Zuma nou nóg nader aan sy einde

President Jacob Zuma. Argieffoto.

Suid-Afrika beleef tans politieke opwinding soos min tevore. Pres. Jacob Zuma het 15 ministers en adjunkministers in die pad gesteek, en ’n opstand dreig.

Dié artikel gaan slegs sydelings oor Zuma se motivering. Die rede wat sy kamp aangegee het – die bestaan van ’n “memorandum” waarin die afgedankte minister van finansies, Pravin Gordhan, teen hom saamsweer – is só duidelik ’n vervalsing dat geen mens by sy volle verstand daarin sal trap nie.

Nee, Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het die puntjie van die sluier gelig toe hy gesê het die party is nie oor die kabinetsverandering geraadpleeg nie. “Na my mening as sekretaris-generaal voel ek die lys is elders ontwikkel en aan ons gegee om dit te bekragtig.”

Daardie “elders” waarna hy verwys – wat presies bedoel hy? Is dit ’n bedekte bewering dat die familie Gupta aan die president voorgeskryf het wie om in die kabinet aan te stel? Hoe ook al, die stap het ’n opstand sonder weerga in die ANC tot gevolg. Kom ons ontleed die kans dat dit kan slaag sistematies en rasioneel.

Daar is in teorie vier roetes wat gevolg kan word om Zuma tot ’n val te bring.

Die eerste is die soort “rollende massa-aksie” wat die ou Nasionale Party-regering beweeg het om met die ANC/SAKP te begin onderhandel. Dis egter ’n ope vraag of jy dieselfde soort oorweldigende steun as destyds daarvoor gaan kry.

Dis bowendien ’n roete wat buitengewoon gevaarlik is. Suid-Afrika het ’n kwarteeu ná die oorgang van 1990-’94 steeds te make met die chaotiese erfenis van gelegitimeerde wetteloosheid wat die ANC destyds aangemoedig het. Niemand by sy volle verstand wil dit herhaal nie.

Die tweede roete is dat die ANC ’n spesiale kongres belê om Zuma as private burger te “herontplooi”. Gesien die stewige wortels wat Zuma deur die jare in die ANC-takke gevestig het, is die kans dat dít kan gebeur, só klein dat ’n mens dit maar kan afskryf.

Roete drie en vier loop deur die Nasionale Vergadering.

Kragtens art. 89 van die Grondwet kan die president van sy amp onthef word op grond van ’n ernstige skending van die Grondwet of die reg, ernstige wangedrag, of ’n onvermoë om die funksies van die amp te verrig. Laasgenoemde slaan veral op siekte, verstandsverbystering of so iets.

Daar is ’n goeie saak voor uit te maak dat Zuma ruimskoots voldoen aan eersgenoemde. Maar dis geen regsproses nie; dis ’n politieke proses, en in die Nasionale Vergadering is ’n meerderheid van tweederdes – 267 van die 400 lede – nodig. Met die ANC se 249 lede is daar geen kat se kans dat dié meerderheid bereik kan word nie.

Maar daar is nog ’n moontlikheid. Art. 102(2) bepaal dat ’n gewóne meerderheid ’n mosie van wantroue in die president kan aanvaar, in welke geval die hele kabinet moet bedank.

Dit beteken dat minstens 201 LP’s nodig is om Zuma en sy kabinet af te dank. En dít beteken op sy beurt dat 50 ANC-LP’s bereid moet wees tot ’n rebellie teen hul eie president en kabinet.

Die masjinerie om só ’n mosie van wantroue in te stel is reeds aan die gang. Maar sal genoeg ANC-LP’s hul gewig by die opposisie inwerp?

Zuma is nie sonder troefkaarte nie.

Allereers moet ’n mens nie sy sluheid en taktiese vernuf onderskat nie. Hy besit ’n soort instinktiewe aanvoeling vir sy teenstanders se swak plekke en ’n mens moet verwag dat hy dit genadeloos sal uitbuit.

Ten tweede is hy as president die kitaarslaner, die man wat gunste en gawes aan sy ondersteuners kan uitdeel en sy opponente straf. Dis presies wat hy verlede week gedoen het. Dit kan menige LP wat hom nié steun nie, twee keer laat dink.

Derdens het Zuma niks te verloor nie. Hy hoef nie meer ʼn verkiesing te veg nie. Die ondersteuningsbasis wat werklik saak maak, is die ANC se parlementêre koukus en niks meer nie. Dit vereenvoudig sy saak.

Aan die ander kant kan hy ook nie heeltemal oorgerus wees nie. Dis weliswaar niks nuuts dat afgetrede politici soos Kgalema Motlanthe, Trevor Manuel, Barbara Hogan en die onlangs ontslape Ahmed Kathrada hom aanval nie. Dat dienende ANC’s soos adj.pres. Cyril Ramaphosa, sekretaris-generaal Gwede Mantashe, tesourier-generaal Zwide Mkhize en hoofsweep Jackson Mthembu (plus die SAKP as party en verskeie ministers) hom so openlik aanvat, het nog nooit gebeur nie.

Dis ’n teken aan die muur, sou ’n mens kon sê.

Hierby kom ook die feit dat “Nenegate” – die nederlaag wat Zuma in Desember 2015 gely het toe hy gedwing is om Gordhan aan te stel – sy magsbasis in die ANC duidelik verswak het. Daardie nederlaag het gewys dat hy kwesbaar is.

Daarby is die opstand in die burgerlike samelewing besig om tot orkaansterkte toe te neem. Dis net die Guptas se skoothondjie-media – die televisiekanaal ANN7 en die propagandablad The New Age – wat die president nog voluit steun. Dat die Afrikaanse media skerp prinsipiële kritiek op hom uitspreek, is te wagte, maar selfs die koerante wat onder swart lesers versprei word, wil niks meer van hom weet nie.

Bowendien word hy steeds meer ’n flou makou. Wat beteken dat sy politieke houvas op die ANC steeds verswak.

Voorts mag Zuma ’n sluwe taktikus wees, maar ’n goeie strateeg is hy beslis nie. ’n Goeie strateeg sou nie toegelaat het dat hy in die huidige gemors beland nie.

Die momentum is duidelik téén die Nommer Een. Die Guptas, Nkandla, Nenegate, die gereelde korrupsieskandale wat feitlik weekliks in die onafhanklike media oopgeruk word, plus nou die afdanking van 15 ministers en adjunkte – deur dít alles het hy sy politieke kapitaal tot ’n rekord-laagtepunt laat daal.

Die groot vraag is of dit verby die kritieke minimum gekrimp het om sy bankrotskap amptelik te laat verklaar. Die vraag hierop kan in die finale instansie slegs deur die ANC – en dan meer bepaald die ANC-koukus in die parlement – beantwoord word.

Daardie antwoord, so lyk dit, kan gouer, eerder as later, gegee word.

Dis nie onmoontlik dat Zuma hierdie storm ook kan oorleef nie. Maar sy einde nader. Of dit nou binnekort of later gebeur.

Hou hierdie ruimte dop.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Gerhard ·

Lyk my eerder later. Die ANC top 6 het laer getrek om Zuma en sê hy gaan nerens heen nie.

apie ·

zuma gaan nerens nie. anc parlementslede is te gerieflik of te bang om sonder anonimiteit teen hom te stem en bedank liewer. dus kraai hy koning. hy het dus 55miljoen mense verander in sy slawe. hulle betaal soet hulle belasting en verskaf werk, kry toelae ens ens. hy het almal verlam met sy gif

JJ ·

Hy is so ver van sy einde af soos wat ek as n blanke man is om werk in die land te kry…….. Die val van die rand pla hulle nie want hulle almal sit met beleggings ind die buite land soos VSA so hoe swakker die rand hoe meer kan hulle uitkoop in SA met hulle dollars ens. …….

Zoempie gaan bly ·

ZUMA is so ver van sy EINDE af soos MUGABE van syne was 20 jaar gelede, Zuma het mooi gaan kers opsteek by Mugabe en hy het haantjie Malema gekry om solank vir hom voorbrand te maak. Hy as President gaan te veel aandag trek as hy nou rewolusionere uitsprake maak, alhoewel hy kort kort Umshini Wam sing. Die hele Umkhonto Sizwe spulletjie .. WAAR HET HULLE GEVEG? Ek kan nie dink dat hulle in SA teen die SA weermag ooit geveg het nie of verbeel ek myself? MALEMA gee net voor om teen Zuma op te staan, hy is daar om ALMAL te moboliseer en dan draf hy en sy ondersteuners oor na die ANC, dan sit al die ou wittetjies en bruinetjies en indiertjies en almal wat SAAM met hom geprotest het in BOLLIESTRAAT. Malema is ‘n EFF leier wat oorlog en grondonteiening en die afslag van WITTES voorstaan, HOEKOM wil julle saam met hom gaan protest? Hy gaan julle verraai soos Kortbroek van Schalkwyk .. hierdie keer gaan die gevolge net erger wees. ZUMA GAAN BLY .. of julle nou bande gaan brandsteek of highways gaan blok. .. Hy het SEKER gemaak hy omring homself met ondersteuners VOORDAT hy hierdie stap geneem het.

chrisp ·

Netso.
Verder is ek van mening dat hy juis die komende gemors gaan gebruik om die grondwet te verander om sodoende lewenslank president te word. Ek het lg reeds ‘n paar keer gese(hoop ek is verkeerd) net tyd sal leer.

Zuma word telkens onderskat en ek dink die keer ook.Hy is baie slimmer as wat meeste mense dink.

chrisp ·

Ek wil graag byvoeg dat ek verskil van Leopold wat Zuma die strateeg aanbetref.Ek glo hy word hier ook onderskat en dat al sy skuiwe juis tedoen het met sy president “for life” plan.

Peanut ·

Ek stem heeltemal met jou saam umkontowizizwe =eff. Hoe het Martino altyd gese kul jou hier kul jou daar en siedaar. Malema gaan nog oorvat en hy het by 2 meesters geleer. Pasop vir malema

Charmaine Griffiths ·

Gebruik dieselfde rede – Zuma se verskoning klink soos egskeiding ” irretrievable differences ” vir die rede hoekom hy Pravin afgedank het. KLAS AKSIE vir alle Suid Afrikaners let your fingers do the walking, hoeveel miljoen handtekeninge het jul nodig vir ‘n klas aksie teen Zuma? Of soos Garfield al vantevore vir my vertel het – ek leef in ‘n simplistiese idee

Landi ·

Ag komaan man, Zuma sal nog vir lank baie skade aanrig en sy “puppets” ondersteun hom want hulle trek net soveel voordeel soos hy. Waarom die hand byt wat jou voed. Hulle weet as hulle teen hom opstaan sit hulle almal sonder werk…….nie dat hulle werk nie.

Rynhardt ·

Mantashe van Anc het reeds aan media vsndag bekend gemaak dat hul agter die prez staan! Zuma gaan nie bedank of n tronk sien nie.Hy en sy maatjie, Malema sal albei met n “bang” uitgaan.Albei is voorstanders van rewolusie.Zuma was nie verniet vir twee termyne gekies om te regeer nie.Hy en Anc het klaar ekonomie vernietig en dit is maar net die begin van SA se probleme.Die rand verhandel reeds R13,73 teenoor dollar terwyl Zuma en kie. dit na nuwe rekords gaan neem met chaos.

karl ·

Haai oom Leopold!
Oom vertel dan alles wat ons die afgelope weke reeds oor en oor gelees en gehoor het.
Wat sê oom van die waarskynlikheid dat die Prez se opvolger dieselfde deuntjie as sy voorganger gaan tokkel?

humor ·

n Goeie taktikus maar swak strateug. Leopold is jy seker jy praat hier van z. Dit klink dan eerder jy is nou met fw, pik en hul lakeie besig.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek lees die kommentare en die oproep dat almal asseblief moet BID. Julle kan bid tot jul pers in die gesig is maar hier gaan bid nie nou help nie. Iemand moet daadwerklik iets DOEN en ek weet nie wat dit sal wees nie. Hierdie gemors waarin ons is is ‘n realiteit en ons moet besef dat om net te bid is ‘n baie maklike manier om niks te doen nie.

Realis ·

Dit grief my werklik dat sommige mense net wil bid en glo die probleem sal vanself verdwyn. Ek is vir die rekord ook n Christen maar my Bybel sê geloof sonder werke beteken niks. Ons probleem is … ons het nie n plan nie. Ons kan nie saamstaan nie. Dit is oor en oor bewys. Kom ons skryf maar lekker lang kommentare om mekaar te vermaak. Buiten dit gaan niks verander nie.

Asjas ·

Bid alleen gaan niks help nie, net iets hieromtrent DOEN sal.

Nel ·

Julle is beide reg. Bid alleen gaan nie help nie so ook nie bid en doen nie.
Lees 2 Kronieke 7:14:-
“… en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”

Bokkie ·

Sarie en Realis, ons het dalk nie ‘n ‘plan’ nie, maar GOD hèt. Hy is vandag hier, reeds môre, oormôre en oormôre daar. God sal NIE sy kinders versaak nie.

Annatjie Kruger ·

8:00 vanoggend sou hierdie artikel nog hoop in sommiges van ons se harte gebring het. Nou dat ons weet die Top ses is oor die kole gehaal en het 360 grade teruggedraai na Zupta, is ons harte weer in ons skoene.

Daan ·

So, as Zuma uit is , gaan die blankes werk kry, gaan moorde verminder, gaan die gate reg gemaak word in die straate ?Toe Mbeki nog in was het ek gedink dat as hy uit is sal dinge beter gaan. Kyk net hoe verkeerrd was ek.
Ek sien die EFF soos die destydse AWB, klein % het dit ondesteun.
Ek sien SA soos Daniel in die leeukuil, as die Here hom nie uithaal nie, is hy leeukos. As die Here SA nie uithaal nie gaan dinge nie vernader nie. Daar is nie ..olitieke antwoord vir n geestelike issue nie. Dis my wens dat alle kerke saam met Angus sal bid vir n verandering. As die Here nie dinge verander nie gaan niks vernader nie. Kameraad Cyril en Julius gaan ons nie uit die leeukuil haal nie en ook die die Bra van die DA nie.

Pietman ·

Die media skryf al die afgelope 5 jaar oor zuma se einde wat nader. Daarvan kom dadels. dalk 2019?

Mix ·

Ek dink eerder Manti en Rami speel uiters goeie skaak. Om so vinnig n 360 te maak is allermins agterdogtig. Hier is my idee- Zuma uit, een van die twee is the next inline en op goeie voet met Zumie. Wie sal die stoel wen? Kom ons kyk….

Ada ·

Die ANC moet almal bedank as z uitgesetm word en hulle is nie van plan om dit te doen nie. So ek reken z gaan vir ‘n ruk daar bly sodat hy die staatskas verder kan plunder. Hy en die guptas en sy anc maatjies.

jean ·

Pie in the sky….die man gaan nêrens en ek dink ons almal weet dit…..

Denise Malherbe ·

Zuma se ikoon is Robert Mugabe, Malema se ikoon is Robert Mugabe.
Nie een van hulle 2 sal ophou voor SA uiteindelik eindig soos Zimbabwe nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.