Žižekiaanse kerkleiers onder die vergrootglas

david-bordwell

David Bordwell. Foto: Youtube.com

Deur Ds. Alwyn Swanepoel

David Bordwell, die befaamde filmteoretikus, het my nommer. Al verskil ons dalk oor geloofsake, wandel ek graag in die gange van sy gedagtes, natuurlik met die volle wapenrusting aan. Ek sou graag wou glo dat dit iets te make het met die grondstrukture van die algemene genade waarby Bordwell dikwels inskakel. Die aanhaling wat hier volg as kritiek op die veelsydige Marxisties-georiënteerde filosoof en kultuurkritikus, Slavoj Žižek, is ’n goeie voorbeeld van die tipe nugterheid wat Bordwell dikwels bring.[i] Dit bevestig ook dat enigeen wat berekend die grondslae van sy eie spesialis-gebied opsoek, moontlik iets te sê het vir hulle wat ons voorgaan in meta-analises.

Die bedoeling met hierdie verwysing is egter nie om in detail aan te sluit by Bordwell se debat met Žižek nie. Dit is eerder om analogies gebruik te maak van Bordwell se woorde op ’n ander front. Dit lyk vir my of die filmman Bordwell nie net vir die hiperkinetiese Žižek iets te sê het nie, maar sommer ook vir kerke en teoloë wat te gemaklik rondswem in die waters van hul eie erkende en onerkende meesters. Om hierdie kritiek aan die hand van ’n filmkenner uit te oefen, is eintlik heel gepas. Te veel kerkleiers preek mos deesdae meer vanuit filmmetafore as uit die Bybel. Nou ja, laat ons dan luister as die woorde van Bordwell krities weerklink, nie net teenoor Žižek nie, maar ook teenoor hiperrelevante leraars:

Hoewel ek nie vir Žižek in gedagte gehad het toe ek die opstel geskryf het nie, verteenwoordig hyself al die konseptuele verbintenisse en retoriese gewoontes wat ek kritiseer. Sy werk is ’n mosaïek van baie, baie verskillende intellektuele bronne (van Ernest Laclau tot Stephen Jay Gould). Hy is ’n assosieerder per excellence. Sy gebruik van films is suiwer hermeneuties, met elke film wat metafore van teoretiese doktrines uitspeel. En hy twyfel nooit aan sy meesters genaamd Hegel en Lacan nie, en vergestalt die tipiese tendens wat ek soos volg wil tipeer: ‘Die uitsprake van Lacan, Althusser, Baudrillard, en ander word dikwels eenvoudig in die geloof aanvaar.’

Kom ons haal die soliede punte van Bordwell se kritiek stelselmatig uitmekaar en kikker dit teologies-reformerend op vir besinning oor dit waarteen ons almal moet waak. Die opkikkering is egter nie totaal uit konteks nie. Ons kom later terug na ooreenkomste. Tog is die bedoeling geensins om Bordwell se woorde volledig te laat pa staan vir hierdie artikel nie. Dit is eerder om aan te haak by ’n bekende praktyk waar iemand anders se woorde in ’n ander konteks inhoud gee aan kwellings in die gemoed wat nog nie so gevat die eie tong of tikvingers bereik het nie. In die proses word daar ook met die woorde anderkant die oorspronklike bedoeling beweeg. Hier is dan my vertolking van Bordwell se kritiek:

  • Daar is konseptuele verbintenisse en retoriese gewoontes waaraan ons te gewoond geraak het en wat dalk gekritiseer moet word. Ed de Bono het reeds lankal daarop gewys dat baie van ons verskille te make het met persepsie en nie met logika nie. Dit is op hierdie vlak wat ons so maklik by mekaar verbypraat en so maklik by ons eie konseptuele verbintenisse verbykyk, gewoon omdat ons nie anders kan as om ook deur hulle te kyk nie. Kortom, hersien vir ’n slag jou eie ideologiese lense en retoriek.
  • Ons kan soveel intellektuele bronne hê dat ons op eklektiese wyse daarmee omgaan. Die gevolg is dat ons onsself verskoon dat ons met die model van mosaïek werk, maar dit dikwels naïef in diens van nuwe magte doen. Kortom, waak daarteen om in die naam van eklektisisme ’n onbewuste slaaf te wees.
  • Ons kan so verbind wees aan ons eie idees dat ons opperste instrumentele assosieerders word (is daar in Afrikaans ruimte vir ’n woord soos assosianis?). Met ander woorde, om die begrippe van CS Lewis te gebruik, ons gebruikdit wat voorhande is bloot as instrument om ons te herinner aan ons eie kenwysies, in plaas van om die werklikheid te ontvang as iets wat juis ons eie wêreld met sy dikwels gekondisioneerde assosiasies oorstyg. Kortom, moenie so instrumenteel leef nie. Soos Karl Barth dit in beter oomblikke oor die Bybel gestel het, daar is ’n vreemde nuwe wêreld wat wag om jou te oorrompel.
  • Ons kan films en narratiewe op deftig-hermeneutiese wyse uiteindelik tog maar voorspelbaar metafories/allegories begin lees om ons gunstelingtemas te onderskryf. In die proses kan ons egter maklik die unieke lyne van die storie met sy narratiewe genot op die agtergrond skuif. Kortom, moenie so voorspelbaar wees nie. Waardeer die eie tekstuur van goeie verhale meer.
  • Ons verbintenisse, bewus en onbewus, aan die eintlike meesters van ons onerkende metanarratief, kan so slaafs wees dat daar eintlik nie meer plek vir bevraagtekening deur die Groot Meester is nie. Die sluit ook die slaafse verbintenis aan die nuwe meesters van postmoderniteit in. Die oomblik wanneer daar so omgegaan word met die meesters, het ons met ’n onvermydelike nuwe weergawe van “deur die geloof alleen” te make, met ander woorde die implisiete nuwe gesagsbron van onfeilbaarheid. Kortom, almal glo, maar wát jy glo, is belangriker as dát jy glo.

Kom ons neem hierdie vertolking nog ’n paar stappies verder. Om by die laaste punt te begin, uiteindelik het ons almal, onontwykbaar, die een of ander vorm van onfeilbaarheidsbron. Dit geld nie net van Bordwell se kritiek op Žižek nie. Dit geld ook vir Bordwell en elkeen van ons. Hoe ken ons dit uit? Kyk na die subteks waar daar gefluister word: “Dit is die weg, wandel daarop.” Ons behoort selfreflekterend (epistemologies selfbewus) genoeg te wees om dit te erken en uit te ken in ons lewe en dan eerlik daarmee om te gaan. Dit is daarom tragies wanneer kerkleiers vandag naïef hul losstaande Bybelteksies laat rondswem in die stroom van die eintlike beheersende neo-liberale metanarratief.

Ons sou ook kon vra of die tweede punt en die laaste punt nie strydig met mekaar is nie: Enersyds mosaïekagtig en eklekties en andersyds onder denkmeesters met ’n bepaalde eenheidsvisie? Het ons nie hier met botsende belange te make nie? Die antwoord hierop is die gerieflike, dog wenslike, “nie noodwendig nie”. Lees weer die tweede punt oor onbewuste slawe. Dit is ’n antwoord wat veral genoegdoening verskaf wanneer dit aan postmodernes, van alle mense, gesê moet word. Te maklik gaan die verswygde hoëre grond en subtiele eenheidsvisie van diegene wat met baie bronne ’n oorlog teen enige soort sekerheid voer, by ons verby. Geseënd daarom is elkeen wat dekonstruksioniste dekonstrueer, want hulle sal edeles genoem word wat ons terughelp na soberheid. Die rede is dat ons met al ons baie uiteenlopende en speelse bronne, onsself nog steeds maklik kan bluf oor die onderliggende metafisika wat ons denkskemas, denkbeelde en denkrigtings onderlê. Ons kan, en dit moet menige postmoderne dissipel duidelik hoor, ook speel-speel oor die afgrond jaag. Thomas Oden noem dit “the myopias of a particular time”.

Ons middelste punt roep ook om uitbreiding. Om weer eens berekend van Lewis as kontra-voorbeeld gebruik te maak; hy het by geleentheid van ’n familielid naby aan hom die volgende gesê: “Sy gedagtes was te aktief om ’n akkurate ontvanger te wees.” Dit is helaas ’n probleem waarmee ons almal worstel. Dit is die moderne, maar ook die postmoderne toestand/kondisie/besetenheid. Ons moet eenvoudig leer om die deug van nederigheid te beoefen en die bereidheid hê om na nuwe horisonne verplaas te word, sonder om bloot die bekende te herhaal. Waarom sal ons hierdie opwindende ding nie doen nie? Die woorde hoogmoed en selftevredenheid kom by my op – met drie vingers wat terugwys. Ware allegorie maak moeite, en is nederig genoeg, om by die letterlike betekenis van die Teks aan te sluit en dit verder intertekstueel te ontsluit, het oom Thomas van Aquino ons lankal geleer. Dit geld vir alle goeie tipe tekste. Dan is jy nederig genoeg om deur die teks self begelei te word en nie van bo af iets daarop af te dwing nie. Ons moet ons in die geval van alle goeie verhale eenvoudig laat begelei na die moontlike waters van rus wat langs die natuurlike lyne van die verhale self loop. Natuurlik doen ons dit versigtig soos slange en op die uitkyk vir afgode, maar laat die “opreg soos duiwe wees” ook nie ontbreek nie. Dit is heilsaam om telkens te erken dat my eie ervaringsveld beperk is. En juis wanneer ons op hierdie wyse ons lewe aan ’n misterievolle teks en werklikheid  prysgee wat groter as ons en ons persepsies is, vind ons dit in ’n voller mate terug. By alle verskille is dit die ooreenkoms met Bordwell: Hy glo dat daar iets soos betroubare waarheid is en dat dit in gemeenskap met ander gevind kan word. En waar dit gevind is, hoef daar nie skaamte daaroor te wees nie, al is dit polities ook hoe inkorrek. Sy gemeenskapsoekende kritiese dialektiek wat hy as post-teoreties wil verdedig, staan myns insiens in bedoeling nie ver van daardie wolk van getuies wat oor eeue heen bly worstel en hulle verwonder het oor dit wat ons definitief en tog net ten dele kan ken nie.

Die ironie is dat bogenoemde in groot mate deur baie kerkleiers herhaal sal word, maar, en dit is die knelpunt, op Žižekiaanse wyse. Kyk daarom fyn na Bordwell se kritiek op Žižek. Bordwell sou waarskynlik sê dat Žižek se probleem juis is dat hy skynbaar heelwat in die vorige paragraaf sou beaam – die rede waarom hy ook as verfrissend beleef kan word – maar dan gee Žižek telkens weer sy lewe aan sy onbetwiste meesters, Hegel en Lacan, oor. Hy kan uiteindelik, ironie der ironieë, homself nie prysgee aan ’n wêreld anderkant sy bekende bakens nie. Oorgawe is vir elkeen van ons onvermydelik. Jou meester sal bepaal hoe ver jou horisonne sal strek. Kerkleiers behoort daarom eintlik teleskopiese horisonne te hê. Hulle behoort nie te skik vir tendensieuse stroompies nie. Hulle behoort nie te vaar op bebybelde neo-liberale systrome nie. Nie as die magtige rivier van die Woord-in-tradisie so naby is nie.

Bron:

[i] Slavoj Žižek: “Say Anything”, afgelaai by http://www.davidbordwell.net/essays/zizek.php op 13 September 2016.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

NP van Wyk Louw-sentrum

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Theuns ·

Beste Ds. Swanepoel, vir die eerste keer in my lewe moet ek erken dat die taal wat u gebruik my onbevoeg maak om daarop kommentaar te lewer. Al verstaan ek nie wat u presies probeer se nie moet ek u gelukwens met u taal gebruik! Hier en daar vind ek aanklank by wat u se en ek kan dit saamvat onder een sinsnede en dit is “Bly rustig en oopkop met die bestudeering van die bybel”. Jy moet nie dat jou brein so aktief raak dat jy nie ontvanglik vir nuwe idees sal wees nie. Ons Engelse vriende noem dit “Paradigm Paralyse!”

Pyrrho ·

Hoe onbaatsugtig is dit dat iemand wat sy brood verdien deur ander mense van sy standpunte te probeer oortuig, aktiewe interpretasie onderdruk en uitkontrakteer aan “spesialiste” van teksinterpretasie soos hy. Laat ek nou vir julle trop armgeestige skape– dit is eintlik die aanspreekvorm van hierdie glibberige teologie– ‘n beginsels gee wat julle wel slaafs kan navolg (en toevallig al sedert Sokrates regdeur die filosofie loop en nie “postmodern” is soos hier beweer word nie): dink vir jouself!

SkarrelKiind ·

Vreeslike “hoë” taalgebruik wat maar min sê om ander “armgeestige skape” te noem. Hoe vermetel van jou Pyrrho … praat jy altyd neer op ander mense? Ek kan net my kop skud vir sommige kommentaar …

TTh ·

Vir my het hierdie skrywe ongelukkig geen waardetoevoeging nie – my persoonlike verhouding met die Almagtige Skepper en enigste lewende God, is wat saak maak – dalk is dit belangriker vir Zizek en Bordwell om ‘n debat te begin oor die parsiele ontlading van ‘n olie druppel in ‘n kragtransformator wanneer die kern in versadiging gedryf word en die IFT lesing van die olie bo 24 is… regtig !

John ·

Ds Swanepoel, jy het hierdie pragtige taalryke en diepsinnige opstel vir jouself geskryf. Partykeer moet ‘n mens eerste die skade wat jy aan jou eie siel aanrig, neerpen, om perspektief te kry. Kry jy nog kans om jou Bybel te lees? Staan jy nog in ‘n gemeente of het almal al gedros?

SkarrelKind ·

John – hoe kan jy op ‘n openbare forum sê “hy moet die skade aan sy eie siel neerpen”? Omdat jy nie hou van wat jy lees nie, kan jy oordeel? Ek vind dit ammusant dat dit altyd Christene is wat so ombeskof sal reageer op teologiese artikels. As mens nie kan kommentaar lewer sonder om in iemand se karakter in te klim nie, moet mens nie liewer stil bly nie? Jy is beledigend omday sy standpunt jou nie pas nie. Dis nie hoe mens debatteer nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.