Afsondering veel meer as net ’n eieruitdaging

Deur Joe McGluwa 

Joe McGluwa. Foto: Verskaf

Die afsonderingstydperk behoort nie net te gaan oor ’n eieruitdaging of kookvaardigheid nie, en nog minder om te spog dat jy ’n maraton om jou werf kan hardloop. Te midde van al ons gebak en brou, bederf en kompetisies en selfs ons vieringe van “vryheid”, is dit ironies dat ons vryheid juis nou deur ‘n onsigbare vyand beperk word – die Covid-19-virus wat ons dwing om tuis te bly. So noodsaaklik soos die afsonderingstydperk is, so moeilik is dit dat soveel van ons vryhede beperk is.

Terselfdertyd skep dit ’n geleentheid vir introspeksie; iets om oor na te dink. Op sosiale media neem die alombekende eieruitdaging, verskeie wen resepte, fyngebak en kookkuns vinnig toe. Dán ruk die Covid-19-virus ons weer terug na die werklikheid. Die behoefte van die miljoene daar buite het ons geleer om die geriewe waarmee ons geseënd is, meer te waardeer. Die ekonomiese prys wat ons betaal in die stryd teen die koronavirus, tref diegene wat reeds op die broodlyn leef die swaarste. Die swak ekonomiese prestasie van die afgelope 15 jaar wat gepaard gaan met korrupsie, staatskaping, voortdurende redding van bankrot staatsbeheerde ondernemings en magsmisbruik, het ons glad nie voorberei vir hierdie moeilike oomblik nie.

Laat my toe om ‘n paar ervarings met u te deel en ‘n blik te skets oor hoe Covid-19 ons beïnvloed het. Ek dank die Here dat Hy my gesin tot dusver beskerm het. Sedert die aanvang van die afsonderingstydperk, het ek besluit om myself te isoleer en vir vyf dae te vas. My vrees vir hierdie onsigbare vyand het my tot op my knieë gedwing en ek en my dogtertjie van byna agt jaar bid elke middag om 12:00. Ek het ook vriende, familie en kennisse versoek om by my aan te sluit.

Dit is ’n stryd om by te hou met die tyd, bloot omdat my dae bestaan uit die een Zoom-vergadering ná die ander, maar, soos elke verhaal in ons lewe, kan dit opgesom word in hierdie bekende lirieke uit Brandi Carlile se lied, “Al hierdie lyne oor my gesig, vertel die verhaal van wie ek is. So baie stories van waar ek was.”

Daar is verskeie lesse wat ek tydens hierdie afsonderingstydperk geleer het. My oudste dogter was die eerste wat ‘n desperate boodskap om hulp gestuur het. In daardie oomblik het ek die omvang van die probleme wat baie sal deurmaak, besef. Die vraag bly: Hoe lank nog? Ná die oproep van my dogter, het ek ‘n boodskap van ‘n vrou uit die Noord-Kaap ontvang. Haar dogter in Rustenburg se verhaal klink soos dié van baie ander wie se besigheid skielik moes sluit. Daar is niks om te eet nie. Wie kan help? Ek het onmiddellik ‘n goedhartige vriend van my gekontak om hulp te verleen. Hul dankbaarheid was onuitspreeklik. Daar is ook tye wat dit langer neem om hulp te verleen aan diegene wat dit broodnodig het…

Op ’n dag ontvang ek ’n boodskap uit my tuisdorp met beweringe dat ANC-raadslede slegs kospakkies aan hul lede uitdeel. Ek was buite myself van woede – ons nie kan toelaat dat politiekery bo die voedselnood gestel word nie! Van my WhatsApp-boodskappe aan sekere ANC-kennisse het dadels van gekom. In stede van hulp, het ek ’n boodskap gekry dat die KOSH-krisissentrum hulp gekry het met kliniese benodighede. Nog ’n oproep van iemand om hulp in Hartbeespoort. ’n Kreet om hulp vir daardie nodige kospakkie. Ek kon die gesinne in kontak bring met ’n kennis wat vinnig kon optree om hul te hulp te snel. Al hierdie verhale bring my tot hierdie vraag: Waar is Sassa (die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid), die kerke, die uitrolplanne van munisipaliteite te midde van hierdie krisis? Soms lyk dit asof daar nie behoorlike beheer en/of koördinering in die verspreiding van kospakkies bestaan nie. Daar is selfs gerugte dat drie familielede uit dieselfde huis, elkeen met ‘n kospakkie kon terugkeer huis toe terwyl ander hul kinders honger bed toe moet stuur.

Teen hierdie tempo, tesame met ’n gebrek aan behoorlike beheer, sal ons voedselbanke binnekort leeg wees. Die onregmatige betrokkenheid van raadslede, korrupsie en verteenwoordigers van politieke partye wat kospakkies as ’n politieke bal gebruik, is ‘n debat vir nog ‘n dag. Sassa moet sy werk doen deur met ‘n behoorlike verspreidingsplan vorendag te kom, en raadslede moet hiervan wegbly.

Dit is interessant om te sien hoe duisende bekendheid verwerf in die Lockdown has Talent-kompetisie wat eintlik net op sosiale media bestaan. Selfs die gewone hardloper kan nou supermarathon-status verwerf.Covid-19 moet nie net handel oor ‘n eieruitdaging of fantastiese kook- of hardloopvaardighede nie; dit moet gaan oor die omgee vir ons medemens, om diegene in nood te help, om almal op te voed om tuis te bly, hande te was en ’n sosiale afstand te behou. Daar is so baie wat reeds ’n bydrae lewer deur op onopsigtelike maniere ’n groot verskil te maak. Daar is goeie Samaritane wat voedselverligting bied aan elke werknemer deur sopkombuise by te staan. Ek salueer julle. Die aanslag van die koronavirus en die inperking het my geleer om die regte en vryheid waarvoor so baie geveg het, te waardeer. Wees verseker dat ons sterker hier sal uitstap en ons vryheid waardeer met die wete dat ons een van die mees uitdagende tydperke in ons leeftyd oorwin het. Kom ons hou moed in hierdie stryd teen die koronavirus deur sosiale afstand te behou, gereeld hande te was en ‘n masker te dra wanneer ons in openbare plekke is, sodat ons hierdeur lewens kan red.

Aan almal wat hierdie stuk lees: Leef en laat leef!

  • Joe McGluwa is die DA se leier in Noordwes. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.