Zuma: Nkandla, Dubai of Pollsmoor?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Wat presies is die implikasies van die uitslag van die stemmery in die parlement oor die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma? Want dít kan jy maar weet, daardie uitslag was heel moontlik vir Zuma die skrif aan die muur.

Een van drie dinge kan met hom gebeur: Nkandla, Dubai of Pollsmoor.

Kom ons begin met die volgende stelling: Die uitslag van die stemmery was die beste een denkbaar. As die mosie geslaag het, was Suid-Afrika in ’n taamlike gemors gedompel.

Zuma en sy hele kabinet sou volgens die Grondwet moes bedank het. En, Zuma kennende (Zuma is Nommer Een en al die ander kom laaste), het die kans bestaan dat hy ’n staatsgreep sou probeer pleeg het.

Die woord hier is probeer, want dis ’n ope vraag of die hele weermag agter hom sou gaan staan het. Die saak het selfs die potensiaal van burgeroorlog in hom gehad.

Dit alles is ons nou genadiglik gespaar. Maar die feit dat ’n geskatte 30-35 ANC-LP’s hul stert teen Zuma gelig het, is ’n sigbare bewys daarvan dat daar selfs in die ANC stadigaan ’n kentering oor Zuma se flagrante magsmisbruik en korrupsie, en sy uitverkoop van ons land aan die familie Gupta, sigbaar word. En hoe ’n mens ook al daarna wil kyk, dis positief.

In die verbygaan wil ek sommer ook ’n dwarsklap na Mmusi Maimane, leier van die DA, en sy party inkry oor hul onverstandig beplande mosie om die ontbinding van die parlement en ’n nuwe verkiesing af te dwing. Die kans dat dit kan slaag, is nul komma nul persent – dis een ding vir ’n ANC-LP om in die geheim teen Zuma te stem; dis ’n ander een om iets te laat gebeur wat sy maandelikse salaris in die gedrang kan bring.

Belangriker nog: As daar nóú ’n verkiesing moet wees, is die kans goed dat die ANC weer ’n meerderheid setels wen – nie ’n groot meerderheid nie, maar tog. En dan sít ons weer vir die volgende vyf jaar met die spul.

Om nóú ’n verkiesing af te dwing gaan bowendien die ANC in één kraal jaag. En dis juis wat die opposisie moet probeer voorkom.

Gee die ANC tou. Laat hom homself behoorlik ophang. Dinge is nou só vloeibaar in die Suid-Afrikaanse politiek, ook in die ANC, dat ’n skeuring tot een van die besliste moontlikhede behoort.

Verskeie permutasies is moontlik.

Een: Miesies (groot ekskuus: “dokter”) Nkosazana Dlamini-Zuma wen die leierstryd in Desember en word ANC-leier, terwyl die Nommer Een tot die volgende verkiesing in 2019 nog president bly.

Die kans is lewensgroot – dit het die uitslag in die parlement getoon – dat die ANC kan skeur of in elk geval ’n afskilfering beleef, moontlik met Cyril Ramaphosa as leier van die wegbreek-faksie. Hy kan dan aansluiting soek by Bantu Holomisa en Terror Lekota se partytjies. Dis ook nie ondenkbaar dat hy en die DA mekaar op die duur kan vind nie.

Teoreties is dit verder nie onmoontlik dat Julius Malema weer nader aan die Zumas kan beweeg nie. Die ideologiese verskille tussen hulle is immers flenterdun.

Suid-Afrikaanse waarnemers met wie ek die afgelope tyd gesels het, meen ewenwel dat die vyandigheid tussen Malema en die Zumas só groot is dat die kans van só ’n versoening byna nul is. Dit kan so wees, maar ek het al eienaardiger dinge as dít in die politiek gesien; dis een van daardie moontlikhede wat ’n mens weens die vloeibaarheid van sake nie summier kan afskryf nie.

Dan kom die 2019-verkiesing. Dan is die kans dat die ANC sy volstrekte meerderheid kan verloor, lewensgroot. Hy kan dalk steeds die grootste party wees, maar sal nie op sy eie kan regeer nie.

Dis dán wanneer die politieke werklikhede – die moontlikheid dat die Zuptas die plek aan die trog waar hulle die snoete indruk, kan kwytraak – ’n rol kan speel om wat van die ANC oorgebly het en die EFF bymekaar uit te bring.

Of hulle saam ’n meerderheid sal hê, is onmoontlik om nou al te voorspel. Selfs dít is onseker.

Al wat ’n mens met groot sekerheid kan sê, is dat koalisiepolitiek Suid-Afrika se voorland is. Die kans dat ons land ná 2019 deur net ’n enkele party geregeer word, is baie na aan nul.

’n Tweede permutasie is dat Ramaphosa in Desember wen. Ek sien nie eintlik dat die Zumas dan gaan wegbreek nie, want dis die sekerste manier om jou plek by die trog heeltemal te verloor.

Dit beteken dat die ANC tot 2019 sal regeer, maar daar kan wel verwag word dat Ramaphosa sal begin skoonmaak in die ANC. Ek verdink hom nie juis van verskriklike eerlikheid en integriteit nie, maar dis in sy magspolitieke belang om sy opponente – die Zuptas – uit te rangeer.

Hy kan ook van sy mededingers in die ANC – ’n mens dink byvoorbeeld aan Lindiwe Sisulu en Baleka Mbete – met beloftes van hoë poste soos adjunkpresident aan sy kant kry.

In die proses kan dit ook eerliker en beter regering oplewer, al moet ’n mens jou verwagtinge op beterskap maar taamlik laag stel. Maar dit sal beslis minder sleg wees as nou. Die Guptas kan hulle vir ’n pak slae klaarmaak.

As Ramaphosa die kitaar in die ANC slaan, is die kans beter dat die party in 2019 sy volstrekte meerderheid kan behou, maar niks is seker nie; alles is moontlik. Ook dán kan die ANC sy meerderheid verloor.

Die punt is dat die – toegegee, perverse – politieke parlementêre stabiliteit wat ons land sedert 1994 ondervind het, heel waarskynlik tot die verlede behoort.

Dis weliswaar ’n onaangename tyd wat ons beleef. Maar historici sal vorentoe hul hande vol hê om al die strominge, faksies en belange te identifiseer en na te gaan hoe die magstryd verloop het.

Vir ’n joernalis, politieke kommentator en eietydse historikus soos ek is dit eintlik ’n besonder opwindende tyd. Toe ek in die jare 60 van die vorige eeu in universiteitsvakansies by ’n koerantredaksie inval, het die nuusredakteur, wyle Das Herbst, aan my gesê: “Ek kan sien jy het drukkersink in jou are, nie bloed nie.”

Ek het by wyse van spreke steeds drukkersink in my are.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

Eish ·

Baie dankie vir n lekker(lag)lees artikel wat ons gewone tweedeklas burgers ook kan verstaan. Voorwaar opwindende tye wat voorlê indien koalisie politiek ons voorland is. Sou karakter, moraliteit en etiek tog maar n wesenskenmerk van politici gewees het, sou ek baie rustiger geslaap het. Koalisiepolitiek gaan ons situasie baie meer soos die van Lesotho maak, hopelik sonder die gewapende magte se ingryping. Ek dink ook dat die DA aansienlike blanke steun gaan verloor na die Zille debakel ten gunste van die VF. Dalk maar beter dat onse klompie saam tentopslaan daar.

Kobus Hattingh ·

Hoop so die skrywer is reg want as die ANC hierdie land gaan bly regeer soos tans bly daar absoluut NIKS oor nie.

Frans C ·

Daar is een ding wat ‘n mens so gou as wat moontlik is moet van vergeet en dit is die gedagte dat demokrasie in Afrika en dan ook Suid Afrika so beoefen sal word,soos dit in lande soos Amerika en Europese lande soos Nederland,Engeland gedoen word.

Demokrasie in Afrika word gebruik om ‘n meerderheidsparty,waarvan vele voormalige
sg vryheidstryders was aan bewind te bring en hul daar te hou,want eenmaal aanbewind,word dit van die bevolking verwag om die party te help om sy doelwitte te verwesentlik.

Enige afvalligheid selfs binne die regerende party lei tot ‘n heksejag en alhoewel afvalliges
nie soos toe die ANC in ballingskap was, tereg gestel of na strafkampe verband word,kan ‘n mens verwag dat hul so geroskam gaan word dat hul moeilik in die openbaar,sal rebelleer en uit die party stap.

‘n Mens kan verwag dat die ANC met ‘n felle aanslag gaan kom en sy teenstanders behoorlik gaan swartsmeer en die verlede weereens behoorlik gaan opwarm en op sy kiesers se emosies,die swart Afrikaan is ‘n emosionele mens, gaan staatmaak om nog 5 jaar aan bewind te bly.

Vrydenker Historikus Erdvark ·

Leopold, baie dankie vir hierdie insiggewende artikel. Ek stem saam.
Suid-Afrikaners moet as nasie nog leer om te kruip, wat nog van ekonomies wêreldkompeteerbaar wees. Ons moet nog leer wat is ons identiteite, ons moet nog leer om teenoor mekaar verdraagsaam te wees, om vergewensgesind te wees, om met mekaar sienswyses uit te ruil oor baie koppies koffie, om ons geskiedenis en familiegeskiedenis te ken, om betrokke by burgerlike strukture te raak, om ‘n opbouende lewensbenadering en eerbare werksetiek te kweek, om op te staan vir reg en geregtigheid.

Die tydperk 1994 – 2019 is ‘n waardevolle leertydperk wat nie versmaai moet word nie, al kos dit ons baie klasgelde. Solank ons nie net by die melkkossies bly en net een Animal Farm, vir ‘n volgende verruil nie.

Hendrik ·

Ek dink dat uit die lesse geleer sedert 1994 behoort ons as Afrikaners al baie meer volwasse teenoor die politiek in S.A te wees. Dit is tog duidelik dat ons ‘n minderheidsinvloed het op die groter politieke prentjie en dat ons baie kanse verspeel het in 1994 onderhandelige om ‘n beter uitkoms in die demokrasie te kry. Daarom moet die burgeregte strukture gebruik om die visie van Afrikaner toekoms te vestig. Ek dink die algemene probleem is dat die meerderheid Afrikaners dink dat deur net elke 5 jaar die kruisie te trek dat alles gedoen is vir ons toekoms. Die groot werk word natuurlik buite parlementer gedoen om Afrikaner se toekoms te verseker.

Leergierig Agiel Bosvark ·

My een mentor het dit altyd so gestel: “Mens leer meer uit jou foute as uit jou suksesse.”

Die vraag is: “Ken ons as Afrikaners en Suid-Afrikaners ons geskiedenis en leer ons wel uit ons verlede? En wat doen ons met hierdie lesse? Verbeter ons op die areas vir verbetering en bou ons kreatief op die goeie van die verlede?”

Lesers kan gerus die internasionaal erkende Excellence Frameworks vir bestuursuitnemendheid, gebaseer op wêreld beste praktyke, bestudeer.

Hendrik ·

Wel ek sien S.A sal na die federale state toe beweeg net omdat dit nie ekonomies sal kan oorleef met die huidige stelsel nie. Die Wes-Kaap begin al klaar in ‘n sekere mate onafhanklik raak van die res van S.A. So sal ook ander ekonomiese selle begin ontstaan waar daar natuurlike groepering gaan plaasvind. Netso gaan daar natuurlike groepering plaasvind van Afrikaners en dit gaan gedryf word deur ekonomiese oorlewing. Lesse geleer vanaf 1994 tot nou sal gebruik word om ‘n homogene werksmag te skep wat pas by die ekonomies bevolkinggetalle. Die gedeeltes van die land wat dit nie doen nie gaan verval, soos een van die senarios wat Frans Cronje (Rasse instituut) voorspel het. Ja Koos daar is ‘n toekoms vir die Afrikaner maar die mans wat elke naweek bankvas voor die DSTV sit en niks doen sal nie daar hoort nie.

Alida ·

Wat is die probleem hier. Zuma se eie woorde “nobody is above the law”. Dan hoort hy mos in die tronk maar Pollsmoor is bietjie luuks. “Suncity” in Johannesburg is net reg vir hom.

Peanut ·

Ek weet nie waaroor raak Almar ao bly nie. Die feit dat na genoeg 30 dalk teen zuma stem is nie verblydend nie want die brag wat ek vra stem hulle teen hom omdat hulle moeg is vir korrupsie of omdat baie v hulle in stilswye die eff steun. Dan die wat vir hom gestem het was dit uit vrees DMV afpersing of keur hulle die korrupsie goed.

Therese van Schalkwyk ·

Noem slegs één voorbeeld van ‘n suksesvolle koalisieregering iewers in Afrika, dan sal die woorde, “koalisiepolitiek is Suid-Afrika se voorland”, dalk nie fronsend gelees word nie.

Let wel, nie munisipaliteite waar die agbares sommige vergaderings net-net oorleef nie.

Hendrik ·

Dink net Therese indien Jocob vervang word in Desember as president van ANC en ook ook vervang word deur ‘n tydelike President van die land tot 2019 (soos Mbeki), is daar geen rede hoekom die ANC en die EFF nie in koalisie kan gaan op munisipalevlak nie. Dan kan die DA ‘n paar metros en munisipaliteite verloor na ANC kant.

Verwonderd ·

Dankie vir goeie artikel. Ek wonder nog steeds of ons ooit ‘n 2019 verkiesing sal beleef? Namma one se ego kan nie soveel houe vat dat hy in ‘n gat êrens sal wil gaan weg kruip nie, hetsy Polsmoor of Dubai.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.