Zimbabwe: Tyd vir ANC se geplunder loop uit

Emmerson Mnangagwa kort nadat hy tydens ʼn seremonie in Harare, Zimbabwe as die nuwe president van dié Afrika-land ingesweer is (24 November 2017) Foto: AP Photo/Ben Curtis

Robert Mugabe is genadiglik nie meer president van Zimbabwe nie. ’n Mens is geneig om te dink enigiemand moet beter (of dalk akkurater, minder sleg) as hy wees, maar dis dalk die beste om sy opvolger, Emmerson Mnangagwa, krities te volg en nie te veel van hom te verwag nie.

Maar wat sê die gebeure in Zimbabwe nou eintlik van onse eie Nommer Een, pres. Jacob Gedleyihlekisa Zuma, en van onse eie regering, die ANC?

Regdeur die krisis in Zimbabwe, kortstondig soos hy was, het dit uit die Uniegebou in Pretoria, Tuynhuys in Kaapstad, en Luthuli-Huis in Johannesburg gedawer. Let wel, die gedawer het geen geluide voortgebring nie; juis die teenoorgestelde – algehele stilte.

Ek het die Suid-Afrikaanse media in dié tyd nougeset gevolg, en ek kan my nie herinner dat enige rigtinggewende geluide van hetsy Zuma of enige ander leidende ANC-politikus oor Mugabe en Zimbabwe tot my deurgedring het nie. Sover ʼn mens kon agterkom, het die ANC die saak kollektief geïgnoreer.

Altans na buite; wat in die binnekringe gesê is, sal ʼn mens natuurlik nie weet nie.

Verskeie redes kan daarvoor aangevoer word. Oorkoepelend hou dit alles verband met enersyds skaamte; andersyds vrees.

Enkele maande nadat die ANC die regering in 1994 oorgeneem het, is ʼn belangrike beleidsdokument oor ʼn nuwe buitelandse beleid gepubliseer. Daarin is ʼn hoogs idealistiese benadering gevolg, en die subteks was dat die siniese, immorele beleid van die apartheidsregering met ʼn veel beter alternatief vervang sou word.

In die dokument is gestel dat Suid-Afrika die doelstellings van die demokrasie internasionaal aktief sou bevorder: “Grateful for the international solidarity which supported the anti-apartheid cause, a democratic South Africa will be in solidarity with all those whose struggle continue.” Ook is gesê dat duursame oplossings vir die mensdom se probleme slegs kon kom deur die wêreldwye bevordering van die demokrasie. Suid-Afrika moet dus ʼn sentrale rol in die globale veldtog vir menseregte speel, luidens die dokument.

Aanvanklik het pres. Nelson Mandela se regering inderdaad daardie rol probeer speel.

Mandela het byvoorbeeld ʼn poging aangewend om die Nigeriese militêre diktatuur van genl. Sani Abacha te keer om die menseregte-aktivis Ken Saro-Wiwa tereg te stel. Vergeefs, want Mandela is deur Abacha verneder, en Saro-Wiwa is in November 1995 opgehang.

Dit was die enigste poging van die ANC-regering om menseregte en demokrasie aktief te bevorder. Dit was tewens ʼn belangrike les dat die internasionale politiek ʼn slangnes is waar beginsels bitter min tel en harde belange alles.

Daarna het Mandela “my broer” kol. Moeammar Ghaddafi voor televisiekameras omhels. Maar hy het wel reggekry dat die Libiese terroriste wat ’n passasiersvliegtuig van die lugredery Pan Am in 1988 op die Skotse dorp Lockerbie laat neerstort het, uitgelewer word.

Mandela was ook die tussenganger wat in 1997 ʼn einde aan die burgeroorlog in die Demokratiese Republiek van die Kongo gemaak het.

Waar Mandela dus nog – sy dit op ʼn realistiese manier – aan die 1994-dokument se idealisme vasgehou het, het sy opvolger, pres. Thabo Mbeki, dit heeltemal laat vaar.

Mbeki se benadering kan slegs begryp word as ʼn mens dit in die raamwerk van sy Afrika-nasionalisme plaas. In sy buitelandse beleid het sy strewe na ʼn Afrika-renaissance die hoofrol gespeel; menseregte en demokrasie het skaars ter sprake gekom.

Sterker nog, in sy star ideologiese benadering wou hy eenvoudig niks negatiefs oor Afrika hoor nie. Alle probleme op die vasteland (en van die Afrika-diaspora elders in die wêreld) was volgens hom die gevolg van die Weste se koloniale verdrukking, en basta.

Dít was die rede vir Mbeki se ontkenning van MIV/vigs as probleem. Afrikane ís nie seksueel losbandig nie, en dus word MIV/vigs nie deur seksuele kontak oorgedra nie, maar is die gevolg van armoede – wat op sy beurt aan die erfenis van kolonialisme toegeskryf kan word.

Daarom het hy byvoorbeeld die wrede verdrukking van pres. Jean-Bertrand Aristide in Haïti in die Karibiese See geïgnoreer. Sy rede was hoofsaaklik omdat dié staat, merendeels bewoon deur afstammelinge van Afrika-slawe, die eerste was wat die koloniale juk in 1803 afgegooi en onafhanklik geword het.

Toe Aristide in 2003 verjaag word, het Mbeki hom gasvry in Suid-Afrika toegelaat.

Dit bring ons by Zimbabwe.

Mugabe se eerste twee dekades aan die bewind het weliswaar die massamoord op sowat 20 000 Matabeles meegebring, maar vir die res het hy ekonomies taamlik verstandig geregeer en ook versoening met die wittes nagestreef. Maar in 1999 wou hy die grondwet verander om meer magte vir homself toe te eien – en toe verloor hy die referendum.

Dit het alles verander. Vir dié klap in sy gesig het Mugabe sy eie mense nooit vergewe nie, en die gevolg was ʼn jare lange meedoënlose, steeds wreder wordende skrikbewind. Hy het verkiesingsuitslae bekook om homself aan die bewind te hou en die kiesers op groot skaal met growwe geweld geïntimideer (of omgekoop) om vir sy party, Zanu-PF, te stem.

Geen vuil truuk was te erg om toegepas te word nie. Enigiets en alles is ingespan om Mugabe aan die bewind te hou.

Mbeki het telkens waarnemers na die verkiesings noord van die Limpopo gestuur. Sommige van die waarnemers het hul dae in hul hotel se sitkamer of kroeg deurgebring en basies kennis geneem van wat die media sê. Ander het – vermoedelik – eerlik oor die verkiesingsbedrog verslag gelewer, maar hul verslae het in Mbeki se laai verdwyn, en is tot vandag toe nie openbaar gemaak nie.

Zuma het Mbeki se toesmeer-beleid voortgesit.

Die rede daarvoor is eenvoudig. Allengs het die ANC-bewindhebbers net so korrup en magsbelus soos Mugabe begin word, al het die Grondwet, die onafhanklike media en die oop Suid-Afrikaanse samelewing dit aansienlik moeiliker gemaak om hul magsmisbruik ongestraf voort te sit.

Die punt is egter dat indien die ANC-regering die beginsels wat hy in 1994 aanvaar het in die praktyk rakende Zimbabwe sou toepas, dit ook ʼn aanklag teen homself sou wees. En dit wil Zuma voorkom.

Vandaar die dawerende stilswye uit ANC-geledere oor wat hom die afgelope week of twee in Harare afgespeel het.

Wat ook ʼn rol speel, is die vrees dat die tyd moontlik vir die ANC se geplunder aan die uitloop is. Suid-Afrikaners op voetsoolvlak neem kennis van die gebeure in Zimbabwe, en talle sien die ooreenkomste met hul eie land.

Die ANC sit dus tussen Skilla en Charybdis. Ongeag sy reaksie, die Zimbabwiese ontwikkelinge benadeel hom. Ons sal binnekort weet of dié benadeling voldoende is.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

alwyn burger ·

Ek (persoonlik) dink in die oë van die wêreld het n swart Zimbabwe(Robert was eens hoog aangeskrewe) ñ groter aansien as ñ swart Suid-Afrika. Net ñ paar goeie skywe deur die nuwe President en Zimbabwe is weer die leier van Afrika. Dit is n skoot koue water in die gesigte van jy-weet-wie!!

Herman ·

Ek dink ons oorskat dalk die anc ondersteuners se Logika.
Maak nie saak hoe sleg die regering.. ons stem steeds anc…

Herman G ·

Ja naamgenoot, stem saam – did hoe dit in Afrika werk…..
Iewers gelees dat die onruste oor munisipale wanbestuur eintlik ‘n magstryd is. Jy is burgermeester en gee vir al jou pelle werk, ek word kwaad en brand iets af, jy maak my adjunk burgermeester of stads tesourier en ons hou op met die onruste.
Die paaie is natuurlik nog steeds vol slag gate en die water is vuil…..

Reinhardt ·

Dit gaan oor die kultuur verskil. In westerse kultuur as iemand iets verkeerds doen dan word die persoon afgedank na die skande, en in sekere gevalle dank die persoon sommer self af. Ons veroordeel die leiers wat sonder integriteit lei. In Afrika-kultuur bevraagteken jy nie die leier nie, hy is die leier en hy weet wat hy doen. Hy verdien alles wat hy het en hy is geregtig op meer as die res, want hys die chief.

En daar lê die spanning tussen die weste en Afrika. Die een begryp eenvoudig nie hoekom die ander een kwaad raak nie. Daarom glo ek vas dat multi-kulturalisme ‘n uiters slegte idee is. Lande kan multi-etnies wees, maar nie multi-kultureel nie, mense moet darm min of meer dieselfde beginsels en uitkyk te hê, anders gaan dit nooit werk nie.

John ·

Ja, die meeste swart kiesers weet blykbaar nie eers wie Cyril of dr Z is nie. Daar is twee slinkse hekse wat die pappotte langs die Limpopo al lankal roer, sterk bier stook en lekker oor-en-weer konkel om hul hubbby’s se goue trone te bestyg. Aan die eenkant seil daar nou ‘n giftige en gevaarlike bitterbek-mamba en hier… wag ons vir die volgende drama om te begin…

Vermeende ·

Vir elke verkiesing is daar drie soorte kiesers, No1 is jou lojale kieser, gewoonlik is hulle die ouer mense wat nie meer veel erg in politiek het nie en net glo in n party of leier, hierdie groepie is gewoonlik n klein kwynende groepie. No 2 is die dromers, jonger tot middeljarige mense, in die weste is hierdie groep die grootste kieser groep en ook die middelklas. Hierdie groep droom oor n beter toekoms ek kyk na beleid, hulle dra die ekonomie. No 3 is die kul of hulp groep, in die derdewereld is hulle die grootse groep, die deel van die bevolking wat maklik tot geweld sal oorgaan en maklik met beloftes omgekoop kan word, intemedasie is vir die groep ook n gegewe.

Deel SA se begroting nou op en werk ons werloosheidsyfer hier in en dan kan ons sien hoe groot die laaste groep is wat grants ontvang en bakhand staan teenoor groep 2 wat die ekonomie dryf.
Groep 1 word altyd ingespan om beleid te bevestig en bewys van ondersteuning.

Doen die wiskunde self want hieruit is daar n hele paar scenareos wat homself kan uitspeel.
Volgens hierdie opbreking kan die DA nooit regeer nie want SA se middelklas is aan die verdwyn.

Ons het groot probleme!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.