Zille se twiet: ’n Hoogs emosionele debat

zille provinsiale rede

Helen Zille tydens haar provinsiale rede op 19 Februarie 2016 (Foto: Western Cape Government, Facebook)

In Suid-Afrika word opnuut hoogs emosioneel gedebatteer oor die erfenis van kolonialisme na aanleiding van die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, se twiet dat die erfenis van kolonialisme nie nét negatief is nie: kyk net na “die onafhanklike regbank, vervoerinfrastruktuur, water, ensovoorts”.

Hieroor is sy wyd uit die aarde geloop. ʼn EFF-woordvoerder het haar daarvan beskuldig dat sy “geen waardering vir ons demokratiese bedeling” het nie. Die ANC het die DA gevra om Zille as Wes-Kaapse premier af te dank.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het ʼn klag daaroor by sy party se regskommissie ingedien en dis taamlik seker dat Zille minstens oor die vingers getik gaan word.

Hoe moet ʼn mens dié kwessie sien? Soos byna alles in die lewe, is dit soos ʼn diamant met talle verskillende vlakke – dit hang alles af vanuit welke perspektief ʼn mens na die saak kyk.

Streng feitelik en objektief het Zille natuurlik ʼn sterk saak. Sy het ná ʼn besoek aan Singapoer ʼn reeks twiets die wêreld ingestuur, waarin sy haar indrukke oor dié eilandstaatjie deel. Die gewraakte kolonialisme-twiet was die laaste van ses.

Hoe weet Julius Malema – dalk die felste teenstander van “kolonialisme” in die Suid-Afrikaanse politiek – of hy betyds vir ʼn vergadering is? Hy kyk op daardie peperduur Breitling-horlosie van hom.

Op pad na die vergadering ry hy ongetwyfeld in ʼn motorkar oor teerpaaie en in verkeer wat met verkeersligte gereël word.

Die vergadering vind waarskynlik plaas in ʼn gebou wat met bakstene, staal of beton gebou is, met elektriese ligte, lopende water, dalk met een of meer hysbakke. Heel waarskynlik word normale vergaderingsprosedure gebruik sodat almal regverdig behandel word en praat deelnemers in mikrofone sodat almal oor ʼn luidsprekerstelsel kan hoor. Alles deel van die koloniale erfenis.

Meer nog: Die hele regeringstelsel waarvan Malema deel vorm, is Westers en koloniaal. Die blote feit dat mense die reg gehad het om vir sy party te stem en hom namens hulle na die parlement te stuur, waar hy en sy party die regering van die dag tot verantwoording kan roep, is Westers en koloniaal.

So ook die regbank, met inbegrip van die konstitusionele hof, wat moet sorg dat nóg ʼn Westers-koloniale produk, die Grondwet, nie oortree word nie.

Die nugtere, objektiewe feit is dat jy letterlik geen tree in Suid-Afrika kan gee sonder om die erfenis van die kolonialisme te ervaar nie. Jy kan net sowel ontken dat die son soggens in die ooste opkom en saans in die weste sak.

Dis die een kant van die saak. Daar is ook ʼn ander.

Aangesien ek self nooit daardie ander kant ervaar het nie, moet ek dalk iemand aanhaal met wie dit wel gebeur het. Dis Yonela Diko, ʼn ANC-woordvoerder, wat op die webwerf Daily Maverick geskryf het:

Helen Zille does not know us. She does not know the humiliation of our fathers, the desecration of our mothers. That is why she can remember well paved streets, running water, and a judiciary of her peers. But we remember our mothers having no choice but to pick up after spoilt white teenagers (like her) as domestic workers, leaving their own children motherless, we remember forced removals from our own homes, a union of 1910 we were not a part of, a land act of 1913 that dispossessed us, and we remember that jury that crippled many of our people.

Let wel, ek sê nie Diko is reg of billik nie. Maar dis soos hy – en baie ander swartes – dit ervaar en dit máák dit deel van die werklikheid.

Diko is natuurlik moedswillig en objektief verkeerd as hy sê Zille ken nie die swartes nie. Ek was in die vroeë jare tagtig saam met Zille ʼn parlementêre verslaggewer – sy vir die ter siele gegane Rand Daily Mail; ek vir die Naspers-koerante – en ek weet hoe fel sy vir swart regte opgekom het.

Dus: Zille se twiet was, streng genome, objektief waar. Maar beteken dit dat dit ook polities verstandig was?

Waarskynlik nie, veral omdat dit ʼn ongedwonge fout was. Soos ʼn doelwagter in ʼn sokkerwedstryd, wat per ongeluk self die bal in sy eie net skop en só ʼn punt afstaan. Dit was onnodig en polities onwys.

Voordat Afrikaners hulle oor dié saak uitlaat, moet hulle bietjie in hul eie historiese bewussyn gaan grawe. Ons het immers ook kwaai onder die Britse kolonialisme en imperialisme deurgeloop.

Zille se twiet is emosioneel-subjektief op dieselfde vlak as om vir ʼn Afrikaner te sê die Engelse konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog was nie nét sleg nie, want daar was tog ook skole vir die kinders! Asof dit die swaarkry en onreg tot niet maak.

Dit gaan in die politiek dikwels oor veel meer as bloot die koue, objektiewe waarheid. Dit gaan daaroor hoe dit in mense se harte beleef word.

Ja, die Westerse kolonialisme hét baie voordele gebring. En, ja, sommige Afrikanerkinders hét in die kampskole geleer lees en skryf, al was dit dan net in Engels.

Maar die wyse waarop die Engelse op ons neergesien en ons taal en kultuur met die opperste minagting van die tafel gevee het, het soos ʼn brandwond op die Afrikanerpsige gaan sit. Die radikalisering van die Afrikanernasionalisme in die jare dertig en veertig, waarvan die ontwikkeling van die apartheidsideologie deel was, was ʼn regstreekse gevolg daarvan.

Net so het die kolonialisme en apartheid die swartes se psige ook diep verwond.

Hermann Giliomee, ʼn historikus wat op geen enkele manier in pejoratiewe sin as “links” of as ʼn “liberalis” beskryf kan word nie, het op ʼn keer geskryf al het die ANC/SAKP in die apartheidstyd nie vir die liberale veelpartydemokrasie geveg nie, het hy dit wel vir swart waardigheid gedoen, vir die erkenning dat swartes ook volwaardige mense is, op wie se kulturele besit nie neergesien moet word nie.

Daarom dié rede dat Zille se twiet onverstandig was. En daarmee het sy haar party onder die swartes beskadig.

Tog: As jy ʼn halfvol bad wil laat vol loop, moet jy nie terselfdertyd die prop uittrek nie. Wanneer die DA oor optrede teen Zille besin, sal hy versigtig moet wees om nie sy bestaande wit ondersteuners te vervreem nie.

Dit gaan moeilik wees. Maar dis waarvoor Maimane en sy luitenante betaal word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
DH

Was dit ‘n anderskleurige wat dit gese het, het die Stof lankal gaan le.

Anita

Baie dankie vir die goeie artikel. Helen Zille moes besef het dat dit nie nou die tyd is om hierdie soort van uitlatings veral op Twitter te maak nie. Ek wonder nou self vir wie ek van nou af sal kan stem. Mmusi Maimane werk heeltemal tereg baie hard aan die werwing van swartstemme, ek wonder egter al geruime tyd of witstemme enigsins vir hom saakmaak. Hy is nie gretig om plaasmoorde of rassistiese aanvalle op witmense te veroordeel nie. Ek hou my hart vas en was nog nooit so moedeloos oor ons land soos nou nie. Die rassisme van… Lees meer »

johann brits

Dis verskriklik jammer dat Helen gekruisig word vir ‘n eerlike opinie.Wat van die vryheid van spraak? Moet ons as wittes nou elke woord weeg wanneer ons ‘n mening opper.?Ja,ek verstaan van konsiderasie ens. maar ai,is daar geen gesonde verstand nie.Ek het verwag dat iemand soos Mathew Phosa of Mbeki se broer darem kalmte sal bring,maar dis doodstil uit die ‘intellektuele’ geledere.

Leendert

Wat ek nie verstaan nie, is dat die swart mense tekere gaan asof kolonialisme se negatiewe die meeste vir hulle geraak het, so asof die blankes nie daaronder gely het nie. Was dit nie net en juis andersom nie? En punt twee, wat van die onreg wat vandag teen wit mense gepleeg word, openlik en blatant? Is dit nie net so erg en eintlik baie erger en onverskoonbaar, juis waar ons met die geskiedenis van kolonialisme en apartheid in die land sit nie. As ons dan nou klaar met als is, het die Engelse, Duitsers, Franse ens, hul kolonialisme gehad,… Lees meer »

My tweesent bydrae

Heel moontlik beplan . Zille kry n waarskuwing . Die DA kry stemme by . Almal wen in die proses .