Zuma-vleuel in die ANC toets water met uitsprake

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Die breë Suid-Afrikaanse politiek is in rep en roer soos haas nog nie tevore gebeur het nie.

Die SA Kommunistiese Party dink daaraan om verkiesings (eindelik) onder sy eie banier te veg, pleks van om agter die ANC se breë rug weg te kruip. Cyril Ramaphosa sê hy gaan nie “met gevoude hande” staan en kyk hoe die land in die diepte afstort nie.

Die meestal goed ingeligte webwerf  Daily Maverick berig dat ’n faksie in die ANC op die party se onlangse beleidskonferensie aangebied het om R2 miljard vir pres. Jacob Zuma in te samel, op voorwaarde dat hy bedank.

Die ANC het dit weliswaar ontken, maar enigiemand met ’n gesonde verstand weet ontkennings soos dié is nie noodwendig geloofwaardig nie. Daily Maverick het hom sedert sy totstandkoming gevestig as ’n swaargewig op die joernalistieke toneel, en jy sal ’n fout maak as jy outomaties die ANC se ontkenning bo die webwerf se (anonieme) bronne aanvaar.

Die beleidskonferensie in Johannesburg het ’n diep verdeelde party aan die wêreld gewys. Sonder om jou kop op ’n blok te sit, is dit taamlik veilig om te vermoed dat die ANC nie meer ver van ’n skeuring staan nie.

Trouens, sommige ingeligte waarnemers soos Tim du Plessis en Anton Harber stel die vraag of die ANC (lees: pres. Jacob Zuma) sal toelaat dat ’n leiersverkiesing in Desember en ’n algemene verkiesing hoegenaamd oor twee jaar gehou word.

Indien – let wel op dié voorbehoud – dié vrese bewaarheid word, stap die ANC die pad wat álle populistiese bewegings wêreldwyd loop, altans dié wat ’n bewind oorgeneem het. Let wel, die begrip populisties kan op sowel linkse as regse bewegings slaan.

Kom ons kyk vlugtig na ’n paar, want dit kan ons eie situasie verhelder.

In Venezuela het die ekonomie mede deur die rampsalige populisties-sosialistiese eksperimente (soortgelyk aan wat die linkervleuel van die ANC en die EFF by ons wil doen) oor ’n afgrond gestort. Die inflasiekoers het teen Desember verlede jaar  800% bedra, en die winkels is letterlik leeg.

Geen wonder nie dat die kiesers die links-populistiese pres. Nicolás Maduro in Desember 2015 met ’n enorme nederlaag in die parlementêre verkiesing gestraf het nie. Maar omdat die president, soos in Amerika, nie van ’n parlementêre meerderheid afhanklik is nie, het hy die wettige bewoner van die Miraflores-paleis in Caracas gebly.

Sedertdien doen hy sy bes om die parlement te omseil. Hy wil ’n nuwe grondwet hê wat hom taamlike diktatoriale magte gee om die sosialistiese revolusie te beveilig.

Sowat 7,5 miljoen kiesers het in die naweek deelgeneem aan ’n nie-amptelike referendum wat deur die opposisie georganiseer is. Ver oor die 90% van die deelnemers het Maduro se planne verwerp, maar dit sal wel weinig verskil maak.

Dis naamlik ’n gemeenskaplike kenmerk van alle populiste. Hulle beweer dat hulle in belang van die gewone arm mense regeer, maar dat die establishment hulle om elke draai keer. En dus soek hulle buitengewone magte (wat eintlik maar op die afskaffing van die demokrasie neerkom.)

Twee verdere voorbeelde is in Pole en Hongarye te vinde, waar die regerende populiste egter eerder regs as links is.

In Warskou het tienduisende Poolse burgers in die naweek betoog teen planne van die regerende party, bekend as Wet en Geregtigheid (PiS), om die parlement meer seggenskap in die aanwys van regters te gee. Nog erger: Die minister van justisie kry die alleenreg om alle lede van die Hooggeregshof aan te stel.

Dis van belang, want as hy die regbank met sy eie aanhangers gevul het, hoef die regering nie meer te verwag dat die howe se reg om wette en administratiewe optrede aan die grondwet te toets teen hom gebruik sal word nie. ’n Belangrike struikelblok in die PiS se strewe om van Pole ’n regs-outoritêre staat te maak sal dan uit die weg geruim word.

(Dis interessant dat pres. Donald Trump voor sy onlangse besoek aan die G20-spitsberaad in Hamburg eers ’n draai in Warskou gaan maak en ’n toespraak daar gehou het. Dit sê iets oor waar sy simpatie lê. Maar dit net terloops.)

Iets soortgelyks is in Hongarye aan die gang. Daar het die eienaardighede van die land se kiesstelsel die regs-populistiese pres. Viktor Orban met ’n minderheidstem aan die bewind geplaas, en hy gebruik dié magsposisie meedoënloos om sy bewind te perpetueer.

Die konstitusionele hof se tande is getrek. Heelparty van die regters wat krities teenoor Orban staan, is verplig om af te tree en is deur sy maatjies vervang. Mediavryheid is beperk.

Dit gaan só ver dat die Europese Kommissie (“kabinet” van die Europese Unie) nou sy tande vir Orban wys. In die Brusselse wandelgange word agter mense se hande gefluister oor die moontlikheid om Hongarye se stemreg in EU-verband as straf te beperk.

Hoe ook al, dié drie voorbeelde wys ’n paar dinge.

In die eerste plek kan populiste sowel links as regs wees (vir sover dié begrippe nog iets tot helderheid bydra). Wat populiste gemeenskaplik het, is hul bewering dat hulle vír die gewone mense téén die elite veg, dat nét hulle die waarheid beet het en dat die elite (en dié se “hoofstroom-media”) die “vyande van die volk” is.

Nog iets wat hulle onderling oor alle ideologiese skeidslyne heen verenig, is hul oortuiging dat die normale beperkings wat enige demokratiese stelsel aan hulle oplê, lastig en onregverdig is en afgeskaf moet word. Dus word daar stemming gemaak teen regters weens hul afkoms (Mexikaans, wit, ryk of wat ook al), teen die “fopmedia”, ensovoorts.

Dit alles om die klimaat voor te berei vir ’n wettige magsgreep. Dis wat tans in Venezuela, Pole en Hongarye aan die gang is.

Maar nie net daar nie. Tussen die reëls deur sien jy dit ook by die harde populistiese vleuel van die Trump-administrasie in Amerika – en by ons in Suid-Afrika.

Dis nie verniet nie dat die Zuma-vleuel in die ANC elke dan en wan die water toets met uitsprake teen die howe (“wie het hulle gekies?”), die media, die vorige openbare beskermer (“’n CIA-spioen”), ensovoorts.

Die een geluk by die ongeluk is dat die ANC só uitermate onbekwaam is dat hy selfs dít nie kan regkry nie.

Hoe ook al, alle Suid-Afrikaners moet in die weke en maande wat voorlê hul oë spits en hul ore op die grond hou. Ek weet baie mense is sinies oor ons grondwet (en ja, dit het duidelike leemtes), maar dis wel die belangrikste wapen wat ons teen ’n sluipende Zumafikasie van die land het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ou Betrokke Vlakvark ·

Die hele Suid-Afrikaanse nasie gaan sedert 1994 deur ‘n harde leerskool wat hulle baie klasgelde kos. Hulle leer op ‘n harde manier dat ‘n apatiese lewenshouding, alles verdigsels naiewelik opeet vir soetkoek en onbetrokkenheid by burgerlike strukture en ‘n swak geskoolde oningeligte bevolking in ‘n “demokrasie” die agterdeur ooplaat vir buitelanders, politieke opportuniste, magsoekers, kriminele en gieraards om die vakuum te vul en ons erfenis te kaap. As ons en ons nageslagte welvaart wil beleef, raak betrokke om ware reg en geregtigheid te bevorder. En wees ook die oog en oor vir die kwaliteit ondersoekende media soos Maroela Media, NETWERK24 en The Daily Maverick. Kriminele haat persvryheid (met verantwoordelikheid) en die lig van sigbaarheid en geregtigheid wat op hulle gefokus word. Kriminele netwerke floreer in die donker, geheimhouding en fopnuus. Laat ons ons ligte op hulle fokus.

Rupert Ashford ·

Die Europese Kommissie is die klomp van Jean Claude Juncker ne. Baie demokratiese liggaam…:-)

Eish ·

Tragies dat selfs die moontlikheid bestaan dat R2 miljard deur n faksie van die regerende party ingesamel kan word om van Zuma ontslae te raak. Dit opsigself verduidelik waarom binnegevegte op die laakbaarste wyse gevoer kan word en op baie laer vlakke as die parlement deur van sluipmoordenaars gebruik te maak. Die heuningpot gaan verseker nie goedkoop verkwansel word nie en die die volgende paar maande sal beslis aan uiterstes getipeer word. Dis egter onvoorspelbare terrein en en die anti Zumafaksie se krag moet nog die tongtippietoets slaag. Hoe die kieser gaan reageer is die onbekende en bepalende faktor.

Sebastiaan ·

Om Venezuela, ‘n mislukte staat waar die opposisie onderdruk word, en Pole en Hongarye, twee florerende en demokratiese lande binne die EU, met mekaar te vergelyk is ‘n bietjie vergesog. In Pole en Hongarye kan die burgers die regering met die volgende verkiesing uitstem, en betoog sonder om geskiet te word, in Venezuela nie maklik nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Sebastiaan, in Pole en Hongarye probeer die regerings hul bes om struikelblokke te skep vir regverdige verkiesings en om te keer dat hulle uitgestem word. Die demokrasie word in albei lande steeds meer nekom gedraai. In Venezuela is die proses net verder gevorder.

Boerseun ·

Ok leopold ek dink ook jy “push” die vergelyking n bietjie. Een is n sosiale staat en ander nie. en dan kon jy ook nie mis om die woord Trump te kryf nie. Nee wat ons situasie is glad nie dieselfde nie. Jy al gedink dat Zuma klaar oorkomste geteken en dit reg teen die globaliste weste se wense is. Die storie in SA met zumpie nog lank nie klaar nie

JC ·

Poland en Hongarye is navolgingswaardig, synde dat hulle leiers ‘n anti- internasionalistiese inneem.
Wat nie ingerekenword nie; is die versnellende weersin en teenkanting teen sosiaal demokratiese instellings, en paradigma skuif. Dis belangrik om daarop te let dat die EU die bakermat van sosiale demokrasie is met die se euwels van internasionalisme en globalisasie en die wereldwye kultuur oorlog (waarvan die HSM en inligting-oorlog maar ‘n deeltjie van is) wat hom nou afspeel in veral die VSA; en waarby President Trump en sy administrasie nouliks betrokke is en hy inderdaad ‘n leiersfiguur van is. (MAGA!)
HIERDIE bogenoemde verskynsel is ongeewenaard in die geskiedenisdie punt is dat dit dus nie deug om geykte veralgemenings te maak oor outoritere bewegings van die verlede nie- bloot omdat die nuwe afkeur in SD juis ‘n nuwe verskynsel is wat nie voorheen geopenbaar is nie en die nuutgevonde afkeur in demokratiese sosialisme en sy euwels in reaksie is !! TEEN DIE VERGRYPE EN EUWELS VAN DIE SOSIALE DEMOKRASIE. Daar is ‘n rede waarom die ou Grieke en sophiste gewaarsku het teen die vergrype van “demokrasie”. Politiese korrektheid die spilpunt.
Opsommendkangeseworddat die implikasiedat PresTrump se steun aan die Pole om boos of afstootlike rede(s) is, en dat hy hom om een of ander rede by die absolutiste skaar, die pot mis sit aangesien dit duidelik is dat hy juis ‘n voorstander is van die westerse wereld wat ten diepste in verval is met die skadelike gevolge wat demokratiese sosialisme en sy meelopers reeds gedoen het.

Chris ·

Leopold waarom bring jy nie somaar die populistiese CNN ook in nie . Vertel ons bietjie v d leuns wat hulle versprei het en waarvoor n paar v hul bedank het . Vertel ook v d populistiese Obama wat so lekker toesprake maak in Europa waarvoor hy sakke vol geld kry teen sy wettig verkose president

Bert ·

Daily Maverick goed ingelig? Asseblief. Trek die ander ene. Op enige gegewe oomblik is dit ‘n nes van fopnuus, anti-Afrikaner menings en dies meer. Kyk net na wie hulle gereelde bydraers is.

humor ·

Lee vaatjie hou jou kraantjie toe sodat ander nie jou gebrekkige kennis kan waarneem nie. In hierdie geval is dit op myself van toepassing. Dankie vir kommentare wat van diepere kennis getuig sodat ons nie alles vir soetkoek hoef op te eet nie.

Nico K ·

JC en Hans, ek sien julle is so teen demomkrasie. Moenie bekommerd wees nie. Dit gaan een van die dae in SA ook daar mee heen wees. Ek kan nie sien dat Zuma gaan loop nie. En ek glo julle sal dit dan geniet in SA want dis mos wat julle wil hê. Julle en die res van Afrika het nogal baie in gemeen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.