Zille oor Tshwane: ‘Ons het belangrike lesse om te leer’

Helen Zille. (Foto: Twitter)

Helen Zille, federale voorsitter van die DA, skryf:

In die lig van politieke verwikkelinge in Tshwane die afgelope paar weke, word die vraag tereg gevra of politieke koalisies werklik die toekoms is in Suid-Afrika.

Alle partye verstaan die proporsionele verteenwordigingstelsel leen hom tot koalisieregerings. Die rede waarom dit taamlik lank geneem het om in Suid-Afrika kop uit te steek, is omdat die ANC die politieke landskap gedomineer het tydens die vroeë jare van ons demokrasie.

Volgehoue enkelpartydominering is skaars in gevestigde demokrasieë en dit is ’n goeie teken dat dit aan’t afneem is in Suid-Afrika.

Maar, tensy ons leer om te regeer deur middel van koalisies, sal ons later met meer bestuurschaos sit. En almal weet: Suid-Afrika kan dit allermins bekostig. Ekonomiese groei vereis stabiliteit en beleidsekerheid.

Die eerste belangrike punt is dat die DA-beheerde Tshwane nie in die normale sin van die woord ’n koalisie is nie. Dit is ’n minderheidskoalisie – die heel moeilikste vorm van regering om te bestuur. Dit is altyd inherent onstabiel.

Dit is noodsaaklik om die verskil tussen ’n normale- en ’n minderheidskoalisie te begryp.

Om te regeer met enige skyn van stabiliteit, vereis dat ‘n party (of kombinasie van partye wat saam werk as ‘n koalisie) 50%-plus-een van die setels opneem.

Selfs dan is dit moeilik om koalisies te bestuur.

Maar wanneer verskeie partye, na afloop van ‘n verkiesing, nie voldoende ooreenkoms kan bereik om saam ‘n 50%-plus-een kombinasie te beklee nie, word dit onmoontlik om ‘n normale koalisie te vorm, met ‘n gesamentlike meerderheid setels.

Dit is wat in Tshwane gebeur het ná die 2016 plaaslike regeringsverkiesing.

In sulke omstandighede vorm die partye wat kan saamwerk, en gesamentlik die meeste setels kan opneem (al is dit nie ’n oorgrote meerderheid nie), ’n minderheidskoalisie. Die onvermydelike gevolg is dat die syfers in opposisie groter is as dié in regering.

Ná die verkiesing in 2016 was die DA die grootste enkele party in Tshwane met 43,58% (93 van die raadsetels).

Die ANC, met 41,66% van die algehele stemme, het 89 setels gewen.

Nie een van die twee kon alleen ’n regering vorm nie.

Die EFF het na vore gekom as die potensiële magsbepaler. Met 11,68% van die stemme (25 setels), kon hulle kies om ‘n meerderheidskoalisie te vorm (bo 50%) met die DA of die ANC.

Die EFF het egter nie een van die twee gekies nie. Die party het verkies om die opposisie te wees, en op ’n geval-tot-geval-basis te besluit watter party om te ondersteun.

Hierdie besluit het die EFF besondere mag gegee.

Nadat die EFF aangekondig het dat die DA die “lesser devil” was, het Julius Malema die EFF-koukus opdrag gegee om nie te stem vir die uitvoerende burgemeester nie en die DA se kandidaat het outomaties gewen.

Om sy getalle te vermeerder, het die DA ‘n koalisie met die Vryheidsfront Plus (vier setels), die ACDP en COPE (een setel elk) gevorm. Hierdie koalisie, wyl grootliks stabiel, het nie 50% bereik nie. En hierin lê die kruks.

Die DA-beheerde koalisie moes op die EFF staatmaak, nie net om die DA te help om ’n DA-burgemeester te verkies nie, maar ook om ’n begroting te laat goedkeur en om ander belangrike besluite te neem.

Dit is dus geen verrassing dat die EFF sy pond vleis vir hierdie samewerking geëis het nie.

Dit was ons Achilleshiel. Toe die DA in November 2018 besluit het om die destydse munisipale bestuurder se termyn op te skort – te midde van ‘n deurlopende ondersoek na die verkrygingsproses van die GladAfrica-kontrak, wat later deur die ouditeur-generaal bevestig is om onreëlmatig te wees – het die EFF met die ANC gestem om hom te beskerm. Dit was een van drie pogings om die munisipale bestuurder se termyn, wat die ANC/EFF in geslaag het om te ontspoor, oor ‘n aantal maande op te skort.

Dit het gelei tot ‘n dooiepunt wat sewe maande geduur het te midde van groot onstabiliteit. Uiteindelik, in Julie 2019, het die raad ‘n ooreenkoms met die munisipale bestuurder bereik vir hom om die administrasie te verlaat, maar die EFF het gevolglik ons poging om die pos te vul, met ‘n toepaslik gekwalifiseerde en ervare persoon geveto.

Dus, die ooglopende vraag is: Toe ons besef het ons kon nie senior personeel verantwoordelik hou vir beweerde korrupsie nie, omdat die EFF geweier het om ons te ondersteun, waarom het ons nie die regering verlaat en in opposisie gegaan nie?

Die antwoord op daardie vraag is: As ons loop, sal dinge net erger word. Die DA-beheerde minderheidskoalisie sal vervang word deur ‘n ANC-beheerde minderheidsregering, wat tot baie wyer korrupsie sal lei. Alle faktore in ag genome, is dit steeds beter vir Tshwane om die DA eerder as die ANC in beheer te hê.

En, inderdaad, kan die DA aanspraak maak op ‘n string prestasies, ten spyte van die boeie van die EFF. Ons het die Stad se finansies gestabiliseer (nadat die Stad byna bankrot gespeel het in 2016). Ons het die burgemeesterswoning verkoop en die opbrengs gebruik om huise vir behoeftiges te finansier.

Ons het die personeelkomponent in die burgemeester se kantoor besnoei. Ons het politieke beskerming in die toewysing van werksgeleenthede in die Uitgebreide Openbare Werke-program (UOWP) uitgeskakel. Ons het ‘n gespesialiseerde antidwelmeenheid in die metropolisie begin.

Mees onlangs het ons ‘n nuwe voorsieningskettingbestuursbeleid daargestel om die geleenthede vir onreëlmatige besteding of bedrieglike en korrupte aktiwiteite aansienlik hok te slaan.

Niks hiervan sou moontlik gewees het as ons ingegee het tot die EFF of die ANC se taktieke nie.

Tshwane is natuurlik nie die eerste minderheidsregeringskoalisie wat die DA gelei het nie. In 2006 het ons deur ‘n komplekse sewepartykoalisie in Kaapstad aan bewind gekom, waarin ons aanvanklik ook nie in staat was om ‘n meerderheid te bereik nie.

Om beheer oor die raad te wen, moes ons staatmaak op die enkele raadslid van die Pan Africanist Congress (PAC) op dieselfde manier wat ons moes staatmaak op die EFF tien jaar later in Tshwane.

Ons situasie in Kaapstad was ewe onseker. Ons kon nie bekostig dat ’n enkele persoon wegbly van ‘n raadsvergadering nie, of ons kon beheer verloor. Eens het ons selfs ’n raadslid uit sy hospitaalkamer ingewiel om ’n belangrike stem uit te bring.

Kort voor lank het ons ‘n krisis beleef. Een van ons koalisievennote het ‘n manipulerende poging aangewend om die tenders te beheer vir die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi. As uitvoerende burgemeester het ek besluit dat ons ons koalisievennoot sal moet afdank, met die gevolg dat ons mag sal verloor en in opposisie sal moet gaan.

Maar ons koalisie is gered deur die besluit van Patricia de Lille se Onafhanklike Demokrate (OD) om kragte met ons te snoer, eerder as om met die ANC saam te span. Die OD het vir ons ‘n stabiele meerderheidkoalisie bewerkstellig wat ons in staat gestel het om suksesvol te regeer tot die einde van ons termyn in 2011.

Ons sukses in Kaapstad het die weg gebaan vir ‘n oortuigende oorwinning in die provinsiale verkiesing van 2009, en het uiteindelik tot ‘n twee derde meerderheid in die plaaslike regeringsverkiesingsoplewing van 2016 gelei.

In Tshwane was daar egter nooit die kans om ons minderheidskoalisie in ’n meerderheid te omskep nie.

Daarbenewens was dit was onvermydelik dat, in die aanloop tot die 2021- munisipale verkiesing, ons teenstanders dinge vir ons so moeilik as moontlik sou maak. Hulle kon nie bekostig om die DA die 2021-verkiesing te laat betree op ‘n hoë noot nie.

Hulle het probeer om ons speaker as ’n sondebok te gebruik. Hulle het beweer dat sy bevooroordeeld is, maar omdat hulle nie daarin kon slaag om dit in die hof te bewys nie, en nadat hulle nie daarin kon slaag om haar uit te stem nie, het die ANC en EFF nou besluit om uit raadsvergaderings te loop om die kworum te breek en sodoende te verhoed dat enige besluite geneem word.

Soos die noodlot dit wou hê, het ons burgemeester midde-in hierdie giftige brousel bedank ná ‘n skandaal met betrekking tot ‘n geheime opgeneemde gesprek en beweerde afspraak in sy kantoor met een van die lede van sy burgemeesterskomitee.

Sodra daar ‘n burgemeestersvakature is, vereis die Wet die ontbinding van die burgemeesterskomitee. En met ‘n vakante pos vir die stadsbestuurder, is die topstruktuur van die regering afgewater.

Die probleem kan maklik opgelos word indien die ANC en EFF bloot hul verpligtinge sou nakom deur ‘n raadsvergadering by te woon en aan ‘n verkiesing vir ʼn burgemeester en die aanstelling van ‘n stadsbestuurder deel te neem.

Maar hulle sal eerder voortgaan om die regering te verlam om ‘n verskoning te bied vir die ANC se provinsiale LUR om die Stad onder administrasie te plaas, die raad te ontbind en vars verkiesings af te dwing.

Ons beveg dit met alle mag om twee redes: Eerstens, ons gee werklik om oor die mense van Tshwane, en gebruik die oorblywende 14 maande om te fokus op die diensleweringsplan wat so gereeld ontspoor is.

Die tweede rede is ewe belangrik. Gegewe die feit dat fyn gebalanseerde koalisies toenemend die norm sal word, kan ons nie toelaat dat die ANC en ander partye “onregeerbaarheidstaktiek” gebruik om mag te gryp nie.

In 2006/2007 het die ANC baie soortgelyke pogings aangewend om ons uit die regering in Kaapstad te verdryf. Ons het elkeen suksesvol weerstaan, onder meer, deur ons te beroep op die howe.

Ons moet dieselfde in Tshwane doen. Dit is egter waar dat ons die deur vir die ANC/EFF-strategie oopgemaak het deur ons eie oordeelsfoute.

Ons het belangrike lesse om te leer. Maar as die enigste party wat aanspreeklikheid ernstig opneem, doen ons die introspeksie wat nodig is om die nodige lesse te leer.

Dit behels egter nie dat die ANC deur die agterdeur die mag moet gryp nie. Indien die ANC slaag, sal dit ‘n verwoestende presedent vir die toekomstige lewensvatbaarheid van koalisieregerings in die toekoms stel.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Ek is baie gelukkig waar ek is, sit jy, Steenhuisen en maatjies maar in die DA klaskamer.

Sophia

Die ideale oplossing sou wees dat die Vryheidsfront Plus nou vinnig opgang maak in Tshwane, en die DA en VF+ dan saamstaan as ‘n koalisie in Tshwane!!