Zimbabwe by ʼn kruispad

willie-spies-facebook

Willie Spies. Foto: Facebook.

Om 04:13 op Woensdag 15 November 2017 het die afgedankte visepresident van Zimbabwe, Emmerson Mnangagwa, die volgende getwiet:

“Today 15/11/17, we salute & applaud our ZDF who decisively rejected desperate last-minute concessions by an executive whose sole objective was to create a family dynasty. An army led transitional phase will now pave way for a peaceful, free & fair democratic election.”

Hierdie twiet van Mnangagwa was die eerste “uit-die-perd-se-bek”-bevestiging dat daar inderwaarheid ʼn staatsgreep in Zimbabwe plaasgevind het.

Berigte uit Harare vroeg Woensdagoggend was dat daar rondom 03:00 verskeie skote geklap het in die omgewing van die presidensiële woning. Onbevestigde gerugte lui dat die skote geklap het toe lyfwagte van senior politici hulle probeer verset het teen die inhegtenisneming van die politici wat deel uitmaak van Grace Mugabe se binnekring.

Mnangagwa is op 6 November summier as visepresident afgedank nadat pres. Robert Mugabe se omstrede vrou, Grace Mugabe, begin swaarde kruis het met die eertydse vertroueling en regterhand van haar hoogs bejaarde man.

Die verwagting is dat Mugabe binnekort sy uittrede gaan aankondig. Onbevestigde berigte lui ook dat Grace Mugabe reeds om politieke asiel in Namibië aansoek gedoen het. Uiteraard is Suid-Afrika nie meer vir haar ʼn veilige opsie nie omdat sy hier klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer kan verwag nadat sy in Augustus die model Gabriela Engels met ʼn elektriese verlengingskoord aangerand het. AfriForum staan Engels by en die hooggeregshof in Pretoria hoor in Mei 2018 ʼn aansoek van AfriForum aan waarin die toestaan van politieke immuniteit aan Grace Mugabe betwis word.

Daar heers bepaald vreugde oor die feit dat die 37 jaar lange bewind van Robert Mugabe nou skielik ten einde geloop het.

Mnangagwa is egter geen engel nie. Hy is by uitstek ʼn sekurokraat. Hy het in 1983 as minister van staatsveiligheid aan die hoof gestaan van Zimbabwe se intelligensie-owerhede wat Mugabe aangeraai het om met die sogenaamde Gukurahundi-operasie in Matabeleland te begin. Tydens die gebeure het hy na afvalliges in Matabeleland as kokkerotte (cockroaches) verwys en na die gevreesde Vyfde Brigade van die Zimbabwe-weermag, as die DDT wat moes werk om die afvalliges uit te roei. Minstens 22 000 mense in Matabeleland is in die daaropvolgende maande wreed vermoor en Mugabe het daardeur alle moontlike bedreiging wat Joshua Nkomo se Zapu vir hom kon inhou, uit die weg geruim.

Die vraag is, waarom dan die vreugde en verligting?

Die antwoord lê daarin dat die demokrasie Zimbabwe reeds twee keer gefaal het in die afgelope 17 jaar. Nadat Mugabe in 2000 ʼn skokneerlaag gelei het in ʼn referendum oor ʼn nuwe grondwet, het hy die einste weermag ingespan om die verkiesing wat gevolg het, in sy guns te laat draai.

Nadat die MDC in 2008 die parlementêre verkiesing gewen het, en waarskynlik ook die presidensiële verkiesing, het die weermag ʼn bepalende rol gespeel om die tweede ronde van die presidentsverkiesing in Mugabe se guns te beklink en die opposisie se gees te breek.

Sedertdien is die opposisie-MDC nie meer werklik ʼn faktor nie en is die magstryd binne-in Zanu-PF die enigste stryd wat politieke verandering teweeg kan bring.

Die verwagting is dat Mnangagwa en sy generaals nou die beheer oor Zanu-PF en die Zimbabwiese staat (wat polities van hom weggeneem is toe Mugabe hom verlede week afgedank het) met behulp van die einste weermag wat Mugabe tot dusver in beheer gehou het, teruggevat het.

Ironies genoeg is die mate van wetteloosheid wat in Zimbabwe heers nadat die grondherverdelingsprogram aangepak is, van sodanige aard dat dit waarskynlik militêre mag sal verg om weer eiendomsreg te herstel en vertroue in die ekonomie terug te bring.

Slegs Mnangagwa het daardie mag en vermoë. Of hy dit ten goede sal gebruik soos die verligte diktator van Singapoer, Lee Kuan Yew voorheen, of ten kwade soos die tiran van Noord-Korea, Kim Jong-Oen tans, sal die tyd moet leer.

Die feit bly, die komende regime van Emmerson Mnangagwa sal die een wees wat gaan bepaal of Zimbabwe se verwoesting voortgesit gaan word en of die agteruitgang gaan endkry. In dié opsig is Zimbabwe dus by ʼn kruispad.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Willie Spies

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is prokureur by Hurter Spies Ing en betrokke by verskeie regsaksies van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Buiteland ·

Ons het nou die ideale gellentheid terwyl die internasionale media op Zimbabwe EN Zuma fokus, om hulle bewus te maak van plaasmoorde. Ons moet hierdie kort venster van geleentheid nie misloop nie.

Eish ·

Te oordeel aan die perd se CV, het mens nie veel hoop nie. Daar is slegs n nuwe melkman wat die spene trek.

Bruno Stef ·

Dit sal toepaslik wees as Mugabe deur n Wereldhof verhoor word vanwee sy Misdade teen die mensdom AGV die massaslagting van die Matabeles hulle bloed roep van die grond af.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.