Zuma-strategie stadig maar seker aan die uitrafel

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/Governmentza/GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/Governmentza/GCIS

Hoe lank kan pres. Jacob Zuma nog uithou as politieke hoof van Suid-Afrika en van die ANC?

Normaalweg projekteer ’n party en ’n regering onder ’n dinamiese en sterk leier ’n eensgesinde beeld na buite. Wanneer die party en regering egter in die openbaar nie alleen barste vertoon nie, maar inderdaad onderling oorlog begin voer, moet ’n redelike mens verwag dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat hulle uiteenval en dalk die regeringsmag verloor.

Hoe staan dit op die oomblik met Zuma en die ANC? Om dié vraag te beantwoord moet ’n mens kyk na die taktiek wat die president toegepas het sedert sy groot triomf op die ANC-kongres einde 2007 in Polokwane.

Toe hy daarin slaag om sy voorganger, pres. Thabo Mbeki, op ’n vernederende wyse uit te skop, het dit gebeur met behulp van ’n politieke kultuur wat al lank gevestig was. Dit behels ’n versmelting van party en staat, van staatsorgane wat veronderstel is om onafhanklik te funksioneer, maar wat gereduseer word tot instellings wat die belang van die ANC moet dien.

“Ons moet nie net ‘in government’ wees nie, maar ‘in power’,” was ’n leuse wat dikwels gebruik is en eintlik al van die ballingskap-tyd dateer. Die ANC het in sy openbare dokumente heel openlik erken sy strewe is om “alle hefbome van die mag” te beheer.

Dit het ingesluit alle instellings wat toesig oor die regering se doen en late moes hou.

Ten eerste natuurlik die parlement wat die regering in die eerste jare ná 1994 verrassend verantwoordbaar gehou het, maar allengs steeds meer ’n rubberstempel van die president geword het. Tweedens die instellings wat deur hoofstuk 9 van die Grondwet in die lewe geroep word, soos die menseregtekommissie, die ouditeur-generaal, die openbare beskermer, ensovoorts.

In die derde plek was daar die regterlike mag, veral die openbare vervolger, die polisie, die weermag, en dies meer.

Dus het Mbeki (en dis onder Zuma geïntensiveer) by die vul van belangrike poste steeds minder gekyk na vereistes soos kwalifikasies, ervaring en integriteit, en steeds meer na velkleur en lidmaatskap van die regte party (uiteraard die ANC) – en dan veral van die regte faksie in die regerende party (eers die Mbeki-faksie en later die Zuma-faksie). Wat dikwels in die praktyk beteken het dat onervare, onbekwame en gewetenlose mense in belangrike poste aangestel is, bloot om die ANC en veral die president se mag te versterk.

Gelukkig is Suid-Afrika ’n taamlik oop samelewing met ’n lewendige burgerlike samelewing (waarvan die media ’n onontbeerlike onderdeel vorm), met ’n Grondwet wat ver van volmaak is, maar tog uitstekend gebruik kan word om amptelike magsmisbruik teen te gaan.

Dus het Mbeki en Zuma se pogings om die demokrasie se fasade te behou en die stelsel terselfdertyd uit te hol dikwels skipbreuk gely. Die regbank het grotendeels onafhanklik gebly, en sommige van die hoofstuk 9-instellings – veral die openbare beskermer en die ouditeur-generaal – het die regering gereeld gepootjie.

Die burgerlike samelewing kon nooit platgetrap word nie.

Waarin veral Zuma grotendeels geslaag het, was die weermag, die polisie en die openbare vervolgingstelsel. Maar ook daar het hy die laaste weke ’n paar gevoelige houe op die neus gekry wat hom behoorlik laat steier het.

Lees ’n mens wat genl.maj. Johan Booysen, geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, en Johan van Loggerenberg van die SA Inkomstediens die afgelope dae in twee pas verskene boeke oopvlek, steier jy skoon van die flagrantheid van die ANC se magsmisbruik. ’n Mens kan byna nie glo dat invloedryke (ANC-)leiers wie se daaglikse besluite talle se lewe ingrypend beïnvloed, só openlik skaamteloos te werk kan gaan om “lastige” teenstanders uit te knikker en hul eie mag te vergroot nie.

Maar, soos die spreekwoorde sê: Slim vang sy baas, en hoogmoed kom voor die val. Dis wat tans met Zuma en sy luitenante in verskeie staatsinstellings aan die gebeur is.

Om maar ’n voorbeeld te noem: Regter Elias Matojane het die hoof van die Valke, genl. Mthandazo Ntlemeza, onlangs “bevooroordeeld en oneerlik” genoem na aanleiding van die wyse waarop Ntlemeza van sy voorganger, genl. Anwa Dramat, ontslae geraak het. Matojane het bygevoeg dat Ntlemeza “’n tekort aan integriteit en eer” het.

Twee senior lede van die openbare vervolger se kantoor, Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi, is deur ’n regter van die advokaterol geskrap omdat hulle deur hul dade nie “geskik en bevoeg” (“fit and proper”) is om as advokate erken te word nie. Overgezet zijnde: ’n Advokaat moet eerlik en integer wees. Jiba en Mrwebi is dit nie.

Die vinger wys ook al hoe meer na die twee se baas, Shaun Abrahams. Sy saak is een om dop te hou.

Neem ook in ag dat dié mense almal politieke aanstellings was. ’n Mens kan ’n goeie saak daarvoor uitmaak dat hulle nie aangestel is om reg en geregtigheid en die demokrasie te dien nie, maar die politieke belang van ene Jacob Gedleyihlekisa Zuma.

Volgens die Grondwet móét Zuma sy pos as staatshoof in 2019 neerlê. Maar, nes Mbeki, dui alles daarop dat hy dit probeer omseil. Mbeki wou aanbly as leier van die ANC om die president vanuit Luthuli Huis te manipuleer; Zuma wil sy gewese vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, met dieselfde doel in die Uniegebou installeer.

Maar die strategie is stadig maar seker aan die uitrafel. Die magsmisbruik, oneerlikheid en flagrante selfverryking van te veel ANC-leiers het die party in die onlangse plaaslike verkiesings met ʼn bloedneus laat terugsteier.

Zuma self is ʼn patetiese skaduwee van die selfversekerde man wat sy teenstanders in die DA ʼn jaar gelede met sy kekkellaggie getart het. Nou huil hy by wyse van spreke oor hy so “mishandel” word in die parlement – so asof hy die onskuld self is.

Dit kan natuurlik wees dat sy eksvrou hom opvolg en hom teen vervolging beskerm. Maar die moontlikheid dat die minder oneerlike (sic!) Cyril Ramaphosa gekies word, beteken dat Zuma dan glad nie seker kan wees dat hy nié op grond van die 783 aanklagte van korrupsie en rampokkery aan die pen gaan ry nie. (Ek verneem daar is meer aanklagte wat wag.)

Die fondament waarop Zuma se mag en dié van die ANC berus, is stadig maar seker aan die wegkalwe.

Sien ʼn mens die paradys daar voor wink? Aikôna. ’n Gekweste leeu is op sy gevaarlikste. Waaksaamheid moet meer as ooit tevore die wagwoord wees.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hilda Venter

As ‘n slaafse navolger van die media en hulle beriggewing, kan ek net dankie se aan een en elkeen vir wat hulle vir ons gewone burgers aan die lig bring. In die Parlement is gister deur die DM van SAA ruiterlik en op Nasionale telivisie erken dat die media hulle op hulle tone hou, “a little too late” dieselfde media wat so afgekraak word deur die regerende party, het hierdie dinge laaaankal geweet, maar nouja skors hulle uit hulle poste uit, want hulle doen net hulle werk! Trots op ons Media, julle maak dit moontlik dat ons die lig van… Lees meer »

Theuns

Soos altyd in die kol! Dankie Leopold.

Therese van Schalkwyk

Die blote feit dat ‘n persoon met 783 aanklagte van korrupsie en rampokkery teen hom as president van Suid-Afrika aangestel, en reeds vir agt jaar geduld word, is verbysterend. Die volgehoue lojaliteit van mede-partygenote, en veral toekomstige presidentskandidate, spreek boekdele oor die totale gebrek aan integriteit in die ANC. Die skade aangerig deur hierdie voortgesette magsmisbruik is min of meer onherstelbaar en die regeringsparty se reputasie aan flarde. Dit geld selfs vir die sg. “goeie mense” in die ANC, want hulle laat dit alles sienderoë toe. Die SA Grondwet was in hierdie geval ‘n ronde nul op ‘n kontrak …… Lees meer »

chris

Al wat ek kan sê, die wiel is stadig maar seker om te draai en ons Vader slaap nie !!!

Lance

Kan hy net gaan ASB ! …hoe die mense van SA die man kon kies as hulle leier laat mens eintlik baie wonder oor die tiepe mense wat vir hom gestem het…het hulle enige waardes en beginseld om sulke diewe aantestel en so lank te duld …dis n gemors en gaan jare neem om die skade te herstel .