Zuma: Volstruispolitiek ‘slaan met stomheid’

zuma-vs-madonsela

Pres. Jacob Zuma en die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela.

Ek is nie iemand wat maklik sprakeloos is nie. Maar Vrydagaand, toe pres. Jacob Zuma die nasie op televisie toespreek, was ek met stomheid geslaan. Dis versterk deur die reaksie van die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe.

En Sondag het die stomheid my ’n tweede keer met ’n dubbele slag teen die voorkop geslaan met die perskonferensie van Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, en Zuma se toespraak op Melmoth in Kwazulu-Natal.

Maar laat ek die stomheid agter my laat en na aanleiding van dié drie openbare optredes probeer nagaan waar dit Zuma, die ANC en ons land laat.

Die kern van die drie optredes was die volgende:

  • In sy televisietoespraak het Zuma soos ’n kleuter eenvoudig alle skuld ontken. Ander mense en allerlei misverstande moet die skuld kry. En onmiddellik daarna het Mantashe hom daarvoor geprys.
  • Toe het Mbete, soos die drie spreekwoordelike apies, eenvoudig haar oë, ore en mond toegedruk en basies gesê sy weet nie hoekom sy die openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, om verskoning moet vra nie. Die parlement het niks verkeerd gedoen nie.
  • En Sondag het Zuma sy sondes van leuens, bedrog en korrupsie vererger deur ’n skaamtelose rassistiese uitspraak, naamlik dat swartes net vir swartes moet stem, anders vat “hulle” – en almal weet wie dít is – die land weer terug.

Let wel, dit alles volg op ’n helder, logiese uitspraak van ’n volbank van die konstitusionele hof, geskryf deur hoofregter Mogoeng Mogoeng, waarin Zuma en die parlementêre meerderheid in soveel woorde kliphard aan minagting van die Grondwet skuldig bevind word. En dan kom Zuma, Mantashe en Mbete en beweer met onbewoë gesigte dat hulle glad nie skuldig bevind is nie, dat ánder die skuld moet kry.

Wat hulle hier gedoen het, is om die Suid-Afrikaanse kiesers soos volslae idiote te behandel en te verwag dat hulle toegejuig word. Wel, te oordeel na berigte oor hoe Zuma op Melmoth ontvang is, was sommige mense inderdaad tevrede om soos idiote behandel te word. Ander, soos dié by die Kaapstad Jazz-fees, waar min. Nathi Mthethwa uitgejou is, het dit tereg as ’n belediging beskou.

Nou ja, by ’n ontleding soos dié moet ’n mens jou altyd afvra welke beweegruimte die betrokkenes gehad het en welke alternatiewe weë hulle, realisties gesproke, kon inslaan. As ’n mens dáárdie pad loop, moet jy emosie en moraliteit op die agtergrond skuif en net na realpolitik kyk.

Die een teoretiese alternatief was dat Zuma en die ANC in die openbaar die boetekleed sou aantrek en skuld erken. Vir ’n beweging soos die ANC, wat sy struggle deurgaans probeer voorstel as ’n wetmatige opmars na die glorieryke oorwinning van 1994, dit as die klimaks van die ganse Suid-Afrikaanse geskiedenis voorhou, en dus die permanente regeringsmag as sy natuurlike rég beskou, was dit ondenkbaar.

In daardie narratief pas erkenning oor korrupsie, magsmisbruik en flagrante oortreding van die Grondwet eenvoudig nie. Daarom het selfs Mantashe, agter die skerms nogal een van Zuma se kritici, in die openbaar geen millimeter van die narratief afgewyk nie.

Om die ANC se foute openlik te erken, sou ’n yslike gat slaan in die aura van onfeilbaarheid wat hy veral sedert die jare sewentig rondom hom gebou het.

’n Mens vermoed dat die ANC-leiers bevrees was dat dit ook die beeld van onoorwinlikheid sou aantas, en dat dit aanleiding sou gee tot ’n afkalwing van die party se steun by die swartes. Dat Zuma op Melmoth (soos elders ook al) die rassekaart met oorgawe speel, is immers nie om dowe neute nie.

’n Tweede alternatief sou wees om – soos inderdaad gebeur het – met ’n strak gesig te maak asof niks wesenliks gebeur het nie, of Mogoeng se verdoemende uitspraak maar net die mening van ’n private burger was wat nie veel gewig dra nie. Dit sou die ANC se sentrale narratief wel ongemoeid laat. Vervolgens gaan die party verder soos altyd.

Daar is ook ’n derde alternatief: Om die tweede alternatief na buite uit te oefen, maar Zuma na binne stilweg te neutraliseer. Dit kan op verskillende maniere gebeur: Sy magsvlerke kan geknip word sodat hy sy pos net onder toesig van sy kritici in die ANC kan uitoefen, of om tot ná die munisipale verkiesing te wag en hom dan weens “swak gesondheid” te laat bedank, of só iets.

Tans woed ’n klipharde geveg agter die skerms ongetwyfeld oor dié alternatiewe. Die eerste alternatief – openlike skulderkenning – vermoed ’n mens is ondenkbaar, en die geveg woed dus tussen die voorstanders van die tweede en die derde alternatief.

Uiteindelik, vanuit ’n sekere perspektief beskou, maak dit nie regtig veel saak wie wen nie. Ongeag die wenner, is die verloorder seker: Dis die ANC self.

As die groep wat niks wil erken nie (Zuma self en sy kornuite) die pyp rook, gaan die huidige proses waarvolgens kiesers van die party wegdryf, versnel word. Talle mense – ons het dit onder wittes in die tyd van die Nasionale Party-regering ook gesien – is bereid om hulle aan die neus te laat lei, maar hul getalle neem af.

Uiteindelik gáán só ’n ANC die mag verloor. Of hy gaan skeur. Dan lê die EFF reg om in die gaping in te spring, iets waarop die DA bedag moet wees.

As Zuma geneutraliseer of weggewerk word, tas dit inderdaad, soos die ANC vrees, sy aura van onoorwinlikheid aan. En in Afrika is dit fataal. Die Afrikane steun ’n wenner, nie ’n verloorder nie.

Die vraag is hoe die minderheidsgroepe, en die Afrikaners in die besonder, hierop moet reageer.

Enersyds kan hulle hul gewig agter kleiner partye soos die DA, die VF+ of die ACDP inwerp. Daar is niks mee verkeerd nie, maar dit gaan waarskynlik nie die redding bring nie.

’n Geografiese Afrikanerstaat is teoreties ’n eerbare gedagte, maar prakties nie haalbaar nie.

Die antwoord lê waarskynlik eerder in die krag van die burgerlike samelewing. Mense moet hul kragte monster in groepe soos AfriForum (of ander!) wat die magsmisbruik van wie ook al regeer, deur ’n kombinasie van metodes aan bande kan lê.

Dit gaan nie vanself kom nie. Die dae dat ’n welwillende owerheid na die Afrikaners omsien, is vir altyd verby. Die minderheidsgroepe sal dit op ’n georganiseerde wyse self moet doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Paul ·

Wat is nuut of verbasend in hierdie optrede van die ANC?

Waarom sou dit enigiemand stomslaan?

Dit sou tog eerder rede wees om stomgeslaan te wees indien iemand van die ANC vir ‘n slag eerbaar en verantwoordelik opgetree het.

Net omdat “politieke ontleders” kortasem geraak het in hul voorspellings dat Zuma sou bedank, is geen rede om stomgeslaan te wees dat dit nie gebeur het nie.

Veritas ·

Paul, jy is heeltemal in die kol. Enigeen, wat gedink het dat Oom Jacob sou bedank of dat die ANC hom sou herroep, is kinderlik naief. Nie hy, sy kornuite of die ANC kan bekostig dat hy gaan nie. Dit sal die organisasie kwesbaar maak in die komende verkiesings. (Indien dit gaan plaasvind). Aan die ander kant, hoe langer hy aan die stuur van sake bly, hoe meer skade gaan dit aan die ANC doen. Al hoe meer ANC grootkoppe begin hom in die openbaar teenstaan en dit dui net op een ding: Die ANC is naby skeurpunt.

Gideon ·

Ek verstaan nie waarom die gebeure enigeen stomslaan nie. Dit slaan my stom dat daar veral onder die Afrikaner enige verwagting van eerbaarheid en verantwoordelikheid kan wees. Ons hou die grondwet omhoog as waarborg (waarvan is ek nie seker nie), nes Chamberlain in 1938 Hitler se waarborg van “peace in our lifetime” voorgehou het.

Johan ·

Nog iets wat ontleders heeltemal stom gaan slaan, is wanneer al die gebeure rondom Zuma en die ANC, absoluut geen effek gaan hê op die volgende verkiesingsuitslag nie. In ‘n Westerse verkiesing soos die ou SA, dryf die stemmers politiek met hulle stemme. In Afrika konteks beoefen die stemmers kultuur. Vir die meeste stemmers in SA is daar nie’ n direkte konnotasie tussen stem en Zuma se sondes nie. Hulle kan nie die verantwoordelikheid van stem koppel aan die onverantwoordelike optrede van Zuma nie. Daarom is ‘n stem vir die ANC kultureel reg, en sal hulle weer ANC stem. Die stemmers sien hulle self nie as onverantwoordelik om ANC te stem, net omdat Zuma onverantwoordelik optree nie…

Charmaine ·

Ai ai lees tog weer wat Leopold van praat. Hou op om ANC kiesers uit te sonder, dink wat ons kan en moet doen om saam te staan met al die ander wat nie gelukkig is oor die benarde posisie waarin ons onself vind nie. Begin in jul eie dorpe en hou jul eie partye wat die munisipaliteit beheer verantwoordelik. Dis ons almal se land en ons stem vir mense om dit te bestuur. Kies die beste kandidaat en hou hom/haar verantwoordelik om dinge reg te doen en indien dan nie ………………
vervang met ‘n ander persoon wat dit kan doen.

Henry ·

Anders as die skrywer van hierdie artlikel, word meeste van ons laaaankal nie meer stom geslaan deur die optredes van die huidige regime nie.

Ons verkeer ook onder geen illusies oor die werklikhede van hierdie droewe land nie. Om nie eers te praat van ‘n regime wat met die stemme en steun van ‘n oorweldigende meerderheid, nog ‘n Afrikastaat oor die afgrond ‘bestuur’ nie

Daarom het meeste Afrikaners reeds laaaank gelede tot die besef gekom dat ons belange, met die uitsondering van enkele gebiede, nooit via die stembus beskerm kan word nie. Soos New York se Mafiosi sê ons ook: ‘Its a numbers game.’

Daarom slaan ons, ons oë op en ondersteun ons burgerregte organisasies soos Afriforum en Solidariteit.

Garfield ·

Charmaine, in ‘n perfek gebalanseerde demografiese bevolkingssamestelling sou jou simplistiese naiewe oplossing dalk kon werk. Nie in die werklikheid wat Suid Afrika is nie.

Charmaine ·

Daar is altyd ‘n raadsvergadering waar al die party nie ooreenstem, behalwe as hul vir hulself ‘n 6% salarisverhoging toeken en dan al die dienste met 8% verhoog. m.a.w. ons gaan nou omtrent R35 per swart vullissak betaal om dit te laat verwyder, maak jou dink …..

Theresa ·

Stomslaan nie juis nie. Maar histeries raak, wel. As ek nie as mal beskryf sou word in my omgewing nie, het ek lankal heeldag die afgelope maande laggend soos ‘n hiëna op rug gelê en skop in die lug van pure histeriese lag. Ek skaam my dood vir die openlike vertoon van onder gemiddelde denkkrag en dit van landsleiers en die een wat die beste voet moet voorsit en ‘n regte voorbeeld wees vir die nasie, is dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.