Zumafikasie spruit uit president se grondwetlike magskonsentrasie

Pres. Jacob Zuma tydens ‘n geleentheid in Nelspruit in 2016. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Die nuus word deesdae oorheers deur oproepe regoor die politieke spektrum om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak. Die rede hiervoor is baie eenvoudig: Jacob Zuma het ons land manalleen tot op die rand van die afgrond gesleep. Maar dit is opmerklik dat die skare van kritici wat op sy bedanking aandring, nie ʼn woord rep oor die rede hoekom een mens soveel mag het dat hy ʼn moderne staat kan kaap en verwoes nie.

Die basis van mnr. Zuma se bykans onbeperkte magsposisie is sy uitgebreide magte ingevolge die Grondwet. Die belangrikste faktor wat sy onbeheerste “Zumafikasie” moontlik maak, is sy omvattende magte om sleutelaanstellings te doen.

Zuma se strategie van Zumafikasie behels dat hy die land se sleutelinstellings gekaap het deur lojale politieke kaders en persoonlike vriende as hoofde van dié instellings te “ontplooi”. Hy beheer die land grootliks deur hierdie netwerk van persoonlike aanstellings, in plaas van deur die amptelike instellings.

Hierdie stelselprobleem is al in 2014 vierkantig op die tafel geplaas deur die afgetrede adjunkhoofregter van die konstitusionele hof, Dikgang Moseneke. Hy het beklemtoon dat die Grondwet en ander wetgewing ’n merkwaardige hoeveelheid aanstellingsmagte aan die president verleen. In enkele gevalle is die parlement en ander staatsinstellings medeverantwoordelik, maar in die meeste gevalle berus die mag uitsluitlik by die president.

Dit spruit uit die grondwetlike onderhandelingsproses, wat omvattende aanstellingsmagte vir die president ingestel het. Hierdie magte strek van die aanstelling van ministers, tot die regters op advies van die regterlike dienskommissie, die hoofde van talle openbare sleutelinstellings soos die nasionale direkteur van openbare vervolging, die openbare beskermer, die ouditeur-generaal, lede van die Menseregtekommissie, die Onafhanklike Verkiesingskommissie, asook die ander artikel 9-grondwetlike instellings wat die demokrasie moet bevorder, die kommissarisse van die Staatsdienskommissie wat staatsamptenare aanstel; hoofde en bevelvoerders van die weermag; die polisiehoof; die hoof van die Intelligensiediens; die hoofde van die reserwebank, die belastingdiens en die onafhanklike kommunikasie-owerheid.

Daarby het die president ʼn bepalende sê in die aanstelling van die hoofde van die land se 715 openbare ondernemings soos Eskom, die SAL, die SAUK, Transnet en Denel. As ANC-leier beheer Zuma ook die ANC se nasionale kaderontplooiingskomitee, wat ANC-lojaliste landswyd aanstel.

Zumafikasie is ’n onbedoelde maar grootliks voorsienbare gevolg van die omvattende magte wat die Grondwet aan die president verleen. Gesien in die lig van die ANC se dekades lange uitgesproke voorkeur vir ’n totalitêre regeringsvorm en die risiko dat so ’n magsposisie misbruik kon word, moes soveel magte nooit aan ’n president toegeken gewees het nie. Daarom kan al die skuld vir die treurige stand van sake nie net op ’n onbevoegde en korrupte president en sy gedweë party geplaas word nie. Dit is uiters noodsaaklik dat die stelselfout wat ’n Zuma moontlik maak, dringend hersien moet word om te verhoed dat hierdie of ’n volgende “Zuma” die land finaal oor die afgrond stoot. Die magtige presidensiële stelsel bedreig nie net die grondwetlike demokrasie nie, maar die land se toekoms.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

Maar hoe? Dis die vraag. Of eers totale chaos, pyn en lyding voor die kaders wakker word of hoe anders…

Rve ·

Duidelik was ons “onderhandelaars” min gepla oor wat uiteindelik met ons gebeur. Met gesorg dat hulle beter af daar uit stap

Dereck Le Roux ·

FW de Klerk en sy twee luitenante Roelf Meyer en Leon Wessels was gewaarsku dat hulle sogenaamde wigte en teenwigte so min beteken as die papier waarop dit geskrywe is.

Ou Regsadviseur Bosvark ·

Mnr Buys, baie dank vir die goed geformuleerde stuk. Mag ons uit die foute van die verlede leer.

Mens kan na die tyd altyd met kritiek slim speel. Klaers oor F W de Klerk, Roelf Meyer en Leon Wessels moet summier ophou met hierdie afbrekende praktyd. Immers, die destydse Nasionale Party het mos ook regslui betrek om die nuwe grondwet te help opstel. GEEN grondwet is perfek nie.

Kom ons almal leer uit die foute van die verlede. So, kom ons almal raak nou ontslae van hierdie verwyte-sindroom en bou konstruktief aan die toekoms.

Boerseun ·

Ou regsvark. Probleem bly one leer nie, hou aan dink almal kan in vrede in sa saamwoon.

Leon van Rensburg ·

Zuma het sy vingers op al die kaders se kele. Almal weet hy was die hoof van MK se inligtings vleul. Hy weet van almal se geraamtes in die kaste en die kaders weet dit. Sou hy sink is almal se lekker lewe daarmee heen, ek gaan immers nie die hand byt wat my voed nie. Sela!

Francie ·

Janee, ek is nog altyd wysgemaak dat Suid-Afrika so ‘n wonderlike grondwet het. Man alleen het Zuma hom so posisioneer dat hy kan maak wat hy wil. Ek dink die mense wat hom enigsins in die pad kon steek het self te veel geraamtes in die kas en Zuma weet daarvan. Kan ‘n mens enige LP kwalik neem dat hy teen Zuma gaan stem? Ek glo nie. Hulle sal dan van die soustrein moet af, en dit geld ook vir enige korrupte amptenaar tot op grondvlak.
Ek weet eerlikwaar nie hoe ons uit hierdie knelgreep gaan kom nie.

humor ·

Ou regsadviseur die regsadvies destyds verleen lyk my maar na iets wat tuis kan wees in varhok. Wanneer n totale land en volk se toekoms op die spel is, is so iets net eenvoudig onverskoonbaar en selfs strafbaar met die dood. Ons onthou nog hoe sekere vases met spoed deurgedruk is. Min tyd gegun om behoorlike werk te doen.

lewies ·

Die regerings voor 1994 het ook kaderontplooing toegepas. Die staatsdiens is maar een van die sektore waar dit fluks gedoen is. Jou getuigskrifte vir aanstellings is met ‘n vergrootglas deurgegaan. Dit het ons nie gered van politieke ondergang nie, inteendeel.

Ons moet aanvaar dat ook die ANC een of ander tyd ook sy regeermag sal verloor. Politiekestelsels en menslike wilsbesluite is nie in beheer nie die politiek van die dag nie. Hy wat regerings aanstel en vernietig kan nie gemanipuleer word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.