Zuma – die verskillende scenario’s

pad-muur

Foto: Pixabay.com

Die land is tans in ʼn toestand van hoogspanning ná die afdanking van die minister van finansies, Pravin Gordhan, netjies verbloem as kabinetskommeling. In die ander gevalle is leë blikke met ander leë blikke vervang en nog ander rondgeskuif, maar feitlik die enigste vaardige minister, Gordhan, met die allerbelangrikste portefeulje van finansies, is in die pad gesteek, asook sy adjunk wat blykbaar ook redelik bekwaam was.

Anders as met die afdanking van min. Nhlanhla Nene en die vervanging met die onbeholpe David van Rooyen het die ANC-topstruktuur dié keer nie Zuma agter geslote deure oortuig of gedwing om sy besluit ongedaan te maak nie. Daar was aanvanklik heelwat ontevredenheid en selfs teenkanting ten opsigte van Zuma binne die ANC se Nasionale Werkskomitee, maar intussen het Zuma se kritici op die ou bekende manier teruggeroei en hulle retoriek afgeskaal, selfs verskoning gemaak dat hulle die leier gekritiseer het. Dit beteken dat Zuma dié keer nog stewiger in die saal sit as in 2015, en geen noemenswaardige teenstand uit sy eie party meer verwag kan word nie. Talle stem nie met hom saam nie, maar is te bang om dit openlik te sê uit vrees vir hulle posisie.

Nou het die stryd verskuif na die strate toe, waar die opposisie – bestaande uit ʼn reeks partye en burgerlike organisasies oor die politieke spektrum heen, van Cosatu en ander vakbonde en ver-linkse partye tot meer burgerlike en liberale organisasies asook kerke – teen Zuma betoog. Zuma het weer sy ou troefkaart “rassisme” uitgehaal en ʼn absurde poging aangewend om wit betogers as rassiste te brandmerk, maar blykbaar sonder veel sukses. Selfs ʼn Zuma kan nie al die mense vir altyd vir die gek hou nie.

Gelyktydig met die betogings en stakings is daar pogings van die opposisiepartye om ʼn mosie van wantroue in Zuma te laat slaag. In die verlede het dit nie geslaag nie omdat die ANC eerder ʼn korrupte leier sal beskerm as om saam met die gehate opposisie te stem. Die hoop by die opposisie is dat dit dié keer anders is omdat Zuma nou te ver gegaan het. As net ʼn minderheid van die ANC saam met die opposisie stem, kan hy ontsetel word. Die hoop is ook dat ʼn geheime stem bewerkstellig kan word, sodat ANC-lede nie hoef te wys dat hulle teen Zuma gekant is nie en geen sanksies hoef te vrees nie.

Die vraag is egter hoekom ʼn party wat al talle skandale van Zuma en ander lede verdedig het en ooglopend geen morele kompas meer het nie, nou skielik die lig sien en teen hulle leier sal stem. Die ANC is lankal ʼn party van kaderontplooiing en gehoorsaamheid eerder as van individuele gewetensbesluite, ten spyte daarvan dat sekere “stalwarts” nou die morele tamboer slaan.

Net soos die idealistiese en roepingsgerigte Nasionale Party van die 1950’s veral in die 1980’s ʼn voertuig vir ʼn loopbaan was en allerhande beroepspolitici met baie buigsame oortuigings getrek het, het die ANC ook lankal in ʼn voertuig vir mags- en geldbelange verander. Ek plaas min hoop op ʼn opstand van selfs net ʼn minderheid ANC-parlementslede teen Zuma.

Maar veronderstel die mosie van wantroue in die parlement slaag. Sal Zuma sommer net so bedank en homself en sy trawante blootstel aan die wraak van die oorwinnaars? Sal die Zoeloes dit aanvaar dat hulle leier uitgestem is? Sal die sogenaamde oorlogsveterane amok maak? Wie sal hom opvolg? Cyril Ramaphosa met die steun van ʼn groep ANC-lede asook die hele opposisie? Seker nie ondenkbaar nie, maar dit lyk te veel na wensdenkery. Selfs al sou dit die geval wees en die land moed skep, hoe lank sou so ʼn koalisie uit ʼn verskeidenheid partye en met ʼn sterk aandeel van die onvoorspelbare EFF hou?

Die meer waarskynlike uitkoms is dat Zuma die mosie van wantroue oorleef. Enkele ANC-lede sal teen hom stem, maar ʼn duur prys betaal. Sal die burgerlike verset dan die enigste uitkoms wees en in felheid toeneem? Dit is moontlik, en daar word al gepraat van ʼn nuwe UDF, daardie breë anti-apartheidsbeweging van die 1980’s wat meer doeltreffend was as die ANC en wat moeiliker ideologies vasgepen kon word. Mosiuoa Lekota, een van die anti-Zuma-dryfkragte, was immers ʼn leiersfiguur van die UDF. As die opstande en betogings die land so verlam dat die ANC besef hy sal van Zuma ontslae moet raak om sy eie bas te red, dan kan ʼn kompromiskandidaat gevind word, moontlik weer Ramaphosa, as laasgenoemde tot dan polities oorleef.

ʼn Ander scenario is egter dat daar op kort termyn niks verander nie en die land verder afwaarts tuimel met Zuma en sy korrupte kliek aan die spits. As hy die mosie van wantroue oorleef, sal hy waarskynlik die dislojale ANC-parlementslede druk om te bedank, of hulle sal dit vanself doen en ʼn breë opposisie versterk. Dan kan ʼn mens net wag tot die volgende verkiesing. Mits die opposisie dit regkry om te verenig, kan daar ʼn werklike alternatief tot die ANC ontstaan.

Dit sal egter beteken dat die DA nog verder links moet beweeg en sy aanspraak om die enigste opposisie te wil wees, moet laat vaar. Dit is egter ook moontlik dat Zuma en sy groep ʼn deel van die opposisie omkoop om hom aan die mag te hou. ʼn Versoening tussen hom en Malema en die vorming van ʼn ekstreem-linkse swart nasionalistiese party, ʼn soort ZANU-PF, wie se hoofbelang staatskaping en uitdrywing van die wit mense is, is ook denkbaar.

RW Johnson het in sy uiters lesenswaardige boek, How long will South Africa survive?, op die moontlikheid van ʼn skeuring van die ANC in links en gematigd en die vorming van twee blokke, middel-links en uiters links, gewys.

Indien die gematigd-linkse party in die verkiesing wen, wat nog nie ʼn uitgemaakte saak is nie, sal dinge op kort termyn verbeter en ʼn meer besigheidsvriendelike beleid verwag kan word (die ander scenario, in die woorde van John Vorster, is “too ghastly to contemplate”). Ook so ʼn party sal egter swart belange eerste stel en die staat sal primêr ʼn welsynstaat met hoë belasting en veel inmenging wees. Afrikaners en ander wittes moet besef dat hulle geen hoop op die politiek en ʼn verwydering van Zuma moet vestig nie, maar eerder op groter kollektiewe selfstandigheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Uitstekende fotokeuse! Mense van alle kante tree nou tot die vurige brandpunt toe en die Kaapse aardbiskop kry selfs nog ‘n Kodessa in sy kop. Spaar ons dit… Tv-ann7 se base veg verwoed voort en sweep landsburgers op tot drastiese vergrype met oa lang gesprekke met die glo nuwe finansraadgewer wat alles tot en met lewensversekeringsgroepe se nasionalisering vra. Tien jaar in die land vanaf seker die mees verrinneweerde land op aarde waar menseregte met die kamma kaste-stelsel onderdruk word, kom diesulkes hierheen om paleise op te rig en veg dan vroom vir menseregte? Ongelooflik. Het die Zoeloes en hul ‘backroom boys’ vir die res van die land se swartes ore aangesit en gaan die ander volke nou arbeiders word op Zoeloe’s/Oosterlinge se mega-plase? Hulle gaan die wit werkgewers, waarvoor hulle nooit ‘n goeie woord in die openbaar gehad het nie, nogal mis… glo my.

Die Varkerasie Genootskap vir Welvaartskepping ·

Geagte mnr Biehl, ‘n Uitstekende artikel. Skrywe, skrywe, skrywe.

Die ongebreidelde bevolkingsaanwas maak dat die gevegte, kriminalisasie en staatskapings om herverdeling van die koek by die dag in velheid gaan toeneem. En in die gevegte gaan daar sondebokke en sondaars wees. Dit gaan om oorlewing in ‘n hoogs kompeterende wêreldorde.

Meeste Suid-Afrikaansers moet nog leer: Mense moet nie net geleer word om die vis te vang nie, hulle moet ook geleer word om die visdam te vergroot sodat vis ook uitgevoer kan word ter verdiening van buitelandse valuta en die skepping van welvaart VIR ALLE SUID-AFRIKANERS. Hiervoor het ons besondere passievolle, kreatiewe en talentvolle leiers en onderwysers nodig – Ou Vlakvark (Sekretaris)

Anoniem ·

Nadat die ANC onlangs die groot metro’s afgestaan het aan die DA, is daar luid aangekondig hulle sal luister na wat die mense sê en dinge in die ANC regmaak wat verkeerd is. Hulle doen beslis nie hul woord gestand nie. Die ANC sê wat die massas wil hoor, maar hulle maak wat hulle wil.

Die Woord sê jou ja moet ja wees, en jou nee moet nee wees.

God sal die laaste sê hê oor die ANC.

vermeende ·

Uit Afrika is die gem IK tussen 60 en 80, dit is maar n fraksie meer as wat jy nodig het vir normaale liggan finksies.

N vraag wat geen skrywer aanspreuk nie is, tot wat is n gehoor met hierdie IK instaat, wat is sy verwagting van die toekoms en hoe sien hy homself daar arriveer?
Ondersoek die vrae en jy sal geskok wees om te leer dat hierdie IK van 60 nie veel verder dink as om die pappot en oorlewing van nou nie.
Die toekoms bly dus n waas ver verwydert van die nou, en geen besluid goed of sleg vir die toekoms maak veel sin nie, anders as die welvaard van die onmiddelike nou.

Zuma gaan bly want hy verkoop welvaard aan sy kaders nou en beloftes daarvan aan sy gehoor (plase) en die mosie sal ook nie n geheime stem wees nie.

Demokrasie werk net in n homogene samelewing, ons is nie een nie!

Tot wat is die Afrikaan instaat en gaan dit my lewe raak?

Rynhardt ·

Die probleem wat baie mense nie verstaan nie, is dat die Anc se ondersteuners gebreinspoel is en saam met die korrupte Anc, hou hul SA vir 23jaar gevangene met onderdrukking van Afrikaners.SA oppad na rewolusie!

Lampies ·

Sebastiaan, ons kan debatteer soos ons wil en allerhande moontlikhede ondersoek, maar daar is net een oplossing: selfbeskikking vir die Afrikaner soos daar by julle In Orania en ook op Kleinfontein. Sou die DA bewind oorneem, sal daar onteenseglik talle verbeterings in die staatshuishouding intree maar die dood gaan steeds in die Afrikaner se toekomspot ingeskep bly. Daar is geen wyse hoegenaamd hoe die DA in sy huidige gewaad bewind kan oorneem nie: miljoene huidige ANC’s sal eers vir hulle moet stem en die onafwendbare uiteinde gaan wees nog ‘n Afrosentriese sosialistiese swart party met regstellende aksie, Swart Ekonomiese Bemagtiging en grondrestitusie as beleid. Maimane se teregwysing (teregstelling?) van Helen Zille, wat in ‘n oomblik van helderheid gedeeltelik die waarheid gepraat het, illustreer presies wat met die die DA se wit ondersteuners gaan gebeur.

Selfbeskikking ·

Ja, selfbeskikking is ons enigste hoop. Afriforum moet maar daarop begin fokus.

apie ·

goeie werk mnr Biehl. As mens binne ‘n situasie geklem sit is n geheelbeeld soms vaag. Buitelandse SAners sien dit anders – hulle mis die land en die mense soos dit was, maar daardie dae is verby. Expats en oudSAners aanskou die besigheid vanuit die perspektief vanwaar hulle nou woon en werk en ‘n toekomsvoorspelling is vir hulle ook makliker
Die enigste opsie waaraan mens kan dink is om in geografies in sekere areas te hou vir veiligheid bv ook in die weskaap en werk onder mekaar uit te deel sonder om die wet te oortree . Dit en ondersteuningsnetwerke wat nuus deel, werk en dienste bied, verskansingsfondse ens ens. Basies iets soos Landbou.com vir afrikaanses

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.