Zuma-jaar – ʼn Administratiewe gemors

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Elke jaar is daar noodkrete van afgestudeerdes in medieseberoepsrigtings wat alles weergawes is van: “Help! Ek is nie geplaas vir my Zuma-jaar nie.”

Die administratiewe gemors wat met die verpligte Zuma-jaar (gemeenskapsdiensjaar) vir gesondheidswerkers gepaardgaan raak elke jaar erger. AfriForum Jeug het al ʼn paar klagtes van studente ontvang in hierdie verband en daarom staan hulle hierdie jaar gereed om te litigeer in die geval waar jongmense se loopbane deur die regering se wanadministrasie gestrem word.

Dit is ʼn verreikende probleem wat dringend aangespreek moet word. Die administratiewe gemors strem nie net jong mediese lui se loopbane en kanse om ʼn inkomste te verdien nie, maar dit vererger ook die tekort aan gesondheidswerkers in Suid-Afrika. Daar is in hierdie jaar bevind dat Suid-Afrika minder as een dokter per 1 000 pasiënte het (0,31 dokters per 1 000 pasiënte). Dit is kommerwekkend dat daar in 2019 meer as dubbel soveel was toe die statistiek getoon het dat daar 0,79 dokters per 1 000 pasiënte was. In vergelyking hiermee het die Verenigde Koninkryk 3,03 dokters per 1 000 pasiënte, terwyl Brasilië, wat ook ʼn ontwikkelende land is, 2,32 dokters per 1 000 pasiënte het.

So, waarom die tekort? Die meeste mense sal heel eerste emigrasie as rede aanvoer en hulle is ongelukkig nie heeltemal verkeerd nie. Daar is dan ook ʼn lys oplossings wat mens hiervoor kan bied, soos om die beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te skrap, rassekwotas by die keuringsproses te verbied en meer mediese fakulteite in Suid-Afrika tot stand te bring. Ek sal met hierdie voorstelle daarvan beskuldig word dat ek lugkastele bou, maar daar is een voorstel wat nie veronderstel is om onuitvoerbaar te wees nie: plaas pas gekwalifiseerde gesondheidswerkers vir hulle Zuma-jaar. Ongelukkig blyk dit dat selfs hierdie eenvoudige voorstel onmoontlik is vir die regering se internskap-en-gemeenskapsdiensprogram (ICSP).

Vir gesondheidswerkers om ten volle gekwalifiseerd te wees en toegelaat te word om in Suid-Afrika te praktiseer, moet hulle ná die voltooiing van hulle studies (en in sommige rigtings, soos dokters, na die voltooiing van ʼn internskap) ʼn verpligte jaar van gemeenskapsdiens doen. Die pas gekwalifiseerdes moet deur die ICSP-portaal aansoek doen om geplaas te word. Plasings is veronderstel om spoedig te geskied sodat die gesondheidswerkers in Januarie vir diens kan aanmeld.

Daar is dan ook ʼn sogenaamde halfjaarsiklus waar gekwalifiseerdes, wat nie in Januarie geplaas is nie (of vir ander redes eers later aansoek vir ʼn plasing gedoen het), teen Julie geplaas moet word. Indien ʼn persoon geskuif word deur die regering na die halfjaarsiklus beteken dit dat die persoon, as gevolg van die regering, vir sewe maande werkloos is, omdat hy of sy nie mag werk voordat die Zuma-jaar voltooi is nie.

Die jong gesondheidswerkers moet op die ICSP-portaal verskeie voorkeure, soos dorp/ stad en mediese behoeftes kan aandui. AfriForum Jeug het egter verneem dat daardie opsie nie altyd vir almal beskikbaar is nie. ʼn Afgestudeerde apteker het laat weet dat al die voordele, wat punte getel het vir die eerste siklus, weggeval het met die halfjaarsiklus van 2022. Dit sluit voorbeelde in soos dat ʼn individu veronderstel is om geplaas te word binne ʼn sekere area wanneer die individu na ʼn naasbestaande moet omsien of getroud is met ʼn lewensmaat wat reeds werk in ʼn spesifieke dorp/ stad.

Die departement van gesondheid is saam met belangegroepe, soos die nasionale en provinsiale departement van gesondheid, die Nasionale Tesourie en die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, verantwoordelik vir die plasings. Daar is talle redes waarom die plasings ʼn administratiewe gemors is. Dr. Mvuyisi Mzukwa, die ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, het verlede jaar gesê: “Dit word ʼn stryd tussen die provinsiale departemente, die Tesourie en die nasionale departement van gesondheid.”

Daar is 18 medieseberoepsrigtings wat deur die administratiewe gemors geraak word, van aptekers, tandartse en dokters tot fisioterapeute, dieetkundiges en arbeidsterapeute. Suid-Afrikaanse burgers benodig die kundigheid van hierdie pas gekwalifiseerdes. Tog word hulle dikwels baie swak deur die ICSP behandel. Daar is selfs ʼn mediese dokter, wat haar kwalifikasie met onderskeiding verwerf het, wat moedeloos by AfriForum Jeug moes aanklop omdat sy ʼn studielening moet afbetaal, maar werkloos is as gevolg van die swak administrasie van die ICSP. Sy het van die nasionale kantoor gehoor dat sy geplaas is by ʼn hospitaal in die Oos-Kaap, maar die hospitaal hou vol dat hulle nie ʼn beskikbare pos vir haar het nie. Hierdie jong dokter, soos ander gekwalifiseerdes wat vir AfriForum Jeug om hulp genader het, sê dat korrespondensie van die ICSP heeltemal afwesig, of baie vertraag is.

Dit is onaanvaarbaar dat pas gekwalifiseerdes, wat bereid is om in gemeenskappe te dien as gesondheidswerkers, gekonfronteer word met onnodige uitdagings wat deur die onbevoegdheid van die ICSP veroorsaak word. AfriForum Jeug gaan dit nie verder duld nie en staan gereed om te litigeer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: René van der Vyver

René van der Vyver is woordvoerder van AfriForum Jeug. René het haar meestersgraad (cum laude) in Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar navorsingstema, “Kreatiewe Afrikanerkultuurtoerisme”, ontwerp omdat sy passievol is oor die Afrikanerkultuur. René se passie gee egter die toon aan op verskeie gebiede, soos wanneer sy standpunt inneem oor aktuele kwessies op Twitter en YouTube (@realReneKruger).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Indien die ANC soveel sukses met hul mislukkings as met hul suksesse behaal, sal die mislukte suksesse baie meer as die suksesvolle mislukkings wees en sal die suksesvolle suksesse die mislukte mislukkings suksesvol laat misluk. Of so iets…

Republikein in die Wes Kaap ·

Maak sin. Het nog nooit só daaraan gedink nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.