Zimbabwe: Die steel van plase bemagtig niemand en is sleg vir die ekonomie

zimbabwe

Die ingang na Centenary Farm.

In die wettelose wêreld van Zimbabwiese landbou in 2014 het jy net ʼn “aanbodbrief” – onderteken deur die minister van landbou, meganisasie en besproeiingsontwikkeling – nodig om iemand se huis, sy bestaansmiddel en sy oeste te steel. Só eenvoudig is dit.

In die geval van die Centenary Farm in die Figtree-distrik van die Matabeleland-Suidprovinsie is die werkers en hul gesinne op 5 Augustus verwyder uit die huise wat hulle dekades lank bewoon het. Daar was geen hofproses nie. Die polisie het geweier om die skurke teen te gaan, selfs al was hulle deur die hoërhof so beveel. By daardie geleentheid was ek saam met die plaaseienaar, Dave Conolly, in Figtree se polisiekantoor waar hy gepleit het dat die hoërhof se bevel uitgevoer word en sy plaaswerkers beskerm word. Die polisie het egter geweier en die wetteloosheid het sy loop geneem.

Die Conollys het voedsel met besproeiing geproduseer en, met die hoërhof se toestemming, probeer om aan te hou boer. Zimbabwe het immers oeste en voedsel nodig. Die land het ook ʼn behoefte aan werkverskaffing en beleggings. Daarsonder sal die ekonomie vinnig kwyn en meer mense sal deel word van die groter wordende getalle wat ly.

Ironies genoeg staan daar op die minister van landbou se webwerf: “Die toekoms van Zimbabwe… is geleë in die ontwikkeling van ‘n gediversifiseerde, lewendige, mededingende en suksesvolle landbousektor.”

Die persoon wat Conolly se goed ontwikkelde kommersiële plaas wil hê is ʼn “chef” – ʼn baie senior man in die president se kantoor. In ʼn wettelose staat kan sulke mense doen wat hulle wil. Hulle het net ʼn “aanbodbrief” nodig en in die wettelose chef-wêreld van Zimbabwe gee dit aan hulle die volste reg om die hoërhof te ignoreer en straffeloos te steel.

Die handtekening en stempel van ʼn regter van die hoërhof het geen waarde nie wanneer ʼn chef met ʼn “aanbodbrief”, wat deur ʼn minister onderteken is, opdaag – veral as die “chef” dr. Ray Ndhlukula is – onderhoofsekretaris van die president en die kabinet. Dr. Ndhlukula is ook aan die hoof van die regering se ZimAsset-program vir voedsel en voedselsekuriteit, wat in Desember 2013 aangekondig is.

Die mikpunt van die plan is: “Vorentoe na ʼn bemagtigde gemeenskap en ʼn groeiende ekonomie.” Die uitvoering van die plan sal deur die volgende missie gelei word: “Die verskaffing van ʼn omgewing vir volgehoue ekonomiese bemagtiging en die sosiale transformasie van die mense van Zimbabwe.”

Gister het dr. Ndhlukula se skurke egter die werkers op Centenary Farm verhinder om hul oeste te kweek. Conolly is uit sy huis gejaag en versperrings is opgerig sodat hy nie kon terugkeer om die 30 000 uieplantjies te besproei of te oes, of om die 50 000 koolplantjies in die grond te sit nie.

Hy en sy werkers se enigste uitweg was om weer na die polisiekantoor te gaan. Die polisie is die bewakers van wet en orde – maar nie in Zimbabwe nie. Daar word die president se rassistiese uitsprake en beleide sonder teenstand verduur. Gister, nadat Conolly en sy werkers agt uur lank by Figtree se polisiekantoor gesit het, is hulle deur ʼn assistentkommissaris in Harare meegedeel dat dr. Ndhlukula kan doen wat hy wil solank hy ʼn aanbodbrief het.

Dié brief moet nog getoon word, maar die Conollys en hul werkers het Figtree diep bekommerd verlaat, soos soveel duisende boere en hul gesinne voor hulle wat ook nie beskerming aangebied is nie.

Dit is moeilik om aan iemand in ʼn ander land te verduidelik hoe dit voel as die polisie vir jou sê hulle sal nie die wet nakom en jou beskerm nie. Dit is soos ʼn voetbalwedstryd waarin die skeidsregter een span toelaat om al die reëls te oortree en weier om sy fluitjie te blaas wanneer mense geslaan en geskop en beseer word en waarin geen reëls toegepas word nie. Een span se spelers speel binne die reëls, maar die skeidsregter deel rooikaarte aan al sy lede uit. Hulle moet die veld kreupel verlaat en aan ʼn spul skurke ʼn oop doelhok laat. Dieselfde skurke beweeg dan na die volgende wedstryd en herhaal alles met dieselfde skeidsregter in beheer.

In die Bybel lees ons dat die dae van die profeet Miga niks anders was as die huidige Zimbabwe nie:”Hulle begeer ʼn stuk grond en vat dit, huise, en lê beslag daarop. Hulle kul ʼn man uit sy huis uit, ʼn mens uit sy besitting uit.” (Miga 2:2).

Die Conollys se plaas is nie die eerste wat onteien is nie, ondanks die regering se wyd verkondigde beleid van “een man, een plaas”. Ons weet van minstens nog twee: Wilfred Hope se plaas in Marula en Vlakfontein – ook bekend as Subdivisie 2 van die Marulablok. Centenary Farm is Dave Conolly se enigste plaas.

In Zimbabwe word wyd geglo dat dr. Ndhlukula se minnares die permanente sekretaris is van die ministerie van grond en landelike hervestiging. As dit waar is, sal dit hom in staat stel om op aanvraag aanbodbriewe te bekom. In sy posisie mag niemand hom keer nie, want die wet beteken niks vir die magtige manne in Zanu-PF nie. Hulle is verhewe bo die wet, onaantasbaar en immuun teen vervolging. Hulle kan doen wat hulle wil en daar is geen grense aan hul grypsug nie. In baie gevalle is die rykdom wat hulle ten koste van Zimbabwiërs versamel het, verbluffend.

In die Ou Testament het koning Agab en sy goddelose vrou, Jesebel, Nabot se wingerd afgeneem. In Zimbabwe neem ʼn chef die Conollys se huis, keer ʼn hele gemeenskap om te oes, vat die plaas en laat die werkers dakloos en werkloos “omdat hulle die mag in die hande het”. (Miga 2:1)

Die Bybel waarsku sulke mense: “Die Here sê: Ek beplan rampe vir hierdie mense van wie jy jouself nie kan red nie.”

Dit sal mense soos dr. Ndhlukula loon om te let op die ondergang van koning Agab en koningin Jesebel en om ʼn ommekeer te maak en berou te hê voordat hulle die mense van Zimbabwe nog meer laat ly en uiteindelik geestelike vergelding op hulself haal.

Ben Freeth
Woordvoerder – SADC Tribunal Rights Watch
Sel: +263 773 929 138 E-pos: [email protected]

Nog leesstof: ZimAsset will not solve our problems – Charles Mangongera, navorser.
http://www.theindependent.co.zw/2013/12/06/zimasset-will-solve-problems/

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennie ·

Die reg of verkeerd daarvan kan nie gedebateer word nie. Almal weet mos dit het nog nooit gewerk nie. Die geskiedenis is genoeg bewys daarvan

Bert ·

Ben se aanhaling uit die ou testament kan dalk waar word met Ebola en verwante siektes.

Tiaan ·

Ek hoor dat zimbabwe se hereford stamboek binnekort tot nuut gaan, dit is nog slegter nuus vir hul vleis uitvoere. Bosluis besmette inguni basters is nie goed genoeg nie. Dit gaan jare vat om weer hul bloedlyne onder die vee reg te kry, as die land ooit gaan regkom. Die mense weet absoluut niks van boerdery af nie maar hul soek plase. Ek wil ook graag ‘n versoek rig aan al die mense wat tuine het. Moet nie mense uit zimbabwe aanstel nie. Hulle kom plak in ons land omrede hulle niks in hul eie land het nie en te lafhartig is om iets aan hul situasie te doen. Verder is die immigrant baie rasisties en as jy hulle in jou erf of plaas toelaat sal hulle jou vir ‘n paar rand of selfs verniet vermoor, ons moet hulle wegjaag want dit is ook hulle wat die renosters stroop en ons land vernietig, hierdie mense is ook die oorsaak vir meeste van die inbrake en plaasmoorde. Die mense moet uit ons land uit en die enigste manier is om hul geen heenkome te bied nie.

stan ·

Leer hieruit, Zim doen RSA volg, hulle beproef hoever voor res van wereld optree. Kry die Britte om ons tehelp, ds tog hulle nalatenskap waarin ons verkeer.
So nie, laai julle roere, beveg boere oorlog nr 6

Hein ·

Almal kerm oor grond, Slim formules ens.Die res ken ons. Wie praat oor voedsel sekeruteit. Onthou net die brood, melk,vrugte, vleis en groente kom van die plaas af. As die plaas nie produseer nie kan jy soveel geld hê as wat jy wil, maar as die rakke van die winkels in die stede en dorpe niks het om te verkoop nie, wat gaan jy maak? Voedsel produksie is seisoenaal en jy gaan nie somaar gou op ‘ n ander plek kos kry om gou te koop nie. DINK WEER, EN DINK MOOI.

SY de Wet ·

Ek wonder waarom sou die God van die Bybel die’ land wat Hy aan die’ volk gegee het nou aan ander gee . Is die’ volk dan ongehoorsaam ? Ek is seker Hy gee’ dit nie net vir ander en dit , terwyl ons gehoorsaam is nie . Vat nou maar Lev 26:32 ” Ja, Ek self sal die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan.” Lees maar die hele 26 . Voedsel tekort is kortom hongersnood Hein . Lev_26:26 ” As Ek vir julle die staf van die brood verbreek, sal tien vroue julle brood in een oond bak en julle brood by die gewig teruggee; en julle sal eet, maar nie versadig word nie.” God bring hogersnood oor die land as Hy wil , Hy laat dit reen , noem maar op . So kom ons gee die Here die eer vir wat Hy doe EN gee die skuld daarvoor aan onsself omdat ons ongehoorsaam is . Grondhervervorming?……opgelos

Mario ·

Zimbabwe leer vir ons baie lesse. In Afrika geld die beginsel van “mag is reg”. Selfs in SA steur Zuma en trawante hul nie aan die grondwet nie. Die Afrika-mens steur hom ook nie aan die beginsel van “voedselsekerheid” nie. Solank hy net “nou” sy behoeftes en hunkering na geld en eiendom kan bevredig. In Afrika is daar ‘n kritiese tekort aan toekoms visie.

Solank jy die Weermag en Polisie beheer/voed, dikteer jy die reels van die spel. Ironies dat die liberale Weste wat die stelsel van menseregte en demokrasie verkondig, tjoepstil sit, wanneer diskriminerende maatreels teen Blankes in Afrika gepleeg word. Kan dit wees dat geheime ooreenkomste met die korrupte Afrika leiers vir kommoditeite gesluit word, en in ruil word ‘n blinde oog, wat betref menseregte verkragtings.

Johan ·

“Menseregte” en alle ander “globale beleid” word deesdae beheer en gedryf deur die UN. Gaan tel bietjie die lidlande en kyk wie het die mag in die hande, dan sal jy beter verstaan waarom dinge op sekere maniere gebeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.