – groot nadele kan inhou as dit op ’n onbeheerbare wyse gebeur.

Tog is die vraag hoe lank Amerika kan sit en toekyk dat die grillige Noord-Koreaanse diktatuur kernmissiele ontwikkel wat stede soos Los Angeles en San Francisco in puin kan lê. Daarom is dit van soveel belang dat Trump en Xi mekaar goed verstaan.

Dit lyk of dit wel gebeur het. Luidens berigte het Trump aan Xi gesê hy “verstaan met welke probleme en uitdagings Beijing te make het”.

Die Chinese media het Xi aangehaal: “Daar is duisend redes om ons betrekkinge te verbeter, maar geen enkele om hulle te laat versleg nie.” Hy het glo ook gesê: “Vir ons is daar slegs een keuse – om saam goeie vennote te word.”

Verder het die twee ooreengekom dat hul regerings binne 100 dae oor die “onregverdige” (volgens Trump) Chinese handelsoorskot sal begin onderhandel. Xi het blykbaar onderneem om meer Amerikaanse produkte in te voer.

Hoe goed hulle mekaar gevind het, blyk uit die feit dat Xi Trump vir ’n besoek aan China uitgenooi het.

Alles in ag geneem, wil dit lyk of Trump en Xi mekaar taamlik gevind het, al moet ’n mens geen skielike innige vriendskap verwag nie. Maar dat die besoek ’n sukses was, het baie mense verlig laat asemhaal.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Rynhardt ·

Met Rusland en Noord-Korea lyk dinge nie rooskleurig vir pres.Trump nie.Noord-Korea het nuwe langafstandmissiele ontwerp met kernplifkoppe wat Amerika in n jip trap kan bereik! Hul glo reeds hy gaan VSA begrawe.Putin van Rusland het gedreig dat as enige verdere vergelding kom teen Sirie, sal Amerikaanse vliegtuie afgeskiet word.Selfs Iran skaar hom by Rusland.Wereld op n mespunt gebalanseer vir konflik!

Vat n dump in trump se kamp ·

Die perd se hare lyk soos n stoplap haha

Hans ·

“Youre Fired”is woorde wat gaan terug echo na homself toe.

Van Staden ·

Die aanval wat die op Sirie gedoen het was ‘n spel. Die ‘vyand” en Putin – was voor die tyd in kennis gestel en daarom het hulle alles mense verwyder en nie eers lugafweer gebruik nie. Trump wil eerder dat die weermag ingryp as die CIA wat hulle neuse so diep in alles insteek waar dit nie hoor tnie. Die aanval was ‘n skaak skuif.

Nico K ·

Van staden, veduidelik vir my. Wat wou Trump nou eintlik daarmee bereik?

DewaldS ·

Van Staden kan dalk reg wees – ek het ook na die foto’s van die lugmagbasis gekyk en begin wonder. Dalk speel Trump maar die media so bietjie (hy was hulle heeltyd een voor tydens sy verkiesings-opmars). Dalk wil hy hulle net so bietjie van sy rug afkry en dalk is hy ook besig om ‘n paar kokkerotte uit die CIA houtwerk en uit die Diep Staat te jaag.

Maar die ander moontlikheid is natuurlik dat hy die kiesers gespeel het en dat hy maar deel van die militêr-industriële kompleks is en dat besigheid maar soos normaal vortgaan. Dan beweeg ons steeds net dieper in die Orwelliaanse nagmerrie in..

DewaldS ·

Vandat trump bewys het dat hy ook ‘n oorlogsugtige is, is hy nou weer in die media se goeie boekies. Wanneer die waarheid fiksie begin oortref besef jy dat 1984 vir sommiges onder ons ‘n handleiding was en nie ‘n waarskuwing nie…

Fanie ·

Baie goeie ontleding dankie. Trump se bombardering (en tydsberekening) vd Siriese Lugmagbasis was meesterlik. Hou boodskappe in vir Sirië, Rusland, N-Korea, China, sommer om vyande van hulle te maak. Bied ook gemoedsrus vir VSA-vriende. Herinner aan Kissinger se magsvertonings voor belangrike onderhandelings om bedingingsposisie te versterk. Trump begin lnternasionale skaak leer. Ag- het ons maar ‘n Kissinger tydens Kodesa gehad! (Bedoel nie sy bomme, maar sy staatsmanskap en Onderhandelvermoë.).

Therese van Schalkwyk ·

“Die vrees was dat Trump iets onverwags, iets onbeskofs sou doen”.

Trump-haters het veel eerder gehóóp dat een of ander gewaande insident weer oordryf kan word tot in die oortreffendste trap om die voorblaaie te vul. Enigeen wat Trump net sóms die geringste voordeel van die twyfel wil gee, sou bv. opgemerk het dat sy aandag nie ten volle by Merkel was op die oomblik toe sy wou handskud nie. Dalk besig met gehoorapparaat wat die Duitse vertaling doen, wie weet.

Trump slaag tot dusver die ‘gevreesde’ ontmoetings met wêreldleiers met vlieënde vaandels, ten spyte van volgehoue pogings om die teendeel te probeer beweer. Waar hy die toets dop in my boekie (vir wat dit werd is!), is dat hy pens en pootjies in dieselfde ou oorlogspraatjies verval as sy voorgangers. Het gehoop die feit dat hy nie ‘n beroepspolitikus is nie maak hom anders en dat hy die begin van verandering in die wêreld inlui. Dat die Midde-Ooste hul eie nimmereindigende chaotiese ellende kan bestuur sonder verdere Westerse inmenging. Dit word tog nie waardeer nie en iewers moet hierdie bose sirkel endkry.

Leopold Scholtz ·

Beste Therese, in alle billikheid: Merkel het op Engels aan Trump gevra: “Shall we shake hands?” Die mikrofone ‘n paar meter weg het dit duidelik opgevang. Trump was skaars ‘n meter verwyder, en daar was geen vertaling in sy oor aan die gang nie. Hy kon haar woorde maklik gehoor het. Gesien dat hy ook tydens die samesprekings volgens ingeligte Duitse media behoorlik onbeskof met haar was, sal ek nogal glo dat dit hier ook die geval was. Dit gezegd hebbende, het hy met Xi goed gevaar.

Handskuddende Henry ·

Therese
Die handskud ‘drama’ wat deur anti Trump gesindes verkondig word, openbaar soos gewoonlik meer van die aanklaers se ‘objektiwiteit’, as wat dit van Trump se gewaande tekortkominge vertel.

Therese van Schalkwyk ·

Ons sal maar moet verskil oor die Trump-saak. Vele joernaliste sirkel soos bloeddorstige haaie in Trump se gebiedswaters, reg om aan te val as hy ‘n fout durf maak.

Daar is dosyne foto’s op die internet van dié twee wat handskud en glimlag na hartelus. Trump was heel waarskynlik geïrriteerd op daardie tydstip met fotograwe wat luidrugtig, moedswillig en tot vervelens toe aandring op fisiese kontak tussen twee wêreldleiers. Goeie genugtig, sou dieselfde ‘geesdrif’ geld as dit ‘n man was.

Merkel is egter beslis nie Trump se gunsteling na die sedeprekie wat haar gelukwensing vergesel het met sy verkiesing nie. Theresa May bv. het dinge opmerklik eenvoudiger gehou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.