Zuma se rubicon

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Leon Lestrade/African News Agency/ANA)

Oudpresident Zuma se optrede die laaste tyd het gemaak dat hy die laaste bietjie simpatie wat daar in die Ramaphosa-leierskringe van die ANC vir hom oor was, verloor het.

Zuma het hierdie ANC-grens of rubicon nou finaal oorgesteek.

In die lig van die korrupsiehofsake teen Zuma, het hy twee opsies gehad.

As voormalige president was die verstandige opsie om Ramaphosa as nuutverkose president te aanvaar. Dit beteken dat hy as ’n gedissiplineerde ANC-lid nie kritiek teen die Ramaphosa-faksie uitspreek nie en ook nie by die ANC se interne gevegte, veral nie in KwaZulu-Natal (KZN), betrokke raak nie. Omdat KZN Zuma se tuisprovinsie is, is van hom verwag om ’n kalmerende invloed terwille van ANC-eenheid daar uit te oefen.

Uit gesaghebbende ANC-bronne is aan my verduidelik dat as Zuma hierdie opsie kies, die hoogste ANC-leierskringe ’n beskermende hand na hom sou uitsteek. Volgens hulle sou Ramaphosa as president aan Zuma amnestie gee ná ’n skuldigbevinding. Daardeur sal hy voorkom dat Zuma as oudpresident op ’n hoë ouderdom tronk toe gaan.

Hierdie opsie het nou verval soos dit duidelik word dat Zuma nie die eerste opsie gekies het nie. Hy glo hy is onskuldig en het besluit om terug te veg – die tweede opsie.

Zuma gaan sy steun in KZN gebruik om Ramaphosa te probeer dwing om sy probleme nou te laat weggaan. Die onderliggende boodskap is dat as julle my nie beskerm nie, julle my in die arms van die ANC-gegriefdes dryf. Die dreigement is verder dat Zuma dan inligting oor ander ANC-leiers se korrupsie sal bekendmaak en ’n nuwe politieke party kan stig. So ’n party mag Ramaphosa en die ANC se steun tydens die komende verkiesing onder 50% indruk. Ná die verkiesing sal so ’n party dan Zuma se kwytskelding beding in ruil vir hul steun in ’n koalisie.

Wat het finaal alle ANC-leierssimpatie vir Zuma vernietig?

Die faksiegevegte binne die ANC in KZN het gemaak dat die party nie ’n wettige provinsiale kongres kon hou om nuwe leiers vir die provinsie te kies nie. Die afgelope paar maande het Ramaphosa hierdie probleme probeer oplos. Hy het met die provinsie se 11 streke se voorsitters vergader. Hy het ook gesprekke gehad met die provinsiale leiers aan albei kante. Ramaphosa se argument was dat by die ANC-konferensie in Desember, waar hy verkies is, die afgevaardigdes op ’n kompromie besluit het. Hulle het lede van albei ANC-faksies in die topposte verkies om so eenheid voor die verkiesing te verseker. Sy voorstel was dat die ANC in KZN dit as ’n riglyn moet gebruik om ’n soortgelyke kompromie en eenheid te verkry.

Ramaphosa se gesprekke in KZN het gelei tot ’n ooreenkoms dat Sihle Zikalala, as Zuma-ondersteuner, voorsitter sou wees. Mike Mabuyakhulu, as Ramaphosa-ondersteuner, sal ondervoorsitter word. Die res van die vyf topposte sou tussen die twee groepe verdeel word.

Ná al Ramaphosa se harde werk agter die skerms, is hierdie ooreenkoms op die laaste gekelder. Alles dui daarop dat Zuma dit help kelder het. Hy is nie ten gunste van ’n kompromie tussen die faksies nie. Dit verswak hom. Zuma verkies dat sy ondersteuners al die poste vul.

Gwede Mantashe as ANC-voorsitter was by verskeie provinsies ’n suksesvolle fasiliteerder tussen ANC-faksies. Verswarende omstandighede teen Zuma was toe Gwede Mantashe onlangs deur Zuma-afgevaardigdes doodgeskreeu is toe hy ’n provinsiale konferensie in KZN wou toespreek. Persoonlik het hy nou die onverbiddelikheid van Zuma en sy ondersteuners ervaar. Hy gaan voortaan sekerlik sy posisie as voorsitter gebruik om die Zuma-elemente uit te sny eerder as om te probeer versoen.

Die uitsnyproses gaan versigtig en mettertyd gedoen word. Al wat die Zuma-lojaliste tans red, is die naderende nasionale verkiesing. ’n Slim strategie sal wees om nie die verskille onmiddellik op die spits te dryf nie. Vertraag die twis tot ná die verkiesing. Die onrus in KZN maak ’n vroeë verkiesing ’n sterker moontlikheid. Dit sal kiesers dwing om te stem voordat die ANC-gegriefdes ’n nuwe party op die been sou kon bring.

Al wat ’n gegriefde ANC-leier was, was tydens Zuma se mees onlangse hofverskyning teenwoordig. Dit sluit die korruptes, die misluktes en die afgedanktes in. Wat hierdie leiers gevaarlik maak, is dat hulle besef dat daar vir hulle geen verdere toekoms in die huidige Ramaphosa-ANC is nie. Hul toekoms lê daarin om van Ramaphosa ontslae te raak en so die ANC “terug te wen” of om ’n nuwe party te stig. Hulle glo om hierin suksesvol te wees, hulle Zuma nodig het.

Op die verhoog saam met Zuma ná sy hofverskyning was oudminister Des van Rooyen. Hy hou steeds die wêreldrekord as minister van finansies wat die kortste tyd ooit in die pos gedien het. Ook op die verhoog was Hlaudi Motsoeneng, die omstrede vorige SAUK-baas wat tans miljoene moet opdok ná al sy hofverskynings. Supra Mahumapela, die Noordwes-premier wat so pas die trekpas gekry het, het entoesiasties gepraat oor Zuma se goeie eienskappe. Sit daarby Faith Muthambi, Andile Lungisa en Black First Land First se leier, Andile Mngxitama. Dit wil gedoen wees om soos Mngxitama weens jou radikalisme uit die EFF geskors te word! In die agtergrond het Carl Niehaus lomp en ongemaklik in sy kamoefleeruniform probeer saamdans. Niehaus, wat reeds op verskeie leuens uitgevang is, het verkeerdelik voorspel dat Dlamini-Zuma die nuwe president van Suid-Afrika gaan word. Met mev. Zuma as president het hy geglo dat ’n nuwe politieke loopbaan wink waarmee hy sy finansiële probleme kan oplos.

Waarom gaan hierdie plan nie slaag nie?

Omdat Zuma en die gegriefde leiers teenwoordig, die paar betogers by sy hofsaak met ’n sterk politieke magsbasis verwar. “Do not confuse a fan club with a political power base,” is ’n ou politieke waarheid. Op sy beste sal hierdie gegriefdes ’n lastigheidswaarde tydens die verkiesing hê.

Ramaphosa het hulle reeds voorgespring deur die Zoeloekoning te besoek en die erkende Zuma-leiers in KZN in sy nuwe kabinet aan te stel. Dit verklaar mev. Zuma se aanstelling asook dié van Zweli Mkhize, Malusi Gigaba en Bathabele Dlamini.

’n Ander politieke waarheid, wat Zuma ná die verkiesing gaan ontdek, is dat jy nie trap op ’n politieke kollega wat lê nie – mits hy stil lê. Zuma lê nie stil nie.

Daarom moet hy ná die verkiesing geen genade of simpatie van die ANC-leiers verwag as hulle die verkiesing sou wen nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

nico k ·

Nog geen party wat weggebreek het van die ANC het enige sukses by die stembus behaal nie. Zuma mag bietjie meer persoonlike steun geniet, maar ek twyfel of selfs hy enige sukses met ‘n wegbreek party sal haal. En as dit onder iemand anders se leierskap gesitg word het hulle geen kans. Inteendeel hulle sal eerder steun van die EFF afrokkel.

Albaster ·

Ja maar nog nooit was die ANC so verdeeld en swak soos nou nie, dit is dalk net deel van n natuurlike verbrokkelingsproses.

Hoop ·

Wanneer gaan VF+ met selfbeskikkingsooreenkomste begin? Dit is die enigste uitweg op oorlewing.

James ·

Hulle het: Die KP, die latere Vryheidsfront, en to die Vryheidfront Plus. Dekades gelede al. Die meerderheid Afrikaners het toe vir hulle gelag en die Reenboog-sindroom gekoop.

Dis nou dieselfde Afrikaners wat nou wonder wat gebeur het en histeries raak, noudat die Reenboog-boompie uitgegroei is, en vrugte begin dra…

Eish ·

Verbysterende gryswêreld van politiek!
Wys jou net weer, indien ons nie iets na die onderhandelingstafel kan bring nie, is onderhandeling oor n eie gebied gedoem.

Theo ·

Altyd lekker om Dr Mulder se siening oor enige saak te lees. n Man met insig en n kenner op sy gebied. Trots om n lid van die VF+ te wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.