Zimbabwe: Huurgeld kan nie grondvergoedingsfonds befonds nie

640px-Zimbabwe

Zimbabwiese vlag Foto: Neelix, Wikimedia Commons.

Deur Ben Freeth in Zimbabwe

Die bankrot Zimbabwiese regering is onder toenemende druk om onteiende wit kommersiële boere te vergoed. Aangesien internasionale befondsing en lenings daarvoor nodig is, het die regering in Maart vanjaar aangekondig hy is besig om ʼn “grondversoeningsfonds” op te rig.

Volgens die Mugabe-regering is die doel van die fonds om “hulpbronne te verskaf vir die betaling van vergoeding aan die voormalige plaaseienaars, wie se plase deur die staat verkry is kragtens die Grondhervormingsprogram en om produktiwiteit op toegekende grond te verbeter”.

Die minister van finansies, Patrick Chinamasa, sê die plan behels die invordering van jaarlikse huur van die 300 000 gesinne wat volgens die regering hervestig is op die grond waarop beslag gelê is. Die huurgeld sal bepaal word deur die grootte van die plaas of erf wat beset word.

Deur die proses te begin om fondse in te samel om die titelakte-eienaars te vergoed, beteken in wese die regering sal kan beweer hy besit nou die plase wat hy van kommersiële boere weggeneem het, dikwels op ʼn wrede manier en selfs onder dwang met vuurwapens.

ʼn Verdere funksie van die plan sal die befondsing van verskeie aktiwiteite van die ministerie van grond wees, iets wat potensieël enorme hoeveelhede geld kan opslurp en baie moontlikhede inhou vir nog meer korrupsie. Hierdie aktiwiteite behels onder meer die uitvoer van plaasinspeksies (nog meer massiewe besteding aan voertuie) en waardasies, asook verskeie ander administratiewe en bedryfskoste.

Die derde en meer bisarre funksie van die fonds is om “produktiwiteit te verbeter” op die plase deur geld terug te gee aan die einste mense van wie daar verwag word om tot die fonds by te dra. Die regering het uiteindelik erken daar is minimale produktiwiteit op die meeste van die plase. Die betaling van huur en heffings aan die fonds sal potensieël gekanselleer word deur die toekenning van finansiële hulp aan die nuwe boere vir verhoogde produktiwiteit.

Gegewe dat landbouproduksie nou ʼn fraksie is van wat dit was voor die vlaag plaasbesettings in 2000, sit nuwe boere met die ewige probleem dat hulle selfs nie saad kan koop of water- en elektrisiteitsrekeninge betaal nie. Gevolglik het hulle die regering gewaarsku hulle kan nie bydra om die voormalige kommersiële boere te vergoed nie.

Daar is spekulasie dat die regering ook beoog om geld van die grondvergoedingsfonds te gebruik vir sy “beheer landbou”-projek van 500 miljoen VSA dollar, wat in Julie aangekondig is. Die regering het nog nie verduidelik hoe die “beheer landbou”-projek befonds sal word nie.

Hoewel die meeste wit kommersiële boere van die grond afgedwing is, is daar nog ʼn paar laeprofiel wit boere wat daarin slaag om hul boerderye voort te sit deur die grond te huur van die mense wat dit oorgeneem het. Sulke ondernemings is egter belaai met probleme.

Daar is byvoorbeeld ʼn hofsaak aan die gang oor die goewerneur van die Mashonaland Sentraal-provinsie, wat reeds tienduisende dollars eis van die paar wit boere in sy provinsie in ruil vir die vergunning om met hul boerderye voort te gaan. Dit is reeds vir jare die geval en die boere is uiters kwesbaar, soos wat enigiemand is wat “beskermingsgeld” aan ʼn mafia betaal. Afpersing is altyd aan die orde van die dag in wettelose state.

Dit is slegs in Zimbabwe moontlik dat ʼn dief, in hierdie geval die regering, die grond wat hy gesteel het, kan verhuur aan die einste mense van wie hy dit gesteel het en dan nog geld uit hulle kan pers daarvoor!

Dit is soos die storie van die mafiadief wat ʼn motor gesteel het, dit stukkend gery het en toe dieselfde motor aan sy ware eienaar verhuur het om dit te gebruik as ʼn taxi, terwyl hy sê: “Jy moet ons mafiastelsel ondersteun, anders sal ons die motor weer van jou wegneem, saam met die herstelwerk wat jy gedoen het en tenk vol brandstof ook.”

Só ʼn scenario lei net tot stukkende motors. En stukkende motors genereer al hoe minder en minder geld by die taxi-staanplek, soos wat hulle al hoe meer vervalle raak.

In Zimbabwe word plase op dieselfde manier afgevat. Hulle word gestroop en verwoes en diegene wat die bates van die eiendom gestroop het, word dan gevra om geld te genereer wat in ʼn fonds inbetaal moet word, terwyl die geld aan hulle teruggegee word om “produktiwiteit te verbeter”.

Maar daar is ook ʼn vangplek! Soos baie mense al agtergekom het wat deur Zanu-PF ingeloop is (of deur ʼn groter “hoof” wat ʼn ogie het op die betrokke erf of grond), kan die permanente sekretaris die “aanbodbrief” of huurkontrak enige tyd kanselleer en die begunstigde moet dan die eiendom verlaat.

Ongelukkig is die voormalige kommersiële plase nou in ʼn skokkende toestand van verval. Die damme is nie in stand gehou nie, baie van die pypleidings is opgegrawe, die transformators is gesteel, huise en skure is afgebreek en die dakke, deure, vensterrame en bakstene is verkoop. Heinings het verdwyn, brande het onbeheersd op die grond gewoed en doringbome groei nou hoog in die eens produktiewe lande.

Baie ouer wit kommersiële boere, wat uitstekende, toegewyde boere was, kan nou selfs nie brood op die tafel sit vir hulself nie. Hulle leef op watter hulp hulle ook al kan kry van familie en vriende. As hierdie toegewyde en bekwame boere steeds op die plase was, sou hulle jaarliks duisende ton produkte gelewer het. Vandag is hul plase, hul lewenswerk, verlate ruïnes, hul werkers is werkloos, hul vaardighede word vermors en daar is niemand aan wie hulle daardie vaardighede kan oordra nie. Dit is ʼn skande dat hulle sukkel om te oorleef en dat die land afhanklik is van internasionale voedselhulp, wat die geval is sedert 2001.

Vanjaar het ʼn derde van Zimbabwe se bevolking, 4 miljoen mense, voedselhulp van die Weste nodig. Hoe kan nou van hierdie selfde honger mense, wat so klaaglik misluk het op die plase en hulself nie kan voed nie, verwag word om geld te betaal aan die regering vir ʼn vergoedingsfonds? Almal weet daar sal eenvoudig niks van kom nie! Die vergoedingsfonds sal meer kos om te administreer, met sy eindelose string nuwe motors en baantjies-vir-boeties-poste wat geskep sal word vir amptenare, as die paar dollar wat ingesamel sal word.

Ek onthou nog, toe ons nog daar op die grond was, hoe die landelike rade van die kommersiële boerderygebiede saamgesmelt het met die distriksrade van die kommunale gebiede in die 1990’s. Die landelike rade se koers van belastinginvordering onder die kommersiële boere was meer as 90 persent. Hierdie geld het skole, klinieke, paaie en ander dienste befonds. Die mobiele kliniek het weekliks na elke plaas toe gekom en siek mense gehelp. Vir die afgelope paar dekades is daardie diens nog nie weer vir ʼn enkele week aangebied nie.

Ek onthou die koers van belastinginvordering in die kommunale gebiede was ʼn skamele 6 persent in die 1990’s. Hoekom? Omdat die kommunale gebiede nie titelaktes gehad het om die grond te ontwikkel en die geld te genereer nie. Gevolglik moes die paaie, klinieke en ander infrastruktuur bedryf word met geld uit die aangrensende kommersiële boerderygebiede, wat wel titelaktes gehad het.

Deesdae, met die grond op die aangrensende kommersiële plase wat genasionaliseer is deur die regering, is die voormalige kommersiële plaaswerkers, wat bygedra het tot die voeding van die streek, ook honger en desperaat.

Die begunstigdes van die genasionaliseerde plase het omtrent soveel kans om enige noemenswaardige bedrae geld in ʼn vergoedingsfonds te betaal as wat ʼn klein Shetland-ponie het om die jaarlikse Grand National op Aintree in Engeland te wen.

Net soos ʼn Shetland-ponie nooit oor die 30 groot hindernisheinings kan spring nie, omdat sy bene nie daarvoor bedoel is nie, so sal kleinskaalse boerdery sonder titelaktes vir die grond nooit die nasie kan voed nie. Titelaktes is die “bene” wat die perd nodig het om die spronge oor die hindernisse te maak en die ruiter moet ook bekwaam wees.

Die “wenperd” in landbou is die plaas met titelaktes. Die oplossing vir Zimbabwe is eenvoudig:

  1. Titelaktes moet toegeken word vir alle landbougrond.
  2. Die regering moet die titelakte-eienaars van die kommersiële plase erken en eienaarskap aan hulle teruggee. Hulle moet dan die opsie gegee word om terug te keer na hul plase of dit te verkoop teen die markwaarde soos bereken op die toestand daarvan voor die oornames.
  3. Die regering moet die titelaktes van plase wat in die 1980’s en 1990’s deur die regering gekoop is en waarvan die meeste nie meer produktief is nie, herinstel en daardie plase beskikbaar stel vir individue om op die ope mark te koop.
  4. Die regering moet titelaktes verskaf vir die kommunale gebiede, sodat individuele inwoners van kommunale gebiede die grond kan gebruik vir waarborge en daarin kan belê, sonder vrees dat hulle dit sal verloor as hulle nie die regerende party steun nie.

Die realiteit is egter dat die Zanu-PF-regering nie sy burgers wil bemagtig deur hulle in staat te stel om hul eie plase te besit nie. Sedert onafhanklikwording was Zanu-PF se strategie nog altyd om beheer uit te oefen oor die landelike bevolking, wat sowat 70 persent van die stemme uitmaak, deur hulle magteloos te hou en deur hulle met vrees te dwing om vir die party te stem.

So lank as dit die geval is, sal die plase onproduktief bly, die titelakte-eienaars van dié plase sal sonder vergoeding bly, die mense sal honger bly en die bankrot ekonomie sal voortgaan om van die een krisis tot die volgende te strompel.

  • Ben Freeth is die uitvoerende direkteur van die Mike Campbell Stigting en woordvoerder vir die SADC Tribunal Rights Watch. Besoek die stigting se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kammaland ·

n derde van die bevolking is afhanklik van kos van die weste? Die weste is mos meestal witmense. So selfs nou na grondhervorming en al die beledigings teen die weste is dit steeds die weste wat hulle aan die lewe hou.

Jakes ·

As ZanuPF bankrot is , maklik. Die boere wat vergoed moet neem net die land in ruil en Rob se maters betaal sy skuld en skade terug. Los maar die rente. Maak hom dan asb die teemaker vir ‘n landbouer. Wetie hoekom sukkel die wêreld so met maklike oplossings.

Lance ·

En om te dink die Zim dollar was in die 70’s sterker as n Britse Pond …nou is toeiletpapier meer werd hehe

Ivor ·

Selfs die ZAR was meer werd as die Britse Sterling en die VSA$ in die 1970’s. Food for thought! bye!

Paula ·

Ek wil graag optimisties wees en se: Ons sal nie in Zim se voetspore volg nie maar hierdie regering het dieselfde ideologie. Gee die mense grond dan sal hulle nie in die regering se oe hoef te kyk vir werk, huise en kos nie. Ongelukkig weet ons almal nou dit gaan ook hier tot hongersnood ly.

John ·

Hoekom bly Afrika so trots daarop om ‘n ontwikkelende kontinent genoem te word na al die eeue? Hoekom word nie een van die state skaam om so beskryf te word nie? Ons president loop te koop met die konsep van help-ons-ontwikkel en kondig bakhand drome oor mega-projekte op wereld-tv-kannale aan terwyl sy kinders tuis die huis afbreek en boeke vol kennis oor hoe-om-te-ontwikkel, verbrand. Zimbabwe is reeds gelyk-met-die-aarde ge-mega-‘ontwikkel’. Ons is ‘n kortkoppie agter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.