Zuma, Van Riebeeck en apartheid

Charles_Bell_-_Jan_van_Riebeeck_se_aankoms_aan_die_Kaap

Jan van Riebeeck land in Tafelbaai in April 1652 Grafika:
Charles Davidson Bell (1813–1882)

Pres. Jacob Zuma het die afgelope week weer apartheid verwyt vir die meeste probleme in die land. Dit het ’n golf van verontwaardiging ontlok – hoofsaaklik van witmense wat voel dat hy verskonings soek vir sy eie swak regering.

Maar dis ’n fout om te dink dat dit sommer ’n verspotte opmerking is van ’n president wat ander vir sy eie foute probeer blameer. Mnr. Zuma het nie sy stellings oor Jan van Riebeeck en apartheid uit die lug gegryp nie. Hierdie standpunte is baie diep gewortel in die ANC se kollektiewe siening van die verlede. Hulle glo dit werklik. Dis veel meer as ’n taktiek om witmense so skuldig oor die verlede te laat voel dat hulle “regstellende maatreëls” soos omvattende rassewette in die ekonomie aanvaar en selfs bevorder.

Dis belangrik om te verstaan dat daar nie net een “geskiedenis” is nie. Elke gemeenskap het ’n bepaalde siening van die verlede, wat spruit uit sy gedeelde ervarings, opvoeding, onderwys en die media. Die een groep se held is dikwels die ander groep se skurk. Die meeste mense stel nie belang in die verlede nie, want hulle dink dis verby. Moderne mense leef mos in die hede, en glo die toekoms sal vanself gebeur. Maar dinge is ongelukkig nie so eenvoudig nie. Die verlede is bepalend vir die toekoms.

Goed en kwaad

Daarom word geskiedenis gereeld ingespan as magsinstrument om beheer oor die toekoms te kry. Regerings probeer oral om hul siening van die verlede as die amptelike weergawe aan die hele bevolking af te dwing. Hier by ons help dit die ANC om sy historiese stryd te regverdig, om daardeur “nasionale eenheid” onder ANC-leiding te skep en massasteun vir die ANC te verseker. Terselfdertyd dien dit as regverdiging vir ’n diskriminerende beleid vir die toekoms, omdat skuldgevoelens en die rassekaart Afrikaners se monde moet snoer. Dit gee die ANC ook die morele gesag om die land “permanent” te regeer, ongeag die gehalte van regering. Deur die verlede te vereenvoudig tot ’n stryd tussen goed en kwaad, word die toekoms ook vereenvoudig tot ’n beleid van ewigdurende “regstelling”.

Die belangrikste instrumente wat gebruik word om hierdie eenvormige weergawe van die geskiedenis te fabriseer, is die skole, die media, politieke beleid en wetgewing. Die staat gebruik die oorvloed bronne tot sy beskikking om die verlede na sy beeld te herskep, terwyl ander groepe nie die hulpbronne of organisasie het om hul verlede te “verdedig” nie.

Die uitgesproke doel van die ANC is om ’n “heerskappy van idees” oor die samelewing te vestig, soos besluit op sy Mafikeng Konferensie in 1997. So word die idees van die regerende klas dan die regerende idees van die samelewing. In die proses word die donker kolle in die ANC se eie geskiedenis verswyg. Dink maar aan die probleme wat die ANC-in-struggle vir die ANC-in-regering veroorsaak het met sy destydse beleid om die land onregeerbaar te maak.

Uitwerking

Die Franse sosioloog, Jaques Ellul, het gesê dat die uitwerking van die aftakelingsproses van ’n gemeenskap se geskiedenis groot gevolge vir die “verloorgroep” kan inhou. Hierdeur het hy verwys na die groep wie se geskiedenis geteiken word vir “uitwissing” of vervanging met die meerderheid se weergawe. Ellul sê as hierdie groep mettertyd die nuwe weergawe van die geskiedenis aanvaar wat aan hulle opgedwing word, kan hulle selfs kollektiewe sielkundige probleme begin ontwikkel. Die groep kan begin verbrokkel, aan skuldkomplekse ly, minderwaardigheidsindrome ontwikkel, oorloop na die voormalige “vyand”, oorywerig teen hul eie mense draai, en geweldig begin twyfel en wroeg oor hul verlede en alles waarvoor hulle eers gestaan het. Dis nie vreemd dat baie lede van sulke groepe hul eie gemeenskap, sy geskiedenis en sy waardes uiteindelik verwerp nie.

Normale geskiedenis

Daarom het die historikus Hermann Giliomee gesê dat Afrikaners soos enige ander gemeenskap ’n normale geskiedenis nodig het om gesond te kan leef. Daarmee het hy nie bedoel dat die Afrikaner sy verlede moet probeer verheerlik en sy voorouers as vlekkelose helde voorhou nie, maar dat hulle beoordeel moet word in die tyd waarin hulle geleef het. Daarom is Afrikaners se verlede te belangrik om aan die ANC se politieke agenda oor te laat. Ons kan hulle nie vertrou met die toekoms van ons verlede nie, maar moet dit “terugvat” en self verantwoordelikheid daarvoor neem.

Daarom moet die FAK se projek om die Afrikanergeskiedenis in ere te herstel verwelkom en ondersteun word. Ons voorouers was nie foutlose supermense nie, maar gewone mense wat in ongewone omstandighede buitengewone prestasies behaal het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

asa ·

Flip, ek stem saam dat die FAK se poging verwelkom moet word. Om ons “verlede terug te vat” moet meer behels as net om repliek te lewer op die verwringing daarvan. Soos Ellul gesê het, begin lede van so ‘n groep later hulle eie identiteit verwerp. As ons self verantwoordelikheid wil vat vir ons verlede (identiteit), sal ons moet begin om juis ons verlede meer aktief en doelbewus te vier en daarmee te assosieer, anders is alles maar net hol woorde en pogings, want dan gaan die nageslag dit in elk geval verwerp. Miskien kan julle dalk begin om ander Afrikaner organisasies te betrek om groter aansluiting by Orania se vakansiedae te vind en dit as basis gebruik om doelbewus op ons geskeidenis en herkoms te fokus – juis ter wille van die nageslag, want in die skool leerplanne gaan daar net haat en argwaan teenoor ons geskiedenis gestook word.

Johan 2 ·

Dankie vir die mooi skrywe. Baie volke is al swaar getref en selfs vernietig deur sulke sielkundige oorloë. Waaraan dink jy bv. as ek die een woord skryf: “Duitsland” of dalk moet ek dit in engels skryf “Germany”. Net so wil hul een ding aan ons koppel, en dit is nie goed nie hoor…

Niel van Zyl ·

Wonder of geskiedenis as onderig vak nie verdeel kan word in bv Die Geskiedenis van die Afrikaner/Xhosa/Zoeloe/Sotho etc in Suid-Afrika nie en dan as vak aangebied word in daardie provinsie waar die betrokke stamme teenwoordig is, amper soos met tale. Bv. in die Wes-Kaap kan hulle Die Geskiedenis van die Afrikaner/Engelse en Xhosa as vak aanbied.

Al verskil moet wees dat die stam waarop gefokus word verander en dat die kultuur van die betrokke stam meer verteenwoordigend sal wees in die onderskeie vakke.

Dit is logies dat daar oorvleulings sal wees aangesien die Geskiedenis baie keer te make het met die interaksie (goed of kwaad) tussen stamme. Die doel moet nie wees om een groep as reg en die ander as verkeerd uit te beeld nie. In gevalle waar daar konflik tussen stamme was moet dit meer gaan oor die redes agter die konflik en die utkoms van die konflik. Op die ou einde is geskiedenis geskiedenis.

Die idee moet wees om te leer van elkeen se geskiedenis en hoe om toekomstige “konflikte” op ‘n beter en in baie opsigte meer humanitere manier te hanteer.

Swanna ·

Baie mooi berig en goed gestel. Maar wat my die ergste omkraap is dat ons self hierdie geskiedenis verander om die regering van die dag gelukkig hou. Wat ek eintlik wil se is ons veraai onself om die ANC te beindruk en hulle lag vir ons. Siener van Rensburg het dit self in sy gesigte dit gesien en noem dit dat ons alles in ons vermoe gaan doen om die ANC te beindruk, ook so self verloning.

Sarie ·

Presies Kyk weer vanaand na Pieter Du Toit in gesprek met Dr Herman op ‘n KYKNet Program. Hy is so seker van sy saak dat Mandela nie die Kerkstraatbom goedgekeur het nie, terwyl Mandela self in sy Long Walk to Freedom gese het dat die meeste van hierdie dade sy goedkeuring weg gedra het. Hy het ook geweier om geweld af te sweer. Dan noem hy weer dat die wit mense die goeie infrastruktuur in SA geskep het op die rug van swart arbeiders. Ek wonder hoeveel kanale en selfs die Boegoebergdam is nie deur arm blankes gebou nie. Baie paaie is ook deur arm blankes gemaak. Van my familie was self betrokke by die bou van paaie in die NoordKaap Vir ‘n sjieling ‘n dag. Het nog ‘n foto waar ‘n groep staan. Spanne blanke vrouens het elke jaar uit die Oos-Kaap by Elgin gaan appels pluk. Daar is selfs vandag nog ‘n hostel waar hulle gebly het.

Leonie Booysen ·

Ek het gedurende die week gelees hoeveel geestes ontwykende mense in die regering werk. Hierdie artikel is duidend van die tiepe mense ek weet ek het n famile lid gehad wat daaraan gely het en met haar kon jy nie redeneer nie. Dit lyk my Zuma en sy span moet beslis toesien dat hulle hul kroniese medikasie gebruik want hierdie ideologie kan net van geestes afwykende mense kom

Hendrik Botha ·

Dankie Flip. Jou leiding in Afrikaner geledere word hoog waardeer. Ek dink dis Langenhoven wat gese het: ” staan stil, hier gaan ‘n man verby” . Dis ook hier van toepassing.

Henry ·

Dat die ANC in die algemeen en Zuma in besonder, hul eensydige vertolking van die geskiedenis as magsinstrument gebruik om beheer oor die toekoms te verkry, is korrek.

Dit is ongelukkig nie die volledige prentjie nie.

Hierdie vertolkings oftewel verdraaïngs van ons geskiedenis dien bloot as regverdiging om die sogenaamde onregte wat in die verlede deur oorle’ Van Riebeeck en sy nasate gepleeg is, “reg te stel”. Met volle geweld, soos en wanneer benodig…

En wie is Van Riebeeck se nasate, volgens die ANC se propagandiste?
Die Afrikaners.

“Kill the Boer kill the farmer…”, “Bring my masjiengeweer…” ensovoorts ensovoorts, ensovoorts.

Cathy Kotze ·

Hermann Gilliomee is nie die enigste wat oor Suid-Afrika se werklike geskiedenis geskryf het nie.

Die befaamde Suid-Afrikaanse wetenskaplike, Harry Booyens, se boek AmaBhulu, is hoofsaaklik geskryf om die Noord Amerikaners in te lig oor Afrikaners en ons geskiedenis. Daarom is dit in Engels geskryf, maar dis ook ‘n moet lees vir alle Afrikaners.
http://www.amazon.com/AmaBhulu-Birth-Death-Second-America

Fanie ·

Ons Afrikaners moet dan net meer op ons Geskienis hamer in die media, en dit wat ons bereik en vermag het met of sonder hulle hulp. Daar is beslis ‘n swaksinnige siening aan die ANC se kant van/oor alles en gebeure/geskiedenis, en ons beter dit bietjie regstel. Ons het vele meer om op trots te wees as hulle.

Noetzie ·

Goeie artikel. Hopelik kan daar van die Afrikaner se ryk geskiedenis, vól pragtige helde verhale ens in vandag se skole handboeke teruggeskryf word..

vincent ·

“If you can’t change the present, how can you change the past?” Vra julself die vraag…hou op hoop vir ‘n reenboog nasie want d e massa stel nie belang nie..dit is nou hulle tyd in die son sonder ‘n reenboog. Fokus liewer op julle eie voortbestaan buite die korrupte regering/verraaiers.

Lizette ·

As julle ‘n boek saamstel, sal ek beslis ‘n paar koop

Basjan Jacobsz ·

Ek wonder wat dink Piter du Toit wat moes ons met die mense gemaak het as ons hulle nie werk verskaf het nie? Gelos het dat hulle uintjies grawe ,veldkos soek om te eet en met die pyl en boog of assegai jag om nie van honger omte kom nie??
Die San (Boesman) oom wat Maan 10 Aug op die Kyknet nuus so te kere gegaan het oor Jan v R moet tog asb nie net van Jan v R en al die kolonialiste ontslae raak nie maar van alles wat hulle hierheen gebring het.Die klere wat hy dra, die kos wat hy eet die wiele waarmee hy ry vleigtuig waarmee hy vlieg die alfabet wat hy gebruik om te skryf die die syfers , die westerse medisyne wat sy mense aan dielewe hou die vuurhoutjies waarmee hy vuurmaak{hy hoef nou nie meer stokkies te draai nie} en voor ek vergeet die lekker wyn en brandewyn wat Jan v R gebring het, en so kan mens aangaan .
Hy behoort elke aand op sy kniee te gaan en sy voorvaders te dank vir Jan en die kolonialiste
Stop playing the blame game en soos Steve gese het : ruk jou reg en presteer jou uit jou ellende uit!!

Burger Du Toit ·

Ek moet saam met al die ander kommentare saamstem. Dankie Flip dat jy hierdie aspek aangevoor het.
Ons taal bly ons taal. Wonder wat sal gebeur as ons vandag se kinders Nederlands kon leer. Sou dit as ‘n wit taal aanvaar word. Dan is dit mos nie meer Afrikaans nie. Afrikaans bly maar mooi.
As kind was ek en my broers deur my oupa vemaan, “Julle kinders moet leer anders gaan die swartes by julle verby gaan.” Is dit nie presies wat vandag gebeur nie? Ek het al gedink dat hy Siener se gawe ook gehad het.
Ek het minstens ‘n Familie Register wat tot amper 400 jaar terug gaan waarop ek baie trots is. Ek wonder partymaal of Zuma so ‘n register het en of hy weet van sy voorsate.
Dit wat hulle alles vandag het, het hulle maar by JvR en sy nasate en ons eie voorgeslagte gekry.
Ons moet ophou om te blameer en weer veg vir wat vir ons belangrik is. Taal.Taal en nogmaals Taal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.