Zimbabwe: Wat het eintlik met die verkiesing gebeur?

Pres. Emmerson Mnangagwa. Foto: Mike Hutchings/Pool Photo via AP, File

In die sestigerjare het Mandy Rice-Davies, wat saam met Christine Keeler in een van die grootste seks- en spioenasieskandale in Brittanje betrokke was, só geantwoord toe Lord Aston, een van haar kliënte, ontken het dat hy seks met haar gehad het: “Maar hy sal so sê, sal hy nie?” Konkelary met die uitslae is die verklaring wat gewoonlik volg op verkiesingsnederlae in Afrika.

Ek het die afgelope tyd weer daaraan gedink terwyl die vonke in Zimbabwe spat met die algemene en presidentsverkiesing wat pas gehou is. Die ZANU PF-party van president Emmerson Manangagwa en die MDC van Nelson Chamisa, ’n prokureur en prediker, was die vernaamste partye wat sake uitgespook het. Die verwagtings was baie groot omdat dit die eerste verkiesing sonder Robert Mugabe sedert onafhanklikheidswording sou wees en ’n kans vir Zimbabwe om ’n nuwe blaadjie om te slaan.

Die ink op die laaste linkerpinkie van ’n kieser was egter nog nie droog nie toe Chamisa in die openbaar aankondig dat hy en sy party gewen het. Daar is in die strate van Harare gedans en feesgevier en, het Chamisa gesê, enige ander uitslag sou toon dat die verkiesing nie vry en regverdig was nie. Geen stembrief was toe al getel nie.

Wat met die skryf van hierdie artikel bekend is, is dat die meerderheid internasionale waarnemers die verkiesing as vry en regverdig bestempel het, dat woedende MDC-ondersteuners in die strate van Harare met die polisie en weermag slaags geraak het, dat ZANU PF eintlik ’n wegholoorwinning behaal het, en dat Manangagwa net-net met 50,4% in die eerste ronde van die verkiesing gewen het. Indien hy minder as 50% van die stemme gekry het, sou daar ’n volgende ronde moes wees. Enige vertraging met die aankondiging was waarskynlik te wyte daaraan dat al die 23 kandidate moes verifieer dat hulle die uitslag aanvaar.

Maar kom ons bekyk die saak van naderby. Aantygings dat daar met die uitslae gelol is, het hoofsaaklik van Westerse regerings soos Brittanje en Amerika gekom. Aan die ander kant het China, die Afrika-unie en die Suider- Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SOG) gemeen daar was geen probleem nie. Ek het hierdie verskille vooraf verwag, want die Weste baklei steeds om sy houvas op Zimbabwe terug te kry, terwyl China en Afrika dit ten alle koste wil verhinder. Die opposisie het myns insiens, onmiddellik toe hy besef het hoe die wind waai, blou moord geskree. Uiteindelik het hy ook gekry wat hy gesoek het: konfrontasie met die polisie en minstens drie van sy ondersteuners wat doodgeskiet is.

Martelaars, sien u. Dit het mos deesdae mode geword om tydens betogings bloed te soek en die polisie te veroordeel… dink maar aan die studente-onluste in Suid-Afrika, stakers by Marikana, ensovoorts. Dis ’n taktiek so uit die boek wat moet sorg dat die simpatie by betogers lê.

Nelson Chamisa het egter nie met ’n vleklose rekord aan die verkiesing deelgeneem nie. Vroeër vanjaar is hy daarvan beskuldig dat hy “suinig met die waarheid” was toe hy gesê het president Donald Trump het $15 biljoen aan Zimbabwe belowe indien die MDC sou wen. Amerika het dit egter ontken en gesê dis vals.

Nie dat Manangagwa leliewit is nie. Vir 38 jaar het hy Mugabe gesteun en hom nie teengegaan nie. Eers toe Grace Mugabe hom probeer uitwerk het, het hy sy rug styf gemaak en met ’n bloedlose staatsgreep die beheer oorgeneem. Hy moes egter steeds in ’n stadium vir sy lewe vlug. Nogtans was hy besonder vriendelik toe ek ’n paar keer met hom ’n onderhoud in Harare gevoer het. Suid Afrikaners, het hy gesê, sal altyd welkom in sy land wees.

Wat het eintlik met die verkiesing gebeur? Die uitslae het getoon dat ZANU PF se steun veral in die platteland is (net soos die ANC in Suid-Afrika). Dis omdat die plattelandse kieser grond gekry het wat van die blanke boere weggeneem is. Net so in Suid-Afrika, waar die plattelandse kiesers die grootste groep is wat toelaes van die regering kry.

Dit toon ook dat MDC agteruit geboer het sedert 2000 toe hy eintlik ’n verkiesing teen Robert Mugabe gewen het. Laasgenoemde het nie net geweier om te gaan nie, maar ook met sy grondvergrype begin. Mugabe het sekerlik ook vir ’n paar stemme vir ZANU-PF gesorg toe hy net voor die verkiesing aangekondig het dat hy vir die MDC gaan stem. Dis soos Jacob Zuma wat aangekondig het dat hy vir die DA gaan stem! Dankie vir niks nie! Die MDC het homself ook benadeel toe hy naas Morgan Tsvangirai se dood in verskillende faksies verdeel het.

Wat die toekoms betref is Suid-Afrika en China twee van die lande wat steeds fluks met Zimbabwe gaan handel dryf. Brittanje, die Europese Unie en Amerika het nog sanksies en sal dit waarskynlik nie afskaf nie oor die betogers wat in Harare doodgeskiet is.

Wat is die boodskap vir Suid-Afrikaners: of ons nou daarvan hou of nie, dit sal baie vat om beheer van ’n Afrikaland by ’n sogenaamde vryheidsbeweging oor te neem. Vir baie mense is dit al wat hulle ken. Suid-Afrika moet ook deur sy eie grondvergrype werk voor die vrede sal kom.

Maar beter tye wag myns insiens op Zimbabwe en sy burgers. Hulle is agter die breek van die branders en dit is dalk nie ’n slegte idee om nou daar te gaan boer nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jaco ·

Ek het lanklaas in my lewe so onsinnige stuk brouwerk gesien wat aangebied word as geskryf deur ‘n kenner. Goeie genade glo jy jouself? Amper verstik aan my koffie toe jy met die pittigheid voorkom dat China iets weet van demokratiese verkiesings. Dit verklaar moontlik ook hoekom jy dit nie verskriklik vind dat die weermag op ongewapende betogers los gebrand het nie. Die enigste punt waarmee ek met jou saamstem is dat Mugabe se steun aan die MDC hulle baie steun gekos het. Persoonlik dink ek ook dat Manangagwa ‘n beter leier is tot die MDC hulle interne probleme uitgesorteer het.

Ampie ·

Die “verkiesing” het net weer gewys dat Afrika leiers vooraf die uitslag bepaal: gevolglik die “gerieflike” 50,8% oorwinning van die krokodil.

Dina ·

Die landelike kiesers steun zanu omdat hulle ongeletterd is en nie van beter weet nie, gladnie omdat hulle grond gekry het nie want bittermin het. Dis die politici van Harare wat die grond meestal gekry het.

Siener van Melbourne ·

Nee wat ou Tienie gaan lees gerus Martin Meredith se boek oor Robber Mugabe en die geplunder van Zim en jy sal die bloudruk vir Afrika in n neutrdop kry. En dit is terloops die paadjie wat die cANCer tot die letter volg. Grondgrype is al wat die ANC kan aanbied aan sy kiesers en hulle val vir dit…oor en oor. Hulle is so gulsig dat hulle niks vir hul kiesers sal doen nie. Om die witman te bly trap is hoe hul steun behou…o en natuurlik verkiesings konkellary hou hulle in die stoel.

Flip Rasth ·

Tienie, weet jy hoe lank vat dit om ‘n plaas op te bou.

Nee ·

Nee die man sit in sy stadshuisie en dink die grootste nonsens uit. Wie betaal hom om sulke propaganda uit te braak wonder ek?

Celtis Africana ·

Sjoe, dit was nou n paar volksvreemde bewerings.
Die tweedelaaste paragraaf skets maar n donker prentjie vir ons minderheid wat Boere Afrikaans praat. Kan egter saamstem dat dinge in die gryptokrasie nog heelwat gaan versleg alvorens dit sal verbeter.
Selfbeskikking gaan lewens spaar.

IK ·

Wonderlik hoe die stukkie tussen die ore gebruik of misbruik kan word. Ons weet genoeg indien ons besef dat ons nie genoeg weet.

Disselboom ·

Dis tydmors om Afrika-politiek te ontleed asof daar ‘n vorm van regte demokrasie is wat plaasvind: Afrika werk met mag en terwyl demokrasie wat reg funksioneer veronderstel die kiesers is werklik in staat om eie denke te vorm en regerings te kies vir doeltreffenheid en opregtheid.

Frans C ·

Dit is wensdenkery dat die weermag sy magsposisie sou prys gee en toelaat dat ‘n opposisieparty aanbewind kom wat net van ‘n paar hooggeplaaste weermaglede sou ontslae raak.

Dat die weermag die laaste sê het is duidelik uit die feit dat hul ingestuur om ‘wet en orde’ te herstel en die proses ses betogers dood skiet en nie die polisie nie.Dink net aan die wêreldwye verdoeming as ‘n wit regering so iets sou toelaat.

koos ·

ironies dat Amerika en Brittanje kwaad is oor Zimbabwe se verkiesingsuitslag:
– In Amerika het Donald Trump 3 miljoen MINDER stemme as Hillary Clinton gekry, maar hy het president geword; nie juis baie demokraties nie.
– In Brittanje weer kry die party wat ‘n verkiesing wen, dikwels minder stemme as die opposisie, maar wen dan meer kiesafdelings as die opposisie, omdat hulle ‘n argaise kiesafdelingstelsel gebruik. ‘n Proporsionele kiesstelsel is baie meer demokraties.

Dis juis te danke aan, of is dit te wyte aan daardie einste Britse kiesstelsel dat SA in 1948 apartheid gekry het: die meerderheid kiesers het teen die Nasionale Party gestem, maar die Nasionale Party het meeste kiesafdelings gewen en kon dus die regering oorvat en apartheid begin toepas…

Kaufman ·

Nie seker oor die akkuraatheid van jou feite nie. Wel jy kan nou baie gelukkig wees om die vrugte van post blanke regering te geniet in ons land, zim of enige ander.

jurie blanche ·

Bleikbaar verstaan jy nie die amerikaanse kies stelsel nie, VSA President word nie verkies deur populere stem nie maar deur al die state se stemme, federale regering wat dmv stelsel state groot of klein gelyk maak.

jurie blanche ·

Ek lees nie graag opinie nuus nie net soos in VSA is dit fop nuus on gegrond deur week van spek, eerstens besef u bleikbaar nie die omvang en beheer van die dictatorskap van zanu-pf nie, dit is hoekom President Chamisa gesê het dat uitslae goed lyk en druk op verkiesing kommisie geplaas het, Daar was te veel President kandidate, opposisie se gesamentlik stem meer as zanu-pf. Diaspora Zimbabweans nie gaan stem nie, want leef beter in buiteland as in hul Vader land, sou n demokratiese regering wen dan verval hul status van asiel. Daar is nie sanksies teen Zimbabwe nie, maar individuals van zanu-pf party. Dink u moet u feite reg kry voor dat u kommentaar lewer. Zimbabwe se bydrae tot westerse ekonomie dink ek kan nie on % uit gedruk word nie te gering, so weste en RSA kan baat vir n demokratiese regering in Zimbabwe sodat hul burgers kan terug keer.

Henry ·

Die skrywer se “boodskap vir Suid Afrikaners” is ‘n uitgediende ene.

Afrika se vryheidsbewegings en hul bewese onvermoëns om ‘n staat doeltreffend en korrupsieloos te bestuur/regeer, het die “boodskap” reeds verkeerd bewys, soos ons reeds dit in hierdie droewe land, asook in talle mislukte state van Subsahara Afrika ervaar.

Dit is veral die Zuma regime wat meeste plaaslike siele heel gou laat besef het dat stam verwante lojaliteite, T hemde en Kentucky hoenders, kruisies by die stembus verseker.
Indien daar twyfel oor die stam lojaliteite bestaan, let gerus op die gebeure rondom die Zulu’s in Natal, Ramaphosa se stryd teen sy talle teenstanders binne die ANC en die rol van stamlojaliteite in die res van Subsahara Afrika.

Trouens die heel duidelikste en mees onlangse voorbeeld van stam lojaliteite wat die uitslag van verkiesings in Afrika bepaal, is die ene wat sopas plaasgevind het. Solank as wat die Shona’s die meerderheid van kiesers in Zim verteenwoordig, sal hulle party die kitaar slaan, terwyl die groepie Matebeles van die MDC, sal dans dat die stof staan.

Die voormalige vryheidsbeweging wat uit die Zipra’s van Nkomo se Matebele’s en Mugabe se Shona’s bestaan het, het minder as niks met die magsbeheer in Zimbabwe te make nie.

Die stam verbintenisse soos in die res van Afrika, is die “boodskap” wat meeste huidig benadeeldes reeds laaaankal van bewus is.
:-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.