Zuma en die Stalingrad-strategie

Deur Pierre Massyn

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Die afgelope dae, weke en selfs maande is daar een woord wat telkemale opduik wanneer oudpres. Jacob Zuma sy volgende skuif beplan om die Zondo-kommissie en die talle aanklagte teen hom te probeer ontglip: die Stalingrad-opsie.

Die woord het weer begin opslae maak ná die jongste skokkende getuienis voor die Zondo-kommissie, waar die vuisvoos belastingbetaler moes hoor van R5 miljoen per maand wat aan een van Zuma se vroue betaal is, van R83 miljoen om ’n BBP-vliegtuig “op te pas”, en van bedrae wat wissel van R2 miljoen per maand tot R4 miljoen, vir die oudpresident self.

Maar wat is die Stalingrad-opsie of -strategie? Die naam is afgelei van een van die bloedigste en mees uitgerekte veldslae in die geskiedenis van die mensdom, en ʼn keerpunt in die Tweede Wêreldoorlog: Stalingrad.

Ná hulle die vorige jaar net buite Moskou gestuit is, word die Fall Blau[1] deur die Duitse OKW (Oberkommando der Wehrmacht[2]) van stapel gestuur ingevolge die Führerweisung[3] 41 van 5 April 1942 en op 28 Junie 1942 begin die Heeresgruppe Süd[4] sy someroffensief. Met 14 divisies – sowat 330 000 manskappe en offisiere – ruk generaal Friedrich Paulus en sy Sesde Leër op na die reuse-nywerheidstad Stalingrad aan die oewer van die Wolgarivier – die skeiding tussen Europa en Asië. Die Duitsers vertrou op hul pantsers om met hul gebruiklike knyptangbeweging die knoop deur te hak; ʼn strategie wat hulle reeds met groot sukses in die oorlog aangewend het. Die Luftwaffe[5] bombardeer die stad, wat spoedig soos ’n maanlandskap lyk.

Duitsland se befaamde omsingelvermoë, danksy die mobiliteit van sy pantsers en ander swaarvoertuie, word nou grootliks geneutraliseer. Dis die Duitse Landser (voetsoldaat) wat die spit moet afbyt in hierdie bitter stryd. Hulle dring die buitewyke van Stalingrad op 23 Augustus binne. Die Russe onder genl. Vasily I. Chuikov grawe hulle in en veg met die desperaatheid van vasgekeerde diere. Het kameraad Josef Stalin se bevel 227 op 28 Julie dan nie gelui “Geen tree terug nie”? Vegsku soldate word eenvoudig deur fanatiese kommissarisse tereggestel. Elke huis, elke kelder en elke fabriek word ’n slagveld op sy eie. Doodsveragtend veg beide kante vir elke duim terrein. Elke straathoek word ’n doodsakker. “Ein Rattenkrieg”, ’n rotte-oorlog, noem die gewone Duitse soldate hierdie doodstryd.

Strategiese teikens soos die trekkerfabriek, die chemiese aanleg Lazur, die stasie en ’n gebied bekend as die Tennisraket (vanweë sy vorm) is ingeëts in die annale van die bloedige slag. Soms beset die Duitsers die kelderverdieping van ’n gebou en die Russe die boonste verdieping. Die oorlewendes word dikwels bepaal deur wie eerste sy handgranaat kan gooi. Die puinhope maak die toestande ideaal vir skerpskutters, soos uitgebeeld in die rolprent Enemy at the Gates.

Die Russe vul hul geledere aan deur troepe van die Oosbank van die Wolga te bring. Toestande in die gevegsones verval spoedig tot haglikheid. Daar is geen onderskeid tussen skuilplek, eetplek en slaapplek nie – dikwels ’n bomkrater of agter ’n muur wat stukkend geskiet is. Die vegters moet eet waar hulle slaap, en proviand moet onder lewensgevaar van die naaste landingstrook gekarwei word. Van sanitasie is daar geen sprake nie en die woord higiëne het geen betekenis nie. As jy ernstig genoeg verwond word, is dit ’n Heimatswund[6], en jy is gelukkig, want jy kan aan hierdie hel ontsnap en word teruggevlieg Duitsland toe – vir so lank daar nog lughawens soos Pitomnik and Gumrak in Duitse hande is.

Tog maak die Duitsers vordering en teen Oktober 1942 beset hulle reeds sowat 90 persent van die stad. Die Russe klou wanhopig aan slegs twee nou sektore – ’n skamele vier kilometer wyd – op die wal van die Wolga vas. Maar die formidabele Russiese winter sak toe en kry die Sesde Leër vinnig in sy dodelike greep. Die koue begin dadelik sy tol eis. Voorrade raak al hoe minder. Uit desperaatheid begin die manskappe perdevleis eet. Heinz Konsalik beeld die hongersnood dramaties uit in sy aangrypende werk Die Hart van die Sesde Leër. Die Wolga begin verys en die Russe kan nou oor die ys hul voorrade met sleë aanvul. Maar in Berlyn glo Hitler en sy Opperbevel steeds dat die stad reeds ingeneem is en verwys hulle na die verwoeste puinlandskap as Festung Stalingrad.

En toe begin die Russiese teenoffensief. Op 19 November 1942 stuur hulle Operasie Uranus van stapel. Hulle oorrompel die flankbeskerming van die Duitsers buite Stalingrad en vernietig in die proses die leërs van hul Roemeense en Hongaarse bondgenote. Die Sesde Leër is omsingel, vasgevang in ’n knyptang.

Hitler se generaals pleit by hom: “Die manne is klaar, hulle kan nie meer nie! Daar is nie meer kos nie. Hulle eet reeds rotte en bevrore aartappels. Die koue maak hulle dood. Hulle veg met hul laaste rondes ammunisie. Laat hulle uitbreek!” Tevergeefs. Op 22 Januarie 1943 land die laaste Duitse vlug op die enigste noodaanloopbaan wat die Duitsers nog oorhet, naamlik Stalingradskaja – en hy is slegs 400 meter lank!

Op 24 Januarie 1943 laat weet Paulus in een van die laaste radioboodskappe uit die gedoemde stad, dat hy 18 000 gewondes sonder enige mediese hulpmiddele het. Maar vir Hitler gaan dit lankal nie meer oor die verowering van ’n strategiese doelwit nie – dit gaan nou oor ’n ideologiese stryd, want Stalingrad dra immers die naam van sy doodsvyand, Josef Stalin self. Oplaas gee die Führer kop en gee die opdrag vir Unternehmen Wintergewitter – Operasie Winterstorm, op 12 Desember 1942: die briljante veldmaarskalk Erich von Manstein mag probeer deurbreek na die beleërde makkers, maar selfs hy kan nie deur die ring van staal breek wat die Rooi Leër om Stalingrad getrek het nie.

Oorgee is nie vir Adolf Hitler ’n opsie nie. Die Sesde Leër moet en sal tot die laaste koeël veg! Op 30 Januarie bevorder hy Friedrich Paulus tot veldmaarskalk – geen Duitse veldmaarskalk het al oorgegee nie. Die opsie is eenvoudig: jy veg tot die dood toe of jy pleeg selfmoord. Maar Paulus verbreek daardie erekode: hy gee die volgende dag, op 31 Januarie 1943, oor. Amptelik eindig die uitgerekte slag op 2 Februarie 1943, ná meer as vyf maande.

Dis ’n katastrofe vir Duitsland. Sowat 123 000 Duitse soldate word gevange geneem. Uiteindelik sou slegs sowat 5 000 van hulle ooit hul vaderland weer sien. Duitse verliese in hierdie epiese slag beloop nagenoeg 300 000. Geen weermag kan so ’n terugslag oorleef nie, en dit was die begin van die einde van Operasie Barbarossa in Rusland.

In sy suiwerste vorm beteken die Stalingrad-opsie dus om jou hakke in te slaan, nie ’n duim te wyk nie, jou vyand uit te mergel en doodeenvoudig langer as hy uit te hou. Dis onseker hoeveel Jacob Gedleyihlekisa Mhlanganyelwa Zuma van die bloedige slag van Stalingrad weet. Waarskynlik bitter min, allermins dat Stalingrad vandag Volgograd heet. Die feite wys dat hy tot op hede deur 39 getuies voor adjunkregter Raymond Zondo geïmpliseer is, en dat daar nie minder as 42 regskennisgewings voor sy deur gelê is. Een ding is seker: die arm van die gereg is lank. En hy is geduldig. Die tyd sal wel leer of Zuma met hierdie strategie van hom aan die regte kant van die tronkdeure sal bly.

  • Pierre Massyn is ’n historiese navorser en skrywer.

[1] Operasie Blou

[2] Hoofkommando van die Duitse Weermag

[3] Opdrag/bevel van Hitler

[4] Weermaggroep Suid

[5] Duitse Lugmag

[6] ʼn Wond wat so ernstig is dat  jy terug na Duitsland geneem moet word vir verpleging en herstel

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Baardman ·

Dink nie hy is so slim om so ‘n strategie te volg nie. Dink eerder dis n geval van arrogansie en onkunde.

Tsek! ·

Hou op om die belasting betaler se geld te mors. Stuur hom tronk toe en klaar.

MT ·

Lekker gelees aan hierdie interessante geskiedenis.

Ek wonder soms of ons Westerse lewensbeskouing ons nie kniehalter wanneer ons probeer sin maak uit dit wat rondom ons in Suid-Afrika aan die gang is.

Om van Zuma te verwag om skuld op aanklagte van bedrog en korrupsie te erken, is verregaande, as mens vertroud is met sy lewensbeskouing.

In 2004 verklap destydse ANC woordvoerder Smuts Ngonyama iets van die kollektiewe gedagtegang van blykbaar ALLE leiers dat hy (Smuts) “nie by die struggle aangesluit het om eendag arm te wees nie”.

Wanneer Wolf skaapwagter gemaak word, kan ek nie wolf verkwalik wanneer hy onder die skape verwoesting saai nie. Hy is immers Wolf. My woede moet gerig wees teen diegene wat Wolf met so ‘n heilige taak toevertrou het.

Frans ·

Zuma weet die kommissie se leeftyd is beperk (Verstryk einde Februarie) en as die tyd verby is dan hoef hy nie weer sy verskyning voor dit te maak nie, Kommissie doen tans aansoek om ‘n 3 maande verlenging.
Sedert 2004 beveg hy die korrupsie skandaal .Ondanks verdoemende getuienis :”The trial ended on 4 May 2005, with Judge Hilary Squires delivering his verdict on 2 June. Shaik was found guilty on two counts of corruption and one count of fraud, with judge Squires stating in his 165-page verdict that there was “overwhelming” evidence of a corrupt relationship between Shaik and Zuma. ” loop Zuma nog steeds vry rond
Zuma is nou 78 en die kanse is goed dat hy sal sterf sonder om vir sy dade te boet.

annie ·

En ‘n ander terloops: Wou die ou met 35 letters in sy name en van ook na Rusland vlug en daar verder gaan uithou? Miskien sal Poetin se troepe se geduld met veldmaarskalk Zuma se Nkandla-aanvalsmag dalk die kortste in die geskiedenis wees.

Wil ·

So ver ek weet het hulle in daai jare nie Geskiedenis op Standerd 4 of 5 vlak aangebied – Waarom hy nog met sy Honderde en Tiene sukkel.

Lian ·

Ek wonder as ons Koning Goodwill Zwelenti i vra om Zuma tot ander insigte te kom . Zuma Moet vir die koning luister

Objektief ·

Maklik om die strategie omver te werp; Laat hy sy eie regskostes betaal. Ek belowe jjou dit sal vinnig einde.

Solank as die ANC hom ten alle koste beskerm sal dit aanhou want hy word toegelaat om dit te doen . Sy kollegas is bang hy haal dalk van sy leers uit die kas uit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.