365 dae na die dood van ʼn kind

Elke Janse van Rensburg se hartroerende brief aan haar dogter wat in ‘n vierwielmotorfiets-ongeluk dood is.

Marla, Elke, Gerco en Gerhard. Foto: Verskaf

Marla, Elke, Gerco en Gerhard. Foto: Verskaf

365 dae gelede moes ons afskeid neem van ons blommekind. Drie honderd vyf en sestig dae. Sonder haar liefde, haar omgee, haar passie en aansteeklike lag.

Hoe oorleef ʼn ouer die seer as die dood jou kind van jou kom wegruk? Hoe keer mens dat jou huwelik nie ook sneuwel nie? Hoe funksioneer ʼn gesin wanneer een gesinslid kort? Hoe hanteer mens die verlange en gemis? Hoe?

ʼn Jaar terug was ek nog toegevou in ʼn ‘hemelse narkose’ en sou ek sonder aarseling gesê het: “Ons sal dit maak!” Sou iemand my die vraag ʼn paar maande terug vra, sou ek nie so maklik, so simplisties en naïef geantwoord het nie. Om afskeid te neem, was vir ons maklik, ons het immers nie ʼn keuse gehad nie: sy het baie breinskade gehad.

Elle-Zaan (12) het op ʼn lieflike Sondagoggend (12 Junie 2015) ʼn laaste keer saam met haar ousus, Marla (13) en boetie, Gerco (5), op ʼn vierwielmotorfiets gery, toe die fratsongeluk plaasgevind het. Die wete dat ons haar wens om ʼn orgaanskenker te wees, kon verwesenlik, was morfien vir die seer. Dat haar lyfie geskenke van lewe en hoop vir ander was, was ʼn banier wat ons gepantser het.

Om egter dag vir dag sonder haar in ons lewens te leef… dit was en is nog steeds ʼn ander saak. Om te rou oor jou kind se dood is nie ʼn mooi prentjie nie. Dis morsig en bloederig. Dit is soos om te kraam sonder pynstillers. Die verskil is net dat daar geen beloning is nie: geen pragtige babatjie word gebore nie. Net jou hart wat uit jou borskas skeur. En in hierdie proses word jy onherroeplik verander.

Elle-Zaan Janse van Rensburg.

Elle-Zaan Janse van Rensburg.

Eerstens: daar is geen, maar geen handleiding nie! Daar is geen selfhelpgids met “10 maklike stappe om jou kind se dood te verwerk” nie. Ek mag dalk ʼn paar geleerdes die josie injaag met my stelling dat selfs die ‘vyf stadiums van rou’ eintlik net teorie is. Asof mens deur die hele proses heel anderkant uitstap. En moenie glo dat die een fase noodwendig op die ander een se hakke volg nie. Na aanvaarding het ontkenning ʼn metgesel geword en dan het ʼn onredelike woede sy lelike tande gewys.

Tweedens: elke persoon rou op sy of haar eie manier en eie tyd. Ek het aangeneem almal moet soos ek dink, voel en optree. My trane en woorde het maklik geloop, maar party mense huil eerder binnekant toe en die hartseer maak jou stom. Elkeen se rouproses en prosessering is verskillend en so uniek soos jou vingerafdrukke. Geen twee mense sal dieselfde op ʼn kind se dood reageer of dit verwerk nie. Gun elke persoon sy of haar unieke manier van afskeid neem.

ʼn Sêding lui: Hoe eet jy ʼn koek? Happie vir happie. Hoe klim jy ʼn berg? Treetjie vir treetjie. Na hierdie jaar voel dit asof ons as gesin op een van ʼn bergreeks se pieke staan en ons het ʼn onbelemmerde uitsig op die afgelope paar maande. Ons dit tog tot hier gemaak!

Daar was baie moeilike tye: Doodse stiltes tussen man en vrou, ouer en kind. Stiltes in die huis wat jou ore laat suis. Ja, rou is ʼn baie goeie isoleerder. Vele kere is ʼn ekstra bord uitgehaal of ingedagte gery om haar by die skool te kry. Die eerste uitstappie en vakansie sonder haar het gevoel soos verraad. Hoeveel keer het elkeen van ons nie gewens vir nog net vyf minute saam met haar nie; net nog een keer haar laggie hoor, net nog een drukkie, net nog een…

Hoe kon ons dit regkry om nie ook om te kom na haar dood nie? Dit was nie maklik nie, maar dit is moontlik. Die lewe self is ʼn genadelose slawedrywer. Terwyl ʼn geliefde begrawe word, word vergaderings en partytjies gehou, kinders gemaak en gebore. Min mense het die luuksheid om vir altyd op die ashoop met geskeurde klere te sit en ween. My man, Gerhard en ons twee pragtige kinders het nie ook gesterf nie. Noodgedwonge moes ek my omhuil-naweke en ‘12de tot 15de van elke maand se emosionele koma’ afsweer in ruil vir lewe saam met my geliefdes. My man Gerhard sê vat net eers een dag op ʼn slag.

Met baie genade en gebede van familie en vriende het ons kop bo water gehou. Ons is gelouter en ons geloof is getoets. Dit is egter juis en alleenlik omdat ons glo aan ʼn liefdevolle Vader, aan ewige lewe na die dood en Jesus wat vir ons ʼn plek berei in die hemel, dat ons vandag heelhartig kan sê: Ja! Daar is lewe na die dood van ʼn kind. Daar is hoop na enige trauma of verlies. Het onsself nie dan ervaar hoe God ons dra in hierdie tyd en saggies toevou nie? Weet ons nie verseker dat Elle-Zaan nou die beste deel gekry het en vir ons wag in die hemel nie? Kan dit nie net genade wees dat ons seuntjie geen trauma ervaar na die ongeluk en sy sussie se dood nie? Behalwe dat hy verlang na sy speelmaat, verklaar hy vol onskuld dat sy sussie ons almal gewen het omdat sy eerste in hemel is. Behalwe terugflitse van die ongeluk, presteer Marla goed op akademiese, kultuur- en sportgebied.

Nie een van ons is egter marionette wat na willekeur beweeg word nie. Uit die staanspoor het ons besluit, ons het gekies, om haar lewe te eer en te vier. Marla stel dit so mooi: “Dit is moeilik en swaar, maar haar voorbeeld motiveer en inspireer my. Sy sou nie wou gehad het ons moet net heeltyd treur en rou nie. Daarom lewe ek voluit … vir haar!” Elle-Zaan se dood het so baie kinders en grootmense net weer geleer om die lewe te leef. Mense wat opnuut en vir eerste keer hul hart vir die Here gegee het. Gesinne wat net weer besef het tyd saam is kosbaar.

Na die dood van verskeie kinders, waarvan naby familie*, hierdie jaar, besef ek net al meer hoe kosbaar die lewe is, maar ook hoe broos die mens is. Na 365 dae na ons al die heel eerste ‘eerstes’ sonder Elle-Zaan oorleef het, ervaar ek dat ons ʼn volle sirkel gereis het. Een van dalk nog baie.

Orgaanskenking en om ander te motiveer bly vir my ʼn passie. Ons deel graag lewenslesse wat ons op hierdie reis geleer het: Leef een dag, net een dag op ʼn slag. Leef voluit en in oorvloed, asof vandag jou laaste dag op aarde is! Soek en sien die mooi in die klein dingetjies. Hê lief en wees ontvanklik vir liefde. Belê jou tyd en energie in die regte dinge en maak seker jou skatkamers is op die regte plek.

Vir ons is daar lewe en hoop na die dood van ons kind. Elle-Zaan kyk! Vandag stuur ons weer vir jou ballonne die lug op. Ons sal blou melkskommels drink en bordspeletjies speel, want ons vier die lewe.

*Ons wil graag hierdie skrywe opdra aan Gerhard Steyn wat op 12 Junie verlede maand verongeluk het. Ons harte pyn saam met Abraham, Annette, Willem, Marli en familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

41 Kommentare

MCS ·

Baie , mooi en bemoedigende getuienis! Sterkte en God seen vir julle!

Esmé Mostert ·

Elke … ek lees jou woorde en kyk na jou foto. Ek deel dit met my liefste vriende Ryno .. Corna en Chantellie. En ampertjies was ek daar … my kind het bly lewe. In God is daar Hoop en Vertroosting. Liefde xx

broos ·

dis so hartseer! dis nou al net so bietjie meer as 2 jaar wat ons oudste dogter nie meer saam ons is nie, en ek kan hierdie mamma se woorde so goed beaam. sterkte vir julle x

Beeka ·

Liewe Elke, Gerhard, Marla en Gerco
Sjoe! jy het my ook vandag diep geraak met jou brief en baie diep laat dink. Baie, baie jammer oor jul groot verlies. Bid vir julle.

Karma ·

Die trane drup hier op my hande waar ek sit en tik en wil net nie ophou nie – ek kan amper nie sien wat ek tik nie …. 365 dae …. Elke, Gerhard, Marla en Gerco, jul pyn is ook nou myne. Ek kan nie verklaar dat ek weet wat dit is om ‘n kind te verloor nie, maar ons het wel my broerskind 168 dae gelede, op 29 Januarie 2016, verloor – in ‘n motorfietsongeluk. Hy het op 18 Januarie die ongeluk gehad en vir elf dae aan die lewe gehang – omdat hy vir my en sy ouma gewag het om te kom groet. Of so glo ek. Want hy is enkele ure na ons hom besoek het, oorlede. Elke keer wat ons wou gaan besoek het, het iets voorgeval. Mense, as ‘n geliefde beseer in die hospitaal in ‘n koma lê – gaan besoek daardie persoon; moenie – soos ek – volstruis-taktiek gooi nie – “Ag, hy sal tog nie weet ek was daar nie” of ” Ek kan nie nou nie, dit is ‘n besige tyd by my werk” ens. ens.

Ella Page ·

Baie dankie hiervoor ons dogter Bianca Page het op 6 Julie verlede jaar ook gesterf op 19 en ons wortsel nog elke dag maar hierdie brief is so waar..

Elize C ·

Elke, jy het die rou-proses so treffend opgesom. My oudste is al 24 jaar nie meer met ons nie, maar ek wens nou nog dat ek hom ‘n sekere grappie kon vertel, omdat ek weet hy sou dit geniet het. Ek ken die “ekstra bord uithaal / stukkie koek wat gebêre moet word / die skuldgevoel as jy ‘n vakansie of rolprent geniet”. Ek het vir weke na sy dood in die dorp geloop, en verdwaas na die mense om my gekyk wat net eenvoudig aangegaan het met hul lewens…. en ek wou soms skree: hoe kan julle net aangaan met lewe, besef julle nie my kind is dood nie?! Sien julle nie die hartseer in my hele wese nie?! Maar dit is ook hoe mens gedwing word om te besef: die lewe staan vir niemand stil nie, die lewe gaan wel aan. Baie sterkte. vir almal wie al by hul kind se oop graf moes staan.

JJ ·

Dit is die seerste seer wat ‘n mens kan beleef. Dis nou drie jaar na ons seun, 17, se dood en die wande van die diep gat waarin ons is, is nog baie ver…

Annamarie Trollip ·

My trane lê vlak en my hart pyn seer as ek lees hoeveel Ouers het ook hulle kind moes terug gee vir Jesus. My Seuna Chris is 3jr en 5 maande gelede oorlede na ‘n motorfiets ongeluk waar ‘n trapfiets voor hom ingery het.
Ek het ‘n groepie op fb begin vir Ouers…. My Kind is in die Hemel/I lost my Child en daar ondersteun ons mekaar en deel ons ons ervaringe…..

Hartseer ·

Hoe treffend die brief . Ons het so 19 maande gelede ons seun op 25 jarige oderdom aan ‘n hartaanval aan die dood afgestaan. Verseker is ons rou proses verskillend, my vrou , ek is seker daarvan rou van binne, ek voel soms of ek aan die einde van my bestemming gekom het hier op aarde, wil boedel oorgee, kan die gemis van my kind nie meer hanteer nie, wat is die sin om nog te lewe , waarvoor , vir wat !!! al hierdie vrae kom elke dag op my pad. Ek het al hulp ontvang , maar nog steeds kan ek nie daar oorkom nie. Sit baie keer ‘n front voor dat alles ok is, maar diep binne in my hart voel dit of ek nie meer kan nie . Maar tog kry ek die krag om op te staan en elek dag aan te vat, maar selfs dit verg inspanning. Ek weet God is daar , maar soms voel Hy so vêr, ek weet ek moet my gesindheid verander maar hoe ???? Hy was ons enigste .Sterkte ook aan Elke en haar gesin en elkeen wat ‘n kind aan die dood afgestaan het.Ek bid vir julle .

Sue V ·

Hi, ek lees u kommetaar met ñ seer hart en baie trane en kan net sê, verseker kom ñ ouer net nooit oor jou kind se heengaan nie. Die verlange, gemis, hoekoms en waaroms is altyd ons metgesel 24/7 365 dae ñ jaar. Dit is normaal om so te voel, na alles is ons harte uitgeruk, daar ñ leë swaar kol binne ons. My enigste kind is 5 jaar en 9 maande terug op die ouderdom van 30 in haar slaap oorlede. Wil u net verseker dat al is die afsterwe van u seun so bitter, wees asb verseker dat Jesus u Voetspore is, Hy sien elke seer, elke traan, elke verlange raak. God weet waar deur ons gaan, Hy het ook Sy enigste Seun aan die kruis sien sterf. Staan stewig, vlieg altyd met Arendsvlerke. Sterkte aan elke ouer wat deur die worstelling gaan, ons sal anderkant uitkom en sterker wees. Ek dra elkeen op aan ons Groot Vertrooster, ons Abba Vader

Mel ·

Dis so so hartseer maar tog so mooi en dapper brief en beslis ‘n getuienis. Ek dink ni daar is woorde om Jul seer te beskryf ni, baie sterkte vir julle as gesin en vir julle hier wat ook ‘n kind aan di dood afgestaan het, Mag God julle almal vertroosting gee, dink aan julle

Christa ·

Die brief was net te veel vir my, die sluise is oop dit is so so hartseer, en ek gun dit vir niemand in die hele wereld nie, hulle se tyd genees, maar God is die Geneesheer. Sterkte aan almal wat deur die pyn en hartseer gaan.

Kobie ·

Ons deel hierdie groot seer en gat in jou binneste. Die lewe gaan aan en moet mens aan jou anderkinders ook dink. Ons jongste is nou 3 jaar gelede in n motor ongeluk oorlede. soms it die bloute tref die gat en grooot seer weer. Sterkte aan al die ouers wat kinders verloor het. die gemis raak soms so erg.

Judy ·

Ons het op 27 Julie my sister se dogtertjie Zoer Hees aan die food af gestalt. Ons 365 day om die draai en lê soos berg voor ons…. Die seer Sal alkyd daar wees, mens lever net om dwarfed saam te leef. Sterkte vir julle en so ook elke over wat die stay moet draft.

Wilm Potgieter ·

Hier waar ons woon in die Klein Karoo het n moeder haar drie kinders en drie kleinkinders aan di dood afgegee in n motor ongeluk. Die pyn die seer. Die arme vrou

Christo ·

Ons het dit op skool geleer.
Totius se rou pyn:
O die pyn gedagte, my kind is dood……
Maar wat daarna? Toe tref dit ons!
Enigste kind, maat, vertroueling en liefling seun wreed weg geruk. Hoe gaan mens aan? Geleerdes se tyd heel wonde. Kom oor dit., en vele meer.
Maar helaas, hulle wat buite staan, praat in die wind. Weet jy hoe voel dit wanneer geen woorde kan beskryf waardeur jy as ‘n ouer gaan wat die doods tyding ontvang! Geen goedbedoelde praatjies help nie.
Dit bring net woede en verbittering! Ook teenoor God. Hoe kon Hy dit toelaat?
Ons enigste. Wat van hulle wie baie het, of hulle kinders verwaarloos of dood wens?
Na baie struikel, dwaal, kom die besef: lewe gaan aan. Niemand staan stil en hou jou hand vas nie. Niemand gee om na ‘n aanvanklike rou tydperk nie.
Maar ons kind het geleef, was en is vol liefde.
God is getrou. Hy bring heling. Moenie my vra hoe, waar en wanneer nie. Die besef kom net. Ons gaan ok wees.
Elkeen rou anderster. My vroutjie op haar manier en ek anders, maar die eina is ewe seer.
Aan die buite staanders wat wil simpatiseer.
Moenie iets se nie. Wees net daar, hou my vas. Gee my n drukkie. Woorde is leeg, al is die bedoeling hoe suiwer.

Sonja ·

Sjoe hierdie brief ruk my…..vanoggend 6vm is n vriend van ons en sy seun (16) dood in motorongeluk, sy vrou en dogter (12) ongedeerd. -net buite Touwsrivuer. Was oppad na n ander vriend se pa se begrafnis. My hart bloei vir ma en dogter wat agterbly.

Swartluiperd ·

Dit is iets hierbinne jou wat jy nie kan verklaar nie ons dogter was op 19 jarige ouderdom 26 jaar gelede ook met vratsongeluk weggeneem, ek is n harde man van 72 en hierdie berig het soveel trane in my oë laat kom dat dit my nou n uur later eers toelaat om klaar te tik. Aan almal wat so verlies moes deurmaak sterkte want God is by jou en vertroos jou elke sekond wat jou hartklop, dis al wat my leemte vul in hierdie tyd.

Jenny Louw ·

Geen woorde kan enige ouer se hartseer beskryf ni….niks kan dit heelmaak ni…’n kind is onvervangbaar…my hart gaan uit na jul toe want ek ken jul seer, kwaad, vrae en wat nog met die rouproses gepaard gaan…..glo ni enige ouer kom ooit oor hul kind se afsterwe ni…soms voel dit onregverdig….en kom ek erken…om agter te bly en di res van di gesin “happy” en bymekaar te hou is ni maklik ni…moet bieg ek en my man praat baie daaroor en huil wanneer ons wil en luister na di ander een se hartseer maar dis di seerste seer wat ouers kan deurgaan…onthou net God het my krag gegee vir 1jaar, 4 maande en 24 dae…en ek sal nog di antwoorde kry wat ek soek….al vat dit 10 jaar ek sal my antwoorde kry….sterkte aan elke ouer wat al ‘n kind moes afstaan aan di dood….hul sterretjies skyn helder by Onse Hemelse Vader xxxxxxx

Marie ·

Ek kan nie sê ek weet hoe julle voel nie…. ek het nog nie’n kind aan die dood afgestaan nie. Ek kan wel sê dat ek NIE weet hoe ek dit sal kan hanteer nie. My gebede gaan met julle en die ander ouers wie se kinders so onnodig uit die lewe geruk word. Sterkte met julle groot verlies.

Wilma Batt ·

My seun verjaar 26 Julie en 28 Julie is sy sterfdatum…..7 jaar gelede. Sewe jaar klink soos n lang tyd maar vir die ouers van n engelkind het die lewe bly vassteek die dag toe die betrokke kind weg is. Jy kan nooit weer “heel” wees nie en niks is ooit weer normaal nie. Ek het n wilsbesluit geneem om ter wille van my ander kinders en my man nie in sak en as te gaan lê nie. Elke oggend staan jy op en jou eerste gedagte is jou engelkind. My hart huil vir julle want ek weet……. Die lewe gaan aan en eendag gaan ons hulle weer ontmoet. Ek stuur n drukkie.xx

mariana ·

Sjoe baie hart roerend maar almal se kommentaar oor hul kinders se dood was vir my so hartseer, ek is n Ma van 2 gespaarde kinders ek kan my net die verskrikking indink, waardeur julle almal gaan, want die liefde vir ons kinders is die liefde wat elke ouer verstaan. Baie jammer vir elkeen van julle!!

Ansie Geldenhuys ·

Hier sit ek as ouma en huil. 6 Oktober 2016 sal dit 2 jaar wees dat ons afskeid met ons kleinseun van 19 jaar, briljante krieketspeler, in ‘n oomblik gebeur het. Sy hart wou nie meer werk nie! Telefoniese oproep van sy mamma, histeries, stuur nou nog skokgolwe deur my liggaam. Dit was hul enigste kind. Ons het geen waarskuwing gehad nie en was nooit bekommerd oor hom nie. Sy toekoms was net blink. Sy pappa het by sy roudiens gese dat hy 70 jaar lewe in die 19 jaar geprop het. Selfs dit keer nie as die eina te groot raak en troos nie om nie te huil nie. Sy ouers kry swaar. Hulle is baie betrokke by hul gemeente, maar as dit ‘n “af dag” is, maak niks regtig saak nie en die rofie van die seer kom af.

Behou jul geloof en weet dat dat nog mense hartseer beleer. Niemand kan ooit se dat hulle weet waardeur jy gaan nie.

Sterkte en liefde.

Altyd seer ·

Dit is nou amper 20 jaar wat ons dogter dood is. Mens vergeet NOOIT nie. Berusting kom met tyd maar die pyn bly vir altyd. Ek is n profesionele persoon wat aan ander raad moet gee maar om dit self te doen is glad nie maklik nie. Sterkte aan almal wat hierdie pad moes loop en steeds elke dag loop.

ISAMIEN LUZMORE ·

Sjoe hoe laat huil hierdie my nou…. Dis asof ek myself 15 jaar gelede in hierdie vrou sien… Dis die seerste seer om n kind te verloor. My dogtertjie was 4 en n half jaar, toe sy oorlede is in n tref en trap ongeluk….. Net God weet hoe ek vandag nog op hierdie aarde is. Was dit nie vir Hom nie, was ek ook weg…..

Cheryl ·

Wil net vir almal hierbo plus die mamma wat die brief geskryf het – sterkte ons wat nog nie in daardie bootjie was om ‘n kind te verloor nie kan nie saampraat nie, maar my hart pyn vir julle want tog het ek ook al 2 broers en ‘n sussie, ma en pa verloor . Dit word beter na die tyd maar die verlange bly altyd daar – Sterkte aan elkeen wat iemand naby jou verloor het

Hantie ·

Ek het ook my 3 broers, my pa en my skoonsuster verloor. Ek weet nie hoe my ma deur dit alles gekom het nie. Ek is steeds soms in opstand – vra nie meer vra nie maar raak soms sinies. Sterkte aan almal wat dierbares en veral kinders verloor het.

Leonika ·

My enigste kind, Stefan Rossouw is twaalf en n half jaar gelede in n tref en trap ongeluk oorlede elke dag voel asof dit gister was voel so of tyd gaan stilstaan het kan net nie daaroor kom nie baie sterkte aan almal wat dieselfde pad loop

Marietjie ·

Ons het 3 dae gelede my sus se dogter Corlia begrawe. Haar smart is so diep al het ons dit al solank verwag. Corlia was ‘n diabeet wat in en uit die hospitaal was. En toe sterf sy by die huis. Daarom breek my hart vir al die ouers wat deur soveel smart moet aanhou leef. Mens kan julle nie met woorde troos nie. Maar net probeer om ‘n kruk te wees as julle nie verder kan nie. Weet net om julle is ‘n skare mense wie se harte bloei vir julle!

Yolandi ·

My hart gaan uit na julle! Dankie dat julle aan haar wens van orgaanskenking voldoen het. Dis awesome!

Jacqueline ·

My dogtertjie van 9 is laas jaar 27 Mei oorlede. Sy het brein kanker gehad. Dokter kon hele gewas verwyder en operasie was suksesvol maar na 4 dae het sy begin agter uit gaan. 1 week en 2 dae later moes ons die besluit maak want daar waz geen brein funksie. Dit was verskriklik moeilik. En na meer as ‘n jaar ervaar ons presies dieselfde emosies. Ons stuur ook ballonne op vir Janellie. Die storie is so baie na aan my eie. Raak my hart baie

josephine hendricks ·

My hart gaan uit na julle as gesin.Ek het in 1984 my babadogtertjie aan die dood afgestaan 3wekies oud.Die 19de Julie sou sy 32 geword het.wasgebore met n waterhofie en spina bifida en het breivliespntsteking gekry.Op 30 julie 1985 word my sruntjie gebore.26 julie 2010 kry ek om in die buitekamer waar hy homself opgehang het vier dae voordat hy 25 sou geword het.so ek verstaan en het deur n baie seer tyd gegaan met my kind se dood en nog steeds party dae.veral due volgende 2weke is vir my n hartseer tyd maar die Liewe Vader dra my en ek hou kop bo water met my man en jongste en enigste seun.liefde al ken ek julle nie maar ek fink aan julle.

Christo ·

My enigste seun is 2 jaar terug op die ouderdom van 21 oorlede – soos heelparty ouers hierbo noem is daar niks maar niks wat eers naastenby die pyn kan beskryf nie. Elke dag hunker ek na net nog ‘n bietjie tyd saam met hom en kyk jy om jou na soveel mense wat so bevoorreg is om nog hul kinders in hul lewe te he. Behalwe my kind het ek ook my geloof in God verloor want as hy regtig daar was sou my kind vandag nog gelewe het ! Reg of verkeerd, dis my manier hoe ek deel met die verlies van my enigste kind wat absoluut alles vir my was vir 21 jaar. Jou lewe gaan aan maar het onherroeplik verander die dag wat jou kind gesterf het en geen hoeveelheid gebede gaan hom terugbring nie .. dalk die pyn verlig maar wil ek werklik minder pyn ervaar ? – my kind is dan dood !!

Hantie ·

Sterkte Christo. Die Here sien jou pyn en Hy verstaan. Ek sal vir jou bid.

Marina ·

Christo my hart gaan uit vir jou en almal hier bo. Mag julle vrede in God vind. Amen

Elphia ·

365 dae, 2 X 365 dae, 3 X 365 dae en die verlange word nooit minder nie en die aanvaarding nooit makliker nie. More is my groot seun se 30ste verjaarsdag, of liewer, is dit veronderstel om te wees en ons het soveel planne gehad vir hierdie groot mylpaal in ‘n jong mens se lewe. Maar hy is op 16 Junie 2014 in ‘n ongeluk in die VSA dood en daarna was niks nog ooit weer normaal nie. Baie sterkte aan almal wat al hierdie bitter pad geloop het. Ons moet vir mekaar in ons gebede op dra, want alleen kan geen mens ongeskonde daardeur kom nie.

Hannelie ·

Dink so aan julle. Ek het nou wel nie ‘n kind verloor nie…maar het 10 jaar gelede my broer in ongeluk verloor. Ek het my pa en ma se seer aanskou elke liewe dag, maar kan ook net byvoeg ek dank die Here dat hulle daar was vir ons ander kinders…veral vir my. Dis die seerste seer En ja almal hanteer verlies anders. Gee jouself tyd om jou verlies te verwerk. Mense kan nooit saampraat as hul nie al so ‘n seer ervaar het nie. Volg jou eie kop want jy moet jou seer self verwerk. Praat met mekaar. Ek stem saam ek ook die boek gelees van die stadiums van rou. En nee ek het ander stadiums gehad. Ek was lank kwaad veral vir God. Maar Hy was op die einde van die dag my kruk…my hawe…my toevlug. Ek kan vir jul bid want sy was so jonk en so pragtig. Maar God kom pluk sy mooiste blomme eerste. Mag jul vertroosting vind.

charlene ·

Die pyn wat `n ouer moet deurgaan met die dood van `n kind iets iets ander, jy sê dis soos kraam sonder pyn medikasie – dis omtrent daar ja. Dit `n pyn binne jou hart, jou hart pyn fisies en niks en niemand kan dit beter maak nie. Elke keer as ek aan my baba engel dink trek alles in my saam – alles pyn. Ek gaan nie vir jou sê dit raak beter nie – my man is my geval is al een want my pyn na 6 jaar verstaan – want verstaan as ek net sit en staar. En kyk as my ouers my nie groot gemaak het om in God te glo nie was ek lankal weg, dit my geloof want my laat opstaan het, dis my geloof want my laat glo het. Glo net, party dae is maklik ander sien jy iets wat al die seer terug bring, maar more moet ons weer opstaan en voort gaan. Dis die een ding wat mens nie eens vir die persoon wat jy nie kan verdra nie – self haat, sal toewens. Dis `n seer soos geen ander en daar is geen pyn mediekasie nie. Mag god julle nog dra, nog help en ondersteun. God dra ons ouers wat ons engel kinders moes terug gee in `n spesiale plek in sy hand, styf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.