Zuma het verlede jaar al sy Mugabe-oomblik gehad

obert mugabe jacob zuma

Pres. Jacob Zuma en pres. Robert Mugabe van Zimbabwe (Februarie 2013). Foto: GCIS

Deur Jeannette Gnade

ANC-veterane en strydrosse het ná hulle beraadslagingskonferensie aanbeveel dat die party se leiers voortaan deur middel van ʼn een-lid-een-stem-metode verkies word. Hulle is diep bekommerd oor die verdeeldheid wat in die ANC ontstaan het – veral teen die einde van Jacob Zuma se tweede termyn.

Volgens die voormalige leiers moet die party se verkiesingstelsel in sy geheel hersien word en die Onafhanklike Verkiesingskommissie moet toesig hou oor alle verkiesings. Dit moet opgevolg word met die vestiging van ʼn hersieningskommissie wat gereeld kyk of die ANC se leierskapsverkiesing nog haalbaar is en die wil van die party se ondersteuners weerspieël. Dit is veral die pos van ANC-president en -voorsitter wat deur middel van ʼn stelsel van een-lid-een-stem beslis moet word.

Daar is ook voorgestel dat die party se integriteitskomitee, wat in 2013 gestig is, as ʼn onafhanklike grondwetlike struktuur moet funksioneer wat nie deur die party se bestaande leiers beïnvloed kan word nie. Die kommissie moet ook toegelaat word om sy verslae en bevindinge regstreeks aan die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee voor te lê.

Die integriteitskommissie was ʼn uitvoeisel van ʼn resolusie wat op die ANC se belangrike Mangaung-konferensie in 2012 geneem is en staan onder leiding van die oud-Rivonia-beskuldigde, Andrew Mlangeni. Daar is vyf jaar gelede al besef dat sommige ANC-lede hulle aan onbehoorlike en selfs misdadige gedrag skuldig maak.

Die kommissie het dan ook verlede jaar aanbeveel dat pres. Jacob Zuma moet bedank omdat die omstredenheid oor sy doen en late buite beheer raak. Die laaste strooi was die afdanking van die bekwame finansminister Pravin Gordhan wat toe verplig was om druipstert van die buiteland af terug te keer waar hy nog probeer het om Suid-Afrika se finansiële aansien te red.

Pres. Zuma het geweier om te bedank al het die integriteitskommissie bevind dat hy die beginsel en tradisie van kollektiewe leierskap in die ANC en sy alliansie-vennote verontagsaam het. Dit was blykbaar Zuma se Mugabe-oomblik. Hy het halsstarrig geweier om pad te gee.

Volgens die ANC-veterane is hulle ook skuldig dat die party in die moeras beland het, maar reken die 105 jaar oue beweging kan steeds gered word. Die strydrosse se voorstelle klink of dit kan werk en tot ʼn mate weer integriteit na die party sal terugbring, maar ʼn mens wil amper vra: Vir hoe lank?

Integriteit, eerlikheid en ʼn gevoel van opregte landsbelang is nie waardes wat deur middel van reëls afgedwing kan word nie. Jy het dit, of jy het dit nie. Robert Mugabe is ʼn sprekende voorbeeld.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Hoe kan die ANC-veterane en strydrosse wil hê dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie moet waghou oor ANC prosesse? Die Onafhanklike Verkiesingskommissie dien die hele Sui-Afrika, nie die ANC nie.

Eish ·

Daar is niks wat n dag so kan befonkfaai as n berig oor die hoofkleptokraat en die halfhartige, nuttelose pogings om hom uit die kussings te lig nie.
Dan die aanhoudende plasing van rubrieke wat dieselfde mistroostigheid nuut hou deur sinonieme beriggewing.

Miskien moet ek dit nie lees nie en myself die lyding spaar, maar dis die hoop dat alles nie verby is, alvorens dit verby is nie, wat my laat ronddolwe in die linguïstiese moeras van die doodsheid van die situasie elke keer uit n nuwe invalshoek, al is net net n halwe graad verskil.

Waar is die anti depressante?

Spiekeries ·

Eish, goeie kommentaar en taalgebruik!!
Anti depressante help nie eens meer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.