Zupta-Suid-Afrika verloor meer as wiele en vlerke

Oudpres. Jacob Zuma het op 8 Junie in die hof verskyn. Foto: ANA.

Vier nuusberigte van die afgelope tyd vertel die kern van die verhaal van die Zupta-Suid-Afrika. Toevallig het al vier met die vervoerekonomie te make, maar saam illustreer hulle ’n groot deel van wat in dié land van ons skeefgeloop het.

Ten eerste gaan die gewese uitvoerende hoof van Transnet, Brian Molefe, waarskynlik van korrupsie aangekla word. Dít nadat die prys vir 1 064 nuwe lokomotiewe van R38,6 miljard tot meer as R58 miljard opgeskiet het. ’n Mens rúik sommer die skyn van korrupsie, veral omdat mense in die Gupta-kringe blykbaar ook by die saak betrokke was. (Maar korrupsie sal natuurlik in ’n hofsaak bewys moet word.) Bowendien was die lokomotiewe onbruikbaar, synde te hoog vir die Suid-Afrikaanse kragdrade waaruit die lokomotiewe hul elektrisiteit kry. En wat dit des te erger maak, is dat Molefe as uitvoerende hoof van Eskom eweneens ’n gemors van sake gemaak het.

Die tweede berig lui dat die lugredery Comair (wat vlugte as British Airways en Kulula onderneem) besluit het om sy kontrak met die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se filiaal wat vliegtuie vir hom versien, nie te hernieu nie. Die rede, lees ’n mens tussen die reëls, is dat die SAL se tegniese vermoëns onvoldoende was en dat die vliegtuie sleg gediens is. Daarby is werknemers glo betrap dat hulle noodsaaklike onderdele steel. Dit het alles daartoe gelei dat Comair-vlugte gekanselleer moes word, uiteraard tot die yslike ontevredenheid van reisigers wat daardeur geraak word. Comair het nou ’n kontrak met Lufthansa geteken om die vliegtuie te diens. Van die Duitsers – of diegene wat onder hul toesig werk – kan ’n mens ten minste deeglikheid verwag.

’n Derde berig, wat sonder twyfel verband met die tweede hou, is dat Burgerlugvaart die vliegvergunning van nog ’n SAL-filiaal, South African Express, in sy geheel ingetrek het. Die rede is dat die vliegtuie onvoldoende onderhou is, waardeur hulle ’n gevaar vir die passasiers geword het. Burgerlugvaart se verslag lui dat ’n oudit 17 oortredings aan die lig gebring het, waarvan vyf Vlak 1-oortredings was – dit wil sê oortredings wat “ ’n baie ernstige veiligheidsrisiko vir die publiek inhou”. Nóg SAL-filiale, Mango en Airlink, het weliswaar SA Express se vlugte voorlopig oorgeneem.

Ten slotte wankel die SAL steeds op die randjie van bankrotskap nadat hy nie ’n lening van $1,8 miljard wat CitiBank van die VSA onmiddellik wou terughê, kon betaal nie. ’n Paar weke gelede het bekend geword dat die lugdiens vanjaar R5 miljard ekstra nodig sou hê om sy skulde af te betaal. Dít nadat die onderneming in die 2016/’17-boekjaar – ondanks staatshulp ter waarde van R10 miljard – steeds ’n verlies van R5,6 miljard gely het. En om alles te kroon, sal die staat R21,7 miljard oor die volgende drie jaar moet hoes as die SAL wil oorleef.

Wat sê dit alles vir ons oor die staat waarin die staat verkeer?

Sekere gemeenskaplike kenmerke tree uit die vier voorvalle – en tientalle ander soortgelykes – na vore.

Ten eerste is die SAL, sy filiale en Transnet op ’n roekelose wyse bestuur. Trouens, daar kan redelikerwys vermoed word dat die hofsake grootskaalse korrupsie aan die lig sal bring.

Immers, waar die naam Gupta val, wéét ’n mens al. En ja, ook dít sal natuurlik bo alle redelike twyfel in ’n ope hof bewys moet word.

Tweedens is die vraag wat aan dié roekeloosheid ten grondslag lê. Kom ons laat die vraag oor oneerlikheid eers daar (ek wil nie graag van laster aangekla word nie) en sê dat dit op die allerminste ernstige onbekwaamheid wys.

In enige onderneming – in private- of staatsbesit – is dit normaal om sekere eienskappe van die topstruktuur te verwag. ’n Mens dink, onder meer, aan sake soos voldoende kwalifikasies, ervaring, bekwaamheid, eerlikheid, leierskap, vakkennis, ’n vermoë om hard te werk, ensovoorts.

Let daarop dat die “regte” vriende en politieke oortuiging nie genoem word nie. Dit behóórt irrelevant te wees; dit gaan nie om wie jy kén nie, maar of jy goeie wérk lewer.

Die vier berigte wys dat die topstruktuur van Transnet en die SAL, met name Brian Molefe en Dudu Myeni, aan geeneen van dié vereistes voldoen het nie. Inteendeel, hulle het daardie poste gekry blykbaar omdat hul ondersteuners (en dalk meer) van pres. Jacob Zuma was, omdat hulle nie slegs die regte party gesteun het nie, maar die regte faksie in die regte party.

In die Zupta-Suid-Afrika is bekwaamheid, eerlikheid, leierskap en dies meer nie alleen géén aanbeveling nie, maar inderwaarheid ’n diskwalifikasie. ’n Eerlike hoof van Transnet of die SAL beteken immers dat korrupsie aktief beveg sal word, en die indruk wat ’n mens sterk van buite kry, is dat dit nie deel van die Zupta-agenda was nie.

Dit was immers die Zuptas se beurt om te “eet”. En dus is die staat nie beskou as instrument om die Suid-Afrikaanse publiek deur goeie dienslewering en ontwikkeling te dien nie. Nee, die staat was ’n melkkoei wat leeg gemelk moes word, en te hel met die gevolge.

Nou sit Zuma se opvolger, pres. Cyril Ramaphosa, met die gebakte pere. In sy eerste 100 dae aan die bewind het hy oorwegend ’n goeie indruk gemaak, maar die eintlike toets lê nog voor – en, soos dit ’n goeie, siniese joernalis betaam, wil ek sién voor ek glo.

Bowendien bied ’n beduidende deel van die ANC heftig weerstand teen Ramaphosa se – tot dusver – versigtige stryd teen korrupsie. Dat Zuma so woel om ’n politieke opstand in die KwaZulu-Natalse ANC aan te blaas, is nie om dowe neute nie.

As Zuma skuldig bevind word aan die korrupsie wat hy – kom ons sê maar vir die veiligheid na bewering – gepleeg het, kan hy tronk toe gaan. Meer nog, die wet bepaal dat ’n wetsoortreder nie voordeel uit sy oortreding mag behaal nie, en gevolglik is dit logies om ’n eis te verwag dat Zuma al daardie miljoene sal moet terugbetaal.

Wat beteken dat hy moontlik nie as vet miljoenêr in Nkandla, omring deur ’n klomp nubile jong dames, sal aftree nie, maar as bankrot bedelaar, afhanklik van ander se gunste en gawes. Dít, kan ’n mens met veiligheid voorspel, gaan hy met alles in sy vermoë beveg.

Selfs al moet hy Suid-Afrika saam met hom in die afgrond insleep.

Hy mág nie slaag nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Petro Benade ·

Behalwe natuurlik die lig in die tonnel wat dan die lig van ‘n aankomende trein kan wees!!!!!

Die waarheid ·

Dit gaan my verstand te bowe dat n familie n land se geld kan kaap en weg kom daarmee. Skrikwekkend!

Paul ·

En nou lees ons gister in ‘n berig oor die stakings dat Eskom het nie genoeg steenkool om tot die einde van die jaar te hou nie, derhalwe sal die Guptamyn weer steenkool moet verskaf.

Kannaland ·

Dankie vir die reguit en kragtige artikel. Wat my nou baie bekommerd maak is more gaan twee gesondheidswetsraamwerke uitgegee word wat, net soos ons vervoerorganisasies, die totale gesondheidssektor kan laat ondergaan. Ten minste kan privaatvervoerorganisasies uithelp, maar die voorgestelde gesondheidswetgewing gaan privaathospitale blykbaar dwing om pasiente te behandel wat nie kan betaal nie, wat sal lei tot ineenstorting en emmigrasie van gesondheidspersoneel. Dit sal maak dat ons wat op mediese fondse staatmaak om na kwaliteit privaathospitale toe kan gaan nie meer dit kan doen nie. ‘n Artikel hieroor sal gaaf wees want ek dink baie van ons gaan geraak word. Dit is net die heel rykste mense wat na die buiteland toe sal kan gaan vir mediese sorg.

Kosie Kramer ·

My vriendin is `n verpleegster. Volgens haar betaal die staat tans beter as die privaatsektor. My swaer se niggie werk vir Netcare. Sy vlieg die wêreld vol om bekwame oud-SA verpleegpersoneel te gaan teruglok.

Albaster ·

Die feit dat die staat oorbetaal is nie n oplissing nie. Netcare wil dalk nou personeel teruglok maar gaan baie weer verloor as die nuwe wet inskop.

Boerseun ·

My tannie se vriendin se niggie is ook n verpleegster? Ek het nog nie gehoor dat mediese instansies onder ander regstellende wette werk nie so ek dink jy moet jou swear se niggie se weergawe net beproef. Dan is dit logies dat die staat na jare se strikes en verhogings, personeel meer gaan betaal op een of ander punt. Selfde as die straatvier wat R10 000 per maand kry, die staat moet vir hulle sorg en hulle meer as 10% verhoging elke jaar gee of goed word gebrand. Dan die staat kan dalk meer betaal, maar hoe toeganklik is daai poste vir almal?

Heinrich ·

Daar is tog een vraag wat ek wil vra. Dit is nie asof dit ‘n totale nuwe party is wat oorgeneem het nie. Ramaphosa was deel van van hierdie plundertog as deel van die topstruktuur, hoe op dees aarde kan hy nou onskuldig wil kom pleit, hy het absoluut niks gedoen om hierdie plundertog te stuit nie, want hy kon nie, die hele lot is korrup hy sou nie heel aan die ander kant uitgekom het as hy sou opstaan nie. Dit maak hom tog die deler wat net so goed is as die steler.

Bob ·

Paragraaf 5. Daai miljarde klink vir my so bietjie meer as die $18 miljoen dollar. Of is dit $18 miljard?

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Bob

Dankie vir jou navraag. Ons het die berig gewysig sodat die bedrag korrek is en meer duidelikheid oor die lening verskaf waarna dr. Leopold Scholtz verwys.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

JdV ·

Hi Maroela/Dr. Scholtz, neem asb kennis dat $18 miljoen nie R249,853 miljard is, soos in die vyfde paragraaf van die artikel gestel word, nie.

Groete

JdV

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê JdV

Dankie vir jou navraag. Ons het die berig gewysig sodat die bedrag korrek is en meer duidelikheid oor die lening verskaf waarna dr. Leopold Scholtz verwys.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

dejager ·

Ek stem saam met Heinrich.Die draak met die sewe oë se een oog is uitgehaal en met ń glas oog vervang.Dit is nog dieselfde draak wat ons regeer.Hy blaas steeds vuur en sy vernietiging gaan onverpoosd voort.Hy is ń groot draak maar hy kom nou agter daar is niemand meer wat hom vrees nie. Hy is nou goed vir niks,buiten om van ontslae te word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.