Zuma-affêre sorg vir burgeroorlog in ANC

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die krisis rakende oudpresident Jacob Zuma, die Konstitusionele Hof, sy gevangenisstraf en die onluste wat daarop gevolg het, het die voordeel dat dit ’n mens opnuut dwing om effens dieper as normaal oor ons land te dink. In dié geval wil ek drie punte uitlig wat verder uitgediep kan word.

Die eerste is die teenstelling tussen die politieke wêreldbeskouings van Afrika en die Weste wat hiermee blootgelê word.

In ’n artikel op die webwerf Politicsweb skryf Helen Zille insiggewend oor die interaksie wat sy destyds as leier van die DA met Zuma gehad het. Zuma het altyd vir haar gesê sy moet steeds eers toestemming van die plaaslike hoofman kry voordat sy stemme in ’n bepaalde gebied gaan werf.

“Die idee dat mense met onvervreembare regte gebore word wat niemand kan wegneem nie, en dat verkose leiers daar is om dié regte te beskerm en te verdedig, is inderdaad ’n ‘Westerse ding’. In tradisionele gemeenskappe is die idee dat die hoofman jou gunste verleen as jy sy guns soek, baie meer oorheersend – en dis maklik om te sien hoe dit gou in ‘korrupsie’ verander. Die leier kyk na sy eie mense, wat die idee van ‘nepotisme’ ook ’n baie ‘Westerse ding’ maak.

“Jacob Zuma het dit alles nie verstaan nie, en openlik so gesê.”

Oor die rol van die regbank het Zuma op ’n keer aan haar gesê: “Ek is verkies. Die regters is nie. Hoe is dit dat hulle in staat is om vir my te sê wat om te doen?”

Siedaar! In ’n paar woorde die kern van die grondliggende verskil tussen Afrika en die Weste. By ons het die geskiedenis deur die eeue ontwikkel in ’n rigting dat die rol van die individuele heerser relatief beperk word, en dat die regte van al die individuele burgers binne grense onaantasbaar is. Dus is die rég – die grondwet, die regstelsel en die landswette – teoreties minstens net so belangrik as diegene wat boaan die politieke en maatskaplike piramide sit. Ons noem dit die regstaat.

Natuurlik werk dit nie altyd in die praktyk so nie. Met al sy geld kan ’n miljoenêr invloed by politici “koop”. Hy kan duur advokate huur om binne sekere perke sy regte in die hof te verdedig – in elk geval veel meer as wat ek byvoorbeeld met my pensioentjie kan regkry.

In Afrika hang alles saam met die magtige man – of dit nou die plaaslike hoofman of die president is. As jy sý beskerming soek en aan hóm hulde bring, sal hy vir jou sórg.

Die tweede opmerking hang saam met die eerste. ’n Mens kan nie die geskiedenis van ná 1994 begryp sonder ’n behoorlike insig in dit wat voor dié jaar in die ANC/SAKP gebeur het nie.

Die korrupsie en magsmisbruik waartoe die Afrika- politieke kultuur onherroeplik lei, het reeds in ballingskap intrinsiek deel van die ANC/SAKP geword. Van interne demokrasie was daar in die alliansie min sprake; oorwegend was dit ’n aantal magtige individue wat die septer geswaai en bepaal het wat gebeur.

Dié tipiese Afrika-praktyk is, interessant genoeg, deur die vermenging van ’n besonder ortodokse vorm van die Marxisme-Leninisme versterk. Die SAKP, wie se praktiese en ideologiese greep op die ANC deur die jare byna oorheersend geword het, was ’n uiters onverdraagsame groep wat nie alleen blindweg agter Moskou aangeloop het nie, maar wat sý siening van die kommunisme meedoënloos afgedwing het.

Dit het die Afrika-manier van dinge doen versterk. As jy iets in die alliansie wou bereik, of as jy selfs slegs buite een van die strafkampe wou bly, moes jy mooi kyk wie die lakens uitdeel, en dan in sy guns kom.

Dié praktyk is in wisselende mate ná 1994 voortgesit. Nelson Mandela het in die vyf jaar van sy bewind in elk geval nie die Westerse konsep betwis nie, en ook Thabo Mbeki het min gedoen om dit te ondergrawe.

Maar Zuma – nou ja, dit gaan uiters interessant wees om die eindverslag van die Zondo-kommissie te lees. Dit sal in elk geval duidelik word dat die Afrika- en die Westerse politieke kultuur onversoenbaar is.

In dié stadium lyk dit of Cyril Ramaphosa na die Westerse model oorhel, maar ’n mens sal nog moet sien of dit so voortgaan. Want dít hang af van die magsverhoudinge in die ANC, en dit bring my by die derde punt.

Die feit is dat die Zuma-affêre by wyse van spreke ’n burgeroorlog in die ANC teweeg gebring het.

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: The Presidency/Twitter)

Daar is nou twee duidelike faksies in die party: Die Ramaphosa- en die Zuma-vleuel. Dat die twee vleuels duidelik onderskeidelik die Westerse en die Afrika-model aanhang, het moontlik minder met werklike oortuigings te make as dat die modelle nuttige wapens teen mekaar vorm.

Vir Zuma is die massas wat hy met die Afrika-model op straat kan kry ’n wapen om sy eie skuldigbevinding en tronkstraf én die waarskynlike skuldigbevinding weens staatskaping en korrupsie omver te werp. Vir Ramaphosa kan dit geld dat die Westerse model – die howe, die reg en die staatswette – hom ’n magsmiddel gee wat Zuma nié het nie.

Dis in elk geval op kort- en middellangtermyn die geval. Natuurlik het ’n mens in Mandela se geval (hy was 27 jaar agter tralies) gesien dat só iemand ’n kragtige simbool kan word, maar dis tog nie heeltemal dieselfde nie.

Mandela was baie jonger as Zuma toe hy veroordeel is. As Zuma tot ’n langdurige tronkstraf veroordeel word, is die kans goed dat hy daar sal sterf.

Ook het Mandela vir ’n kragtige idee gestaan: die afskaffing van apartheid, onregverdigheid en rassediskriminasie. Zuma staan nie vir ’n idee nie; hy staan vir homself. En dit het nie naastenby dieselfde trefkrag nie.

Die kans, so lyk dit, is in elk geval goed dat die ANC middeldeur kan skeur. Watter faksie die oorhand gaan kry, is nou onmoontlik om te voorspel.

As dit die Zuma-faksie is – maak jou maar gereed vir groot ellende. As dit die Ramaphosa-faksie is, het Suid-Afrika ’n káns.

Dit wil nie sê dat daardie kans al jou drome waar sal maak nie. Maar as Zuma-hulle wen, kan jy maar weet: Al jou nagmerries kan waarskynlik waar word.

Ons kan maar net hoop en bid.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vanessa

Ek stem saam oor die uitlating: As dit die Zuma-faksie is – maak jou maar gereed vir groot ellende. As dit die Ramaphosa-faksie is, het Suid-Afrika ’n káns!!!!!!!!!!

Kobus

Gaan die ANC Zuma skors? Hy is mos nou amptelik ‘n krimineel?

Jasper

Ek stem nie saam,kom daar ‘n verkiesing volgende week stem die massas vir die ANC die ordentlike mense is nie betrokke by hierdie kriminaliteit nie ek het geen huidige benaadeelde persoon gesien nie,ons moet ‘n onafhanklike tuisstaat kry anders is ons gedoem en dit het niks met ras te doen nie.

Deon

Ek verskil oor die idee dat ons n kans het as Ramaphosa wen, dit kan gesien word in hoe alles nou beheer word, hy het nou n kans om te “shine” maar hy en sy span is besig om ons land die afgrond in te regeer, kyk na die covid reaksie. Hy jok op internationale tv oor plaas moorde, hy en sy span wat hy nou het sou nie in hierdie “riot” penarie gesit het as hy sy kaarte reg gelees en speel het nie. Hy sit met n anc wat so deurdrenk is van korrupte kaders dat hulle teen… Lees meer »

annie

En Mandela was bowe die ANC verhewe? Hoe so? Hy het die Weste gespeel met die wyshede van Ghandi oor hoe om te beheer. Hy het nooit terrorisme afgesweer nie, onthou, so Zuma se bestuurstyl en aksies het hy ondersteun en gebruik om baas van die plaas te word. Vandag wyfel selfs wittes om iets teen die man te sè. Hoe is dit dan dat sy ‘erfgename’ so sleg uitgedraai het? Van sy werkers van wie hy ontslae geraak het, het ‘n heel ander beeld van Mandela uitgeblaker. Wie was Mandela werklik? Miskien kan die professor dit naspeur en onder… Lees meer »