Zoeloes en Voortrekkers – nader aan die waarheid

For they were freedom fighters, because they were fighting for the freedom of our land, and they sacrificed immensely, fighting against invaders.”

Barend Uys. (Foto: Reint Dykema)

President Cyril Ramaphosa het hierdie stelling gemaak tydens sy toespraak by die Versoeningsdagviering in Bergville, verwysend na die Slag van Bloedrivier. Dit is nodig om te beoordeel of Ramaphosa gebalanseerd met die geskiedenis omgegaan het met sy verwysing na die Voortrekkers as “invallers”.

Kommissietrek na Natal

In September 1834 vertrek die Kommissietrek na Natal onder leiding van Piet Uys uit die Uitenhage-distrik. Daaropvolgende samesprekings met koning Dingane kaSenzangakhona het uitgeloop op ’n mondelingse belofte van Dingane dat hy bereid was om grond aan Uys af te staan. Dingane het egter gesê dat die mense hulle eers in sy gebied moet kom vestig, waarna hy ’n geskrewe kontrak met hulle sou aangaan.

Retief en Dingane

Piet Retief het in November 1837 met Dingane onderhandel om grond te bekom. Dingane het onderneem om die stuk grond tussen die Tugela- en die Umzimvuburivier aan Retief te gee op voorwaarde dat hulle Dingane se beeste, wat onder leiding van Kgosi Sekonyela (van die Batlokwa) gesteel is, terugbring.

Retief het in Desember ’n kommando na Sekonyela gelei en Dingane se beeste teruggeneem en saam met die Zoeloe-veewagters na die koning gestuur. ’n Geskrewe ooreenkoms wat bepaal het dat Dingane die grond tussen die Tugela- en die Umzimvuburivier aan die Voortrekkers afgestaan het, is op 4 Februarie onderteken. Slegs twee dae later word Retief en sy hele geselskap egter in opdrag van Dingane wreedaardig op die moordkoppie KwaMatiwane vermoor.

Voortrekker-moorde

Die Voortrekkers wat gewag het op tyding van Retief en sy geselskap, is die nag van 17 Februarie 1838 deur Zoeloekrygers aangeval. Die vreeslikste slagting vind langs die Bloukransrivier en Moordspruit plaas – 282 Voortrekkers sterf.

Slag van Italeni

’n Krygsmag van 347 manskappe onder bevel van Piet Uys en Hendrik Potgieter het op 5 en 6 April op ’n strafekspedisie na Umgungundlovu vertrek. Hierdie veldtog het in ’n nederlaag vir die Voortrekkers geëindig toe Uys, sy seun Dirkie en nege ander Voortrekkers op 10 April tydens die Slag van Italeni gesneuwel het.

Veglaer

Die Voortrekkers word van 13 tot 15 Augustus 1838 deur ongeveer 10 000 Zoeloes by Gatslaer aangeval. Altesaam 75 weerbare mans weer die aanval af met die hulp van vroue en kinders, maar al die vee word weggevoer. Die laer word herdoop na Veglaer.

Slag van Bloedrivier

Die uitslag van die Slag van Bloedrivier wat op 16 Desember 1838 plaasgevind het, is welbekend. Die Voortrekkermag van 570 man onder bevel van Andries Pretorius, is deur tussen 15 000 en 30 000 Zoeloes onder bevel van Dambuza Nzobo en Ndlela kaSompisi aangeval. Nie ’n enkele lid van die Voortrekkermag het tydens of as gevolg van die geveg gesterf nie – voorwaar ’n wonderwerk.

Begrafnis op Kersdag

Die Wenkommando het die beendere van die Voortrekkers by die Zoeloe-hoofstad (wat deur die Zoeloes afgebrand is) gekry, asook die ondertekende traktaat in Retief se bladsak. Op Kersdag 1838 is die oorskot van Retief en sy geselskap aan die voet van KwaMatiwane begrawe.

Slag aan die Wit-Mfolozi

Op 27 Desember het ’n Voortrekkerkommando van 300 man onder bevel van Karel Landman in die Wit-Umfoloziriviervallei ingegaan om die Zoeloes wat daar geskuil het te verdryf en die beeste wat daar was af te neem. Hulle is egter in ’n lokval gelei en was die hele dag lank in ’n hewige stryd om lewe en dood gewikkel. Die slag aan die Wit-Umfolozi was ’n oorwinning vir die Zoeloes en dit was duidelik dat Dingane se mag nie gebreek was nie.

Dingane en Mpande

Dingane se halfbroer, prins Mpande kaSenzangakhona, het ’n Zoeloe-leër gestuur om Pretorius in die finale ekspedisie teen Dingane te ondersteun. Dingane se leër is finaal in Januarie 1840 deur die leër van Mpande verslaan tydens die Slag van Maqongqo. Pretorius se kommando het nooit tydens hierdie veldtog met Dingane se leër slaags geraak nie en het dus geen rol gespeel in die finale breek van Dingane se mag nie.

Mpande is op 10 Februarie 1840 deur Pretorius tot koning van die Zoeloes gekroon, en Pretorius het hierna, om die skuld van die veldtogte teen Dingane te vereffen, die grond tussen die Tugela- en die Swart-Mfolozirivier geannekseer.

Hierdie gebeure het ’n tyd ingelei van goeie verhoudinge tussen die Voortrekkers.

Finale beoordeling

As jy onderhandel voor jy ’n gebied beset, is jy nie ’n invaller nie. Vir Ramaphosa om die Voortrekkers “invallers” te noem is daarom, om die minste te sê, histories onakkuraat en vir seker nie ’n versoenende gebaar teenoor Afrikaners nie.

Gelukkig weet ons dat ons toekoms, maar ook ons geskiedenis, in ons eie hande lê – ons moet net dié verantwoordelikheid opneem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

John ·

Nee, neef Uys, nie in ons eie hande nie… soos 16 Desember 1838 se Gelofte ons leer en ook nie in Cyril s’n nie.

André André ·

Ek het in my kommentaar, onderaan Dr Dirk Hermann se ope brief aan Cyril Ramaphosa op Maroela, voorgestel dat julle/Solidariteit ‘n massa optog van der duisende mense na die Uniegeboue reël, waar Cyril Ramaphosa, na Dr Hermann sy ope brief aan hom voorgelees het, die mense moet toespreek. Julle kan ook van ander sprekers gebruik maak om die geskiedenis te belig, bv Erns Roets.

Ter afsluiting kan julle dan ‘n afskrif van Dr Hermann se ope brief aan hom gee, asook ‘n geskiedenisboek wat die gebeure rondom daardie tydperk belig, dalk sommer ‘n bundel geskiedenis boeke van Jan Van Riebeeck se tyd af.

Schalla ·

Dit gaan geen impak hê nie – hy lieg so hy glo homself! Nee wat, soos ou Barend sê, leer ons kinders ons eie geskiedenis. En as hulle allerhande twak in die geskiedenisboeke aan ons wil afsmeer dan kan my kind maar met trots geskiedenis dop!

Petrus ·

Ramaphosa moet eers die ekonomie regruk voordat hy al daai boeke lees.

Kerneels ·

En as Ramaphosa weer geskiedenisboeke oor suider Afrikastamme vir Hermann gee? Dan gaan hulle almal lees tot aftrede. En moenie stories glo dat daar nie boeke is nie. Daar is baie, in plaaslike en oorsese universiteite. Selfs PhD proefskrifte.

André André ·

Wat mens moet besef is, hierdie optrede teen Cyril Ramaphosa gaan baie, baie verder as net om sy verdraaiing van die geskiedenis reg te stel, dit gaan daaroor om dit te beveg/uit te lig dat hy daardie blatante verdraaiing, waar die geleentheid hom ook al voordoen, soos bv in die video, gebruik om dit te regverdig dat hulle uiteindelik die grondwet kan wysig om onteiening sonder vergoeding wetlik te maak, in effek het hulle alreeds die wiel aan die rol gesit.

DIT is wat beveg moet word en om die regte feite van die geskiedenis voor sy kop te gooi is deel van die optrede om hom en sy ideologiese ANC-regering/kaders tot verantwoording te roep en die groot leuen wat hulle loop verkondig aan die grootklok te hang sodat almal in die wêreld kan sien wat hul uiteindelike oogmerk is. Hierdie gaan nié net oor grond nie, maar is verreikend en gaan uiteindelik oor álle eiendom.

Kierie ·

Die Geskiedenisboek is ‘n goeie voorstel, maar in dié geval, sal dit wees soos om ‘n saal te koop vir iemand sonder ‘n perd; jy weet hy gaan dit nooit gebruik nie….

Rubber ·

Cyril Ramaphosa en sy bende gaan ons trap tot ons as volk terugkeer na God.

Johan Roets ·

Kan jy glo hy verkoop soveel twak. Hoe kan hy die Staat president wees as hy nie eers die geskiedenis van die landse inwoners ken nie? Hy is so oningelig die nasionale party (apartheid beleid regering) het 110 jaar na bloedrivier eers aan bewind gekom. Miskien voel hy maar hy kan Sy wolhaarstories aan skape vertel. Zuma het darem iets geweet, dit lyk my ons is nog slegter af as toe, met hom aan bewind.

Kallie ·

Hoe kan ‘n Voortrekker ‘n Zoeloe tot koning kroon? Geen Zoeloe sal dit erken nie. Dis so goed Ramaphosa kroon Pieter Groenwald tot koning van die Afrikaners.

Johan ·

Kan jy glo hy verkoop soveel twak. Hoe kan ‘n oningeligte soos hy die land se president wees? Hy Ken nie eers die geskiedenis van die landse burgers nie. Hy miskien ons mense se kennis en agter grond geskiedenis. Hy weet nie eers die nasionale party (met afsonderlike ontwikkeling beleid ” apartheid” ) het 110 jaar na die gebeur by bloedrivier aan bewind gekom. Hemel behoed ons hy dink seker hy kan Sy wolhaarstories aan skape verkoop daarom raak hy sulke twak kwyt. Zuma het darem iets daarvan geweet, Sjoe dit lyk my ons is slegter af as toe!

André André ·

As ek die kommentare so hier voor lees, dan moet ons maar liewer stilbly en aanbeweeg, ons mag nie piep nie, want verskoning sal daar altyd wees, plaas dat hulle met positiewes kom, maar afbreek en negatief is mos deesdae voor rugby en krieket die sport, of dalk kom braai en voor die braai langs die vuur staan en met jou vriende … gesels.

André André ·

Dr Herman, nav my kommentaar sopas, ek sal graag wil sien as Solidariteit en Afriforum hul deure toemaak, waar sal die Afrikaner en die Afrikaanssprekende dan wees.

Andre ·

Elke ou vertolk en vertel geskiedenis soos dit hom pas. Elke generasie las so ietsie by. Die wat daar was is reeds dood en kan nie repliek lewer nie. Om beledig te voel gaan nie help nie. Beweeg eerder aan. Die meerderheid Afrikaners soek net ‘n werk en wil nie hierby ingetrek word nie.

Ditsem ·

Andre, joune is die mees sinvolle kommentaar wat hier gelewer is. Maar net soos wat ons Afrikaners moet aanbeweeg moet die res van die bevolking dit ook doen. Dan sal ons kan hande vat en die land bou. Vir solank as wat die “ons en hulle” mentaliteit voortduur sal die swaarkry voortduur.

Alta ·

Ditsem!! So n bek moet jam kry. Ouma het ook gesê al gaan jy waar die waarheid kom agterna…of was dit; al gaan die leuen snel die waarheid haal jou wel.

Susan ·

Kan iemand nie die president op sy growwe verontagsaming van die ware geskiedkundige feite wys, en ‘n openbare verskoning t.o.v die Afrikaners, wat deur hom beledig is, eis nie?

De Villiers Hauptfleisch ·

Met hierdie opmerking in sy toespraak het Ramaphosa maar net weer bevestig dat hy nie die Afrikaners as landsburgers beskou nie maar as indringers en hyself nie as president van al die inwoners van die land geag kan word nie. Jammer maar jy kan nie vertrou word nie en sy uitsprake moet maar altyd met ‘n knippie sout geneem word. Hy is niks beter as Zuma nie.

Sarel ·

CR misken die grontwet… Die grondwet handel met alle rasse sonder om enige uit te sonder as “invaders”. Hy misken die hele aanhef tot die grondwet? Hoe nou gemaak? Is hy en sy kabinet nie ingesweer om die grondwet voor te hou in alle.omstandighede?
Skande!!!!

Swartwolf ·

Daai pakslae by Ncome was so groot dit het die magsverdeling van die hele Suider Afrika verander. Geen wonder hulle probeer nou praatjies maak om die waarheid te verdraai nie. In die ekonomiese gemors wat sy Banthustan is moet Mr. President eerder ekonomie 101 bestudeer en die geskiedenis uitlos. Daaraan kan hy niks doen nie.

Vaalseun ·

Uitstekend gestel, Barend. Baie dankie.
Ons kan byvoeg:
1. Piet Retief se tyd raak min toe Sekonyela sloer om in te stem om Dingaan se beeste terug te gee. Retief troef Sekonyela deur sy arms om ‘n boom voor sy hut met boeie vas te maak. Daarna het Sekonyela ingestem. Sekonyela se spioene waarsku toe vir Dingaan se spioene dat Retief vir Sekonyela met “silwer slange,” (boeie) vasgemaak het, dws Retief kon “toor”. Dis waarom Dingaan gesê het, “Maak dood die towenaars.”
2. Op 12 Desember 1838 het ‘n afdeling Voortrekkers ‘n aantal Zoeloe-spioene agtervolg en ook Zoeloe-vroue en kinders gevange geneem. Pretorius besluit om die gevangenes met ‘n wit vlag en boodskap van vrede aan Dingaan te stuur. Maar, indien Dingaan die vredesaanbod weier, sou hulle veg, “al is dit tien jaar lank.” Pretorius het die vroue en kinders vrygelaat en hulle verseker dat “geen vrou of kind deur ons gedood sal word nie.” Die vrouens was oorstelp van verligting en het Pretorius geprys. Pretorius het sy woord gestand gedoen.
3. Na die Slag van Bloedrivier het die Voortrekkers die Republiek Natalia gestig, en onmiddelik Zoeloeland as onafhanklike, soewereine staat erken. Maar, op 15 Julie 1843 annekseer Groot-Brittanje die Boere-republiek, en in 1879 ook vir Zoeloeland.
4. Op 16 Desember 1866, tydens ‘n groot herdenking van die Slag van Bloedrivier te Bloedrivier, is Koning Chetswayo ook genooi. In sy toespraak meld hy spesifiek die goeie samewerking tussen die Zoeloes en die Boere, asof hulle in een huis woon.

Bril ·

Soos ek verstaan het Dingaan ook ‘n punt gehad. Hy het gevrees dat sy bekende wereld en gepaardgaande waardestelsels en denkwyses, wat van die witman verskil het, en waarmee hy as swartman al eeue lang saamgelewe het, onheroeplik deur die koms van die witman verlore sou gaan (en dit is ‘n feit, dit het gebeur). Mens moet dit nie ligtelik opneem nie. Ek kry nie die indruk dat Piet Retief en baie van die Voortrekkers so gedink nie. Hulle het die swart wereld met die oog van ons waardestelsel, een van iemand uit die beskaafde Europa komend, beskou. Twee werelde het teen mekaar gebots. Die voorstaanders van afsonderlike ontwikkeling was reg, elke bevolkingsgroep moet skei en sy eie pad gaan omdat hulle interne werelde nie versoenbaar is nie, en solank hierdie kwessie onopgelos bly, sal die spanningsveld tussen wit en swart vir ewig duur. Dit bly ‘n gedwonge huwelik. Dit is dalk nie ‘n saak van wie is reg of verkeerd nie, maar een van wat is die feite (verskillende denkwyses en gepaardgaande konflikte wat daaruit ontspruit) en hoe reageer mens daarop.

JamesTwee ·

..en dit is PRESIES waarom selfbeskikking die enigste werkbare opsie is. Elke ou kan dan glo wat hy wil, sonder om mekaar te ontstel.

Goeie grense maak goeie bure.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.