Zille-twietdebakel: Die tirannie van politieke korrektheid knou oop gesprek

kallie kriel

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Argieffoto.

Die ANC het meesterlik daarin geslaag om sy eie ideologiese uitgangspunte, terminologie en weergawe van die geskiedenis te verhef tot heilige koeie wat niemand durf bevraagteken nie. Sou jy dit waag om selfs op die mees genuanseerde wyse denkbaar in ʼn kritiese gesprek oor byvoorbeeld die ANC se transformasiebeleid of weergawe van die geskiedenis betrokke te raak, word jou argumente geïgnoreer en word jy doodeenvoudig as ʼn rassis of voorstander van kolonialisme of apartheid uitgekryt. Hierdie tirannie van politieke korrektheid en onverdraagsaamheid teenoor enige standpunt wat verskil van die ideologiese uitgangspunte van die heersende orde en politieke elite, hou ʼn ernstige bedreiging vir oop gesprekvoering en demokratiese debatvoering in.

Hoe ernstig oop gesprekvoering bedreig word, is pas weer bewys deur die histeriese reaksie op Helen Zille se nou berugte twiet oor kolonialisme. Die heftige reaksie vanuit die ANC- en EFF-geledere – asook van die paar oorblywende linkse Afrikaanse kommentators – was te wagte, aangesien hulle bekend is vir hul onverdraagsaamheid jeens enige standpunt wat van hul eie afwyk en die heersende ideologie bevraagteken. Wat mens nie sou verwag nie is dat die heftigste kritiek op Zille afkomstig sou wees van haar eie party, die DA, se leierskap. Dit is veral kommerwekkend, aangesien dit ʼn aanduiding daarvan is dat die ANC nou ook daarin geslaag het om selfs sy “opponente” in so ʼn mate in die ANC se ideologiese uitgangspunte te laat inkoop, dat selfs opposisieleiers dit nou beskerm. Die DA-leierskap is skynbaar bereid om sy eie beleid van ʼn “oop samelewing” (wat ʼn vrye vloei van standpunte en idees veronderstel) te offer op die altare van korttermynposisionering en stemwerwing.

Anders as wat die verdedigers van politieke korrektheid probeer aanvoer, het Zille nooit kolonialisme in haar twiet verdedig nie. Haar verwysing daarna dat die nalatenskap van kolonialisme nie net sleg was nie, toon immers dat sy aan die negatiewe gevolge van kolonialisme erkenning gee. Haar doodsonde was dat sy dit durf waag het om te verwys na die feit dat tegnologie en infrastruktuurontwikkeling saam met kolonialisme die land binnegekom het. Dit is skynbaar vir die DA, ANC en EFF se leierskap in orde dat parlementsittings in ʼn gebou afkomstig uit die koloniale era gehou word en dat die uitvoerende gesag vanuit nog ʼn koloniale gebou – die Uniegebou – funksioneer, solank daar net nie erken word dat hierdie infrastruktuur uit die koloniale era dateer nie. Om iets te gebruik sonder om erkenning te gee aan die bron daarvan, is plagiaat.

My siening, dat ons op genuanseerde wyse moet erken dat infrastruktuurontwikkeling tydens die koloniale era plaasgevind het, gaan natuurlik tot gevolg hê dat ek ook daarvan beskuldig sal word dat ek kolonialisme probeer regverdig. So ʼn beskuldiging sal egter geen geloofwaardigheid hê nie, aangesien ek as Afrikaner meer as genoeg redes het om Britse kolonialisme te verafsku. Afrikaners het erg gely onder Britse kolonialisme. Afrikaners is nie net deur kolonialisme van hul politieke vryheid ontneem nie, maar meer as 30 000 Afrikanervroue en -kinders het ook in konsentrasiekampe gesterf tydens Afrikaners se stryd teen kolonialisme. Afrikaners was immers ook van Afrika se eerste vryheidsvegters teen kolonialisme. Ten spyte van my afkeur aan kolonialisme, sou dit oneerlik wees om te maak asof geen infrastruktuurontwikkeling tydens die koloniale era plaasgevind het nie.

Die kommerwekkendste deel van die kritiek op Zille is egter dat dit gedryf word deur die narratief dat wit mense verantwoordelik is vir alles wat skeefgeloop het en steeds skeefloop in die land. Sou ʼn mens erken die koloniale era het enige vorm van ontwikkeling teweeg gebring, sou dit dus ʼn erkenning wees dat wit mense wel, ten spyte van foute wat hulle begaan het, ʼn positiewe bydrae gelewer het tot die land se ontwikkeling. Die DA-leierskap moet dus versigtig wees dat hulle nie met hul kritiek teen Zille meedoen aan die ANC en EFF se poging om wit mense, Afrikaanssprekendes en Afrikaners te kriminaliseer en verminder tot tweederangse burgers nie. President Zuma het reeds minderhede gekriminaliseer deur valslik aan te voer dat al die land se probleme begin het met die aankoms van Jan van Riebeeck (so asof daar nie geweld tussen groepe was vóór Van Riebeeck se aankoms nie), terwyl die EFF dieselfde narratief verkondig. Sou die DA dieselfde narratief wil verkondig en ʼn oop debat daaroor verhoed, moet hulle dit nou teenoor hul kiesers vanuit minderheidsgemeenskappe erken.

Om te vra dat minderhede se bydrae om die land te help ontwikkel, erken moet word, sal natuurlik ook deur die verdedigers van politieke korrektheid voorgehou word as ʼn poging om kolonialisme te regverdig. Allermins: Natuurlik het minderhede in dié land, soos byna alle groepe in die wêreld, ernstige foute begaan. Ek weier egter om myself en die gemeenskap waarvan ek deel is, te laat onderwerp aan die narratief dat hulle inherent boos is en in teenstelling met die “foutlose” ANC staan. Hoe hard die politiek-korrektes hieroor op en af mag spring, moet diegene wat oop gesprek voorstaan, nie bang wees om aan te voer dat die geskiedenis nie so eenvoudig is as wat die heersende narratief dit wil voorhou nie. Om byvoorbeeld aan te dui dat die ANC se alternatief tot apartheid tydens die Koue Oorlog die onderdrukkende stelsel van kommunisme was – ʼn stelsel wat tot die dood van sowat 100 miljoen mense wêreldwyd gelei het – of dat daar tydens apartheid en kolonialisme infrastruktuurontwikkeling was, is op geen wyse ʼn poging om die skending van mense se waardigheid in dié eras te ontken óf te regverdig nie.

Natuurlik kan daar begrip wees vir die siening van sommige dat, hoewel Zille se twiet nie feitlik verkeerd was nie, dit wel onnadenkend was gegewe die huidige politieke klimaat. Die blote feit dat hierdie stelling geldig is, is ʼn aanduiding van hoe erg die oorheersing van politieke korrektheid en die anti-wit sentiment reeds oop gesprek in die land kniehalter. ʼn Mens mag nou selfs nie iets sê wat feitlik korrek is nie uit vrees vir jaghonde wat daarop uit is om enigiemand agterna te sit wat dit sou durf waag om ʼn alternatiewe siening as dié van die heersende orde te hê.

Afrikaners, Afrikaansprekendes en minderhede oor die algemeen – asook alle voorstanders van oop gesprekvoering – staan dus voor ʼn nuwe uitdaging om hulself nie deur die verdedigers van politieke korrektheid en anti-wit aktiviste te laat intimideer nie. Daar sal hard gewerk moet word om opnuut ʼn oop gesprek te help vestig. Dit is nou belangriker as ooit tevore dat alternatiewe stemme, wat die heersende orde uitdaag, duideliker gehoor moet word. Hierdie alternatiewe stemme kan weens die heersende rassistiese anti-wit sentiment en die onreg teenoor minderhede wat tans plaasvind, met gemak vanuit die morele gesagsposisie tot die debat toetree en moet waaksaam wees om hulself nie te wend tot dieselfde soort oppervlakkige en onverdraagsame gesprekstyl waartoe die polities korrektes en anti-wit aktiviste hulself op die oomblik wend nie.

My beroep op minderhede is om die toekoms met selfvertroue aan te pak, wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder en nie toe te laat dat verdedigers van politieke korrektheid en anti-wit rassiste hulle tot stilswye dwing nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Leendert ·

Maroela, Wat het van Herman Toerien se nuuskommentaar ‘Strooipoppe word voos geskiet’ geword. Julle het dit vanoggend geplaas en toe daarna weggevat? Ek sien die dop lê nog op Google search.

Janie Monsieur ·

Dagsê Leendert,

Dankie vir jou kommentaar. Ons het vanoggens tegniese probleme ondervind, maar ons werk daaraan. Jammer vir die ongerief! Die berig sal deur die loop van die dag weer beskikbaar wees om te lees.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Ou Swart-grys-bruin-wit Koloniale Vark ·

En wie het der duisende Indiërs in Indië verslaaf en aan buitelanders as slawe verkoop? En wie het der duisende swartmense in Afrika verslaaf en hulle aan buitelanders verkoop?

Kallie, jou woordgebruik “tirannie van politieke korrektheid en onverdraagsaamheid teenoor enige standpunt wat verskil van die ideologiese uitgangspunte van die heersende orde en politieke elite, hou ‘n ernstige bedreiging vir oop gesprekvoering en demokratiese debatvoering in” is in die kol. Suid-Afrika is maar nog soos ‘n kruipende kind op die mat van demokrasie. Ons moet eerder fokus op onderwys en opleiding by uitnemendheid asook wêreldkompeteerbbaarheid.

Alida ·

Me Zille moes nooit n eier gele het op sosiale media nie. Dit pas nie by iemand met haar status en posisie nie.

theo ·

ek hoop Max duPree lees hierdie Rubriek, sodat hy by kan bykom in die lewe, want dit lyk asof hy vrees in hom vir die anc en als is vrkeerd in die verlede.

Eben Kitching ·

Ek is bevrees ons land stuur af op diktatorleierskap soos Noord Korea, China, Rusland, Zimbabwe ens. Daar word leuens verkondig as die waarheid. Daar word meer as 18 000 mense per jaar in Suid Afrika vermoor en dit kry nie eers die helfte vaqn dier aandag wat die snert kry nie. Tweedens as ons so goed doen met werk skepping soos wat ons doen met die snert dan sou ons nooit by die gemors uitgekom het nie. Die regering wil arm moede skep sodat hulle elke burger kan manupuleer soos hulle wil. Ons is spoedig oppad na kommunisme.

Stephan ·

Hierdie onderskeiende insigte wat Kallie hier gee is so belangrik…..ook om die wereld ideologiese debat te volg…..dat ek hoop dat dit later erens op papier gesit sal word.

Gerhardt ·

N Burgeroorlog of rasse oorlog is oppad. Dit kan nie vermy wordnie.Daarna eers sal dinge verander.

Jan Jooste ·

Stem saam met jou Kallie. Die gedagtepolisie is uiters bedrywig. Die absoluut skokkendste vir my is die mate waartoe Afrikaners telkens deelneem aan uitwissing van “verkeerde” gedagtes. Die FW-sindroom waar dit minder seer is om jou arm self af te kap alvorens ‘n pinkie gekap word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.